Stuur jou film vir die kykNET Silwerskermfees 2014

  • 1

Is jy 'n aspirantfilmmaker? Het jy 'n bestaande film wat 'n platform soek? Het jy 'n idee vir 'n kortfilm wat jy nog altyd wou maak? Inskrywings vir vanjaar se kykNET Silwerskermfees is oop – maar sluit binnekort. Hier is nog inligting.

Anneke Villet vertel vir Naomi Meyer wat almal wat nog wil inskryf, moet weet.

Hallo Anneke, hoe lyk die inskrywings vir vanjaar se Silwerskermfees? 

Inskrywings het met byna ’n derde gestyg teenoor verlede jaar. Ons het geweldig interessante voorstelle ontvang vanjaar en ons is as kanaal baie opgewonde oor al die konsepte wat gekortlys is. Die kortfilmkategorie, wat reeds gesluit het, se gekeurde kortlys gaan tans deur die teksontwikkelingsfase, waarna die finale kortfilms wat vervaardig sal word, gekies word. In dié kategorie is daar ook meer belangstelling. Hierdie kategorie is steeds oop en inskrywings sluit 13 Junie 2014. 

Toevlug is bekroon as beste kortfilm van die Silwerskermfees van 2013

Hoekom sou jy filmmakers of aspirantfilmmakers aanmoedig om hiervoor in te skryf?

Sjoe, daar’s werklik net so baie voordele dat ek amper nie weet waar om te begin nie! Wat die kortfilms betref; 

a. Die kans om jou kortfilmkonsep te ontwikkel in 24 bladsye draaiboek onder die mentorskap van Suid-Afrika se kundigste draaiboekskrywers en -redigeerders.
b. Om as ’n jong, nuwe filmmaker die kans te kry om jou kortfilm op die silwerdoek te verwesenlik, met nie net finansiële ondersteuning vanaf kykNET nie, maar ook professionele leiding vanaf ons kundige vervaardigingsmentors.
c. Die kans om jou eerste professionele kortfilm op die silwerskerm te vertoon by die fees wat bygewoon word deur jou eweknieë sowel as die room van die Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) filmbedryf. Dit is dus ’n wonderlike kans om “raakgesien” of “ontdek” te word deur ervare filmmakers en vervaardigers wat op soek is na nuwe talent. Die fees is dan ook ’n baie goeie plek vir jong en aspirantfilmmakers om hul professionele netwerk uit te brei.
d. Watter filmmaker sou nie die kans wou ontvang om hul kortfilm op TV te sien nie? Selfs al kan mense nie na die fees toe kom nie, kan hulle jou as filmmaker ontmoet en leer ken op kykNET. Dit word dan wat mens ’n “calling card” noem – “it puts you on the map”! Ek dink byvoorbeeld aan die span van Buurtwag. Hul 2012-kortfilm het essensieel die “pilot” vir hul TV-reeks geword. Laasgenoemde is tans in ontwikkeling en sal later vanjaar in produksie ingaan.

Is daar geld in die filmbedryf, of doen mense dit vir die liefde van die saak? Sê tog daar is ’n balans ...

Ai, daai bly maar die tameletjie-vraag. Daar is beslis geld in die filmbedryf, maar daar is ook kompetisie – veral in die Afrikaanse mark, waar daar oor die afgelope drie jaar ’n groot aanbod van nuwe films was. Dit beteken dat die Afrikaanse gehoor produkte van al hoër en hoër gehalte van ons filmprodusente verwag. ’n Sterk filmbedryf is een waarin dit moontlik is vir filmmakers om beide kommersiële en niekommersiële films (dus kunsfilms) te maak. Dit is die balans wat ons graag wil help bewerkstellig, onder andere deur die befondsing van film, maar ook die bewusmaking onder ons kykers dat daar ’n verskeidenheid van hoëkwaliteit-films beskikbaar is in hul eie taal. Die enigste manier om werklik suksesvol te wees as filmmaker, is om nie net liefde en passie uit jou films te put nie, maar ook te alle tye op hoogte te bly van wat kommersieel lewensvatbaar is en wat nie.

Kan jy al verklap wat besoekers aan die Silwerskermfees vanjaar te wagte kan wees? 

Definitiewe veranderinge en vooruitgang by die fees, asook drie lokale wat films vertoon. Die fees groei jaarliks en dis lekker, maar die fokus behoort op die groei van die bedryf en die mense en talent wat die bedryf verteenwoordig te wees, en dit maak elkeen wat betrokke is, geweldig opgewonde.

Prakties: Hoe werk dit, waar is dit, wat kos dit en waar kan mense bespreek?

27–30 Augustus by die Bay Hotel in Kampsbaai. Die koste en waar jy kan bespreek moet nog bevestig word. Hou die Facebook-blad en kykNET-webblad dop.
Het jy 'n bestaande film wat 'n platform benodig? Skryf jou film in vir die Silwerskermfees. Inskrywings sluit 15 Junie 2014. Vir meer besonderhede besoek: http://kyknet.dstv.com/category/programme/silwerskermfees.

 

  • 1

Kommentaar

  • Annette Martins

    Ek het 'n boek wat ek skryf - wat ek dink uitstekende film kan maak!  Kan dit ook oorweeg word?

    Groete
     
    Annette
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top