Strydkamer moet die land van duisternis red

  • 0

Die elektrisiteitskrisis kos die land elke maand miljarde rand. Baie Suid-Afrikaners verkeer letterlik en spreekwoordelik in die duister oor die land se energiesituasie. As die “strydkamer” wat deur die regering ingestel is om die ligte aan te hou, nie die stryd wen nie, kan daar ’n algehele inploffing wees. As dit gebeur, kan dit die land twee dekades neem om ekonomies te herstel, sê die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi), Christo van der Rheede. Jean Oosthuizen het met hom gesels om uit te vind hoe ernstig die situasie is en hoe dit die ekonomie raak.

christovanrheede650

Eskom se huidige onvermoë om op ’n deurlopende basis krag aan die land te voorsien rig sonder twyfel groot skade aan die land se ekonomie aan. Is daar al bereken hoeveel skade die ekonomie as gevolg hiervan ly?

Die koste van geskeduleerde beurtkrag om die ekonomie aan die gang te hou beloop R9 tot R15 per kWh, afhangende van hoe beurtkrag bestuur word. ’n Verdere koste is die gebruik van diesel om elektrisiteit te genereer. Dit beloop tussen R4 en R5 per kWh. Tel daarby die skade aan masjinerie, toerusting, afskaling in produksie, die impak op beleggersvertroue en sosiale vertroue, dan kos beurtkrag die land R8–11 miljard per maand, aldus inligting vervat in ’n voorlegging wat deur die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, onlangs by die Uniegebou aan besigheid, werkersunies en ander belangegroepe voorgehou is.

Jy was deel van die afvaardiging sakeleiers wat deur Eskom en die regering ingelig is oor die energiekrisis in die land. Wat was jou indrukke van die vergadering?

Die Adjunkpresident en die Minister van Openbare Ondernemings was dit eens dat die gebrek aan voldoende elektrisiteitsvoorsiening ’n ernstige risiko vir ons ekonomiese groei inhou. Hulle het dit beklemtoon dat daar ’n dringende behoefte aan ingryping vir die kort en medium termyn is, veral ten opsigte van die herstel van balans in die vraag en aanbod. Ons is ook ingelig dat die kabinet op 10 Desember 2014 ’n vyfpuntplan goedgekeur het om die elektrisiteitsuitdaging die hoof te bied. Dit behels 'n strategie wat onmiddellike en korttermyningrypings ten doel stel. Top ingenieurs is aangestel om uitvoering aan die vyfpuntplan te gee. Dit gee my hoop.

Tydens die vergadering het Eskom se hoof uitvoerende beampte, Tshediso Matona, gesê hulle benodig iets soos R20 miljard om die land se ligte aan te hou. Hoe is dit moontlik dat die land se kragvoorsiener so agteruitgegaan het?

Swak beplanning, gebrek aan ervaring en kundigheid, politieke inmenging en die agteruitgang van kragsentrales se voorraad onderdele oor ’n lang tydperk het tot die verval gelei. In Maart 2010 is ’n beleid van “hou die ligte aan” aanvaar om ’n politieke verleentheid tydens die nasionale verkiesing te vermy. Dit was ten koste van essensiële instandhouding. Dié beleid het tot gevolg gehad dat Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) gedaal het van 85% tot 75%, wat ver benede die internasionale norm van 90% is. Dit beteken dat Eskom nie in staat is om ’n kwart van sy opwekkingsvermoë op enige tydstip te gebruik nie, as gevolg van ’n kombinasie van beplande instandhouding en defekte wat ontstaan. Eskom (en die land) betaal nou die prys vir hierdie beleid om teen elke prys die ligte aan te hou.

Was daar tydens julle vergadering enige begrip by die regering vir die frustrasie wat daar onder sakelui bestaan oor die gebrek aan kragvoorsiening?

