Stuur jou reaksie: Ambagtelik of KI-geassisteer − KI-protokol (LitNet Akademies)

  • 0

Ontwerpe: © Pienaar van Niekerk 2026

Wil jy tot die KI-debat bydra?
Stuur jou reaksie op LitNet Akademies se onderstaande (altyd voorlopige) KI-protokol aan kiprotokol@litnet.co.za.

LET WEL: Reaksies wat op sosiale media, by LitNet se kommentaar-afdeling op die LitNet-webwerf, per WhatsApp, per e-pos wat nie na die gespesifiseerde adres, kiprotokol@litnet.co.za, gestuur is nie, asook oproepe, sal nie in ag geneem word nie. 

Belangrik: Binne ’n uiters vinnig veranderende, voortlopende, en ontwikkelende KI-omgewing sal LitNet Akademies se KI-protokol deurlopend en soos nodig baie gereeld bygewerk word namate tegnologie (en dalk selfs konvensies) en so meer verander/bykom, ens. Daar mag dalk byvoorbeeld aanstaande week sagteware kom wat met 100% sekerheid kan voorspel of KI gebruik is of nie, en indien wel, tot watter mate. Die houding teenoor KI-gebruik is ook besig om sienderoë te verander – dit sien mens as debatte internasionaal dopgehou word. 

“Hoekom kan KI-verklikkers – sagteware wat KI-geskepte teks uitken – nie as ’n maklike en moontlike oplossing gebruik word nie?” is ’n vraag wat kan opduik. Dit staan wel nou vas (ná aanvanklike debat hieroor) dat huidige beskikbare sagteware glad nie te vertroue is om uitsluitsel te gee daaroor of KI gebruik is al dan nie, en indien wel, tot watter mate. 

Hiermee LitNet Akademies se (altyd voorlopige) KI-protokol:
Ambagtelik of KI-geassisteer – KI-protokol (LitNet Akademies)
Wil jy ’n artikel vir LitNet se geakkrediteerde multidissiplinêre akademiese-joernaal-node LitNet Akademies voorlê? 
Lees eers onderstaande protokol rondom die gebruik van KI.

Die redaksie van LitNet Akademies is daarvan bewus dat die terrein rondom KI voortdurend verander. Onderstaande protokol vir geakkrediteerde LitNet Akademies-navorsingsartikels sal deurlopend hersien word soos nodig.

As algemene uitgangspunt heg LitNet Akademies groot waarde aan die egtheid van navorsers se akademiese skryfwerk, kritiese denke en navorsingsuitsette. 

Die kerndoelstelling van LitNet Akademies, LitNet se geakkrediteerde akademiese joernaal, is om deur nuwe/oorspronklike navorsing in wetenskaplike Afrikaans ’n waardevolle bydrae tot die menslikenavorsingskorpus te lewer. Binne hierdie konteks word selfstandige denkarbeid as wetenskaplik verantwoordbaar beskou. Menslike denke eerder as masjiendenke word vooropgestel.

Terselfdertyd besef LitNet Akademies dat die akademiese navorsingsgemeenskap wêreldwyd tans oor geen finale universele protokol oor KI-gebruik in geakkrediteerde navorsing met mekaar saamstem nie. Joernale se beleide oor die grense van toelaatbaarheid van KI verskil. Daarom het LitNet Akademies besluit om in dié oorgangstyd die besluit aan die navorsingsgemeenskap self oor te laat. ’n Navorser kan kies hoe hy of sy sy/haar werk wil selfsertifiseer.

Jy het twee opsies: 
Opsie A: Jou eerste keuse: Is jou navorsing en akademiese skryfwerk jou eie in die KI-era? Dan word die Ambagtelik-seël vereis.
Navorsingsartikels wat, gesien LitNet Akademies se beleid hieroor, jou eie is, sal met LitNet Akademies se Ambagtelik-seël op alle geakkrediteerde materiaal geselfsertifiseer word:

Bostaande Ambagtelik-selfgesertifiseer-seël sal voortaan onderaan geakkrediteerde LitNet Akademies-navorsingsartikels verskyn wat sigself sodanig sertifiseer.

Die term “selfgesertifiseer” word gebruik omdat geen betroubare sagteware tans bestaan wat LitNet Akademies in staat sal stel om te besluit indien of in watter mate ’n navorser KI gebruik het nie. Daar word op die integriteit van navorsers vertrou.

Waarom die Ambagtelik-seël?

