Student eerste in Suid-Afrika met ’n PhD in clowning

  • 1

Klara van Wyk (Foto: Tarryn Hatchett)

Klara van Wyk is die enigste Suid-Afrikaner tot dusver wat ’n doktorsgraad in clowning, oftewel narkunde of narrery behaal het. Sy het in Maart 2020 haar PhD in die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement verwerf.

Klara vertel meer oor wat haar graad en navorsing behels.

Klara, jy het onlangs jou PhD in drama behaal, met jou navorsing wat oor clowning gehandel het. Wat presies is clowning? Wat behels dit en wat is die doel daarvan? Hoe pas dit binne die veld van drama in?

Daar is so baie definisies van narkunde as wat daar sterre in die hemel is, maar ek is veral geïnteresseerd in die kontemporêre narbeginsels wat fokus op lag as ’n merker van sukses wat die gehoor se waardering aandui. Narrery kan gebruik word vir verskillende doeleindes (kinderpartytjies, straatteater, bangmaakflieks), maar my tesis fokus veral op narrery en die potensiaal om dit in ’n Suid-Afrikaanse teaterkonteks toe te pas.

Jy is die eerste Suid-Afrikaner wie se PhD hieroor handel – wat was jou motivering om dit te doen? 

Narrery en om te lag kan ’n ongelooflik helende effek hê en ek het self praktiese ondervinding daarvan opgedoen deur my eie teaterstuk, You suck en ander afgryslike waarhede. Dit het geboeliery as tema, en is as ’n Engelse en Afrikaanse produksie landswyd by feeste opgevoer, en het ook na skole getoer. In my proefskrif gebruik ek die term narteater as ’n vertrekpunt van waar die kompleksiteit van die nar se teenwoordigheid in kontemporêre teater ondersoek word, met die uiteindelike doel om gesprek te stimuleer en verdere vernuwing in die praktyk te ondersteun.

Hoe voel dit om te weet dat jy die eerste Suid-Afrikaner is wat hierdie mylpaal behaal het? Wat beteken dit vir jou op ’n persoonlike vlak?

Ek sien myself as ’n ewige student en dit was ’n groot lewensondervinding om deur ’n PhD te worstel. Soms was dit ook nogal ’n eensame proses en soms moes ek maar op my tande byt, maar dit was ontsettend lonend en ek het so baie van myself geleer.

Hoekom is daar nog nie voorheen PhD’s oor clowning in Suid-Afrika gedoen nie, dink jy? Is navorsing in Suid-Afrika beperk hieroor?

Narkunde word histories beskou as ’n baie Eurosentriese medium wat oorsee sy oorsprong in die ou sirkustradisies gehad het. Meer onlangs is dit deur praktisyns soos Jacques Lecoq en Philippe Gaulier na vore gebring en daarom word dit soms as elitisties beskou en is akademiese navorsing nog redelik beperk in Suid-Afrika. In my proefskrif fokus ek nie net op die nar se historiese agtergrond nie, maar ek is veral geïnteresseerd in narre as ’n “kosmologie” of ’n manier om na die wêreld te kyk, as ’n ruimte of “attitude” waar foute, mislukkings en onkonvensionele gedrag toegelaat en aangemoedig word. Ek dink dat daar in hierdie ruimte vryheid bestaan en dat dit bevrydend kan wees vir kunstenaars en akteurs in die teater.

Wat het jou navorsing behels? Vertel asseblief meer oor wat jy in jou PhD ondersoek het. 

In die ondersoek het ek ’n eksperimentele artistieke navorsingsmetodologie gebruik om die beginsels van narrery te identifiseer en moontlike toepassings hiervan in ’n Suid-Afrikaanse konteks aan te toon. Ek het ’n selfrefleksiewe ontginning van narpraktyk vanuit my perspektief en spesifieke rolle as narkunstenaar, student en waarnemer aangevul deur ’n interpretatiewe analise van bestaande literatuur. Deur krities na die veelkantige benaderings tot die bewerkstelliging van lag binne naropleiding en -optrede te kyk het ek die uitdagings blootgelê wat daar is in die omskakeling van hedendaagse narrery na teaterpraktyk.