My indruk is dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa en minister Lynn Brown ten volle bewus is van die frustrasies, daarom die radikale ingryping en totstandkoming van die sogenaamde strydkamer. Dit het basies die beheer by Eskom oorgeneem en is in die Uniegebou gebaseer. Die voorsitter van die strydkamer is die adjunkminister van energie. Die voltydse span bestaan uit gesekondeerde personeel van staatsdepartemente (DPME, DoE, DPE) en Eskom en gekontrakteerde kundiges in projekbestuur en vanuit die elektrisiteitsektor. Die strydkamer fokus op die monitering van vordering van die implementering van die vyfpuntplan. Dit versamel inligting en berei verslae voor, reël vergaderings met belanghebbendes om blokkasies te bespreek wat verband hou met die implementering, en identifiseer probleme wat dan deur departementshoofde, hoofde van entiteite en politieke hoofde uitgesorteer moet word. Die kernfunksies behels monitering, projekbestuur en implementering van die vyfpuntplan. Waarom dié kundiges nie in die eerste plek by Eskom aangestel is nie, gaan my verstand te bowe.

Is dit nie dalk omdat die regering so behep is met politieke en ideologiese kwessies dat hulle die ware probleme miskyk nie?

Dit was die praktyk in die verlede en ek stel dit ook so in ’n artikel wat in die Sunday Times gepubliseer is. Sien hier.

Onder leiding van die strydkamer is daar ’n duidelike aksie om die politieke impak te minimaliseer en die “baantjies vir boeties”-kultuur wat allerlei ander implikasies vir Eskom inhou, tot ’n einde te bring. Ek vertrou my aanname sal die toets van die tyd deurstaan.

Watter rol speel die gebrek aan kundigheid ten opsigte van die huidige krisis? Dit wil voorkom of die regering nie bereid is om bekwame mense aan die stuur van sake by Eskom te plaas nie?

Let wel: die regering is die aandeelhouer en stel nie mense aan nie. Dis die direksie van Eskom se werk. Dat laasgenoemde die pap op die grond laat val het, veral as dit kom  by die aanstelling van kundiges, blyk duidelik uit die krisis waarin Eskom verkeer. Die regering het egter aangedui dat vakante vakatures voortaan deur top kundiges gevul sal word.

Die huidige situasie skep baie duidelik ’n geweldige uitdaging vir besigheid in Suid-Afrika. Wat kan sakelui doen om ’n besigheidsoplossing te help vind vir die dilemma waarin ons verkeer?

Sakelui werk nou baie nou saam met die strydkamer en het reeds ’n hele aantal voorleggings aan Eskom gemaak. Terselfdertyd is hulle genoodsaak om na bekostigbare alternatiewe energiebronne te kyk. Die vyfpuntplan behels ook die sluit van vennootskappe met onafhanklike energieproduseerders. Dit gaan op groter skaal vorentoe uitgerol word en skep geleenthede vir besigheid om betrokke te raak en in alternatiewe energiebronne te belê.

Dit lyk of die regering besig is om die hele situasie te onderbeklemtoon en nie oop kaarte met die publiek speel nie. Wat was jou indrukke wat dit betref tydens julle ontmoeting met die regering? Is hulle eerlik met die land?

Aan die begin van die jaar was daar ’n duidelike poging om die krisis te onderbeklemtoon. Na al die skorsings, bedankings en vele ander verleenthede het die regering nou uiteindelik met ’n plan vorendag gekom. As die plan faal, is dit nag vorentoe, dus het ek vertroue in Cyril Ramaphosa om die situasie te beredder. Ek hoop net nie daar is ’n doelbewuste poging deur werkersunies, personeel en ander rolspelers om die strydkamer se aksies te ondermyn nie.

Jy verteenwoordig die belange van 20 000 besighede, van reuse-ondernemings soos Absa tot klein en medium sakeondernemings. Die land se ekonomiese groei hang in ’n groot mate van laasgenoemde se suksesse af. Hoe ernstig word klein en medium sakeondernemings deur die elektrisiteitskrisis geraak?