’n Strewe na menslike navorsingsvaardighede, akademiese skryfvaardighede en vakmanskap te midde van die toenemende vloedgolf van KI-drek (AI-slop) word deur die Ambagtelik-selfgesertifiseer-seël beklemtoon.

Wat geld as Ambagtelik?

Ambagtelik-materiaal behels jou eie kritiese denke, outentieke stem, oorspronklikheid, hoëgehalte- intellektuele arbeid, selfwerksaamheid, eie taalgebruik en struktureringsvermoë, menslike skryfvaardighede, vakmanskap en wetenskaplike verantwoordbaarheid. Jou artikel is mensgemaak: Die argumente, gevolgtrekkings en insigte is volledig jou eie. Jy dra volle verantwoordelikheid. Dit sluit oorspronklikheid en integriteit in.

Ambagtelik: Wat mag?

’n Artikel sal steeds as Ambagtelik geselfsertifiseer kan word indien KI betrokke was by:

– verwysingshulpmiddels soos die program Endnote (wat verwysings stoor, organiseer en formateer)

– die gebruik van tegniese hulpmiddels soos speltoetsers en grammatikatoetsers; maar: sinne, paragrawe en groot gedeeltes van die teks mag nie deur KI herskryf word nie. Stylredigering mag nie na ’n groot taalmodel (GTM’e) gesedeer word nie; die navorser moet dit self doen. Ter illustrasie: Microsoft Word se algemene sagteware mag gebruik word, maar geen KI-geassisteerde weergawe soos Word 365 Copilot mag ingespan word in die skryf van akademiese artikels nie. Belangrik: LitNet Akademies bevorder akademiese skryfwerk, en dinkwerk deur mense, eerder as masjiene.

– woordkeuse / sinonieme opspoor met behulp van byvoorbeeld groot taalmodelle

– soektogte na lyste van geverifieerde bronne (dus nie die analise van geverifieerde bronne nie) met behulp van byvoorbeeld Google Scholar Labs, ’n KI-aangedrewe navorsingsinstrument. Belangrik: Dit is die navorser se verantwoordelikheid om die bronne se bestaan en korrektheid te verifieer. Let wel: Aangesien Google Scholar Labs en Google KI-oorsigte (AI Overview) byvoorbeeld KI-gegenereerde teks en opsommings insluit, moet navorsers kennis neem daarvan dat géén teks wat deur KI gegenereer is, ingesluit mag word in die skryf van die navorsingsartikel nie.

– die generering van tabelle en grafieke met die navorser se oorspronklike werk as bronmateriaal

– die opsomming van groot hoeveelhede data (wel nie die interpretasie/ontleding daarvan nie)

– die vertaling van aangehaalde bronne (maar nie die vertaling van die artikelteks nie).

Ambagtelik: Wat mag nie?

Enige KI-gebruik m.b.t. die denk- en skryfproses. Voorbeelde:

– Skryfwerk deur ’n groot taalmodel (GTM) word nie deur LitNet Akademies as ambagtelik aanvaar vir publikasie nie, omdat dit dan teks is wat deur masjiengenerering geskryf is, en nie deur ’n mens nie. Wanneer ‘n GTM soos ChatGPT, Claude, Google Gemini of Deep Seek gebruik word om teks te skryf of te vertaal, is daardie GTM nie ’n stuk gereedskap in die hand van ’n mens wat self skryf nie. Daardie GTM is dan die masjien wat teks genereer.

– Grammatikaverbetering via byvoorbeeld ChatPGT mag nie gebruik word om sinne, paragrawe en groot gedeeltes van die teks oor te skryf / te herformuleer nie. Dit beteken dat jy nie jou mensgeskrewe artikel in ’n GTM mag invoer sodat die GTM die taalgebruik en grammatika kan verbeter nie. Microsoft Word se algemene sagteware mag vir speltoetsing en grammatikaverbetering gebruik word, maar geen KI-geassisteerde weergawe soos Word 365 Copilot mag ingespan word in die skryf van akademiese artikels nie.

– KI-aangedrewe navorsingsinstrumente mag nie diep kritiese leeswerk, formele literatuuroorsigte, of omvattende metaontledings vervang nie. Dit beteken dat KI slegs as administratiewe bronsoektoghulpmiddel gebruik mag word, nie as ’n genererings- en ontledingsvennoot nie. Groot taalmodelle soos Claude Research en ChatGPT Deep Research mag nie gebruik word om geverifieerde bronne te analiseer nie.

