"Storie-idees meld gedurig aan, ek voer hulle nie altyd so getrou uit nie"

  • 0

............

“Diané het net kom aanmeld, en so ook haar man Robert. Dis asof karakters by mens se huis inval en jou bybly tot jy gehoor gee aan hulle.” 

............

Titel: Reënboogmelodie
Skrywer: Anzil Kulsen
Uitgewer: Lux Verbi 
ISBN: 9780796322159

Diané sukkel van jongs af met ’n eetversteuring. Toe sy Robert ontmoet, is sy so dankbaar vir die aantreklike man wat haar help en aanvaar net soos sy is. Robert het haar nog altyd lief gehad, maar nou is hulle huwelik op die rotse. Hoekom sal Robert nou die pad vat? En wie is die persoon wat sê dat Robert die pa van haar kind is? En sal sy haar seuntjie wat outisties is, kan help? Of is sy juis die oorsaak van sy probleme? Sal Diané kans sien om te bly as sy uitvind wat werklik aan die gang is? 

Cliffordene Norton gesels met Anzil Kulsen oor haar jongste boek, Reënboogmelodie.

Waar het die boek begin? Wat was jou inspirasie(s)?

Ek wens ek kon al die stories skryf wat in my kop kom nes skrop – as ek bestuur, as ek in my bed lê en wag vir Klaas Vakie, of soms terwyl ek met ander mense gesels. Storie-idees meld gedurig aan, maar ek voer hulle net nie altyd so getrou uit nie. Hierdie storie het letterlik vir my soos ’n opdrag van Bo gekom.

Ek het vroeg in 2019 met twee spesifieke vriendinne gesels. Beide het met bulimie geworstel en beide het probleme in hul huwelike ervaar. Ek kon/wou egter nie een van hulle stories skryf nie; ek kan nie regtig verduidelik hoekom ek daaroor getwyfel het nie. Dalk omdat ek nie op daardie stadium geweet het hoe dit in ’n positiewe verhaal sou kon ontwikkel nie.

Einde Mei 2019 het ek egter saam met ’n ander vriendin koffie gedrink, en sy het van iemand geweet wat sy worsteling met seksuele verslawing oorwin het. Die persoon het dadelik ingestem om met my te gesels. Dieselfde dag het ook ’n sielkundige wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie, ingestem om met my te gesels en het ek ’n e-pos van die uitgewer gekry wat gevra het dat ek die voorstel van hierdie verhaal weer moet stuur sodat sy dit kon oorweeg, en so kan ek opnoem. Alles het net bymekaargekom, sodat hierdie storie geskryf moes word.

Ek het kwaai aan myself getwyfel weens die sensitiwiteit van die verhaal, maar ek het net geweet dit moet geskryf word.

Van waar die titel, Reënboogmelodie?

Musiek speel ’n belangrike rol in die storie, so ook die simboliek van die reënboog. In ’n melodie is daar die spanning en afwagting, die verligting en die emosies wat saamgaan met die wisseling van toonhoogtes. En ek hoop dis wat ek met hierdie verhaal en titel regkry. Die simboliek van die reënboog is verweef in die verhaal en ek dink sodra die leser die boek neersit, sal hulle die titel ook beter verstaan.

Vertel meer oor jou hoofkarakter, Diané. Wie het haar geïnspireer? Hoe gaan jy te werk om Diané “lewe” te gee, ’n identiteit en persoonlikheid wat haar laat uitstaan en om die leser oortuig?

Diané het net kom aanmeld, en so ook haar man Robert. Dis asof karakters by mens se huis inval en jou bybly tot jy gehoor gee aan hulle. Dit gebeur dikwels met my dat ek ’n karakter beplan en ’n volledige karakterskets probeer saamstel, maar dan kry die karakter tydens die skryf van die storie ’n wil van haar eie.

Ek skryf baie organies – dit verg werklik baie dissipline van my om by ’n roetine te hou. Ek geniet dit dus dat die karakters hul eie identiteit begin aanneem en self ’n persoonlikheid ontwikkel. Ek dink onbewustelik stoor ’n skrywer gedurig eienskappe in hul geheue om later te gebruik – dit maak die skryfproses net makliker.

Ek geniet dit geweldig baie om mense sommer net af te luister en hulle waar te neem. My man spot dat ek ’n professionele afluisteraar is. Maar tydens die skryfproses kom hierdie vermoë my nuttig te pas.

Wat is die oorsake van haar eetversteuring?

