Die eerste paar keer dat pres Zuma die refrein “We have a good story to tell” in sy openingsrede gebruik het, wou ek die televisie met ’n skoen gooi. After all, hy is die direkte oorsaak van ten minste tagtig persent van die redes hoekom ons nie goeie stories het om te vertel nie.
’n President wat van enigiets van verkragting tot korrupsie aangekla word, en die staatsmasjinerie skaamteloos gebruik om sy eie politieke bas te red, keer op keer op keer, kan nie ’n goeie storie vir ons land wees nie. Ek kan saamleef met sy gebrek aan opvoeding. Van die wysste, interessantste mense wat ek al ooit die voorreg gehad het om te ontmoet, kan beswaarlik hulle eie name skryf. Ongelukkig is hy nie een van hulle nie. Interessant is hy wel, maar van wysheid het ek nog nie regtig enige bewyse gesien nie. Ek weet dis nie omdat daai mense nie wou skoolgaan nie, dis omdat die heersende sisteem van die dag hulle van daai voorreg, nee reg, ontneem het.
Integriteit, eerbaarheid, accountability is egter nie goed wat in die skool geleer word nie, dis iets eie aan jou persoonlikheid. Dis iets wat ons president ’n desperate skaarste aan openbaar.
Hierdie week wat verby is, het my egter opnuut laat besef dat ons tog goeie stories het om te vertel. Vergeet vir die oomblik, as dit enigsins moontlik is, van die Hlaudi-grootte vlieg in ons gemeenskaplike salf. Vergeet van Nkandla, en die Guptas, en die regerende party wat deesdae lyk asof hulle regterhand nie mooi weet wat die linkerhand doen, of veronderstel is om te doen nie. Vergeet dat ons op die randjie van ’n resessie ronddans en geen leierskap kan verwag nie, want ons agbare leier is te besig om vir homself te sorg. Vergeet van politici wat ons teen mekaar probeer opmaak vir hul eie politieke gewin, vir elke stem wat hulle kan kry as hulle ons so ver kan kry om mekaar te vrees. Vergeet daarvan.
Ons het soveel wat goed is in hierdie sonskynland, maar soms val ons so vas in wat verkeerd is dat ons dit wat reg is, en wat reg onder ons neuse is, miskyk.
Hierdie week was ’n strak herinnering aan die nodigheid vir die #BlackLivesMatter-beweging in Amerika. Twee swart mans is in aparte state, in aparte voorvalle, binne ’n dag van mekaar doodgeskiet deur die polisie. Hierdie jaar was dodelik vir swart jong mans. Dit het die Bahamas genoop, in wat seker ’n geskiedkundige eerste is, om reiswaarskuwings uit te reik vir burgers wat na Amerika reis. Pas op vir die polisie, dit kan jou lewe kos, was die essensie van die waarskuwing. Met die daaropvolgende skietaanvalle op polisiebeamptes in Dallas en Michigan is spanning tussen protesteerders, hoofsaaklik swart, en die polisie waarskynlik die hoogste wat dit sedert die 1960’s was.
Ons het nie daardie probleem in Suid-Afrika nie. Nie meer nie. Ja, ons is hierdie week opnuut herinner aan Marikana. Marikana is egter so skokkend juis omdat dit die anomalie eerder as die norm in Suid-Afrika is. “Driving while black” is nie meer ’n oortreding wat jou inhegtenisname of dood kan beteken nie. In Amerika, die “land of the brave and free”, die land wat ons nog altyd geïndoktrineer was om te glo die baken is van alles positief en progressief omtrent menseregte, het meer opsigtelike rasseprobleme as ons.
Natuurlik het ons rassisme. Die lys van name van rassiste wat hulleself vergeet en hulle ware kleure wys, word by die dag langer. So ook die protes, en die openbare manier waarop al meer mense hulself van sulke optrede distansieer. Ek wil glo dat daar vir elke tree terug tog een of selfs twee vorentoe gegee word. Moenie vergeet nie, vir elke rassis, wit of swart, is daar ander wat elke dag probeer saamleef met mense van ander groepe.
