1. Inleiding
Tydens die laat sestigerjare het Alvin Toffler sy bekende werk Future shock geskryf met die sentrale boodskap dat die wêreld teen ’n verbysterende tempo verander en dat belangegroepe en enkelinge nie hierdeur onkant gevang moet word nie. “What happens to people when their entire society abruptly transforms itself into something new and unexpected?” vra Toffler in 1990. Wat tans besig is om in Suid-Afrika te gebeur vang nie net talle burgers onkant nie, maar ook politieke groeperings, asook politieke ontleders en kommentators. Laasgenoemde word telkens tot ander en nuwe insigte gedwing.
Die droom van 1994 (soos beliggaam in die 1996-Grondwet) is tans besig om aan skerwe te spat en die toekoms het vir sommige oornag donkerder en onsekerder geraak. Andere het dit reeds voorspel (uit die perspektiewe of profesieë van vorige generasies), naamlik die skim van die krisis; die spreekwoordelike “nag van die lang messe”, of vrese vir ’n “Kristallnacht”. (Die bekende politikus Helen Zille het onlangs metafories na die moontlikheid van ’n “Kristallnacht” vir Suid-Afrika verwys!) Uit hierdie onsekerhede tree talle samesweringsteorieë na vore waarmee ons deesdae te doen het – ’n gevolg van ’n politieke orde aan die verval.
...
Kortom, hoe ook al die perspektief, die glas is nie meer net halfvol of halfleeg nie, dit was toe ’n gekraakte blompot waarvan die barste en krake moeilik of dalk glad nie meer toegestop kan word nie!
...
Kortom, hoe ook al die perspektief, die glas is nie meer net halfvol of halfleeg nie, dit was toe ’n gekraakte blompot waarvan die barste en krake moeilik of dalk glad nie meer toegestop kan word nie! Kan die spreekwoordelike blompot dalk nog gered word of is ons onherroeplik onderweg na ’n nuwe en andersoortige bestemming?
Wat baie duidelik is, is dat die omvang van hierdie krisis veel groter is as wat algemeen erken en aanvaar word (veral in die media), en dat die “kantelpunt” nie net bereik is nie, maar dat die dieptepunt van die krisis nog onderweg is. Hierdie huidige dinamika gaan oor veel meer as die leierskaprol van Cyril Ramaphosa (of moontlike gebrek daaraan), maar raak die wese van die organisasie (die ANC) wat die owerheid (asook die staat) die laaste sowat 27 jaar bestuur en beheer het. Die probleem ter sprake strek ook veel verder as net die regering of selfs die owerheid. Dit raak die staat as staat – die sentrale bousteen van ons politieke bedeling. In die woorde van RW Johnson (2020c): “ANC governments have got steadily weaker, more divided, less competent and more poorly led. The present government is virtually leaderless and so divided that on the crucial issue of public sector pay we have actually two ministers fighting one another in court – with the president backing neither one. This government will have to steer South Africa through an unprecedentedly fierce storm, a test it seems certain to fail. The government may well disintegrate, the state may fail.”
Was die Mandela-De Klerk-eksperiment (lees die 1996-Grondwet) nog een van die talle mislukkings van grondwetlike demokrasieë op die Afrika-vasteland? Is Johnson (2020d) reg as hy dit stel dat “the really big, sad truth is that the ANC has let the whole black world down”?
Hierdie bydrae fokus op die krisis van die politieke bestel op die onderskeie vlakke van regering, owerheid en die staat, wat onderskeidelik in dieselfde volgorde hanteer word.
Ten slotte sal enkele perspektiewe oor die toekoms gegee word.
2. Die krisis van die ANC-regering
Die ANC is nie net die oudste bevrydingsbeweging op die vasteland nie, maar geniet wêreldwyd erkenning en status as gevolg van die stryd teen apartheid en die vestiging van ’n demokratiese politieke bedeling in Suid-Afrika – waarvan die Grondwet soms beskou word as een van die bestes ter wêreld. Wanneer metaforiese gedenktekens wat oor die afgelope 27 jaar opgerig is met die doel om “’n beter lewe vir almal” te verseker, beskou word, kan heel dikwels eerder na bouvalle verwys word. Watter gerespekteerde staat met ’n demokratiese grondwet (waarop telkens geroem word), kan aanspraak maak op staatskaping met die sinspeling dat meer as R500 miljard betrokke is, en die skuldiges (ten minste die meerderheid van hulle) steeds binne die regering of owerheid werksaam is? Boonop is weinig (indien enigiets) gedoen om oortreders en skuldenaars aan die pen te laat ry. Inteendeel, veel eerder is hier sprake van politieke mobilisasie en die ondermyning van die oppergesag van die reg ooreenkomstig wat soms genoem word die Stalingrad-strategie as teenvoeter vir ondersoeke teen endemiese korrupsie. “Koop tyd, veg tot die bitter einde, word ’n martelaar en wend alles tot jou beskikking aan ter wille van oorlewing” vorm die sentrale denkpatroon – tans die strategie van die sogenaamde RET-faksie binne die ANC.