Sy het ’n stryd teen bulimia nervosa gevoer en moet nog daagliks daarteen veg. Daar is ’n enorme aantal moontlike redes hoekom mense ’n eetversteuring ontwikkel; lesers sal hierdie pad met Diané moet stap om agter te kom hoekom kos haar kruk geword het. En hoekom sy dan agterna daarvan ontslae moes raak.

Diané se seuntjie is outisties. Hoe het jy te werk gegaan om seker te maak hierdie karakter is nie ’n stereotipe nie?     

In my kortverhaal “Vir Dewald”, wat in die graad 7 Platinum Huistaal Bundel opgeneem is, het ek ook oor ’n seuntjie geskryf wat op die outismespektrum is. Ek het ook tydens die skryf van Reënboogmelodie opgelees oor verskeie ouers se verhale en die pad wat hulle moes stap om hul kinders se optrede te verstaan, aanvaar en koester.

Die uitdaging is dat geen geval dieselfde is as ’n ander nie; dit is dus nie so maklik om te stereotipeer nie. Elke kind is uniek, elke ouer se reaksie op haar/sy kind se uitdagings is uniek; kinders word nie met ’n handboek gebore nie en dit was vir my belangrik dat elke leser met Diané en Robert moet kan identifiseer.

Outisme, seksuele verslawing en eetversteuring is drie moeilike temas. Wat is die voordele en nadele om sulke taboe en moeilike temas aan te pak?

Nou moet ek kopkrap oor hierdie vraag. Ek kan nie aan voor- of nadele dink nie. Dit is asof dit my roeping in die lewe is om stories van mense te vertel wat dalk self sou skroom om hul stories met die publiek te deel. Of mense wat nie te koop sal loop met hul worsteling nie, maar ook van mense wat te midde van hul uitdagings vreugde in klein dingetjies vind.

Die voorblad beeld ’n wit gesin uit en jy is ’n bruin skrywer. Ervaar jy enige huiwering om oor die kleur-/kultuurgrens te skryf? Was dit ’n doelbewuste besluit?

Weet jy, ek het in 2010 tydens die SV Petersen-simposium vir swart Afrikaanse skrywers by UWK gesê dat my begeerte nog altyd was om ’n skrywer te wees, nie swart Afrikaans of bruin of enigiets waar my ras of herkoms my skryfwerk moet bepaal nie. Ek wou nie in ’n boksie geplaas word sodat ek net my eie kultuurgroep se stories mag skryf nie. My werk moet gelees word omdat dit goed is, deur almal wat daarin belangstel.

In hierdie opsig is die boek vir my ’n groot oorwinning, want nog baie onlangs het iemand wie se opinie ek hoog ag, aanbeveel dat ek moet konsentreer op “my mense” se stories, asof alle mense nie my mense is nie. Ek het glad nie doelbewus klem geplaas op die kultuurgroep nie, bloot ’n storie geskryf wat enige persoon s’n kan wees, iets waarmee enigiemand sou kon worstel as hy/sy in dieselfde omstandighede sou wees.

Toe die grafiese ontwerper en uitgewer die voorstel vir ’n voorblad vir my stuur, was hul idee van die karakters presies in die kol. Niemand het gevra wat die ras van die karakters moes wees nie. Ek dink ook nie dis ter sake nie.

Wie lees eerste jou boeke en hoe baie steur jy jou aan hul opinie?

My lesers se opinie is baie belangrik. Ek leef vir die boodskappies wat sê ’n storie het hulle geroer, maar ek aanvaar kritiek ook ewe goed. Ek sou hoop almal lees my werk, maar my man lees graag eerste my voltooide werk of die proewe van ’n boek saam met my, en as hy dit goedkeur, is ek gelukkig.

Watter skrywers het ’n rol in jou ontwikkeling as skrywer gespeel?

Sjoe, te veel om op te noem. Maar kom ons probeer. Ek bewonder Jodi Picoult – geen tema is vir haar te rof nie. En haar navorsing is uit die boonste rakke. Op plaaslike vlak het ek baie geleer by Chanette Paul se werk; sy het ook al ’n verhaal van my gekeur en gee baie deeglike terugvoer en raad.

Ek bewonder Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Alta Cloete, Rudi van Rensburg, Martin Steyn, en so kan die lys aangaan. Ek lees wyd en graag, maar wanneer ek aan ’n storie werk, verkies ek John Kehoe, John Maxwell en sulke soort boeke om my kop skoon en gefokus te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top