Struikelblokke wat toesig deur opposisiepartye in die Suid-Afrikaanse parlement belemmer

  • 0

Struikelblokke wat toesig deur opposisiepartye in die Suid-Afrikaanse parlement belemmer

Jaco Prins, Departement Sosiale Wetenskappe, Akademia

LitNet Akademies Jaargang 19(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Dit is duidelik uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope 27 jaar dat die toesigrol in ons parlement tekortskiet. Oor die algemeen is die parlement veronderstel om toesig oor die kabinet te bied en dit sluit sowel opposisiepartye se lede van die parlement (LP’s) as die regerende party se LP’s in. Verder het opposisiepartye spesifiek die rol om deur die strukture van die parlement toesig oor die regerende party uit te oefen, maar dit kan met so ’n dominante meerderheidsparty soos die ANC slegs geskied met behulp van die ANC self. Dit is dan geen verrassing nie dat die grondwet se instansies erg verpolitiseer is en regstellende aksie ingespan word as ’n wapen om Suid-Afrika af te takel en te plooi na die wil van die ANC. Die enigste instelling wat sover staande kon bly is die parlementêre opposisie en die toesigrol wat dit verrig.

Hierdie toesig is baie belangrik in enige regering, des te meer in ’n demokrasie. Demokrasie se kernwaarde is verteenwoordiging en gelykheid daarin. Demokrasie word juis hierdeur van outoritarisme onderskei: deurdat die verkose regering nie alleenreg op al die mag het nie, maar deur regulering (lees “toesig”) aan bande gelê word om sodoende toe te sien dat hulle die mense dien eerder as hulself.

Omdat die regerende party in Suid-Afrika oor die meerderheid setels in die parlement beskik, word hierdie rol van toesig aan die opposisie oorgelaat en tans geweldig belemmer. Tog werk opposisiepartye baie hard om toesig en verantwoordbaarheid te bewerkstellig. Die opposisie was egter magteloos om die ANC se outoritêre oorname van die staat te stop. Ondanks hul geweldige pogings, bly die toesig wat hulle kan uitoefen minimaal. Hierdeur word die parlement gereduseer tot ’n instrument van die ANC, vir die uitvoering van sy ideologie en bemagtiging van sy elitekaders, ten koste van Suid-Afrika. Steeds word die opposisie toegelaat om te bestaan om ’n vorm van skynlegitimiteit te verkry.

Die doel van die artikel is om te ondersoek wat die oorsprong van die oënskynlik oneffektiewe toesigrol binne die parlement is en wat die struikelblokke is wat opposisiepartye in hierdie verband ervaar. Struikelblokke het betrekking op verskeie van die idees en/of instellings wat die Suid-Afrikaanse staatsbestel definieer en in stand hou. Die ligpunt hier is dat opposisiepartye wel af en toe toesig en wetgewing uitgeoefen kry, maar dit is die uitsondering eerder as die reël. Die belangrikste bevindings van die artikel dui daarop dat die opposisie in die parlement ’n groter en belangriker rol as die regering speel om op te tree as die beskermer van die Suid-Afrikaanse grondwet en die burgers van die land.

Trefwoorde: demokrasie; grondwet; legitimiteit; mislukte staat; toesig; opposisie; parlement; politiek; regstaat; staat; Suid-Afrika; wetgewer

 

Abstract

Obstacles impeding oversight by opposition parties in the South African parliament

It is clear from the South African history of the past 27 years that the oversight role in our parliament is lacking. In general, parliament is supposed to provide oversight of the cabinet and this includes both opposition parties’ members of parliament (MPs) and the ruling party’s MPs. Furthermore, opposition parties specifically have the role of providing oversight of the ruling party through the structures of parliament. But with such a dominant majority party as the ANC, this can only happen with the help of the ANC itself. It is no surprise then that the constitution’s institutions are heavily politicized and affirmative action is used as a weapon to dismantle and bend South Africa to the will of the ANC. The only institution that has been able to remain resistant is the parliamentary opposition through the oversight role it performs.

This oversight role is very important in any government, even more so in a democracy. Democracy’s core value is representation and equality within it. Democracy is distinguished from authoritarianism precisely by this: that the elected government does not have sole right to all power but is restrained by regulation (read “oversight”) in order to ensure that they serve the people rather than themselves.

Because the ruling party in South Africa holds the majority of seats in parliament, this role of oversight is left to the opposition and is currently under severe strain by the ruling party. Yet opposition parties are working very hard to achieve oversight and accountability. Still, the opposition was powerless to stop the ANC’s authoritarian takeover of the state. Despite their tremendous efforts, the oversight they can perform remains minimal. By this, the parliament is reduced to an instrument of the ANC, for the implementation of its ideology and empowerment of its elite cadres, at the expense of South Africa. The opposition is still allowed to exist in order to obtain a form of apparent legitimacy.

The aim of the article is to investigate the origin of the apparently ineffective oversight role within the parliament and what the obstacles are that opposition parties experience in this regard. Obstacles relate to several of the ideas and/or institutions that define and maintain the South African polity. On the positive side, opposition parties do occasionally exercise oversight and legislation, but this is the exception rather than the rule. The most important findings of the article indicate that the opposition in parliament plays a greater and more important role than the government in acting as the protector of the South African constitution and the citizens of the country.

Keywords: constitution; democracy; failed state; legislature; legitimacy; opposition; overview; parliament; politics; rule of law; South Africa; state

 

1. Inleiding

Met die skep van die nuwe grondwet in 1994 was die gedagte dat ’n regstaat gevestig word met verskanste regte en instansies. In hierdie grondwet en staat sou dit dan nie saak maak wie regeer nie, omdat die verskanste grondwet die regering sou beperk in hoe hy regeer, sy mag gebruik of misbruik, en sy burgers behandel. Die regerende party is verplig om te regeer volgens die grondwet se bepalings en dit is die regstaat; die grondwet is die hoogste gesag (Mulder 2021). In die 27 jaar wat die ANC regeer, blyk dit egter nie die geval te wees nie. In die praktyk is baie van die Hoofstuk 9-instansies wat die grondwetlike demokrasie moet ondersteun, deur die ANC verpolitiseer en word die land se verlede en regstellende aksie ingespan as ’n wapen om die grondwet, sy instellings en instansies af te takel en na die wil van die ANC te plooi. Die enigste instelling waarmee die regerende party tot nou toe nie kon afreken nie, is die parlementêre opposisie en die toesigrol wat dit verrig.

Daar is dus ’n probleem wat ontstaan by die rol van die parlement om toesig oor die uitvoerende gesag te bied. Omdat die regerende party egter die meerderheid setels in die nasionale vergadering opneem, word hierdie rol van toesig aan die opposisie oorgelaat (Heywood 2013:316). Dit blyk dat hierdie funksies tans binne die Suid-Afrikaanse parlement geweldig belemmer word. Van binne en buite die parlement lyk dit dikwels asof daar geen toesig plaasvind nie. Tog werk opposisiepartye baie hard daaraan om toesig en verantwoordbaarheid te bewerkstellig.

Hierdie probleem laat talle vrae ontstaan: Hoekom gebeur dit dat staatskorrupsie van die afgelope 27 jaar geen gevolge het nie, ten spyte van die parlement se toesigmandaat in die grondwet? Word die toesigmandaat uitgevoer, en is daar sprake van verantwoordbaarheid in die sisteem?

In ag genome die sentrale rol wat die opposisie speel (Heywood 2013:316) ontstaan die volgende vrae: Funksioneer opposisiepartye in die Suid-Afrikaanse parlement effektief in hul rol van toesig? Kan hulle werklik aan hul mandaat van verteenwoordiging voldoen en wetgewing beïnvloed deur hul verteenwoordigers in die parlementêre komitees? Watter gevolge het die antwoorde op hierdie vrae op die legitimiteit van die Suid-Afrikaanse demokrasie? Hoekom faal die parlement in sy toesigrol ondanks al die instrumente en voorsienings wat gemaak is in die grondwet, landswette en parlementêre reëls?

Die doel van die artikel is om te ondersoek wat die oorsprong is van die oënskynlik oneffektiewe toesigrol binne die parlement en die struikelblokke wat opposisiepartye in hierdie verband ervaar. Die ondersoek sal ook kortliks verwys na die opposisie se rol in die skep van wetgewing asook hul rol as verteenwoordiger van kiesers. Hierdie rolle is sterk vervleg, aangesien hul wetgewende rol ook tot ’n mate as een van toesig gesien kan word.

Dit was nodig om hierdie navorsing te doen ten einde te belig hoe wanfunksioneel die Suid-Afrikaanse parlement is, hoe dit afbreuk aan die grondwet doen en tot die verdere afwatering van die demokrasie lei. Dit alles lei tot ’n dreigende legitimiteitskrisis vir die staat en regerende party. Dit is belangrik dat sowel die publiek as die internasionale gemeenskap kennis neem dat so ’n krisis besig is om te ontwikkel. Hierdie probleme verdien ernstige aandag en moet aangespreek word.

Die onderwerp waarop die artikel fokus, is die werking van toesig in die parlement, spesifiek ten opsigte van opposisiepartye, die toesigrol wat hulle vervul en die struikelblokke waarmee hulle te doen kry. Die effek van hierdie struikelblokke op die legitimiteit van die Suid-Afrikaanse parlement sal oorweeg en bespreek word. Hierna sal met ’n gevolgtrekking afgesluit word.

 

2. Agtergrond

Daar is nog min navorsing oor die gapings en tekortkominge binne die SA-grondwet en die parlement ten opsigte van die toesigrol en funksies van opposisiepartye gedoen. Die diepgewortelde oorsake van ’n oneffektiewe parlement en weerstand teen opposisiepartye se toesigrol moet ondersoek word. Dit is belangrik dat die grondwet en parlementêre toesig funksioneer soos dit moet, veral in die lig daarvan dat daar vir gemeenskappe wie se vryhede deur hierdie tekortkoming aangetas word, bitterlik min genade is indien dit nie van buite erken en uitgewys word nie.