...
Ten spyte van omvangryke geregtelike aanklagte en hofsake weier Ace Magashule en andere om opsy te staan; is daar teenkanting en opstand van binne die party teen die parlementêre ondersoek na die geskiktheid van Busisiwe Mkhwebane vir haar posisie as openbare beskermer; en weier Jacob Zuma (ten spyte van ’n Konstitusionele Hof-besluit) om voor die Zondo-kommissie te verskyn.
...
Tot onlangs was ek deel van gesprekke waarin die krisis en konflik binne die ANC tot ’n groot mate ontken is, die leierskap van Ramaphosa opgehemel is, en die dinamika van ’n mislukkende staat (onder meer as gevolg van ANC-beleid soos toegepas) heeltemal ontken of erg afgewater is. Ten tye van die skrywe van die artikel worstel die ANC met een van sy grootste konflikte sedert 1994, aangesien daar geen eenstemmigheid oor onder meer die opsystaanklousule is nie – om net een saak te vermeld. Ten spyte van omvangryke geregtelike aanklagte en hofsake weier Ace Magashule en andere om opsy te staan; is daar teenkanting en opstand van binne die party teen die parlementêre ondersoek na die geskiktheid van Busisiwe Mkhwebane vir haar posisie as openbare beskermer; en weier Jacob Zuma (ten spyte van ’n Konstitusionele Hof-besluit) om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Botsende beleidsvertolkings, kliekerigheid en swak bestuur is telkens aan die orde van die dag en blyk op bykans alle vlakke van die party, dikwels ook onder sommiges in die regering. Trouens, Jacob Zuma bevraagteken selfs die aard en wese van die grondwetlike demokrasie waarvan hy vir net minder as ’n dekade die staatshoof was.
In drie provisies, naamlik Mpumalanga, Wes-Kaap en Noordwes, kon die ANC tot dusver nie provinsiale strukture verkies nie as gevolg van interne konflik, swak partybestuur en wanfunksionele administrasie. ’n Hofbesluit het ook onlangs die Vrystaat in hierdie kategorie geplaas.
Dit is die stand van sake, terwyl die organisasie in die komende maande gereed moet maak vir ’n Nasionale Algemene Raadsvergadering met ’n NUK (die hoogste besluitnemende instelling tussen nasionale konferensies) wat tans erg verdeeld is en sukkel om besluite gesaghebbend te neem en toe te pas. Verder het die organisasie ernstige finansiële uitdagings (dreigende bankrotskap en ’n stygende skuldlas) en is die instelling ook nie meer by magte om sy personeel in Luthuli-huis te betaal nie.
Getuienis voor die Zondo-kommissie (asook ’n ondersoek deur die Instituut vir Rasseverhoudings (IRR)) het verder bevestig dat talle ANC-leiers en/of kaders hulle skuldig gemaak het aan korrupsie en direk of indirek met korrupte praktyke geassosieer word. Die ANC en sy leierskap werk mee aan endemiese korrupsie – selfs tot op die vlak van staatskaping, waarvan die waarde deur die Daily Maverick op enigiets tussen R500 miljard en R1,5 triljoen gereken word.
Dit is duidelik dat die ANC toenemend ’n uitgediende organisasie raak wat intern verdeel is; as ’n korrupte mafia funksioneer; staatskaping effektief deur middel van kaderontplooiing beheer en bevorder; organisatories in chaos is; finansieel bankrot is; en ook nie oor die leierskap beskik om die land die toekoms in te neem in tye van krisis nie. Dit is ook duidelik dat die ANC deel van die probleem is en nie deel van die oplossing, soos aanvanklik onder die leiding van Ramaphosa (lees: in die “Ramaforie-periode”) gehoop is nie. Ernstige bedenkinge bestaan of die ANC as organisasie hoegenaamd geskik is om in sy huidige formaat en toestand die land te lei onder heersende omstandighede en ten opsigte van die genoemde uitdagings. Daarom vra verskeie senior en oudleiers vir organisatoriese vernuwing (Thabo Mbeki), en selfs die disintegrasie van die party (Kgalema Motlanthe), met die hoop dat iets nuuts of beter hieruit na vore kan kom. Die vraag is egter of die organisasie nog gered kan word en of die disintegrasie van die party nie in die beste belang van die land en al sy burgers is nie.