Elektrisiteit is die lewensbloed van alle besighede in Suid-Afrika. Indien dit nie gelewer word nie, kan besigheid nie funksioneer nie. Dit help egter nie dit word gelewer, maar dit is weer onbekostigbaar nie. Eskom se inkomstetekort van R225 miljard mag daartoe lei dat elektrisiteitstariewe so uitermate verhoog word dat besighede nie langer volhoubaar bedryf kan word nie. ’n Groot uitdaging vir die strydkamer is om die elektrisiteitstariefverhogings te beperk tot ‘n maksimum van 12% (per jaar) oor die volgende vier jaar in ‘n poging om Eskom se finansiële volhoubaarheid te balanseer met die potensiële skade van hoër tariewe op die ekonomie. Besigheid hou duim vas dat gesonde verstand sal seëvier.

Wat is die kort- en langtermynoplossings waaraan die regering en Eskom dringend aandag moet gee as ons nie heeltemal in die duister wil wees nie?

Die vyfpuntplan spel die volgende aksies uit: verbeterde instandhoudings- en bedryfspraktyke; kogenerasie; gas vir kragopwekking en bykomende bronne van toevoer uit Mosambiek; vennootskappe met onafhanklike kragprodusente; finansies en die verkryging van vaardighede; behoorlike kommunikasie met alle rolspelers.

Baie mense vrees vir die dag wanneer daar ’n algehele “blackout” gaan wees en die hele land skielik sonder krag sit. Is hierdie vrese geregverdig of is dit ietwat oordrewe en wat sou die gevolge vir die land se ekonomie en andersins wees indien dit wel sou gebeur?

Kundiges is dit eens dat die moontlikheid van ’n algehele inploffing bestaan, maar dat die instel van beurtkrag die moontlikheid van so iets tot ’n groot mate uitskakel. As so iets moes gebeur, sal die land ’n dekade of twee neem om ekonomies te herstel.

Een van die redes wat al deur president Zuma aangevoer is vir die krisis is dat die land na 1994 elektrisiteit aan miljoene mense moes voorsien wat nie voorheen toegang tot krag gehad het nie en dat dit die rede is waarom Eskom nie kon bybly om genoeg krag te voorsien nie. Wat is jou kommentaar daarop?

Suid-Afrika se toetrede tot die globale ekonomiese wêreld, gesloer met besluite om Eskom gedeeltelik te privatiseer, swak beplanning en oorbesteding, asook vertragings by nuwe kragsentrales is die oorsaak van ons huidige krisis.

Die probleem lê ook by die instandhouding van infrastruktuur. Ek besef dit kos baie geld, maar as mens kyk na die reuse-salarispakkette wat aan Eskom se senior personeel betaal word en hoe daar van kundige mense ontslae geraak word, maak dinge nie mooi sin nie. Hoe regverdig die regering en Eskom dit?

’n Gemiddelde salaris van R600 000 per jaar wat aan ongeveer 46 000 personeel betaal is, is een van die kernoorsake van Eskom se likiditeitskrisis.

Volgende jaar se plaaslike verkiesing lê voor die deur en ons weet daar woed in talle munisipaliteite groot binnegevegte wat waarskynlik in die aanloop tot die verkiesing gaan toeneem. Water invloed gaan dit op plaaslike regerings hê om die kragsituasie te beheer?

Ons is bly oor die stappe wat deur die tesourie ingestel is om ongeveer 56 munisipaliteite te dwing om hul verpligtinge teenoor Eskom na te kom. Streng stappe word ook nou deur CoGTA in die vooruitsig gestel om munisipaliteite reg te ruk. Besigheid hou duim vas dat dit die gewenste uitwerking sal hê.

Die winter is vinnig in aantog. Toe die koue onlangs in Gauteng toegeslaan het, was beurtkrag skielik die hele land se voorland. Kan Suid-Afrikaners hulle dus gereedmaak vir ’n koue, donker winter, of is dit alarmisties om so te dink?

Ongeag die strydkamer se aksieplanne is ek van mening dat ons die gasbottels sal moet volmaak net vir ingeval.

Wat is jou boodskap aan sakelui wat op moedverloor se vlakte sit as gevolg van die elektrisiteitskrisis en wie se besighede daaronder ly?

Kontak instellings soos die AHi en ander finansieringsagentskappe soos Business Partners. Kundigheid is orals beskikbaar om te help.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top