Suidoosterfees 2018: ’n teateroorsig

  • 0

Die Suidoosterfees, wat in die Kunstekaapteater gehou is, is pas klaar en ek onthou nog steeds die frase wat gereeld oor die luidsprekers geuiter was: “Slegs vir almal”. En dit was so. Almal is welkom by die Suidoosterfees en ons land se ryk diversititeit word deur die fees se teatergangers weerspiëel.

Vanjaar se tema was “Fantastiese 15”, omdat die fees vanjaar 15 jaar oud is. So dis nog ’n jong fees, maar nie een wat vir die res van ons land se kunstefeeste hoef terug te staan nie. Die fees het ’n unieke teikenmark, dit is intiem, en so tussen die reusesamosas in die foyer en die boereworsrolletjies wat buite op die piazza gemaak word, is daar iets vir almal.

Dit is nie ’n moeilike taak om ’n paar hoogtepunte van vanjaar se fees te identifiseer nie.

The Johaar Mosaval Journey is ’n ballet opgevoer deur Cape Town City Ballet wat die storie van Johaar Mosaval vertel. Mosaval is ’n balletdanser van die Kaapse Vlakte wat eers dansopleiding in Distrik Ses ontvang het en daarna mense oorsee betower het met sy besondere tegniek. Toe hy terugkeer na Suid-Afrika, het hy as onderwyser en performer sy talent en tegniek met die res van die land gedeel. Besonders aan hierdie produksie is die vereering wat aan Mosaval gegee is. Aan die einde van die beeldskone vertoning deur Cape Town City Ballet het Mosaval, wat nou 90 jaar oud is, op die verhoog opgekom en die dansers en gehoorlede het hom staande toegejuig. Dit was vir gehoorlede ’n besonderse verrassing, want dit is amper asof jy Mosaval leer ken het in die opvoering van 90 minute. Die opvoering het ’n welverdiende staande ovasie ontvang en hier en daar is selfs ’n traan weggepink.

The Johaar Mosaval Journey (Foto: Twitter)

Classic Nataniël was nog ’n hoogtepunt. Ek weet nie genoeg van klassieke musiek om die opvoering in die regte woorde te beskryf nie, maar die produksie se omvang was van komiese monoloë deur Nataniël en musiekuitvoerings saam met sy span, wat gesorg het vir ’n goed-afgeronde en vermaaklike vertoning.

Daar was ook toneelstukke wat gesorg het vir goeie gesprekke en stories wat vir die eerste keer na vore gekom het. Een so ’n storie is Rokkie, geskryf deur Denver Breda, met regie onder leiding van Lee-Ann van Rooi. Rokkie word gespeel deur Charlton George, wat ook die Suidoosterfeestrofee vir beste akteur ingepalm het. Rokkie neem die gehoor op ’n tog deur haar lewe en hoe sy op die punt gekom het waar sy nou gereedmaak vir haar gender reassignment-operasie. Die lewe het vir Rokkie al heen en weer geruk en uitgespoeg, totdat sy uiteindelik op die strate beland, waar sy nuwe vriende ontmoet wat nes sy dink. Breda se teks laat jou nie toe om vir Rokkie jammer te kry nie, en hy sê dis opsetlik, want Rokkie is ’n survivor, sy vra nie enige bejammering nie. George se optrede is teer en fyn en in sy hande kom Rokkie se storie tot sy reg. Breda is ’n belangrike stem vir ons bedryf en hy vertel stories van mense op die buitewyke van ons samelewing, en dis nodig vir ons landskap om daarvan te leer en met soortgelyke materiaal in gesprek te tree.

Charlton George (Foto: Facebook)

Ir(ras)sioneel deur Des-Lee McKenzie was ook by die fees. Hierdie skreeusnaakse kabaret plaas onder andere die kollig op velverbleiking, Cyril Ramaphosa, die onluste in Sirië, en vra uiteindelik baie belangrike vrae rondom transformasie in Suid-Afrika. Wat is nodig vir ons land om te transformeer en hoe gaan ons ophou irrassioneel wees en vir mekaar begin luister? As jy ooit die geleentheid kry om hierdie kabaret te sien, gryp dit met ope arms aan!

Des-Lee McKenzie

Die NATi-jongsterre-projek gee aan jong kunstenaars die geleentheid om teaterstukke op die planke te bring. Daar was agt produksies en dit is vir jong kunstenaars ’n groot hupstoot in die regte rigting. Die wenproduksie was NRNNSA (Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika) wat deur Carla Smith, Conradie van Heerden, Devonecia Swartz, Kristin Pienaar, Hendrik Nieuwoudt, Lara de Bruijn, Reuben Murphy en Chris Petrie opgevoer is. Die regie is behartig deur Mercy Kannemeyer. Die produksie wen die toekenning vir regie, styl en ontwerp en ensemble.

Die fees is afgesluit met kykNET SOF Hip Pops deur die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Brandon Phillips saam met onder andere Jack Parow, DJ Ready D, Hakkiesdraad Hartmann, YOMA, Early B en Ernestine Stuurman. Die produksie is ’n mengsel van klassieke musiek, hip-hop en rymklets. Hier het verskillende genres bymekaargekom om die fees op ’n groot hoogtepunt af te sluit en ek het nog nooit in my lewe so iets gesien nie. Dit was vars, energiek en ek wou nie hê dit moes ophou nie. Janine Neethling, wat ook die Rapport-Skouerkloptoekenning ontvang het, was verantwoordelik vir die musiekregie en in haar hande het die verskillende genres mekaar aan die hand gevat en gesorg vir die nodige vermaak om seker te maak dat die fees behoorlik afgesluit word.

Soos aan die begin genoem, is die fees nog jonk. En dis een van die min feeste wat binne ons land se demokrasie groei – party ander feeste is al ouer as 20 jaar. My hoop vir die Suidoosterfees is dat dit sal aanhou om ’n inklusiewe fees te wees, dat die teateraanbod sal groei, en dat daar nog meer geleenthede sal ontwikkel waar ons saam met mekaar kan gesels en van mekaar kan leer. Dit is die ideale plek vir ons samelewing en die Kaapse omgewing om hande te vat, saam te lag en vermaak uit die boonste rakke te geniet. Ek sien alreeds uit na volgende jaar!

Foto's deur Mercy Kannemeyer, tensy anders vermeld

  • Lees ook:

Suidoosterfees 2018: Rokkie, ’n onderhoud met Denver Breda

Suidoosterfees 2018: Die toneelstuk NRNNSA, transformasie en die toekoms van teater: ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer

SOF 2018: Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika – ’n teaterresensie

Suidoosterfees SOF HIP POPS: ’n onderhoud met Janine Neethling

Suidoosterfees 2018: NATi se bydrae tot Afrikaanse teater

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top