Die krisis is ongelukkig nie net beperk tot die regerende ANC nie, maar verteenwoordig ’n politieke kanker wat deel geword het van die groter politieke stelsel – ook voorgehou as owerheid of regime. Laasgenoemde het ’n meer negatiewe betekenis en verdien verdere aandag.
3. Die owerheidskrisis in Suid-Afrika
Die owerheid verwys hier na die groter politieke stelsel (soms regime – regering- of bewindstelsel) en beteken volgens Heywood: “a network of relationships through which government generates ‘outputs’ (policies) in response to inputs (demands and supports) from the general public”. In die geval van Suid-Afrika sluit dit onder meer die volgende in: drie vlakke van regering en hul administrasies, die regbank, onderwys op alle vlakke, gesondheid, SAID/SARS en selfs semistaatsinstellings soos Eskom, die SAUK, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Transet, Denel, asook die Landbank. Na sowat 27 jaar van ANC-regering is die meeste van hierdie instellings wanfunksioneel en/of geheel en al bankrot.
Die volgende is ’n rekonstruksie van die stand van owerheidsinstellings en/of uitdagings wat hiermee gepaard gaan:
- Sowat 80–90% van plaaslikeregeringsinstellings is wanfunksioneel en/of bankrot en is nie by magte om dienste ooreenkomstig die Grondwet of ander toepaslike wetgewing te lewer nie.
- Eskom is in ’n toenemende skuldkrisis en het nie die vermoë om krag volhoubaar te lewer nie – ’n belangrike voorvereiste vir ekonomiese groei en ontwikkeling wat tans juis so noodsaaklik is.
- Toenemende staatskuld wat tans meer as 80% van die BBP beloop, met ’n soewereine skuldkrisis (skuld beloop 100% van die BBP) voorspel teen omtrent 2023. (Bykans 50% van die begroting word gebruik vir die salarisse van amptenare wat verhogings ver bokant die inflasiekoers ontvang het. Sowat 18 miljoen mense ontvang tans toelaes van die staat.)
- Die finansiële en funksionaliteitskrisis binne semistaatsinstellings, waaronder die SAUK, Transnet, die Poskantoor, die Landbank, SAL en Denel is ’n direkte uitvloeisel van sogenaamde transformatiewe beleidsrigtings en swak bestuur – lees: kaderontplooiings.
- Die erosie en selfs ineenstorting van infrastruktuur – paaie, die spoorweë, lughawens, hospitale en skole – raak jaarliks meer opvallend. (Die diefstal van noodsaaklike infrastruktuur is besig om ’n algemene verskynsel te raak en word deur onder meer die armoedevraagstuk gedryf.)
- Deïndustrialisering van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die gevolglike verwikkelinge daarvan (Turton 2019: “Going backwards – the deindustrialization of the SA economy”).
- Die oorhoofse beleid van politieke transformasie (voortspruitend uit die revolusionêre nasionaal-demokratiese-revolusie-idee), met die klem op sosiale en politieke manipulasie gerig op verteenwoordigendheid, wat gedoem is tot mislukking, en primêr verantwoordelik is vir die krisis binne owerheidsinstellings.
- Oorregulering en selektiewe toepassing van beleid en wetgewing (afkomstig vanuit die transformatiewe oriëntasie) eie aan die patroon van ’n verswakkende staat.
(Vergelyk Heystek 2019; Johnson 2019, 2020a, b, c, d; Schüssler 2020; Turton 2019; Van der Groenendaal 2017; Duvenhage 2020.)
Ekonomiese en maatskaplike uitdagings (onder meer die gevolg van wanfunksionele owerheidsinstellings, populistiese beleidsrigtings en swak dienslewering) is besig om al groter te raak, met 50% van die bevolking wat tans in armoede lewe; tussen twee en drie miljoen mense wat hul werk as gevolg van die COVID-19-grendelstaat en die swak bestuur hiervan verloor het; en ’n werkloosheidsyfer bo 30% volgens die kleiner definisie en bo 40% volgens die groter definisie.
Magnus Heystek (2019) bereken dat sowat R500 miljard tussen 2014 en 2019 op die Johannesburgse Effektebeurs verloor is as gevolg van die vlug van kapitaal. Voeg hierby ’n verkleinde persoonlike en maatskappybelastingbasis in samehang met toenemende staatskuld, dan lyk vooruitsigte inderdaad baie negatief. Sakevertroue het ook tot ’n laagtepunt gedaal en die vooruitsigte vir die komende jare is ook nie te rooskleurig nie.