– KI-gegenereerde opsommings van bronmateriaal: Aangesien alle KI-geassisteerde soektogte ook KI-gegenereerde teks en opsommings kan insluit, moet navorsers kennis neem daarvan dat geen teks wat deur KI gegenereer word, ingesluit mag word in die skryf van die navorsingsartikel nie.

– Die generering van die uitgebreide Engelse opsomming (abstract), die Afrikaanse opsomming en inleiding en slot van LitNet Akademies-artikels.

– Konseptualisering, formulering en dinkskrumsessies saam met byvoorbeeld Google KI-modus (AI Mode).

– Die identifisering van hipotese, metodologie, idees, onderwerpe, temas, perspektiewe, invalshoeke.

– Die sistematisering van navorsingsvrae en -resultate.

– Die identifisering van verwantskappe tussen uiteenlopende konsepte, argumente of bronmateriaal.

– Die uitwys van ontbrekende perspektiewe, teenargumente of onontginde navorsingsinvalshoeke en redenasie.

– Die ontleding/interpretasie van enige inligting/bevindinge/data.

– Die verbetering van formulering, argumentasie (ontwikkeling, strukturering en verfyning daarvan), aanbieding en interpretasie van ontledings.

– Die generering van subtemas/subhofies en verskillende afdelings.

– Die verbetering van die algemene samehang/vloei en oorhoofse struktuur.

– Die vertaling van groot gedeeltes van die teks.

– Enige opsomming/verkorting van materiaal.

– Die generering van illustrasiemateriaal soos foto’s en video’s (verwys na die nota oor multimedia-inhoud in hierdie protokoldokument).

Ook onder Ambagtelik geld die volgende:

Dit is vir LitNet Akademies aanvaarbaar indien ’n navorser KI-gebruik problematiseer (byvoorbeeld hoe ChatGPT verantwoordelik gebruik is vir juweliersontwerp; die nut daarvan al dan nie), dus krities KI as hulpmiddel bespreek en KI-gebruik 100% deursigtig en volledig verklaar. Navorsing oor KI-gebruik in hierdie verband word dus toegelaat. Gee dus ’n gedetailleerde verduideliking van jou werkwyse, insluitend porre.

Nota oor multimedia-inhoud:

KI-gegenereerde kreatiewe werke (soos foto’s en skilderye) en KI-gegenereerde video’s is aanvaarbaar slegs indien die navorsingsartikel die kreatiewe werke en video’s bespreek en problematiseer – m.a.w. dit mag nie blote versiering wees nie. Artikels wat sulke werke en sodanige bespreking bevat, sal op ’n geval-tot-geval-basis vir publikasie oorweeg word. 

Navorsers moet verklaar watter spesifieke generatiewe-KI-model(le) asook die por(re) in hierdie verband gebruik is.  

Hoe nou verder?

Navorsingsartikels wat 100% jou eie is (m.a.w. bogenoemde riglyne volg), móét van ’n getekende vorm vergesel word wat spesifiseer dat die navorsing 100% deur jou geskep en verwerk is. Stuur die vorm saam met jou artikel, vergesel van jou KI-verklaring, wat moet strook met die Ambagtelik-protokol wat hier uitgespel word. 

Opsie B: Jou tweede opsie: Het jy KI binne redelike perke, maar méér as wat die Ambagtelik-seël toelaat, gebruik, en publiseer jy dus met die selfsertifisering “KI-geassisteer”?

LitNet Akademies publiseer ook by B nie 100% KI-gegenereerde teks nie. Indien KI gedeeltelik as hulpmiddel wél vir geakkrediteerde artikels ingespan word, moet voorleggings van ’n getekende KI-verklaring vergesel word. 

Hierdie verklaring moet volledig (stap vir stap) uiteensit hoe KI toegepas is, watter porre ingevoer is (wees asseblief spesifiek en presies), watter modelle gebruik is, en watter invloed KI-gebruik op die navorsing gehad het. 

Die getekende KI-verklaring is die navorser se bewys dat sy of haar uiteensetting van KI-gebruik korrek, akkuraat en wetenskaplik verantwoordbaar is.

Bykomend tot die getekende KI-verklaring: Navorsers moet as deel van hul navorsingsartikel verklaar watter porre en GTM’e (en ander KI-instrumente) gebruik is, en hoe dit die finale produk beïnvloed het.

Die KI-verklaring moet verklaar dat die navorser hierdie LitNet Akademies-protokol betreffende Ambagtelik en KI-geassisteer gelees en volledig verstaan het.