Die artikel poog verder om ’n bydrae tot die navorsingsterrein te maak deur uit te wys waar daar tekortkominge in die parlement se funksionering is en wat in die praktyk probleme veroorsaak. In die onderhoude wat met lede van die parlement (LP’s) gevoer is, was daar ’n duidelike refrein: “In die grondwet staan die volgende [...], maar in die praktyk gebeur dit nie” (Schreiber 2021; Swart 2021; Mulder 2021). Daarom is meer navorsing nodig rakende die praktiese werking van die Suid-Afrikaanse parlementêre sisteem en grondwet asook verbeteringe wat daarin gemaak kan word om stabiliteit te bevorder. Southall (2000:21) het dit baie duidelik gestel dat dit wil voorkom asof navorsers probeer wegbly van netelige kwessies soos die werking van die parlement en die grondwet. Die narratief dat dit die beste grondwet ter wêreld is, is bloot nie realisties of aanvaarbaar onder vandag se omstandighede in Suid-Afrika nie. Hopelik baan hierdie navorsingsprojek die weg na oop gesprek oor hoe die regering beter bestuur kan word tot voordeel van almal en tot versterking van die demokrasie.

 

3. Definisie van begrippe

3.1 Parlementêre opposisie

Parlementêre opposisie in ’n demokrasie bestaan uit politieke partye wat tot die parlement verkies is maar nie die meerderheid of die regering in die parlement verteenwoordig nie. Hulle is dus nie aan bewind nie, is ’n minderheid in die parlement en staan tot ’n mate die regerende party teen (Nussberger, Özbudun en Sejersted 2010:4). Opposisie sorg dat die politieke minderheid wat vir hulle gestem het se belange in die wetgewer verteenwoordig word. Opposisie dien ook as ’n alternatiewe opsie om voor te stem, maar bring ook alternatiewe wetgewing, inligting en belange na die wetgewer; kry die reg op spreek- en stemreg in die wetgewer; het die reg om wetsontwerpe en mosies in te dien; en het die reg tot toesig en ondersoek van die uitvoerende gesag om magsmisbruik en mishandeling deur die meerderheid te voorkom. Dit sluit egter nie die bevoegdheid in om substantiewe besluite te neem nie (Nussberger e.a. 2010:4; Chiroro 2006:101).

Omdat die opposisie insette kan lewer vanuit hierdie minderheidsbelange in die wetgewende proses en die regerende party aanspreeklik kan hou, kan selfs minderhede in die politieke proses inkoop en word die regerende party se legitimiteit so bevestig (Solomon 2011:1–2; Nussberger e.a. 2010:7).

Kortliks is die idee van politieke opposisie in die parlement die volgende: dat daar op ’n konstruktiewe wyse aan die wettige funksies van die opposisie voldoen word deur werklike politieke alternatiewe aan te bied, toesig te hou oor die uitvoerende gesag en sodoende stabiliteit, aanspreeklikheid, deursigtigheid en legitimiteit te bevorder (Nussberger e.a. 2010:7; 31). Die mate waarin die opposisie in ’n parlementêre stelsel toegelaat word om hierdie funksies te vervul, is ’n sterk aanduiding van hoe volwasse die demokrasie is. Indien die opposisie nie hierdie rolle kan vervul nie, is dit ’n teken van ’n wanfunksionele demokrasie (Nussberger e.a. 2010:7).

Soos alreeds aangevoer, is daar in die Suid-Afrikaanse parlement verskeie probleme rakende die aanvaarde internasionale praktyk, asook dít wat die Suid-Afrikaanse grondwet impliseer die rol van opposisiepartye in die demokrasie moet wees.

3.2 Demokrasie

Volgens Diamond (2004) is ’n demokrasie ’n regeringstelsel met vier hoofelemente: ’n politieke stelsel om die regering deur vrye en regverdige verkiesings te kies en te vervang; die aktiewe deelname van die mense, as burgers, aan die politiek en die burgerlike lewe; beskerming van die menseregte van alle burgers; en ’n staat wat regeer deur die oppergesag van die reg wat bepaal dat wette en prosedures gelyk op alle burgers van toepassing is. Vir hierdie ondersoek gaan daar spesifiek op twee van dié elemente gefokus word: die politieke stelsel en die oppergesag van die reg wat Diamond (2004) soos volg beskryf:

Die demokratiese sisteem van kompetisie en mag behels dat burgers hul leiers kan kies en hierdie leiers aanspreeklik hou vir hul beleid en hul optrede in die amp. Die besluit oor wie hulle in die parlement gaan verteenwoordig, en wie die regering op nasionale en plaaslike vlakke sal lei, berus by die burgers. Dus is die regering geskoei op die toestemming van dié wat regeer word. Die eintlike soewerein is dié wat regeer word, die burgers – hulle is die hoogste vorm van politieke gesag. Mag vloei van die burgers na die leiers van die regering, wat net tydelik die mag hou. Hierdie verkose verteenwoordigers op alle regeringsvlakke moet na die mense luister en sensitief wees vir hul behoeftes en voorstelle, en daarop reageer. (My vertaling hier en elders)

Wanneer dit die oppergesag van die reg betref, behels ’n demokrasie ’n stelsel van heerskappy deur wette en nie deur individue nie. Die oppergesag van die reg beskerm die regte van burgers, handhaaf orde en beperk die mag van die regering. Almal is veronderstel om mekaar se eweknie te wees onder die reg. Geen diskriminasie op grond van ras, geloof, etniese groep of geslag kan toegelaat word nie. Niemand is bo die wet verhewe nie. Die wet word regverdig, onpartydig en konsekwent afgedwing deur howe wat onafhanklik is van die ander takke van die regering. Hierdie oppergesag van die reg beperk ook die mag van die regering. Geen regeerder, minister of politieke party mag die reg of ’n regter in sy beslissing oor ’n saak beïnvloed nie. Amptenare kan nie hul mag gebruik om hulself te verryk nie en onafhanklike howe en kommissies straf korrupsie (Diamond 2004).

Wat hierby gevoeg kan word, is dat demokrasie opposisie toelaat; nie net opposisie wat die regering teëstaan in verkiesings nie, maar ook in die wetgewers en daarby die land se hoogste wetgewer, die parlement.

3.3 Parlementêre opposisie en toesig

Die parlement is nie ’n monolitiese en homogene instelling nie, maar eerder ’n verteenwoordigende vergadering. Daar is dus nie net ’n heersende party nie, maar ook opposisie in ’n demokratiese parlement. Die rede hiervoor is dat verskillende belange en idees verteenwoordig kan word; dat daar gesonde debat en meningsverskille sal wees; en ’n onderskeid getref kan word tussen die regerende meerderheid en een of meer opponerende minderhede (Nussberger e.a. 2010:7). In ’n volwasse en volwaardige funksionerende parlementêre demokrasie is daar ’n balans tussen die meerderheid en die minderheid, wat ’n vorm van wisselwerking skep wat effektiewe, demokratiese en wettige bestuur verseker (Nussberger e.a. 2010:31).

In ’n demokrasie speel kompromie ’n belangrike rol. Die parlement behoort ’n ruimte te wees waar groepe met verskillende belange en opinies bereid is om met mekaar te onderhandel. Die idee hieragter is dat almal met verloop van tyd iets wen. Indien daar ’n groep is wat altyd uitgesluit word, kan dit in woede en frustrasie teen demokrasie draai. Almal wat ander se regte respekteer en bereid is om in vrede deel te neem, moet die reg gegun word om dit te doen (Diamond 2004).

Uit die aard van demokrasie geld die beginsel van meerderheidsregering. Binne die parlement word besluite deur die verkose meerderheid geneem. Die opposisie is gewoonlik in die minderheid, en die minderheid het vanweë die meerderheidsbeginsel van demokrasie nie die getalle, en daarom ook nie die bevoegdheid om besluite af te dwing nie (Nussberger e.a. 2010:7).

3.4 Eenparty- dominante stelsel

Hierdie vorm van regering vind plaas waar een party so oorheersend en gereeld verkiesings wen, dat hy verseker is dat hy die mag gaan behou en daarom die politiek totaal domineer. Die regerende party monopoliseer politieke mag en die regering tree op as ’n instrument van manipulasie en politieke beheer (Solomon 2011:2). Hierdie dominante partye verloor gereeld tred met die werklikheid onder die kiesers, maar hou aan om verkiesings te wen. Dit gebeur gereeld in Afrika as gevolg van die party se geskiedenis as vryheidsvegters ter wille van ’n onderdrukte meerderheid.

Met verloop van tyd lei dit daartoe dat daar nie meer onderskeid getref kan word tussen party- en staatsbelange nie, omdat die party die staat vir sy belange begin aanwend. Mag word al hoe meer gesentraliseer en die regerende party raak toenemend arrogant, ignoreer kritiek van die opposisie en ignoreer meestal die burgerlike samelewing (Solomon 2011:2). Brooks (2004:123) deel hierdie siening, maar las by dat so ’n regering sy amp misbruik deur arbitrêre besluitneming wat die integriteit van demokratiese instellings ondermyn, veral dié van die wetgewer en sy vermoë om die uitvoerende gesag te kontroleer.

Brooks (2004:130) is verder oortuig daarvan dat ten tyde van haar navorsingsprojek die ANC alreeds baie van die bogenoemde reggekry het, insluitende om beheer te neem oor die wetgewers asook plaaslike owerhede, vasstelling van beleidsontwikkelingsprosedure en ’n hegemonie oor staatsinstellings. Die eenparty-oorheersing raak dan ’n bedreiging vir demokrasie, veral wanneer die regerende party só verseker is van verkiesingsoorwinnings en gevolglik dit al hoe minder nodig ag om op openbare mening en behoeftes te reageer. Die vermoë van die opposisie om sy rol te vervul om die regering tot verantwoording te roep, sal ook op hierdie stadium in die gedrang kom omdat die dominante party hom kan ondermyn as gevolg van sy eie oorheersende posisie binne die wetgewers (Brooks 2004:149).