Die beoogde wysiging aan artikel 25 van die Grondwet (’n direkte bedreiging vir eiendomsreg) en ander populistiese beleidsinisiatiewe (byvoorbeeld die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel wat in die vooruitsig gestel word; die beoogde nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank; versnelde grondhervorming – alles gevolge van resolusies wat tydens die 2017-konferensie van die ANC geneem is) sal investeerders verder afskrik, en komplementeer ’n reeds uiters negatiewe vooruitsig nog verder.
Samevattend het ons op owerheidsvlak te make met die triade van populistiese beleidsrigtings in ’n poging om maatskaplike vraagstukke aan te pak in ’n omgewing van staatsverswakking waarin owerheidsinstellings meestal wanfunksioneel is en waarin patrone van institusionele en politieke verval soms oorheersend is. Pogings van die kant van die Ramaphosa-regering om institusionele en politieke verval om te keer was tot dusver bloot tot ’n beperkte mate suksesvol, onder meer as gevolg van die regeringskrisis (soos hier bo beskryf) en die uitwerking van veral korrupte politieke leierskap en die invloed daarvan op owerheidsinstellings – soms voorgehou as staatskaping. Ten opsigte van laasgenoemde is kaderontplooiing en patronaatskappe die kern van die probleem en hou die hantering hiervan dikwels verreikende verwikkelings in vir die krisis waarin talle owerheidsinstellings hulle bevind. Die krisis van owerheidsinstellings herinner dikwels aan die idee van ’n “verswakkende staat”.
4. Die Suid-Afrikaanse staat in krisis
’n Staat, in teenstelling met ander samelewingsinstellings, word volgens die Weberiaanse tradisie (die idee van die sterk staat), in die eerste plek gekenmerk deur die monopolie op die gebruik van geweld in ’n bepaalde territorium (Weber 1964). Begrippe soos geografie (territorium/staatsgrense), demografie (bevolking/burgery) en oppermagtigheid/soewereiniteit (regering/owerheid/regime) is in hierdie verband van toepassing. In wese gaan dit oor die vermoë om gesaghebbende besluite te kan neem en te kan afdwing, en om geweld (of dreigemente van geweld) te mag gebruik om gesag te handhaaf – indien nodig. Sonder om die regerings- of owerheidskrisis weer te belig, val die klem hier op die oorkoepelende konteks, te wete die staat. (Hiervolgens omsluit ’n staatkundige krisis ’n regerings- en owerheidskrisis, hoewel die omgekeerde nie noodwendig waar is nie.)
...
Die uitgangspunt is dat Suid-Afrika in krisis verkeer ten opsigte van die staat as staat en dat probleme op hierdie vlak noodwendig sal uitspeel op die onderskeie vlakke van owerheid en regering.
...
Die uitgangspunt is dat Suid-Afrika in krisis verkeer ten opsigte van die staat as staat en dat probleme op hierdie vlak noodwendig sal uitspeel op die onderskeie vlakke van owerheid en regering. Anders as talle Westerse state is die Suid-Afrikaanse staat ’n produk van kolonisasie, die ontstaan daarvan redelik onlangs, en voorafgegaan deur talle inheemse of tradisionele strukture en koningskappe, sowat 16 Boererepublieke en kolonies, en/of gebiede met koloniale geskiedenis en agtergrond. Wanneer Suid-Afrika as ’n mislukkende staat beskryf word (vergelyk Eunomix se voorspelling dat Suid-Afrika teen 2030 ’n failed state sal wees), moet dit teen ’n bepaalde agtergrond en konteks vertolk word. Johnson (2021) stel dit soos volg: “So the state is failing. And we ain’t seen nothing yet. Just wait as more and more SOEs collapse and savage spending cuts further deplete the capacity of the state ...”
Die kenmerke van ’n mislukkende staat is duidelik sigbaar en sluit onder meer die volgende in:
- ’n Onvermoë om grensbeheer en territoriale integriteit te verseker. (Tussen 2,1 en vier miljoen onwettige immigrante is tans in Suid-Afrika.)
- ’n Onvermoë om veiligheid en sekerheid te verseker (toenemende misdaad; sowat 9 000 private veiligheidsinstellings verskaf werk vir sowat 500 000 mense).
- Die inploffing van die strafregstelsel asook ander staats- en semistaatsinstellings.
- ’n Onvermoë om waardes en skaars middele suksesvol te benut en oppermagtig te handel oor die algehele staatsterritorium (mafia- en misdaadsindikate wat territoriums beheer en selfs “belastings” hef; samma sammas se ontginning van goud ens; swak grensbeheer; en krygshere wat veral in misdaadverband funksioneer).
- Endemiese korrupsie tot op die vlak van staatskaping, waarna vroeër verwys is. (Vergelyk Duvenhage 2020; Anon 2019; Cronje 2017; Eunomix 2020.)
