Suidoosterfees 2017: 'Ons moet al die variëteite van Afrikaans omhels'

  • 2

Dit is amper weer tyd om die diversiteit van Afrikaans by die jaarlikse Suidoosterfees te vier. Menán van Heerden het met die Khoisan-navorser en skrywer, Willa Boezak, oor die dansproduksie Die riel van hip-hop, taal en identiteit gesels.

Wat is jou rol in die produksie?

Ek dra my gedig “Onse Afrikaanse kind” voor en verduidelik daarna kortliks die vermengdheid van Afrikaans en dat ons al die variëteite daarvan moet omhels. Verder dat bruin mense spesifiek ook die verskeie kulture wat daarmee gepaard gaan, histories deel.

Hoe beskryf jy die ontmoeting van riel en hip-hop?

Beide het diep wortels in ons land. Die riel is, naas die /khapara en Namastap, van die oudste danse van Suider-Afrika se eerste inheemse mense, die Khoi-San, en deel van hul eeue oue kultuurerfenis. Na die aankoms van slawe aan die Kaap vanaf 1655 het mettertyd die moppies en ghoema deel geword van hul viering van die afskaffing van slawerny in 1834–38. Ondertrouery en kulturele vermenging het plaasgevind. Die inhoud van hip-hop kan teruggeneem word na Adam Small se Kaapse gedigte reeds in die sestigerjare.

Hoe belangrik dink jy is so ’n produksie om mense van hul kultuurerfenis en wortels, kennis van taal en identiteit, en trots bewus te maak?

Absoluut belangrik. Na die generiese samevoeging van die vryslawe en Kaapse Khoi as “people of colour” deur die Britte in die 19de eeu, en die demonisering van die inheemse kultuur as “onbeskaafd, heidens en barbaars”, is ons mense skaam gemaak vir hul eie erfenis en identiteit. So ’n produksie bevraagteken die koloniale perspektief en dekoloniseer daardie beelde/ideologie/denkwyse.

Willa Boezak (Foto: verskaf)

Hoe belangrik is dit vir mense om hul eie stories te vertel?

Mondelinge tradisie en oorlewering was en is baie belangrik. Dit is eg en bevat dikwels morele lesse wat waardes deurgee. Dit versterk ook die trots in die eie. Soos byvoorbeeld Janie Cloete-Saal se My bundeltjie verlede (Namakwalandse stories).

In die akademie en in die media word daar tans baie op Afrikaaps gefokus. Met die riel as ’n fokus van hierdie produksie, kry Namakwalandse Afrikaans ook ’n “kans”?

Ja, juis, maar nie meer as Kaaps, Moesliem-Afrikaans of ander variëteite nie. Dis vanselfsprekend dat in die Wes-Kaap Afrikaaps meer aandag sal geniet, terwyl dit in Namakwaland skaars gehoor word. Vito sal die gehoor ’n smakie gee van Nama-Afrikaans in ons produksie.

Hoe sou jy NamAfrikaans beskryf?

Nama-Afrikaans het ontwikkel in die wisselwerking van koloniste soos die Nederlandse Cloetes vanaf die Kaap na daai gebied. Woorde soos koekemakranka, soe! en eina is voorbeelde van Namawoorde wat in Standaardafrikaans opgeneem is.

Wat is jou siening van Afrikaans as Afrikataal?

Dit is inderdaad ’n Afrikataal wat deur die Khoi-vissersgemeenskappe as kommunikasietaal (besigheidstaal) in die laat 1550’s met die verbygaande skepe ontwikkel is. Die tweede fase was die ontwikkeling daarvan as skryftaal deur Moesliem-geleerdes met die standaardisering deur die GRA in 1875 as finale fase. Selfs president Zuma het in Oktober 2015 verklaar dat dit ’n Afrikataal is. Die probleem kom by die wanpersepsie wat veral gedurende die apartheidsera gekweek is dat dit ’n witmanstaal is, wat toe deur vele ervaar is as die taal van die onderdrukker. ’n Verdere negatiewe ontwikkeling was die Westerse siening dat dit ’n “dogter van Hollands” is ipv ’n Afrikataal.

Hoe belangrik is dit vir jongmense om hul moedertaal te praat, veral in die lig van verengelsing op kampusse en binne families?

Ek is ’n uitgesproke voorstander hiervan en het deelgeneem aan Mercy Kannemeyer se Die ander kant-video waarin studente hul menings hieroor gee. Ek is ook lid van Gelyke Kanse se loodskomitee teen die US se taalbeleid. Die bevordering van Afrikaans kan egter slegs binne die raamwerk van moedetaalonderring plaasvind.

Waar en wanneer is hierdie produksie te sien?

Saterdag 29 April 2017 te Kunstekaap.

Hartlik dank.

Willa Boezak
Khoisan-navorser en skrywer.

  • 2

Kommentaar

  • Wilhelm Fourie

    Dr Willa Boezak is een van die grootste lewende denkers in Afrikaans en iemand met ruggraat! Ek sien uit na hierdie produksie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top