Volgens Brooks (2004:124) is dit baie belangrik om te onthou dat die eenparty- dominante stelsel baie nou met die opkoms van outoritêre regimes verband hou. In sulke regimes is daar geen plek vir opposisiepartye nie. Verder verwys Giliomee en Simkins (in Brooks 2004:132) na ’n akute spanning in Suid-Afrika tussen die soewereiniteit van die grondwet en die dominante party met ’n oorweldigende meerderheid. Dit is ondanks die wigte en teenwigte wat die grondwet impliseer om magsmisbruik te voorkom. Die probleem hier ontstaan veral omdat die dominante party homself sien as die vergestalting van demokrasie en daarom onafskeidbaar daarvan is. In hierdie konteks sien die ANC hom as die demokratiese wil van “die mense”.

Volgens Giliomee en Schlemmer (1994:182) is samelewings waarin die meerderheid van die kiesers hul steun op ’n permanente grondslag aan een politieke party verleen, bestem om in ’n eenpartystaat te ontwikkel, met ’n onwaarskynlike kans op demokratiese konsolidasie.

Nelson (2014:653) stel dit dat demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika nie onmoontlik is nie, maar uiters onwaarskynlik. Gevolglik is kwessies van regeringsaanspreeklikheid van geweldige belang in Suid-Afrika se dominante partystelsel. ’n Sleutelvraag is hoe sulke aanspreeklikheid verseker kan word wanneer die regerende party geen bedreiging van ’n verkiesingsnederlaag in die gesig staar nie.

Dit is belangrik om van die begrip eenparty- dominante stelsel kennis te neem, juis omdat die ANC-regering soos een optree. Die grondwet en parlement is egter nie daargestel om vir so ’n stelsel voorsiening te maak of dit te reguleer nie, maar eerder vir ’n grondwetlike demokrasie.

3.5 Parlementêre toesig

Die begrip toesig soos wat dit in hierdie artikel gebruik word, verwys na wat die grondwet noem as “toesig uit te oefen”. In Engels word die term toesig in die grondwet as “oversight” weergegee.

Volgens artikel 42:3 van die Suid-Afrikaanse grondwet word die nasionale vergadering (NV) verkies om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense te verseker. Laasgenoemde word gedoen deurdat die NV die president kies; as nasionale forum vir openbare sake dien; wetgewing aanneem; en die optrede van die uitvoerende gesag nagaan en toesig daaroor uitoefen (Suid-Afrika, grondwet artikel 42(3) van 1996).

Artikel 55:2 lui:

In die uitvoering van sy wetgewende bevoegdheid moet die Nasionale Vergadering voorsiening maak vir meganismes om te verseker dat alle uitvoerende staatsorgane in die nasionale regeringsfeer aan hom verantwoording doen en om toesig te hou oor die uitoefening van nasionale uitvoerende gesag met inbegrip van die uitvoerende wetgewing en enige staatsorgaan. (Suid-Afrika, grondwet artikel 55(2) van 1996)

Kortliks kan toesig soos volg gedefinieer word: om optrede na te gaan; verantwoording te eis; en toesig oor die regering, uitvoerende gesag en ander staatstrukture te hou soos bepaal deur die grondwet van Suid-Afrika.

3.6 Legitimiteit en illegitimiteit

Legitimiteit dui op die waardigheid om ondersteun te word, dus verwys dit na ’n gevoel dat iets geregtig is of dat daar ’n morele verpligting is om dit te ondersteun. Illegitimiteit is ook nie bloot net ’n gevoel dat iets nie waardig is om ondersteun te word nie. Illegitimiteit is eerder die waardigheid van opposisie, ’n gevoel dat ’n mens moet werk om iets te weerstaan, te ondermyn of te beveg (Lamb 2014:VI–VII).

Legitimiteit veroorsaak vrywillige nakoming van eise en versoeke of moedig vrywillige deelname aan kollektiewe pogings aan. Illegitimiteit veroorsaak weerstand teen dinge wat mense glo moreel nodig is om teë te staan. Legitimiteit is ook iets wat bilateraal is, met ander woorde soos ’n tweerigtingstraat. Burgers moet hul regeerders waardig ag om te ondersteun, maar regerings moet ook hul mense waardig ag van burgerskap en die gepaardgaande dienste (Lamb 2014:vi–vii).

Legitimiteit veroorsaak nakoming, moedig deelname aan en verlaag die koste om ’n posisie, instelling of verhouding te onderhou en sodoende stabiliteit te bewerkstellig, terwyl illegitimiteit ongehoorsaamheid veroorsaak, opposisie aanmoedig en koste verhoog, en op so ’n manier stabiliteit en volhoubaarheid bedreig.

3.7 Regstaat

Nelson (2014:634) definieer die begrip regstaat soos volg:

Die konsep van die regstaat is afgelei van die Duitse Rechtsstaat wat andersins ook ’n grondwetlike staat genoem kan word. Verder kan dit ook as ’n staat van reg, ’n staat van geregtigheid en ’n staat gebaseer op geregtigheid en integriteit gedefinieer word. Aspekte waarop dit gebaseer is, sluit in morele geregtigheid gebaseer op etiek, rasionaliteit, reg, natuurreg, billikheid en godsdiens. ’n Rechtsstaat is in dié sin die teenoorgestelde van ’n arbitrêre magstaat.

In ’n regstaat is die wette nie alleen op die burgery van toepassing nie, maar ook op die regeerders. Dit is ’n staat waarin die reg as hoogste gesag gehandhaaf word; ’n staat wat die teenoorgestelde is van ’n polisiestaat of magstaat; ’n staat waarin die owerheid wettige reëls moet nakom waartoe instemming en goedkeuring verleen is deur ’n verkose parlement; ’n staat waarin willekeurige optrede voorkom word; en ’n staat waarin regsekerheid en regsgelykheid bevorder word.

Die regstaat hou dus baie sterk verband met demokrasie soos vroeër bespreek.

Nelson (2014:640–1) wys daarop dat Suid-Afrika spesifiek ’n grondwetlike staat of regstaat is en voer aan dat dit volgens die stigtingsartikel baie duidelik gestel word. Artikel 1 word gesien en aanvaar as die grondwet se stigtingsartikel, waarvan artikel 1(c) die volgende stel: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes: (c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg” (Suid-Afrika, grondwet artikel 1(c) van 1996).

 

4. Konseptuele raamwerk

Hierdie artikel handel oor verskeie begrippe wat die Suid-Afrikaanse staatsbestel definieer en in stand hou. Die begrippe soos hier bo beskryf vorm die basis waarvandaan gewerk word. Die spesifieke staatsbestel waarna verwys word, is die demokratiese Suid-Afrikaanse regstaat, die grondwet wat dit moet onderhou en die parlement as instansie wat ’n toesigrol oor die regering en die regstaat moet verrig.

Binne die Suid-Afrikaanse konteks is daar egter probleme met die funksionering van die instellings en instansies wat deur hierdie begrippe veronderstel word. Omdat hulle nie die funksies verrig soos wat die begrip veronderstel nie, lei dit tot ’n gebrek aan legitimiteit. In hierdie artikel word daar spesifiek gefokus op die begrip toesig binne die parlement as een van die funksies daargestel deur die soewereine grondwet van die regstaat.

’n Sterk opposisie dien as goeie instrument van balansering in die parlement en die staat. Volgens die grondwet wat die regstaat daarstel, is die regering en uitvoerende mag verplig om verantwoording aan die parlement te doen. Die opposisie, soos verkies deur die Suid-Afrikaanse proporsionele kiesstelsel, is deel daarvan. Indien beide die opposisie en die regering voldoen aan die vereistes soos hier en in die grondwet gestel, gee dit aan die staat ’n geweldige sterk legitimiteit. Wanneer die staat, regering en regerende party egter versuim om aan die soewereine grondwet en sy instellings gehoor te gee, die opposisie se toesigrol ignoreer of selfs ondermyn en die parlement as instrument vir staatskaping gebruik, verval die legitimiteit van die staat. Dus kan die gevoel onder burgers ontstaan dat hulle ’n morele verpligting het om die staat teë te staan.

Om hierdie rede is die begrip regstaat belangrik vir hierdie artikel. Die grondwet onderhou die regstaat en die grondwet skryf spesifiek voor dat die parlement toesig moet hou oor die staat, regering en uitvoerende gesag en hulle tot verantwoording moet bring.

Na 27 jaar het daar egter ’n eenparty- dominante regime binne die grondwetlike demokrasie gevorm, wat dit reggekry het om al die demokratiese instellings wat regulering oor die uitvoerende mag moet uitoefen, onder hul mag te kry. Al neem opposisiepartye in hierdie konteks aan verkiesings en toesig deel, was hulle magteloos om die ANC se outoritêre oorname van die staat te stop en is die toesig wat hulle kan bied minimaal.

 

5. Literatuurstudie

5.1 Noodsaaklikheid en tersaaklikheid

Navorsing wat in die Suid-Afrikaanse politieke konteks gedoen is, dui daarop dat opposisiepartye ’n baie belangrike rol het om hier te speel. Behalwe dat politieke partye die publiek in die wetgewer verteenwoordig (Solomon 2011:1) meen Shills (in Southall 2000:22) dat die opposisie ’n hele reeks funksies verrig, soos om botsende belange op ’n geïnstitusionaliseerde wyse uit te druk; die regering bewus te maak van belange waarvan die regering nie kennis dra nie; die regering se prestasies te verbeter deur kritiek te lewer op hul foute en tekortkominge; en te wys op ongeregtighede. Volgens Giliomee en Simkins (in Brooks 2004:123) is sterk politieke opposisie noodsaaklik om die beweegredes van outoritêre neigings en magsmisbruik binne enige regering en spesifiek in die konteks van die Suid-Afrikaanse regering te ondersoek.