Die lys kan uitgebrei word, maar motiveer voldoende die aard van die krisis op staatkundige vlak en die uitspeel hiervan op owerheids- en regeringsvlakke. Suid-Afrika betree tans ’n onseker toekoms en future shock is waarskynlik ’n gepaste term wanneer die toekoms beskou word in die lig van die krisis van die huidige bestel soos hier bo uiteengesit.
5. Die pad vorentoe
5.1 Die groter historiese patroon
Die Suid-Afrikaanse staat het ’n geskiedenis van slegs 110 jaar, met ’n groter geskiedenis wat oor eeue heen strek en wat buite die konteks staan van die huidige nasiestaat met sy eiesoortige waardes, norme en kontekstuele (lees Westerse) begronding. Die tydperk van prekoloniale geskiedenis is veel langer as die historiese grondslag van die nasiestaat en aspekte van daardie werklikhede is besig om in tye van verandering sterker en duideliker na die oppervlak te kom (vroeëre identiteite wat herrys, klem op die tradisionele gesag, instellings en waardes, en Zuma se beskrywing van korrupsie as ’n Westerse verskynsel is enkele voorbeelde van bogenoemde). Die donker kant van hierdie geskiedenis (en waarskynlik ook ’n verklaring vir staatskaping) word so deur Johnson (2021) verwoord: “Throughout its pre-colonial history much of Africa had known only the economics of plunder. Chiefs and warlords had used force to grab whatever they could from their victims. [...] In independent Africa, too, the new elite turned naturally to looting, thus reverting to a traditional pattern or activity already thousands of years old.”
Kan ’n gevorderde staat met ’n gesofistikeerde grondwet as uitvloeisel van onder meer ’n Westersgedifferensieerde samelewingsbeskouing as grondslag vir ’n demokrasie staande bly binne hierdie omstandighede van ’n staatkundige, owerheids- en regeringskrisis soos hier bo beskryf? Toenemend raak dit duidelik dat die waardegrondslag wat ’n moderne demokratiese bestel veronderstel, afwesig is of bloot net deur politieke elitegroepe geïgnoreer word in ’n stryd om mag en ten opsigte van ekonomiese, finansiële en materiële bevoordeling. Zuma se onlangse aanval op die oppergesag van die reg en ons grondwetlike demokrasie word onder meer vanuit hierdie oogpunt gemotiveer. Dit gaan ’n grootse poging van die Ramaphosa-regering verg om demokratiese waardes en praktyke gevestig en funksioneel te kry. Ons is nog lank nie daar nie.
Ons moet terug na die tekenbord en indringend herbesin oor veral die toepassing van grondwetlike waardes en hoe dit die algemene belang van burgers kan bevorder. Die toekoms gaan heel moontlik meer belyn wees met die groter historiese werklikheid en nie bloot die norme en waardes ontleen aan dit wat oor die laaste sowat 100 jaar tot stand gekom het nie.
5.2 Nievolhoubare status quo
Die aard van die krisis en die uitdagings soos omskryf beklemtoon dat die status quo nie volhoubaar is nie en dat verandering noodwendig sal moet plaasvind, reeds plaasvind en vorentoe kan versnel. ’n Herbesinning oor talle sake, met die moontlikheid van gesprekke (en selfs ’n “opvolgskikking” volgens Pierre du Toit), kan nie uitgesluit word nie. “Die beste grondwet ter wêreld” beteken niks as die toenemende krisis op die onderskeie vlakke van staat, owerheid en regering nie deeglik verreken word nie. Anders as talle navorsers en kommentators wat na antwoorde soek in die Grondwet en demokrasie, meen ek die beginpunt behoort eerder die staat as staat te wees. Die eerste kenmerke van ’n staat is orde en struktuur, en as dít nie gevestig is nie, sal grondwette, ooreenkomste en so meer weinig indien enige waarde hê. Suksesvolle staatsbou, en hiermee saam nasiebou, is ’n voorvereiste vir ’n suksesvolle demokratiese bestel wat op voetsoolvlak ’n verskil wil maak.
...
Die eerste kenmerke van ’n staat is orde en struktuur, en as dít nie gevestig is nie, sal grondwette, ooreenkomste en so meer weinig indien enige waarde hê.
...