Wat is die voordele verbonde daaraan om die navorsing oor clowning tot PhD-vlak te neem? Hoekom is dit belangrik? 

Ek dink dat narrery dikwels beskou word as naïef en sonder enige strukturele en ontleedbare beginsels. Deur dit op PHD-vlak te bestudeer is ek uitgedaag om ’n meer kritiese benadering te ontgin terwyl ek nog steeds gepoog het om die ligter “oral culture / mysticism” daarvan te onderhou.

Vertel asseblief meer oor jou agtergrond, en wat jou tot op hierdie punt gebring het. 

Ek het my voorgraadse studie by Wits gedoen, waar ek eers narrery onder Gerard Bester gestudeer het; daarna het ek my meesters in teaterskepping by UCT gedoen en toe my PhD by Stellenbosch. Ek het ook ’n hele paar narkursusse oorsee by die pedagoog Philippe Gaulier in Frankryk, en Jon Davison en Mick Barnfather in Londen bygewoon. Op die oomblik hou ek skool by Vuleka St Joseph’s, ’n skool in Sophiatown in Johannesburg. Ek was ook onlangs bevoorreg om weer saam met ’n groep narre aan die produksie Babbelagtig te werk. Ek beoog om verdere navorsing te doen in ’n postdoktorale studie oor hoe narbeginsels in die klaskamer en as ’n leertegniek aangewend kan word.

Jy het by ’n hele paar verskillende instansies studeer – hoekom? Dink jy dit was voordelig? Het dit jou ’n breër oorsig oor jou spesialisasie gegee? Sou jy mense aanraai om hul horison te verbreed en by verskillende instansies te studeer?

Dit is definitief voordelig – elke universiteit is geanker in ’n verkillende ideologie en kultuur en dit was ’n ongelooflike voorreg om deur die loop van my studies ook so my horisonne te verbreed. My studies in teaterstudie by UCT vorm die basis van hoe om die nar in ’n formele teateropset te ontgin.

Jy werk ook as opvoeder in ’n klasopset, soos jy gesê het. Span jy clowning beginsels in in jou werk?

Ek is baie geïnteresseerd om te eksperimenteer met hoe ek as opvoeder die beginsels van narkunde, veral speel, lag, broosheid en die “embracing of failure” in die klaskamer te gebruik.

Hoe kan jou navorsing op ’n praktiese wyse bydrae tot die samelewing?

Ek dink in baie basiese terme dat ons almal onsself hopeloos te ernstig opneem en dat die aanhoudende vooruitgang van tegnologie wat ons lewens oorneem, ’n onrealistiese en perfekte prentjie voorhou waarna ons dan streef. Ek dink idees van “failure and vulnerability” is so belangrik en kan ons almal weer nader aan mekaar bring.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Met hierdie vreemde jaar en so baie teaters wat toegemaak het, moes die meeste van ons heroorweeg hoe ons ons kuns kan uitvoer. Ek glo dat as mense en kunstenaars ons aanpasbaar is, en dat kreatiwiteit bloei in veranderende omstandighede. Daar word reeds opwindende, innoverende nuwe teater geskep, en ek glo dat soos altyd die kunstenaars se bydrae in ’n veranderende wêreld onmisbaar sal wees. Maar vir nou is ek besig om te kyk hoe ek nuwe raakpunte tussen opvoedkunde en narkunde kan ontwikkel en ek hoop dat dit die basis van my volgende studie sal wees.

  • 1

Kommentaar

  • Klara, dis vir ’n riem onder die hart om hierdie artikel te kon lees. Baie geluk.
    Ek heg so baie waarde aan lag dat ek dink my menswees en my uitkyk op die lewe juis positief beïnvloed word deur te lag. Die spasie hier is te min om als te sê wat ek wel wil sê. Daar is natuurlik dinge wat snaaks is, maar waaroor ons nie kan (mag) lag nie, maar ’n goeie humorsin laat hom nie voorskryf nie. Alle voorspoed vir jou en onthou dat lekker lag jou ’n goeie gesondheid kan waarborg. Mooi loop

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top