Verskeie van die navorsingspublikasies wat vir hierdie artikel bestudeer is, meen dat die regeer van die staat deur die ANC ’n eenparty- dominante stelsel is, en dat hierdie stelsel in Suid-Afrika besig is om tekens van outoritarisme te begin toon. Hulle lê klem op die belangrikheid van toesig en dat die rol van die opposisie daarin baie belangrik is. Lotshwao (2009:907) benadruk ook dat daar intern in die ANC nie demokrasie plaasvind nie, maar dat beheer eerder met ’n Leninistiese ysterhand deur leierskap uitgevoer word en min beweegruimte bied aan ANC-LP’s wat wel die toesigfunksie wil uitvoer en dinge wil verbeter.

Die swak politieke kultuur wat in Suid-Afrika posgevat het, noop mens om ondersoek in te stel na wat presies die struikelblokke is wat opposisiepartye in hul toesigrol belemmer, eerder as om die opposisie bloot te sien as ’n “regering in afwagting” (“government in waiting”). Daar is duidelike struikelblokke in die pad van die toesigrol wat die opposisie ontmagtig om teen die outoritêre en korrupte neigings van die ANC-regering te veg. Hierdie struikelblokke moet bevestig word deur navorsing en ’n oplossing moet gevind word.

Die demokratiese probleem van ’n staat wat begin optree soos ’n eenparty- dominante stelsel word op verskeie maniere uitgelig en benader. In my navorsing het ek gevind dat die blaam voor die deur van swak en gefragmenteerde opposisiepartye gelê word. Opposisiepartye word ook blameer dat hulle nie ’n genoegsaam wye beleid en ideologie het om die massas swart kiesers na hulle aan te trek nie, wat lei tot stemmery volgens raslyne en veroorsaak dat opposisiepartye nooit genoeg groei om ’n bedreiging vir die regerende party in te hou nie.

Alhoewel navorsers dit verskillend stel, blyk daar steeds die verwagting te wees dat ’n goeie opposisieparty op die een of ander stadium die regerende party sal vervang. Op geen stadium word genoem dat opposisiepartye wat reeds vir 27 jaar teen ’n dominante eenpartystelsel veg en oorleef, soms selfs in hul toesigrol slaag en dalk ook ’n groot rol in die demokrasie speel nie. Ek meen dat baie van die navorsing oor die onderwerp val onder wat Southall beskryf as “intellektuele huiwering” en ’n “onrusbarende gebrek aan belangstelling” wat eintlik ’n onvermoë is om werklik krities te dink oor wat fout is, en krities te wees oor die regerende party. Lotshwao (2009:914) wat as buitestander Suid-Afrika ontleed, kwalifiseer die probleem as die ANC se tekort aan interne demokrasie en hul eenparty- dominante manier van doen, en dit lyk al hoe meer asof hy die spyker op die kop slaan.

5.2 Bydrae tot die vakgebied

Daar is reeds vir jare ’n bekommernis by akademici oor Suid-Afrika se demokrasie, die ANC se dominerende houding en die rol van toesig deur die opposisie. Daar word egter op ander kwessies as die werking van die parlement gefokus om die oorsake en die oplossings vir bogenoemde te kry. Die oogmerk van hierdie artikel is om hierdie gaping te vul.

Southall (2000:21) meen dat daar ’n dringende tekort is aan professionele belangstelling in die Suid-Afrikaanse politiek deur die land se eie politieke wetenskaplikes. Verder is daar heelwat gevalle waar die ANC deur opposisie gekritiseer word, en intellektuele huiwerig is om die kritiek te ondersteun omdat hulle vrees dat hulle as teenstanders van die ANC geïdentifiseer sal word. Spesifieke areas waarin daar tekorte is in navorsing, volgens Southall, is as volg: funksionering van die parlement, die werking van provinsiale wetgewers en die prestasie en impak van demokrasie-ondersteunende kommissies.

Laastens beklemtoon Southall (2000:22) dat kritiek op die regerende party nie net van die opposisie moet kom nie, maar ook van die regerende party self. Dié punt sal later in oorweging geneem word wanneer die interne demokrasie in die ANC bespreek word.

Baie navorsers is daarvan oortuig dat die opposisie veronderstel is om die toekomstige regering te word, of in Engels gestel die “government in waiting” is. Dit is dalk waar in die geval van baie Westerse demokrasieë, maar in die Afrika-konteks is dit uiters skaars. Beide Solomon (2011:5) en Southall (2000:12) is van die opinie dat demokrasie slegs effektief is as die opposisie ’n uitdaging vir die regerende party is en hom sal vervang as hy nie presteer nie. Die siening is immers dat demokrasie eers gekonsolideer is wanneer die opposisie die regerende party as ampsdraer vervang en die oorgang vlot verloop.

Southall (2000:13) las egter hierby, eerstens dat opposisie ook gewoonlik regeringsbeleid weerstaan of ten minste moet toets en tweedens dat daar inderwaarheid nie in die Suid-Afrikaanse konteks ’n opposisieparty is wat ’n kans staan om die ANC te vervang nie.

Brooks (2004: 144–5) bevestig dan ook die rede vir my navorsing wanneer sy Southall se stelling beaam en dit stel dat hierdie funksie van die vervanging van die regerende party deur opposisie net een rol van opposisie is. Dit is belangriker vir opposisie om ’n geloofwaardige en legitieme mag binne die politiek te wees wat ernstig opgeneem word en in staat is om die regering tot verantwoording te roep. Chiroro (2006:119) sluit ook hierby aan en maak dit duidelik dat, onder omstandighede in Suid-Afrika, die klem moet skuif van opposisie wat ’n regering is wat wag om oor te neem na die artikulering van die rol van opposisie. Dit sluit in, om in die bresse te tree vir minderhede en die regering aanspreeklik te hou vir hul dade.

Solomon (2011:1–2), Brooks (2004:145) en Southall (2000:17) is dit eens dat toesig oor die regering en om hulle tot verantwoording te roep, van die belangrikste funksies is wat die opposisie in die Suid-Afrikaanse konteks kan speel. Solomon ondersteun hierdie argument omdat dit sal veroorsaak dat alle sektore betrokke in die politieke proses sal inkoop en die regerende party só hul legitimiteit bevestig. Dit geld dan ook vir die proses van die skep van wetgewing. Vir Brooks is toesig weer baie belangrik omdat, soos reeds genoem, daar nie werklik ’n opposisieparty is wat die ANC kan ontsetel nie. Opposisiepartye wat nie verantwoording van die regerende party kan verseker nie, dra volgens haar dan slegs by tot die gewig van die dominante party.

Southall (2000:20) stel weer die vraag in die konteks van die ANC as dominante party: kan die ANC werklik tot verantwoording gebring word indien daar nie ’n party is wat hul mag by die stembus bedreig nie? Brooks (2004:150) sluit hierby aan, maar meen dat die ANC ’n “catch all”-party is wat moeilik is om hoegenaamd mee te kompeteer. Juis onder hierdie omstandighede van ’n eenparty- dominante stelsel, is dit soveel te meer belangrik dat die toesigrol behoorlik vervul word, maar sy is pessimisties hieroor. Haar opinie is dat opposisiepartye nie geloofwaardigheid in die oë van die meerderheid (swart) kiesers het nie, omdat die partye nie vir hul sienings en politiek voorsiening maak nie (Brooks 2004:122, 128).

 

6. Die struikelblokke en strategieë in toesig – gebaseer op onderhoude met opposisie-LP’s1

Daar is drie onderhoude met die volgende LP’s van opposisiepartye gevoer:

  • Dr. Leon Schreiber, DA
  • Adv. Steve Swart, ACDP
  • Dr. Corné Mulder, VF Plus

Die EFF, IVP en ANC is ook genader om deel te neem, maar het nie reageer op verskeie versoeke nie.

6.1 Die werking van die parlement en die beantwoording van vrae

Die eerste groot struikelblok wanneer dit kom by die toesigrol van die opposisie is gesetel in die aard van demokrasie, en hoe die demokratiese sisteem en parlement werk. Vanweë dié werking, is die regerende party die meerderheid in die parlement, en dus in die wetgewende gesag. Omdat geen party homself skade wil aandoen nie, is LP’s van die regerende party nie baie ernstig wat toesig betref nie, omdat dit sal beteken jy ontbloot jou eie minister of kollega en dit kan die party skade doen, wat die kanse van die party se herverkiesing kan verminder. Dit stem ooreen met die bevindings van Lotshwao (2009:903) wat benadruk dat ANC-LP’s gebind is deur partydissipline en sentralisme, en daarom geensins toesig kan verrig nie.

Die proporsionele kiesstelsel gee aan partye en partyleierskap die vermoë om geweldige streng partydissipline binne hul partye toe te pas en lede wat nie “na wense” optree nie, of die party in ’n swak lig stel, maklik te vervang. Hierdie kwessie ondermyn toesig in die parlement veral binne die ANC. Die argument bestaan om terug te keer, of gedeeltelik terug te keer na die kiesafdelingkiesstelsel. Alhoewel dit die probleem van partydissipline sal aanspreek en LP’s ’n persoonlike mandaat van hul kiesafdelings sal gee, is die probleem dat die ANC ook die meeste van daardie setels sal kry aangesien kiesafdelingstelsels “alles of niks” is – dus kry die party met die meeste stemme die setel en gaan die ander stemme verlore. Dit sal verder die deure vir die ANC oopmaak vir wat bekend staan as “gerrymandering” of afbakeningsgeknoei. Afbakeningsgeknoei is wanneer politici peuter met kiesafdelings se afbakening om seker te maak dat hulle hul setels behou en selfs meer setels wen. Dus is die kiesstelselargument ’n meer komplekse probleem, wat ’n navorsingsprojek op sy eie regverdig.

Die rol van toesig lê dus by die opposisie, maar om effektiewe toesig vanuit ’n minderheidsposisie uit te oefen is ’n baie moeilike taak (Mulder 2021). Die toesigrol word nie heeltemal volledig toegepas nie, en volgens Schreiber (2021) is daar ’n groot leemte. Die voorbeeld wat hy gebruik, is by die begroting: Hy stel voor dat die NV, en dus ook die opposisie, by magte is om die begrotingsvoorstel te wysig en die prioriteite daarvan aan te pas. Die opposisie het immers die reg daartoe, maar weens die ANC se meerderheid word dit nie toegelaat nie. In die lig daarvan dat die meeste van die korrupsie in die staat deur misbruikte of bloot gesteelde begrotings van verskeie departemente plaasvind, maak Schreiber ’n belangrike punt.