5.3 L’etat c’est moi (Die staat dit is ek)
Binne die omgewing van ’n verbrokkelende staat neem die burgery al hoe meer funksies van die staat oor. Hiervan is veiligheid en sekuriteit waarskynlik die allereerste funksie van enige staat. As gevolg van kapasiteitsprobleme en die onvermoë van die staat word hierdie funksie (wat die staat as staat onderskei van ander samelewingsinstellings) toenemend uitgekontrakteer of bloot geïgnoreer. In tye van onsekerheid en onbestendigheid (met die staat wat toenemend kapasiteitsprobleme ervaar) oor wat voorlê, word die Middeleeuse keuse om mure en poorte op te rig in ’n poging om huis en haard te beskerm, reeds die weg wat ingeslaan word. Veiligheid is net in landgoedere (“estates”), veiligheidsomgewings of selfgemaakte “tronke” moontlik terwyl misdadigers vrylik kan beweeg en funksioneer in ’n omgewing waar die strafregstelsel vandag minder as 10% effektief is en in werklikheid in duie gestort het. Die selfdoenstrategie van die Solidariteitsbeweging dui die weg vir die toekoms aan.
...
Die selfdoenstrategie van die Solidariteitsbeweging dui die weg vir die toekoms aan.
...
Ons staan by ’n groter politieke kruispunt as in die vroeë negentigerjare, en visie, leierskap en beplanning ten opsigte van staatsbou is krities belangrik. Hier ontbreek die leierskap egter grootliks, en dit laat Suid-Afrika met die vooruitsig van ’n nagmerrie-scenario. Tans blyk die spreekwoordelike future shock onafwendbaar te wees.
Geselekteerde bibliografie
Anon. 2019. South Africa is one of the least safe countries in the world. 24 November. https.businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of- (15 Februarie 2020 geraadpleeg).
Duane, EC. 2017. Corruption and state capture under two regimes in Guyana (PDF). Research Gate. University of the West Indies (23 Mei 2017 geraadpleeg).
Cronje F. 2017. A traveller’s guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.
Duvenhage, A. 2005. Politieke transformasie – ’n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1–40.
—. 2020. Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/suid-afrika-by-n-kantelpunt-n-slegte-saak-scenario. 14 September 2020 (14 September 2020 geraadpleeg).
Eunomix. 2020. South Africa heading towards a failed state. www.bloombergquint.com.politics.south-africa-heading-towards-becoming-a failed-state (10 Oktober 2020 geraadpleeg).
Global Peace Index. 2018. South Africa is one of the least safe countries in the world. htts://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519 (16 Februarie 2020 geraadpleeg).
Heystek, M. 2019. RSA Titanic is in groot k#k – don’t let those patriotic swimsuits fool you. Biznews.com. 24 Desember. Businesstech.co.za (17 Februarie 2020 geraadpleeg).
Heywood, A. 2002. Politics (second edition). New York: Palgrave Foundations.
Johnson, RW. 2019. Our coming traincrash. Politicsweb. 1 Augustus (20 Februarie 2020 geraadpleeg).
—. 2020a. Ineenstorting wag op ANC. Rapport Weekliks. 27 September 2020, bl 7.
—. 2020b. How the end will come (ii). https://www.politicswb.co.za/how-the-end-will-come-ii (29 Maart 2021 geraadpleeg).
— .2020c. Who can lead us to the promised land? https://www.politicsweb.co.za/opininion/who-can-lead-us-to-the-promised-land (29 Maart 2021 geraadpleeg).
—. 2020d. Face up to ANC failure. https://www.politicsweb.co.za/opinion/face-up-to-anc-failure (29 Maart 2021 geraadpleeg).
—. 2021. Thinking about state failure (I). https://www.politicsweb.co.za/opinion/thinkin-about-stae-failure-i (29 Maart 2021 geraadpleeg).
Schüssler, M. 2020. Staat op snelweg na mislukking. Netwerk 24. 21 September 2020, bl 7.
Toffler, A. 1990. Power shift: knowledge, wealth, and violence at the edge of the 21st century. Londen: Bantam Books.
Turton, A. 2019. Going backwards – the deindustralization of the South African economy: Facebook-blad (19 Februarie 2020 geraadpleeg).
Van der Groenendaal, H. 2017. South Africa has been captured by deindustrialization. https://mybroadband.co.za/news/business/220990.south-africa-has-been (19 Februarie 2020 geraadpleeg).
Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York: Free Press.
Kommentaar
Wat 'n dilemma.Hoe kry ons leierskap terug as deel van die minderheid? Ons besig om te verarm en word net verder gemelk agv oneffektiewe leierskap en bestuur. Dankie vir die artikel en openhartigheid.
Dankie, André, vir 'n saakmakende ontleding. Die realiteit van veiligheid is dat dit fundamenteel van aard is. Indien veiligheid misluk, misluk die staat. Dit is fundamenteel tot die mate dat alle burgers belang het by die veiligheid van die staat. Veiligheid bevat egter ook die kiem van sy eie vernietiging; as die staat nie beheer neem en dit koördineer en integreer nie, kan die beheer daarvan deur substaatlike entiteite teenproduktief raak. Die soeke na veiligheid deur substaatlike akteurs, veral in die afwesigheid van 'n werkende regstelsel, kan uiteindelik tot die totale ineenstoring daarvan lei. En daar is duidelike tekens daarvan in die huidige staatsbestel in SA.