Voorleggings sal nie sonder hierdie getekende en gedetailleerde uiteensetting oorweeg word nie.

Onderstaande KI-geassisteer-selfgesertifiseer-seël sal voortaan onderaan geakkrediteerde LitNet Akademies-navorsingsartikels verskyn wat sigself sodanig sertifiseer:

Belangrik by B:

– Weens moontlike KI-hallusinasies moet navorsers uiters bedag wees op onder meer feitefoute, algemene onakkuraatheid, onakkurate gevolgtrekkings, gebrekkige vakkennis, swak argumentering, bronne wat nie bestaan nie / verkeerd aangedui word, en bronverwysings wat ontbreek. 

– Indien ’n navorser te swaar/buitensporig op KI steun om navorsing en navorsingsuitsette te genereer, behou LitNet Akademies die reg voor om die navorsingsartikel van die hand te wys / te onttrek.

 – Enige KI-gebruik moet eties en deursigtig verklaar word. Let wel: KI kan nie as ’n outeur gelys word nie.

– Die menslike navorser dra volle etiese verantwoordelikheid, en het agentskap en eienaarskap. 

 – KI-uitsette moet krities geëvalueer word. Dit bly die navorser se verantwoordelikheid om akkuraatheid na te gaan en die uitsette goed te keur.

– Hou in gedagte: Indien jy idees, argumente, visuele materiaal en so meer van ’n kletsbot aftrek sonder aanduiding van die bronmateriaal/bronverwysing(s), stel jy jouself bloot aan moontlike plagiaat en kopieregskending. Wees deursigtig met die verklaring van jou por(re) en die KI-uitset(te).

Indien jy nié die Ambagtelik-seël kan toe-eien weens jou werkwyse nie, kan jy wel by LitNet Akademies publiseer, maar dan onder die gestipuleerde voorwaardes. Jou artikel sal dus met die KI-geassisteer-seël verskyn, en moet van ’n volledige en getekende KI-verklaring vergesel word. Belangrik: KI-gebruik moet ook binne die artikel self volledig en deursigtig verklaar word.

Omdat LitNet Akademies ’n multidissiplinêre joernaal is, beteken dit dat absoluut eenvormige KI-riglyne problematies is. Konvensies en praktyke binne dissiplines soos Natuurwetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verskil soms van dié van byvoorbeeld Opvoedkunde, Regte, Godsdienswetenskappe en Geesteswetenskappe. Dit is die navorsers se verantwoordelikheid om binne hul onderskeie dissiplines op wetenskaplik verantwoordbare wyse te werk.  

Belangrike nota vir ewekniebeoordelaars en vir LitNet Akademies se afdelingsredakteurs:

Ewekniebeoordelaars en afdelingsredakteurs moet seker maak dat voorleggings die volgende insluit:

Elke artikelvoorlegging moet vergesel word van ’n volledige en getekende KI-verklaring soos hier bo uiteengesit. Bykomend tot die getekende KI-verklaring: Navorsers moet as deel van hul navorsingsartikel verklaar watter porre en groot taalmodelle (en ander KI-instrumente) gebruik is, en hoe dit die finale produk beïnvloed het.

Ewekniebeoordelaars, afdelingsredakteurs, taalversorgers of enige LitNet-redaksielid mag nie artikels, of gedeeltes daarvan, in KI-stelsels invoer nie; sodanige gebruik mag die vertroulikheid en kopiereg van die artikel in gedrang bring.

Ewekniebeoordelaars se verslae mag nie deur KI gegenereer word nie. Die beoordeling moet die ewekniebeoordelaars se eie onafhanklike oordeel weerspieël.

NOTA BENE: Opsporingsprogramme om KI-gebruik in artikels op te spoor mag nie as bykomende hulpmiddel gebruik word nie, aangesien die akkuraatheid daarvan nie geverifieer kan word nie.

Ewekniebeoordelaars en afdelingsredakteurs moet uiters bedag wees op onder meer feitefoute, algemene onakkuraatheid, onakkurate gevolgtrekkings, gebrekkige vakkennis, swak argumentering, bronne wat nie bestaan nie / verkeerd aangedui word, en bronverwysings wat ontbreek.