Al drie die LP’s met wie onderhoude gevoer is, was dit eens dat vrae ’n baie effektiewe instrument is om toesig mee uit te oefen, maar die manier waarop ministers op vrae reageer kan ’n struikelblok wees. Schreiber noem dat die vrae dikwels nie beantwoord word nie en dat geskrewe vrae se antwoorde soms uiters laat ingedien word en sodoende ’n mate van toepaslikheid verloor. Die stelling deur Schreiber kan bevestig word deur die parlement se eie 2020-verslag wat daarop dui dat ’n baie groot aantal vrae laat beantwoord word (PMG 2020). Volgens Schreiber is daar ook dikwels ’n onwilligheid onder baie ministers en hul departemente om vinnige en omvattende antwoorde te verskaf, of hulle is bloot onwillig om inligting bekend te maak. Navorsers in die parlement ontvang gereeld ’n antwoord wat stel dat die inligting nie geredelik beskikbaar is nie en eers verkry moet word, waarna dit aan die betrokke party gestuur sal word. Die antwoord daag egter nooit op nie en die parlement merk die vraag as beantwoord. Hierdie praktyk is nog ’n bevestiging van die lae koers van antwoorde op vrae waarna hier bo verwys word. Laastens is dit volgens Schreiber, soos gesien kon word met die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, ’n probleem dat vrae nie gedurende reses of kiesafdelingtyd ingehandig kan word nie. Probleme duik juis dan ook op.

Volgens Mulder maak die manier waarop die ANC die parlement laat funksioneer opposisiepartye minder lojaal teenoor die proses, omdat dit so oop is vir manipulasie.

Al drie LP’s verwys na verskeie strategieë wanneer dit kom by die beantwoording van vrae wat die ANC gebruik om hulself te beskerm: vertraging om die vrae te beantwoord; niksseggende antwoorde; onvolledige antwoorde; en sterk pogings om die vrae te ontduik. Die speaker se rol is ook hier belangrik; indien sy nie haar rol behoorlik vervul nie, laat sy ministers wegkom met onvolledige en ontwykende vrae, wat die proses ondermyn. Hierdie optrede van die speaker laat ministers ook toe om vrae te ontduik en nog onvollediger te beantwoord of selfs heeltemal te ignoreer.

Swart, Mulder en Schreiber sien die vrae wat die ANC aan hul eie ministers stel bloot as “soetliefvrae” – vrae wat in samewerking met die minister plaasvind, die minister se beeld poets, en selfs probeer om ’n valse beeld te skep en die waarheid te verbloem. Dit verrig geen toesigrol nie. Schreiber noem dat speakers gereeld ministers beskerm wat op ernstige vrae totaal sinnelose antwoorde gee.

6.2 Die ANC se siening van opposisie

Op die vraag of vrae deur ANC-lede tot toesig bydra, was Schreiber se antwoord dat daar duidelik samewerking tussen die minister en ANC-LP’s is wat die toesigdoel van vraetyd verydel. Die doel hiervan is dan ook dikwels om ’n valse beeld te skep van wat in die regering aangaan.

Swart (2021) van die ACDP het hierby aangesluit asook by die vorige kommentaar van Mulder toe hy verwys na die ANC wat nie effektief toesig uitoefen nie en opposisie se getalle in die wetgewer wat minderheidspartye verhoed om dit effektief te doen. Tog stem hy saam daarmee dat dit soms moontlik is om die ANC of van hul lede te oortuig dat ’n kwessie aangespreek moet word. Die kuns van politiek lê in die vermoë om te oorreed. Indien dit nie werk nie, is die enigste opsie om steun buite die parlement te mobiliseer en deur die openbare mening die staat tot aksie te dwing.

Volgens Mulder (2021) manipuleer die ANC die parlementêre meganismes tot sy voordeel, wat minderheidspartye beperk. Ook noem hy dat een van die grootste beperkinge die tekort aan staatsdienskundigheid in opposisiepartye is. Wanneer ’n opposisielid toesig uitoefen, staan die LP nie net teen ’n ander LP of selfs teen die meerderheidsparty nie, maar teen die hele staatsbestel met al sy vermoëns as rugsteun. Alhoewel daar ’n driedeling van mag veronderstel word tussen die uitvoerende, regsprekende en wetgewende gesag, is daar in die praktyk ’n sterk ineenloping van die uitvoerende en wetgewende gesag, omdat daar ’n partykonneksie tussen hulle is. Hierby kan ons voeg dat dit vererger word deur kaderontplooiing en partylojaliteit wat daarmee saamgaan. Mulder noem ook dat die sterk koukus-sisteem wat Suid-Afrika van die Britse parlement geërf het, daartoe bydra om individuele LP’s van die meerderheidsparty wat toesig wil uitoefen, te neutraliseer oftewel te beperk.

Schreiber (2021) benadruk dat die ANC se politieke kultuur nie toesig en opposisie sien as dinge wat belangrik is en gerespekteer moet word nie. Indien hulle dit wel sou doen, meen hy dat dit die ANC se legitimiteit sou versterk. Uit die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) blyk dit dat die ANC hulself as ’n alwetende en allesoorheersende mag sien. Omdat hierdie alwetende ANC dan die samelewing lei en weet wat goed is vir almal, kan daar nie goeie idees van ander partye af kom nie. Nog minder het hierdie partye die reg tot toesig oor die alwetende regeerders. Dit sluit aan by Lotshwao (2009:902) wat genoem het dat die ANC opposisiepartye onder andere as illegitiem sien. Maar soos wat die ANC legitiem is as gevolg van ’n verkiesing wat hulle gewen het, net so is die opposisie legitieme opposisie omdat hulle daardie posisie ook deur dieselfde verkiesings gewen het. Die verskil is dat die meeste opposisiepartye se optrede baie meer polities legitiem is as dié van die ANC.

Swart meen die toesigrol word belemmer deur die konstante bevordering van sosialistiese beleid deur die ANC, ten koste van die burgers van die land en die ekonomie. Hy haak dit dus soos Schreiber aan die ANC se beleid wat deur die NDR gevorm is.

6.3 “Sagte mag”

Alhoewel toesig moeilik is om as minderheid uit te oefen, is daar egter voorbeelde van suksesvolle toesig. Die voorstel om die openbare beskermer te vervang, is deur die DA gemaak en is deur die meeste opposisiepartye asook die ANC gesteun (Schreiber 2021). Ook het verskeie opposisiepartye, onder andere die ACDP en VF Plus, asook die ANC ’n belangrike rol gespeel by die SAUK- en ESKOM-ondersoek. Dit het gelei tot die afdanking en vervanging van die SAUK se raad, terwyl die ESKOM-ondersoek aanleiding gegee het tot die Zondo-kommissie wat baie van die ESKOM-ondersoek se bevindings gebruik het (Swart 2021). Volgens Swart was daar geweldige druk, selfs doodsdreigemente, om nie by die ondersoek betrokke te raak of daarmee voort te gaan nie. Vir hom was dit ’n goeie voorbeeld van hoe toesig veronderstel is om te werk, in teenstelling met die huidige situasie waar daar vrae gevra word aan departemente in portefeuljekomitees en daar nie behoorlike antwoorde gebied word of geleentheid is om antwoorde op te volg nie. Indien ’n LP wel opvolg lei dit nie tot sinvolle interaksie nie, aldus Swart.

Beide Swart en Mulder (2021) verwys na die Nkandla-ondersoek as nog ’n voorbeeld van suksesvolle toesig. Mulder noem dat die Nkandla-sage werklik ’n verleentheid vir die ANC was, maar dat die ANC ten spyte daarvan en ten spyte van al die bewyse steeds probeer het om alles onder die mat te vee. Die openbare beskermer, wat buite die parlement staan, kon die saak verder neem en moes die saak afhandel. Swart noem in hierdie verband dat die grondwethof ook haar bevindings moes staaf nadat dit uitgedaag is en sy bevind het dat die president, die uitvoerende gesag en die parlement hul grondwetlike verpligtinge versaak het. Dus het die parlement in sy toesigrol misluk, al het die opposisie hul bes probeer doen om toesig uit te oefen. Dit is dus ook ’n voorbeeld van hoe daar, ongeag geldige bewyse en Hoofstuk 9-instansies se bevindinge, steeds nie voldoende toesig in die parlement uitgeoefen kan word nie.

6.4 Privaatlidwetsontwerpe

Daar is ook enkele voorbeelde van opposisiepartye wat privaatlidwetsontwerpe deur die parlement goedgekeur gekry het. Van die DA se kant was daar Mike Waters se Wysigingswetsontwerp op die Kinderwet, wat onder andere vereis dat daar ’n register van oortreders van hierdie wet opgestel word. Schreiber (2021) bevestig dat daar besluit is om die wetsontwerp ’n komiteevoorstel te maak. Dit toon dat daar sekere kwessies is waaroor alle partye kan saamstem, maar die aanname kan ook gemaak word dat dit nie suksesvol sou wees indien dit in die DA-lid se naam voortgegaan het nie. Volgens Schreiber is daar die siening onder die ANC dat indien daar goeie wetgewing geskryf word en dit van die opposisie kom, dit as ’n nederlaag vir die ANC gesien word, eerder as ’n oorwinning vir die hele land. Die politieke besluit is dus om dit eers af te keur en later redes daarvoor te soek. Dit sou beter wees om te kyk of die wetgewing in beginsel goed is en dan die tekortkominge daarin as komitee te bespreek en te verbeter, eerder as om dit bloot af te skiet, aldus Schreiber.