Op die man af, standpunte toegelig deur feitlike en statistiese gegegewens en 'n prentjie wat die harde realiteite van Suid Afrika weergee. Geen witvoetjiesoekery om polities korrek te wees en as 'n gevolg die benarde situasie waarin die land verkeer, te verdoesel nie.
Prof. Duvenhage se spesifieke verwysing hierna 'n tyd gelede asook sy aanname van erge verdeeldheid binne die ANC dampkring word met huidige gebeure korrek bewys. Anders as ander politieke kommentators se eerder wenslys-kommentare en standpunte (veral Melanie Verwoerd se poging en gevolglik persoonlike en gepoogde verkleinerende opmerking heens Prof. Duvenhage op 'n RSG radioprogram 'n tyd gelede) word hiermee in die ban gedoen.
Die slegte situasie waarin SA hom bevind en in hierdie stuk omlyn word, val gewis nie sag op die oor nie. Tog is dit belangrik om met feite te werk wanneer na oplossings gestreef word. Om op die simptome van probleme te fokus eerder as die harde werklikheid self, skep 'n valse illusie waavan die uitkoms in 'n soeke na oplossings, erger probleme tot gevolg kan/sal hê. Iets wat tot niemand se voordeel strek nie.
Prof. Duvenhage gee nie hiermee te kenne dat die stryd verlore is nie. Hy wys eerder op die terreine wat dringende aandag verdien. Die tragedie is ongelukkig dat die ANC sistemies so korrup is dat die herstel van SA nie moontlik is alvorens die party homself gereabiliteer kan kry of selfs uit die kussings gelig kan word nie. Dít lyk tans onwaarskynlik aangesien die ANC, ten spyte van sy swak rekord, steeds tussenverkiesings inpalm. Dit, ten koste van opposisie partye waarvan die DA as amptelike opposisie die grootste kommer wek.
Belangepoltiek waar kleiner partye hulle merk kan maak en waar onderhandelinge, gebaseer op die beginsel van 'gee-en-neem,' dalk 'n beter opsie en moontlikheid is, is dalk iets waarna gekyk kan word. Die magshebsug van die ANC wat geensins verskil met politieke partye elders in Afrika nie, maak hierdie opsie egter ook minder waarskynlik. Tog moet in hoop gelewe word en elke poging aangegryp word om oplossings vir probleme te vind. Die potensiaal, kundigheid, kennis en vermoë bestaan wel om 'n impak te maak. As Pres. Ramaphosa iets prakties en goed wil doen, moet hy dit bloot moontlik maak vir hierdie mense om hulle insette te lewer.
Ek kan nie aan 'n oplossing dink wat die probleem in hierdie land in my leeftyd, gaan oplos nie. Dit is 'n groot bekommernis! Dankie Prof!
Ek is uit die bloute aangestel as 'n professor in Chemie. Dit is nie my belangstelling nie, maar ek is in dié pos geplaas. Die gevolge? Binne twee ure ontplof drie of meer blokke om die laboratorium. Met respek, die ANC is aan bewind, maar is onkundig mbt bestuur en regering. Die gevolge? Die land plof in. Maar die ANC sal nié verander ter wille van die Suid-Afrika se ontwikkeling en toekoms nie. Dit is 'n verloor-verloor-situasie.
Is daar 'n skrale moontlikheid dat my kleinkind hier kan oorleef?
En Afrika se natuurlike omgewing en natuurlewe weeklaag en skreeu ten hemele!
A Duvenhage: "Johnson (2021) verwoord: 'Throughout its pre-colonial history much of Africa had known only the economics of plunder. Chiefs and warlords had used force to grab whatever they could from their victims. [...] In independent Africa, too, the new elite turned naturally to looting, thus reverting to a traditional pattern or activity already thousands of years old'. ”
Hoeveel derduisende swart Afrikane is deur mede-swart Afrikane verslaaf en aan buitelandse slawehandelaars as slawe verkwansel? Waarom is Afrika nie ook vandag 'n groot moondheid nie?
Die Suid-Afrikaanse "nasie" met sy ongebreidelde bevolkingsaanwas is nie ekonomies wêreldkompeteerbaar genoeg om voldoende buitelandse valuta volhoubaar te verdien waarin alle "Suid-Afrikaners" regmatig kan deel nie. Daarom die toenemende stryd om die bestaande "Suid-Afrikaanse koekietjie" so gou as moontlik totaal te plunder.