Verlede week weer, met Oscar Pistorius se vonnisoplegging, was die onmiddellike reaksie dat die regter omgekoop was, of, erger nog, inkompetent was. Of dalk al twee. Ek stem ook nie met haar vonnis saam nie, maar ek kan nie anders as om te wonder of die reaksie dieselfde sou wees as die regter ’n wit man was. Ek vermoed nie. Dit sou nie vir die Minister van Justisie nodig wees om hierdie hele naweek by openbare geleenthede sy vertroue in regter Masipa uit te spreek as sy ’n wit man was nie.
Hier is my mening. Ek dink sy’t fouteer, en sy moes hom swaarder gevonnis het. Sy was egter nie verplig om die voorgestelde vonnis deur Gerrie Nel te volg net omdat hy dit voorgestel het nie. Wat is dan die doel van regterlike diskresie? Ek dink dit was dapper van haar om, wel wetend dat haar beslissing aan kritiek onderwerp sou word, nog steeds te doen wat sy glo reg is. Gerrie Nel kan appelleer as hy regtig oortuig is dat die verkeerde uitslag gevolg was. Die sisteem is ontwerp om ditself te korrigeer indien nodig. Daar is egter hopeloos te veel leunstoelregsgeleerdes wat deur rasgetinte lense na die saak kyk. Ek dink ook nie die argument dat sy as vrou ’n voorbeeld moes stel en hom swaarder moes straf is geldig nie. Ons sisteem is veronderstel om so ontwerp te wees dat dit nie saak maak wie die voorsittende beampte is nie – die beskuldigde behoort dieselfde geregtigheid te verwag.
Ons vergeet soms regter Masipa het geskiedkundige eerstes bereik met hierdie hofsaak. Soms het sy die pot misgesit. In ’n land waar ons sulke reusagtige probleme met geweld teen vroue het, stuur haar toegeeflikheid die verkeerde boodskap uit, maar nie omdat sy swart of ’n vrou is nie. Die sisteem veronderstel dat voorsittende beamptes, of dit nou regters of landdroste is, foute kan begaan. Anders sou die appèlproses tog geen sin maak nie, of hoe? Miskien moet ons haar toelaat om te fouteer, en vertrou dat die sisteem sal werk.
Ons het hierdie naweek ook gesien hoedat adv Thuli Madonsela weer eens erkenning vir haar uitnemendheid ontvang, hierdie keer van die Duitsers. Sy is beslis een van die feelgood stories wat ons daagliks kan vertel, alhoewel sy nooit deur Zuma so erken sal word nie.
Dan is daar Wayde van Niekerk. Wayde wat die eerste man ooit geword het om verskeie rekords te vestig. Wayde wat meer as ’n halfmiljoen rand geskenk het aan ’n hospitaal. Wayde wat op die oog af nie die vinnige lewe van ander superster-atlete volg nie. Hy verdien nuusdekking meer as die meeste ander atlete, maar dis net by hoë uitsondering dat sy naam in die nuus is. Tog is hy in die sportarena waarskynlik een van ons beste stories.
Daar is soveel ander. Ons land is skatryk aan die wonderlikste mense wat baanbrekers in hul onderskeie arenas is. Dink aan Charlize Theron, Trevor Noah, Alice Krige, Margaret Gardiner en vele ander wat bewys ons is so goed soos die bestes wat Hollywood kan bied. Kyk na flieks soos Sink. Ons hoef nie terug te staan vir enigeen nie. Daar is ons skrywers, ons studente, ons akademici, ons restaurateurs, ons wynmakers, ons joernaliste wat met die bestes ter wêreld kan meeding.
Daar is die doodgewone mense wie se name nooit in ’n koerant sal kom nie, wat in hulle klein hoekie ’n verskil maak aan die lewens van ander rondom hulle – die karwag wat ’n beursie terugbesorg, die boemelaar wat sorg dat sy hond altyd skoon en gevoed is, die huisvrou wat vir ’n minderbevoorregte kind sokkies koop of ’n broodjie inpak.
In hierdie aanloop tot die munisipale verkiesing word ons gebombardeer met boodskappe van hoe verskriklik sleg die Ander is, enigeen wat nie soos ons lyk of klink nie.
Moenie daai leuens glo nie. Kom, vir net een dag, laat ons als wat mooi en goed is omtrent onsself en ons naaste vier.
Ons hét goeie stories.


Kommentaar
Baie goed!