Swart (2021) verwys weer eerder na die gebruik van beïnvloeding, debattering en direkte skakeling met ander LP’s, asook hoe die ACDP die guns en respek wat dit deur jare in die parlement opgebou het, tot voordeel gebruik wanneer dit wetgewing of wysigings daaraan voorstel. Hy gebruik die voorbeeld dat hy in die finansieskomitee gereeld met die minister kon skakel. In die komitee kon hy die kwessie dat die Nasionale Vervolgingsgesag en Spesiale Ondersoekeenheid nie genoeg befondsing kry nie, aanspreek. Hierdie skakeling het daartoe gelei dat minister Tito Mboweni later ekstra befondsing hieraan toegestaan het. Volgens Swart het grootdoenerigheid voor die kameras in die NV en om, in sy woorde, gereeld in die parlement te skreeu, meer nadele in die praktyk, alhoewel dit kiesers tevrede mag stel. Hy benadruk die gebruik van sagte mag en guns, asook dat ’n LP en party deur baie jare geloofwaardigheid by die regerende party en by ander opposisiepartye moet opbou om later te gebruik. Uit die voorbeelde wat hy noem, blyk dit ook dat, veral vir ’n party met so ’n klein parlementêre voetspoor, die ACDP uiters suksesvol in privaatlidwetsontwerpe is.

Cheryllyn Dudley het in 2017 die eerste privaatlidwetsontwerp deur die parlement gekry met haar “Labour Laws Amendment Bill” wat pa’s die geleentheid gun om vaderskapverlof te neem met die geboorte of aanneem van ’n kind (Swart; Gerber 2017). Hierdie sukses word ook toegeskryf aan debattering en skakeling met opposisie en die meerderheidsparty om steun vir die wetsvoorstel te mobiliseer. Die ACDP het selfs met die werkersunies geskakel om ook hul steun te verkry. Swart skryf die mate waarin ’n wetsontwerp aanvaar word toe aan wie dit ter tafel lê en die wyse waarop dit ter tafel gelê word, en beklemtoon die belangrikheid om dit op ’n konstruktiewe wyse te doen. Die rede waarom privaatlidwetsontwerpe afgeskiet word is volgens Swart omdat dit nie strook met interne ANC-beleid nie. Voorbeelde hiervan is wysigings wat voorgestel is deur die ACDP oor selfdegeslaghuwelike en aborsies en wat deur die ANC en soms ander partye afgekeur is, en wat hy toeskryf aan die ANC se verbintenis met sekere liberale groeperings wat hulle steun maar ook sterk beïnvloed.

Mulder (2021) stel dit dat die manier waarop privaatlidwetsontwerpe hanteer word baie van die voorsitter van die komitee afhang. Sommige voorsitters tree bloot as kaders op wat nie onafhanklik dink nie en bloot instruksies van bo af volg. Verder hang dit ook van die individuele LP af wat die wetsontwerp indien. As die persoon se houding en manier van doen aanstoot gee, sal sy voorstel nie ver kom nie, meen Mulder. Hy lê, soos Swart, ook sterk klem op die gebruik van sagte mag in komitees, die kuns van oortuiging, en die opbou van geloofwaardigheid in jou party en persoon, sodat wanneer jy praat ander LP’s sal luister en die voorstel oorweeg. Volgens hom is die bou van verhoudings tussen individue van verskillende partye uiters belangrik vir samewerking en ook sukses in die parlement. Selfs die beste debat is egter nie genoeg wanneer dit duidelik is dat die ANC instruksies het om wetgewing deur te voer of ’n voorstel te ignoreer nie, meen Mulder.

Mulder noem ook dat die atmosfeer in die parlement en veral in komitees baie verswak het sedert die koms van die EFF en hul bombastiese, aanvallende manier van doen. Volgens Mulder is dit ooglopend dat daar baie meer in ’n komitee gedoen word wanneer die EFF afwesig is as in die sittings waar hulle teenwoordig is.

’n Goeie voorbeeld van wat die VF Plus onlangs met die “sagte mag”-benadering reggekry het, is die wet op die befondsing van politieke partye. Volgens Mulder was sy invloed in die komitee en bilaterale gesprekke agter die skerms met die ANC en die kleiner partye die strategie wat hierdie wetsontwerp laat slaag het. Partye is ook spesifiek buite die onderhandelings gelos vanweë hul manier van doen in die parlement. Die twee spesifieke partye wat hy noem wat die onderhandelinge sou “bedinges” het, is die EFF en die DA. Volgens Mulder is die privaatlidwetsontwerp ’n instrument wat maar onlangs, na die uitspraak van die grondwethof in 2012 ten gunste van die IVP-LP Mario Ambrosini (Makinana 2017), deur LP’s in gebruik geneem is. Volgens hom het die ANC se swak houding teenoor privaatlidwetsontwerpe van opposisiepartye veroorsaak dat die instrument nou eintlik vir propagandaredes gebruik word. Maar as mens werklik wil hê so ’n stuk wetgewing moet slaag, is die ANC se samewerking nodig (Mulder). Volgens hom het die VF Plus nog nie enige suksesvolle privaatlidwetsontwerpe ingedien nie.

6.5 Verteenwoordiging van kiesers

Schreiber (2021) meen dat ’n opposisieparty wel sy kiesers kan verteenwoordig onder die ANC-omstandighede, maar slegs deur baie harde werk en deursettingsvermoë. Een van die grootste struikelblokke wat die ANC gebruik, is die taktiek om dinge te vertraag en so kompleks as moontlik te maak, veral as dit kwessies is wat die opposisie uitwys. Gegewe die parlement as die staat se belangrikste wetgewer behoort dit baie vinniger en makliker te wees om kwessies te identifiseer en op te los. Die enigste manier om die probleem op te los is om die ANC se eenpartyoorheersing te verbreek en dit kan net in ’n verkiesing gebeur.

Vir Swart (2021) is die manier waarop jou party homself in die parlement handhaaf weer eens van belang wanneer dit by die verteenwoordiging van kiesers kom. Indien die regerende party jou respekteer het jy ’n groter kans dat hulle aan jou gehoor sal gee, alhoewel dit nie verseker is nie, veral in die geval wanneer iets nie met hul ideologie strook nie.

Mulder (2021) is van mening dat die antwoord op die vraag van effektiewe verteenwoordiging beide ja en nee is. Hy meen dat kiesers verstaan dat ’n opposisieparty nie die meerderheid in die parlement is nie en daarom beperk is in sy verteenwoordiging van hierdie kiesers. Maar selfs binne die beperkinge, skep die grondwet wel vir die party ruimte vir verteenwoordiging en toesig deur die stel van vrae, debatte wat gevoer word en privaatlidwetsontwerpe wat gebruik kan word om klem op ’n saak te lê. In wese kan die kiesers van ’n opposisieparty suksesvol verteenwoordig word, maar net tot op ’n punt omdat die party nie die meerderheid in die parlement is nie.

6.6 Die afwatering van legitimiteit van die regstaat

Schreiber (2021) benadruk dat die onlangse onluste in KwaZulu-Natal ’n toonbeeld was van die geweldige probleem van die legitimiteit van die regerende party en staat wat besig is om te kwyn. Hy voeg daarby dat die lae stempersentasie nog ’n manier is om die staat se legitimiteitskrisis te vertolk. Die parlement is ook in ’n krisis. Die mees onlangse voorbeeld daarvan is toe die hoofsweep van die DA, Natasha Mazzone, vra dat die parlement van reses herroep moet word om uit te vind waarom die onluste so handuit geruk het. Die speaker van die parlement se antwoord was eenvoudig nee.

Schreiber se opinie wanneer dit by die regstaat kom, is ingewikkeld: regspraak is nog legitiem, maar het ernstige bedreigings. Die regbank is onder verdenking as gevolg van die manier waarop regters aangestel word en die manier waarop mense soos Julius Malema kandidate op grond van ras en geloof by die regterlike dienskommissie probeer uitskakel. Daar is egter ’n groot probleem binne die regstaat wanneer dit kom by misdaadvoorkoming en die toesluit van misdadigers, en ook by die parlement se legitimiteit spesifiek met verwysing na die speaker.

Schreiber sien die Zuma-inhegtenisname as ’n manier waarop die regstaat van sy legitimiteit kan terugwen. Die uitspraak van die grondwethof om Zuma vir 15 maande te vonnis het tot die staat se legitimiteit bygedra, maar sedert die onderhoud gevoer is, is Zuma weer uit op mediese parool en is hierdie geleentheid verspeel (Pitt 2021). Schreiber noem dat die probleem juis daarby lê dat daar heeltemal te min vervolgings is en dit wil voorkom of die skuldiges net nooit agter tralies gaan beland nie.

Swart (2021) stel dit dat die regering wel wettige legitimiteit het omdat die proses om verkies te word en daarom te regeer volgens die grondwet gevolg is en dat die verkiesing as vry en regverdig beskou is. Daar is egter probleme met die politieke legitimiteit as gevolg van diefstal van staatshulpbronne en belastinggeld, korrupsie en die uitwerking daarvan op die ekonomie.

Mulder (2021) sien, soos Swart, die legitimiteit ietwat as ’n grys area omdat die regering tegnies-juridies legitiem is aangesien dit die verkose meerderheid is en die uitvoerende gesag beklee volgens die bepalings van die grondwet. In terme van politieke legitimiteit kan die regering egter hoegenaamd nie as legitiem gesien word nie. Die rede is dat die ANC as regering nie sy verantwoordelikheidsplig teenoor burgers op ’n effektiewe, korrekte, billike en regverdige manier nakom nie. Dit impliseer dat daar nie korrupsie moet wees nie, dat daar nie diefstal van staatsfondse sal wees nie, en dit absoluut in alle opsigte moet gaan oor die beste belange van die burgery. Die ANC-staat faal in elkeen van hierdie vereistes. Dit is baie duidelik bevestig deur die Zondo-kommissie asook ’n ondersoek deur die Instituut van Rasseverhoudinge, en die ANC is tot op die hoogste vlakke aan korrupsie skuldig, soos aangetoon deur Duvenhage (2021). Mulder meen die regering het enige morele reg om te regeer, verloor en dit is ’n illegitieme regering. Die feit dat hulle deur ’n verkiesing verkies is, is letterlik die enigste ding wat legitiem is omtrent die ANC-regering.