Die hele wêreld raak toenemend multi-kultureel en multi-etnies. Hoe, waar en wanneer figureer Christene van alle afkomste, met 'n Blye Boodskap-visum in die hand, om toenemende geregtigheid en naasteliefde en orde en vrede te suurdeeg in hierdie pragtige diverse Suider Afrika? Wat maak Christene met hul kortstondige lewens? Is ons as Christene waardige handelsmerke van ons Skepper?
Watse waardige nalatenskap laat ons as "Suid-Afrikaners" aan die nageslagte?
Daar was nooit 'n geleidelike oorgawe van van landsbestuur op alle regeringsvlakke van een bewind na 'n ander nie. Nee, dit moes alles oornag gebeur, want hoe kan 'n meerderheisregering nou aan sy mede-Afrika-regerings verduidelik dat daar nog steeds 'n oorwegend wit amptenary is wat sake op alle regeringsvlakke bestuur?
Dit werk eenvoudig nie en beklemtoon die onvermoë van die voormalige bevrydingsorganisasie tot so 'n mate dat dit 'n verleentheid word. Dit kan die beste aan die hand van 'n voorbeeld verduidelik word.
In 1994 werk ek as 'n finansiële beheerbeampte in 'n stadsingenieursdepartement van 'n Oos-Randse munisipaliteit waarby omliggende swart munisipaliteite ingelyf is. So 'n inlywing gaan gepaard met 'n nuwe personeelstruktuur waarin talle nuwe bestuurposte geskep is.
Een van die poste is direkteur van omgewingsake. Hier ontmoet ek 'n oudkollega wat as klerk in die jare 70 in swart munisipaliteite werksaam was, waar ek in dié tyd ook gewerk het.
Hy is bly om my te sien en ek merk op dat hy met 'n spliternuwe Duitse motor opgedaag het. En dié? vra ek. Ag, jy weet mos, meneer, sê hy in Engels, ek het dit met my pensioenfondsgeld gekoop.
Versigtig vra ek of hy nie die geld moes oorgedra het na die nuwe – vir hom, maar oue vir my – nie. Ag nee wat, meneer, is sy antwoord. Ons hoor julle het so 'n goeie fonds dat ons dit gou sal opmaak.
Omdat hy as direkteur van gemeenskapsake nou alle gemeenskapsprojekte sal hanteer, sal sy departement nou ook alle kontrakte wat daarmee gemoeid is oorneem. In samewerking met die werkstudie, beter bekend as die omkrap-en-mors-departement, word 'n besoek gereël aan die hoofkantoor van die streeksdienstedepartement waar 'n dame 'n lesing sal lewer oor die bestuur en finansiering van sulke projekte, en hoe om aansoek om finansiële ondersteuning van die streeksdiensteraad te doen. Ek is goed bekend hiermee, want dit was deel van my afdeling se take.
Die lesing word gelewer in 'n saal waarin die stoele in 'n hoefvormige formasie gerangskik is op 'n vloer wat skuins afloop tot die vlak waar die aanbieder staan. Haar rokkie is effens aan die kort kant en ek merk op dat die nuwe direkteur meer belangstel in haar fisiese hoedanighede as wat sy te sê het.
Ek vererg my en gee hom met my elmboog 'n harde hou in sy kortrib. Jy moet luister, sê ek.
Drie weke later 'n dringende oproep van my departementshoof. Wat gaan aan? wil hy weet, het nou net 'n oproep van die stadsklerk ontvang, wat op sy beurt weer 'n oproep van die direkteur van die streeksdiensteraad ontvang het.
Die spertyd vir aansoeke is verby en geen aansoek is ontvang nie en hoe gaan die projekte nou verder befonds word? Ek verduidelik dit word nie langer deur die standsingenieursdepartement hanteer nie, maar dat dit nou val onder die departement gemeenskapsake (nie noodwendig die korrekte naam nie) en dat reeds ’n oorhandiging van kontrakte in samewerking met die werkstudiedepartement plaasgevind het.
Nou moet daar vinnig 'n plan gemaak word. Vinnig word 'n blanke ampetenaar bevorder uit die departement administrasie tot adjunk-direkteur van gemeenskapsake en die opleiding begin van voor af.
Ja, nuwe besems veel nie altyd skoon nie, al is dit baie duidelik in talle omsendbriewe gestel dat potensiaal die nuwe deurslaggewende faktor sal wees by aanstellings. En die nuwe direkteur – ja, van bosberade het hy baie gehou. En hoe sy MA-in watter rigting weet ek nie hom daar gehelp het, weet ek nie.
Dit is dan die toedrag van sake wat baie blanke amptenare, waarvan sommiges so beangs geraak het dat hul siek geword het, die hasepad laat kies het. Hulle kon hulleself net nie langer met die toedrag van sake vereenselwig nie.