Storierak: NB-Uitgewers se nuwe kinderboektoep

  • 3

Twintig Afrikaanse kinderboeke is nou beskikbaar op die App Store, op één rak. Storierak is 'n toepassingwinkel wat deur NB-Uitgewers vrygestel is. Nèlleke de Jager praat met Naomi Meyer oor kinders wat anders lees in 'n veranderende wêreld.

Hallo Nèlleke, geluk met die mooi toep (app) wat vir NB-Uitgewers se kinderboeke ontwikkel is. Waarom ’n toep vir kinderboeke?

Ons het baie navorsing gedoen oor watter van NB se boeke die meeste geskik is vir tablette. Juis oor Suid-Afrikaners nog nie boeke op Apple se iBooks kan aanskaf nie, het dit ons die ideale voorsprong gegee om ’n multimedia-platform vir kinderboeke te ontwikkel. Een van die groot voordele van tablette is die geïntegreerde media-ervaring, waar oudio en teks die boekervaring kan verryk. En boonop kan ’n mens lekker speletjies bywerk, soos Juan Kruger, ons (baie slim) sagtewareontwikkelaar, dan ook gedoen het. Die plan was ook vanuit die staanspoor om een stoorplek vir al ons boeke te ontwikkel. In ’n toep-winkel, nes op Amazon of Kalahari, sukkel gebruikers altyd baie om nuwe inhoud te vind – die term hiervoor is “discoverability”. Omdat ons gereeld nuwe boeke sal bywerk op Storierak, sal Storierakliefhebbers dus weet om terug te gaan na Storierak om al die jongste publikasies te vind.

Jy is reg, kinders word al vroeër aan tegnologie blootgestel. En eerder Storieman as ’n gewelddadige speletjie met ’n ouderdomsperk. Watter ander boeke is hier nog op Storierak beskikbaar?

Ons skop af met twintig kinderboeke, waarvan een gratis aan nuwe gebruikers aangebied word. Dit sluit in:

  • al die stories uit Storieman-Omnibus 1,
  • twee pragtig geïllustreerde Kinderbybels, naamlik My goue verhale uit die Ou Testament & Nuwe Testament, en ook ’n handvol ander fantastiese kinderstories, naamlik
  • Joan Rankin se O hond waar’s die baba en Dikkekat en Kollepiet,
  • Die lelikste dier in die hele wêreld deur Jenny Robson en Adam Truscott
  • Prinses Talia en die draak deur Helen Brain en Vian Oelofsen
  • Net Sisi deur Wendy Hartmann en Joan Rankin

Jy het al genoem dat navorsing toon dat ’n toep nie te besig moet wees nie, anders konsentreer en luister kinders nie na die storie self nie. Vertel nog ’n bietjie hiervan, asseblief.

Daar is altyd baie besprekings rondom die digitale transformasie van kinderboeke by boekeskoue in New York en Londen. Sesame Street is onder meer bekend vir hul navorsing oor waarvan kinders hou, en waarvan nie, en een van hul belangrikste bevindings was juis dat speletjies binne die raamwerk van ’n storie veroorsaak dat die kind nie na die storie oplet nie, maar die hele tyd op die skerm klik om te sien wat gebeur. Ons doelwit was juis om ons eie sterkpunt as uitgewer, naamlik goeie stories en pragtige illustrasies, te dupliseer op die digitale platform, en op ander wyses soos met oudio, die boekervaring te verryk. Ons laat dit dus liewer aan baie slim internasionale “gaming”-maatskappye oor om speletjies te ontwerp.

Gaan ál jul kinderboeke uiteindelik hier afgelaai kan word?

Inderdaad. Dus al ons kinderboeke waarvan ons digitale wêreldregte in Afrikaans het, vir ouderdomme 2 tot 8 jaar. As alles vlot verloop, sal die Storierak-uitgawes van nou af tesame met die papieruitgawes verskyn.

Wat kos kinderboek-toeps en moet dit nie effens goedkoper wees as gedrukte boeke nie? Is daar dan kostes waarvan mense nie weet nie?

Ons het ook hieroor baie navorsing gedoen, ter plaatse en in die buiteland. Ons beleid, soos met e-boeke, is om die verkooppryse van ons digitale weergawes te laat ooreenstem met dié van papieruitgawes. Ek weet daar is persepsies daarbuite dat e-boeke altyd moet goedkoper wees, maar in die digitale sfeer is daar baie kostes wat nooit in berekening gebring word nie, soos sagtewareontwikkeling, die stoor van digitale data (net omdat jy nie daaraan kan raak nie, beteken dit nie dis verniet nie), die beskerming van data ter wille van DRM (digital rights management), sodat skrywers se kopiereg nie geskend kan word nie. Om dié redes dus, verkoop ons ons kinderboeke op Storierak teen ongeveer dieselfde verkooppryse as op papier. Enkelstories uit die Storieman-Omnibus 1 word egter baie goedkoper aangebied, teen ’n skamele R15 elk.

Die elegansie van die ruimte beïndruk my, maar ook die voorkoms van die boekrak met die boeke daarop – dit versoen die bekende met die nuutheid van die tegnologie. Ek dink die enigste ding wat ek mis as ek die pragtige toep hanteer, is die tekstuur van ’n bladsy onder my vingers. Wat is vir jou lekker en wat is vir jou ’n aanpassing as dit by die tegnologie kom?

Dankie vir die kompliment – dis regtig danksy Juan Kruger, die sagtewareontwikkelaar, se visuele aanvoeling. Die gedagte was om sekere aspekte van die boekervaring soveel moontlik in die digitale omgewing te eggo of te herhaal. Een van die uitdagings waarmee ek en die uitgewers by ons Kinder-en Jeug-afdeling geworstel het, was om seker te maak die formaat vir elke boek slaag ook op die iPad en iPad-mini. In sommige gevalle moes ons selfs aanpassings maak sodat beide die illustrasies en teks meer tot hul reg kom.

Hoe werk die aflaai van die toeps prakties? Wat moet ouers wat hier lees, voor Kersfees weet?

Storierak is beskikbaar op Apple se AppStore, vir iPads en iPad-mini’s. Die toep (app) self is gratis, en ook die eerste boek wat ’n gebruiker aflaai. Daarna kan hulle na hartelus die boekwinkel deurkyk. Sodra hulle op ’n boek klik en dit aanskaf, sal dit teen hul iTunes-rekening vereffen word. Indien hulle meer wil weet, kan hulle ook inskryf op ons Storierak-nuusbrief by storierak@nb.co.za.

Klik hier vir nog inligting.

  • 3

Kommentaar

  • Hoekom is storierak net op Apple-produkte beskikbaar? Is daar 'n moontlikheid dat dit beskikbaar gestel gaan word vir ander produkte ook?

  • Absolute wonderlike inisiatief!! Ek was so bly om te hoor ek kan boeke in Afrikaans vir my kind kry om op die tablet te kan lees. Al probleem is ek het nie 'n Ipad nie, ek het 'n Samsung Tablet. Kan julle my dalk laat weet of daar 'n verwagte datum is vir wanneer dit op Android beskikbaar sal wees?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top