6.7 Die grondwet

Rakende die grondwet verwys Mulder (2021) daarna dat die Suid-Afrikaanse grondwet elemente van die beste internasionale praktyk bevat. Daar is egter ook ’n tweede grondwet binne die Suid-Afrikaanse grondwet wat bepaal dat, wanneer voorheen benadeeldes of agtergeblewenes ter sprake is, hierdie beste praktyk nie geld nie. Dan kan daar na hartelus gediskrimineer word op grond van ras, geslag ensovoorts, en kan sekere diskriminerende praktyke gekwalifiseer word. Mulder meen dat die Suid-Afrikaanse grondwet dus nie so goed is soos wat daar voorgegee word nie.

Mulder maak ’n belangrike punt deur te sê dat die hele staatskaping-saga en die afgelope 27 jaar se korrupsie plaasgevind het onder die toesig en beheer van die parlement soos wat dit tans opgestel is. Gedurende die Zuma-jare was die opposisie magteloos om die toesigrol effektief te vervul totdat ’n groepering binne die ANC besef het dat dinge moet verander voordat die staat en die ANC ondergaan. Van daar af kon hulle begin om weer die legitimiteit van die parlement te herstel.

Mulder meen dat met die opstel van die grondwet sy siening was dat as dit die grondwethof is wat die regstaat in stand hou of bewaak (sien ook Nelson 2014:645), die regters mettertyd die grondwet uit hul eie oogpunt begin interpreteer, veral in die lig daarvan dat ’n komitee wat oorheers word deur die ANC hulle aanstel. Verder noem Mulder dat die grootste onreg wat hy nog in sy loopbaan beleef het, in sy tyd op die regterlike dienskommissie was wat verantwoordelik is vir die aanstel van regters volgens artikel 178 van die grondwet. Hier was ’n sterk ras- en geslagstransformasie-agenda gedryf en is die beste kandidate daarom nie aangestel nie. Nelson (2014:646) het ook hierdie punt bevestig. Volgens Mulder is die regstaat daarom oneffektief en afgewater.

Die mandaat van toesig is volgens Schreiber (2021) voldoende in die grondwet. Hy sien die probleem eerder as ’n tekort aan politieke wil, hoofsaaklik omdat die ANC gemaklik is met die status quo. Die mandaat van toesig in die grondwet is sterk genoeg, maar word nie in werklikheid deur die ANC geag nie en word nie behoorlik geïmplementeer nie. Schreiber voel verder dat dit maklik is om die blaam op die grondwet te lê. Suid-Afrika se probleme kom egter by die implementering van die grondwet deur die staat. Swart (2021) sluit hierby aan deur te verwys na Thandi Modise wat voor die Zondo-kommissie om verskoning gevra het vir vorige parlemente wat nie toesig uitgeoefen het nie. By dié geleentheid het Swart die speaker daarop gewys dat die ACDP en opposisiepartye alles in hul mag gedoen het om Zuma se korrupsie oop te vlek en hul toesigrol te vervul, maar dat hulle gedurig deur die ANC geblokkeer is. Sy kan dus nie namens die hele parlement om verskoning vra nie, want die opposisie was nie aandadig aan die toesmeerdery nie (sien ook Gerber 2021).

Volgens Mulder is voldoende meganismes deur die grondwet daargestel om toesig uit te oefen, maar die fout lê by hoe die regerende party die toesigrol hanteer. Die ANC se belange lê eerder by die uitvoerende gesag. Mulder sien verder dat die regerende party se LP’s doodeenvoudig nie die wil het om hul toesigrol te verrig nie, en omdat die rol dan op opposisiepartye val, sal dit sinvol wees om die rol in die grondwet beter uit te stippel en die opposisie meer magte te gee. Hy verwys ook na die tradisie om die staande komitee oor openbare rekeninge (SKOOR) se voorsitter uit ’n opposisieparty aan te stel, en verwys na die Britse parlement waar die speaker soms uit die opposisie se geledere gekies word. Schreiber het ook na SKOOR verwys, asook die voorbeeld van die Nieu-Seelandse regering wat die leier van die opposisie oor hul COVID-19-komitee aangestel het om toesig oor die regering se reaksie uit te oefen terwyl die parlement opgeskort is (sien ook Bridges 2020). Dit is volgens Schreiber ’n voorbeeld van hoe ’n regering wat legitimiteit het, optree.

Mulder benadruk weer die volgende: “[A]l die korrupsie, alles wat plaasgevind het tot nou toe wat skrikwekkend is, het plaasgevind binne die regstaat se bepalings, binne die grondwet se bepalings, binne die reëls van die parlement wat toesig veronderstel en onder die beheer van die ANC.” Daar is geen verantwoordbaarheid nie, nie eers by die huidige president nie, sy getuienis voor die Zondo-kommissie is ’n bewys daarvan, en daar is geen gevolge vir enige misdadigers wat van binne die regerende party en staat af werk nie.

 

7. Wat staan opposisiepartye te doen?

Schreiber (2021) stel voor dat ’n oplossing vir baie van die probleme daarmee te doen het dat daar geen verantwoordbaarheid by die ANC, hul uitvoerende gesag of hul ministers is nie. Daar is ook nooit meganismes ontwikkel om seker te maak dat ’n minister ’n aanbeveling, resolusie of opdrag van ’n portefeuljekomitee opvolg of uitvoer nie. Dit is ook moontlik dat die parlement deur sy komitees wetgewing kan opstel, deur die parlement kan voer en kan goedkeur sonder dat die kabinet iets daarmee te doen het, maar dit gebeur nie onder die ANC nie. Inteendeel, omtrent alle wette kom via die kabinet na die parlement en Schreiber stem saam dat die kans goed is dat dit as opdrag van Luthuli-huis via die parlement kan wees. ANC-belange word hierdeur voorop gestel en die proses word gevolg, nie soseer om dit behoorlik te deurdink en te bespreek nie, maar eerder bloot om te sê die proses is gevolg.

Swart (2021) meen dat wanneer jy totaal geblokkeer (“stonewalled”) word oor ’n kwessie in die parlement, die opposisie-LP hom eenvoudig tot metodes buite die parlement moet wend. Hy meen dit is die enigste antwoord vir verteenwoordiging, toesig en wetgewing. As voorbeeld verwys hy na die feit dat hulle die regering deur die hof moes dwing om Ivermektien meer toeganklik te maak tydens die COVID-19-pandemie. So gebruik opposisiepartye buiteparlementêre liggame, soos die grondwethof, om grondwetlike regte af te dwing indien ’n LP dit nie binne die parlement kan regkry nie. Swart meen dat Suid-Afrika ’n aktiewe burgerlike samelewing het, wat gewoonlik vinnig reageer en ’n belangrike rol speel, maar hy meen daar is plek vir verbetering.

Mulder (2021) sien die grondwet as ’n belangrike instrument om struikelblokke wat deur die ANC in die parlement geskep is, te omseil. Opposisie is beperk in die toesig wat hulle kan uitoefen, maar kan ’n saak na die openbare beskermer of die ouditeur-generaal verwys. Dié instansies het wel die magte om die saak verder te voer. Wetgewing bly problematies omdat daar geen manier is om verby die ANC se meerderheid te kom nie, maar soos Swart, beveel Mulder aan dat die opposisie deur logika en oorreding die meerderheidsparty kan oorhaal om wel voorgestelde wetgewing te ondersteun. Wanneer wetgewing voorgestel word waarmee jy as minderheid nie saamstem nie of wat jy glo jou regte oortree, kan jy ook die grondwet gebruik om dit te troef soos wat opposisiepartye al vir jare maak met die voorstel om artikel 25 van die grondwet te wysig om onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat.

Volgens Swart het Suid-Afrika verantwoordelike leiers nodig wat verstaan wat rentmeesterskap is en wat nie staatshulpbronne steel nie; leiers wat hulself as dienaars van die mense sien en vir gemeenskaplike welsyn werk eerder as vir hul eie belange. Die prys wat ons in ekonomiese agteruitgang en werkloosheid betaal is iets wat die EFF nou tot hul voordeel gebruik deur verdere Marxistiese en populistiese retoriek te gebruik om steun te werf ‒ iets wat net kan lei tot verdere verdeling van die land se mense.

 

8. Samevatting en gevolgtrekkings

Dit is waar dat staatskaping en die skrikwekkende korrupsie van die afgelope 27 jaar onder die huidige toesig en beheer van die parlement soos wat dit tans opgestel is, binne die grondwet se bepalings en met die ANC as regerende party, plaasgevind het. Die rede vir hierdie situasie kan gedeeltelik aan die aard van demokrasie gekoppel word omdat die meerderheid in ’n demokrasie regeer, en dus die beheer het. Die ANC is die verkose regerende party en beheer daarom die meerderheid setels in die twee wetgewers van die parlement, asook die komitees. Verder is daar bevind dat hierdie meerderheid bloot nie belangstel om die toesigrol te verrig nie.

Die toesigmandaat word wel uitgevoer, maar deur die opposisie eerder as die parlement in sy geheel. Indien die parlement as geheel faal, gebeur dit ook ondanks die baie harde pogings van opposisiepartye om hul stem in hierdie verband te laat geld. Dit gebeur nie slegs as gevolg van ’n tekort aan politieke wil in die ANC nie, maar eenvoudig omdat die ANC gemaklik is met die status quo. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is die Zuma-jare waarin die opposisiepartye se toesig magteloos voorgekom het totdat ’n groepering binne die ANC besef het dat dinge moet verander voordat die staat en die ANC ondergaan. Hierdie voorbeeld toon dat toesig wat verskaf word dus nie ’n totale mislukking is nie, dit skep invloed in die landspolitiek waaruit aksies en kettingreaksies vloei.