Omdat LitNet Akademies ’n multidissiplinêre joernaal is, beteken dit dat eenvormige KI-riglyne problematies is. Konvensies en praktyke binne dissiplines soos Natuurwetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verskil soms van dié van byvoorbeeld Opvoedkunde, Regte, Godsdienswetenskappe en Geesteswetenskappe. Dit is die navorsers en afdelingsredakteurs se verantwoordelikheid om binne hul onderskeie dissiplines op wetenskaplik verantwoordbare wyse te werk. Ook ewekniebeoordelaars moet hiervan kennis neem.

Tesame met bostaande voorgestelde KI-protokol, publiseer LitNet Akademies hiermee twee voorgestelde vorms, een vir Opsie A en een vir Opsie B. 
Dink jy dit is voldoende?
VORM VIR OPSIE A:

Jou eerste keuse: Is jou navorsing en akademiese skryfwerk jou eie in die KI-era? Dan word die Ambagtelik-seël vereis.

Navorsingsartikels wat, gesien LitNet Akademies se beleid hieroor, jou eie is, sal met LitNet Akademies se Ambagtelik-seël op alle geakkrediteerde materiaal geselfsertifiseer word.

Lees LitNet Akademies se KI-protokol waarin daar uiteengesit word wat as Ambagtelik geld en wat nie, volledig.

Navorsingsartikels wat 100% jou eie is (wat dus LitNet Akademies se KI-protokol-riglyne gevolg het), móét van hierdie getekende vorm vergesel word wat spesifiseer dat die navorsing 100% deur jou geskep en verwerk is. Stuur hierdie getekende vorm saam met jou artikel, vergesel van hierdie KI-verklaring, wat moet strook met die Ambagtelik-protokol wat in LitNet Akademies se KI-protokol uitgespel is.

Die navorser(s) verklaar dat hy/sy/hulle hierdie LitNet Akademies-protokol betreffende Ambagtelik en KI-geassisteer gelees het en volledig verstaan. Die navorsing is 100% deur die navorser(s) geskep en verwerk.

Hiermee my/ons volledige verklaring van KI-gebruik:   

Merk wat relevant is betreffende die afdelings “Wat mag?” en “Wat mag nie?” by die Ambagtelik-gedeelte van die voorlopige KI-protokol hier bo. Verwys na bogenoemde afdelings.

Datum:

Handtekening: 

VORM VIR OPSIE B:

Jou tweede keuse: Het jy KI binne redelike perke – maar méér as wat die Ambagtelik-seël toelaat – gebruik, en publiseer jy dus met die selfsertifisering “KI-geassisteer”?

LitNet Akademies publiseer nie 100% KI-gegenereerde teks nie. Indien KI gedeeltelik as hulpmiddel wél vir geakkrediteerde artikels ingespan word, moet voorleggings van hierdie getekende KI-verklaring vergesel word. 

Hierdie verklaring moet volledig (stap vir stap) uiteensit hoe KI toegepas is, watter porre ingevoer is (wees asseblief spesifiek en presies), watter modelle gebruik is, en watter invloed KI-gebruik op die navorsing gehad het. 

Hierdie getekende KI-verklaring is die navorser se bewys dat sy of haar uiteensetting van KI-gebruik korrek, akkuraat en wetenskaplik verantwoordbaar is.

BELANGRIK: Bykomend tot hierdie getekende KI-verklaring: Navorsers moet as deel van hul navorsingsartikel verklaar watter porre en GTM’e (en ander KI-instrumente) gebruik is, en hoe dit die finale produk beïnvloed het.

Voorleggings sal nie sonder hierdie getekende en gedetailleerde uiteensetting oorweeg word nie.

Die navorser(s) verklaar dat hy/sy/hulle hierdie LitNet Akademies-protokol betreffende Ambagtelik en KI-geassisteer gelees en volledig verstaan het.

Hiermee my/ons volledige verklaring van KI-gebruik:   

[…]  

Datum:

Handtekening:

***

Wil jy tot die KI-debat bydra?
Stuur jou reaksie op LitNet Akademies se bostaande (altyd voorlopige) KI-protokol aan kiprotokol@litnet.co.za.

LET WEL: Reaksies wat op sosiale media, by LitNet se kommentaar-afdeling op die LitNet-webwerf, per WhatsApp, per e-pos wat nie na die gespesifiseerde adres, kiprotokol@litnet.co.za, gestuur is nie, asook oproepe, sal nie in ag geneem word nie. 

Lees ook:

Elders gesien: Vir of teen AI?

Elders gesien: Cambridge se woord van die jaar is...

Lees nog oor KI op LitNet: https://www.litnet.co.za/category/kunsmatige-intelligensie-artificial-intelligence/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top