Alhoewel die mandaat van toesig in die grondwet sterk genoeg is, word dit nie in die praktyk deur die ANC geag nie en het die party ook geen wil om dit behoorlik te implementeer nie. Dit manifesteer hoofsaaklik in verskeie wette en reëls van die grondwet wat nie in die praktyk toegepas word nie. Daarom val die toesigrol dan op opposisiepartye en sal dit wel sinvol wees om toesig beter in die grondwet uit te stippel, op ’n manier te beskerm en die opposisie meer magte daarin te gee.

My navorsing bevind dat die oorsprong van oneffektiwiteit van die toesigrol in die parlement direk verbind kan word aan die houding en kultuur van die meerderheid van die ANC-lede teenoor die opposisie en die toesigrol self. Daar is verskeie faktore wat hier teenwoordig is: die ANC se tekort aan politieke wil, ’n disrespek en minagting van die grondwet en die verpligtinge wat daarvolgens uitgevoer moet word, die siening van die ANC dat hulle ’n alwetende en allesoorheersende mag is wat soewerein staan van selfs die grondwet en ’n sterk interne partydissipline en sentrisme binne die ANC self. Die ANC beskou opposisie as illegitiem en dit lei tot verdere frustrasie en dwarsboming van die opposisie se toesigrol; die opposisie mag nie met goeie idees na vore kom wat regering betref nie, dit is slegs vir die alwetende ANC moontlik.

Duidelike struikelblokke wat gedurende die ondersoek geïdentifiseer is, sluit die volgende in: die manipulasie van parlementêre meganismes deur die ANC, spesifiek ten opsigte van die vorming van swak komitees met ANC-voorsitters en meerderhede; asook die feit dat daar geen aanspreeklikheid of afdwing van aanspreeklikheid is deur departemente en ministers teenoor die portefeuljekomitee nie omdat die meganismes daarvoor nooit ontwikkel is nie; die afskiet van byna alle privaatlidwetsontwerpe en die kwessie dat wetsontwerpe amper uitsluitlik via die kabinet en dus uitsluitlik via die ANC geskep word; en ’n duidelike oorvleueling tussen die uitvoerende en wetgewende gesag deur ’n ANC-partykonneksie wat die prosesse van toesig dwarsboom.

Met die beantwoording van beide geskrewe en mondelingse vrae is daar ’n onwilligheid by ministers en hul departemente om vinnige en omvattende antwoorde te verskaf of hulle is bloot onwillig om inligting bekend te maak. Die posisie van die speaker blyk die grootste probleem in hierdie verband te wees. Die speaker laat gereeld ministers wegkom met onvolledige en ontwykende antwoorde op vrae en die ontduiking of ignorering van vrae, en beskerm ministers wat die proses ondermyn of totaal sinnelose antwoorde gee. Daar is ook geen geleentheid om vrae gedurende reses of kiesafdelingtyd in te handig nie. Laastens is daar ’n tekort aan staatsdienskundigheid en hulpbronne by opposisiepartye wat toesig uitoefen.

Tog slaag die opposisie van tyd tot tyd in hul rol van toesig, gee hulle goeie verteenwoordiging en maak hulle bydraes in komitees wat in die verslae opgeneem word. In uitsonderlike gevalle is daar voorbeelde waar hulle privaatlidwetsontwerpe suksesvol deur die parlement gevoer het en wetgewing en begrotings kon laat aanpas. Strategieë van “die kuns van politiek”, harde werk, sagte mag, guns, geloofwaardigheid en verskeie ander word ingespan om die meerderheid ANC-lede te oorreed om saam met die opposisie te werk. Indien hierdie metodes misluk, moet buiteparlementêre mobilisasie plaasvind om die regering tot sy sinne te dwing. Hierdie strategieë en mobilisasie word as konstruktiewe opposisie eerder as grootdoenerigheid gesien en verdien baie meer erkenning in ons samelewing.

Daar is ook groot probleme binne die regstaat; daar is min tot geen gevolge vir enige misdadigers wat van binne die regerende party en staat werk nie. Hierdie onregmatige beskerming lei tot ’n absolute afwesigheid van verantwoordbaarheid tot op die hoogste vlak van die staat en regerende party, soos deur die Zondo-kommissie blootgelê is.

Meer navorsing is nodig oor die verband tussen grondwetlike voorskrifte en hoe om die praktyk in die parlement, of dan die regerende party, meer in lyn met die grondwet te bring/dwing. Dit sluit in verdere navorsing omtrent die gevolg van tekorte in die grondwet, die struktuur van die grondwet en die instansies wat daaruit vloei, spesifiek die parlement. Van die LP’s het in hul onderhoude toegegee dat daar dalk aanpassings is wat in hierdie verband gemaak kan word om die opposisie se rol en mandaat ten opsigte van toesig te versterk.

Aanbevelings vir verbetering wat oorweeg kan word, is om meer opposisielede toe te laat om komitees se voorsitters te wees, en sodoende die geweldige belangrikheid van die toesigrol van opposisie in die parlement in die grondwet te versterk.

 

Bibliografie

Brooks, H. 2004. The dominant party system: Challenges for South Africa’s second decade of democracy. Journal of African Elections, 2(3):121–53.

Chiroro, B. 2006. The dilemmas of opposition political parties in Southern Africa. Journal of African Elections, 1(5):100–25.

De Villiers, D. 2021. Bekommernis oor polisie se “heksejag” na onluste. Maroela Media. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bekommernis-oor-polisie-se-heksejag-na-onluste (3 November 2021 geraadpleeg).

Diamond, L. 2004. What is democracy? Lesing, Stanford University. https://diamond-democracy.stanford.edu/events/lecture/what-democracy (17 Oktober 2021 geraadpleeg).

Duvenhage, A. 2021. Die Suid-Afrikaanse politieke bestel: Krisis, oorlewing (?) en die toekoms. LitNet:Menings. https://www.litnet.co.za/die-suid-afrikaanse-politieke-bestel-krisis-oorlewing-en-die-toekoms (29 Oktober 2021 geraadpleeg).

Gerber, J. 2017. First private member’s bill passed in Parliament seeks paternity leave for fathers. News24. https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/first-private-members-bill-passed-in-parliament-seeks-paternity-leave-for-fathers-20171128 (26 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2021. Opposition parties distance themselves from Thandi Modise’s apology to Zondo Commission. News24. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/opposition-parties-distance-themselves-from-thandi-modises-apology-to-zondo-commission-20210602 (2 November 2021 geraadpleeg).

Giliomee, H. en L. Schlemmer. 1994. From apartheid to nation building. Contemporary South African debates. Kaapstad: Oxford University Press.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.

Heywood, A. 2013. Politics. Basingstoke, Hampshire, VK: Palgrave Macmillian.

Lamb, R. 2014. Rethinking legitimacy and illegitimacy. Centre for Strategic & International Studies. Lanham, Maryland, Rowman & Littlefield.

Lotshwao, K. 2009. The lack of internal party democracy in the African National Congress: A threat to the consolidation of democracy in South Africa. Journal of Southern African Studies, 4(35):901–14.

Makinana, A. 2017. Ambrosini’s legacy lives on as his dagga proposal is accommodated. City Press. https://www.news24.com/citypress/news/ambrosinis-legacy-lives-on-while-his-dagga-proposal-is-accommodated-20171128 (26 Oktober 2021 geraadpleeg).

Marrian, N. 2021. SA unrest: It may not be over yet. Financial Mail. https://www.businesslive.co.za/fm/features/cover-story/2021-07-22-sa-unrest-it-may-not-be-over-yet (3 November 2021 geraadpleeg).

Mitchley, A. 2021. #UnrestSA: 9 days of anarchy: Timeline of violence in KwaZulu-Natal, Gauteng. News24. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/unrestsa-9-days-of-anarchy-timeline-of-violence-in-kwazulu-natal-gauteng-20210717 (3 November 2021 geraadpleeg).

Mulder, C. 2021. Toesigvraelys aan opposisiepartye. Onderhoud deur artikelskrywer, ongepubliseer, 31 Augustus.

Nelson, C. 2014. Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: Gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval? LitNet Akademies, 11(3):628–66. https://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_3/GW_8_Suid-Afrikaanse_regstaat_na_twintig_jaar_Nelson.pdf.

Nussberger, A., E. Özbudun en F. Sejersted. 2010. Report on the role of opposition in a democratic parliament. European commission for democracy through law. Strassbourg, Venice Commission.

Pitt, R. 2021. Paroled: Jacob Zuma to serve rest of jail sentence in “system of community corrections”. Daily Maverick. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-09-05-paroled-jacob-zuma-to-serve-rest-of-jail-sentence-in-system-of-community-corrections (3 November 2021 geraadpleeg).

PMG. 2021. Status of Questions and Replies in 2020. Parliamentary Monitoring Group. https://static.pmg.org.za/Status_of_Questions_and_Replies_in_2020.pdf (12 Oktober 2021 geraadpleeg).

Schreiber, L. 2021. Toesigvraelys aan opposisiepartye. Onderhoud deur artikelskrywer, ongepubliseer, 10 Augustus.

Solomon, H. 2011. Conceptual view of opposition political parties in Southern Africa. In Solomon 2011:1–13.

—. 2011. Against all odds: Opposition political parties in South Africa. Johannesburg, KMM Review Publishing.

Southall, R. 2000. Opposition in South Africa: Issues and problems. In Southall, R. (red.). Opposition in South Africa’s New Democracy, Kongresreferate, bl. 11‒26 (28–30 Junie, Kariega Wildreservaat, Oos-Kaap). Johannesburg, Konrad-Adenauer-Stiftung.

Swart, S. 2021. Toesigvraelys aan opposisiepartye. Onderhoud deur artikelskrywer, ongepubliseer, 25 Augustus.

 

Eindnota

1 Etiese klaring is deur my instansie verkry vir die voer van die onderhoude: SKMBA222120811090. Die persone met wie onderhoude gevoer is, het skriftelike toestemming gegee dat hul opinies in my navorsing gebruik en gepubliseer kan word.

 

  • Die foto op die artikel se fokusprent is geneem deur Izak de Vries.

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top