Stoker: "'n Goeie rock song moet jou dadelik vang"

  • 0

Die klipharde rockgroep Stoker het reeds groot name in die plaaslike musiekbedryf se aandag getrek – al is hul debuutalbum pas eers vrygestel. Chris Bornman, voorsanger, beantwoord 'n paar vrae.

Goeiedag, Chris. Hoe's dinge?

Goeiedag, Henry. Fantasties, dankie!


Foto: Shaun van Wyngaardt

Baie geluk met Stoker se eerste vollengte-album, Forever drive, wat pas vrygestel is. Dis kliphard, vuil, heerlik en befok! 'n Eerste album kan dikwels intimiderend wees – hoe het dié proses vir jou en die res van die band verloop? Voel dit of daar ewe skielik groot druk is om iets fenomenaal en onvergeetlik te maak, of tot hoe 'n mate was dit maar 'n natuurlike uitvloeisel vanaf jul vorige opnames? Hoe moes julle hierdie keer anders dink, anders beplan en anders te werk gaan, in terme van die strukturering van 'n album en hoe die tunes mekaar komplementeer en die vloei so sterk moontlik maak, of moet 'n mens nie hierdie dinge overthink nie?

Baie dankie! Die album is iets waarop elkeen van ons supertrots is, maar dit was soveel meer uitdagend as wat ons gedink het dit gaan wees! In vergelyking met ons EP en ons vorige singles het die proses handomkeer verskil. Met ons vorige songs se opnames was ons 100% klaar met die kreatiewe proses teen die tyd wat ons die studio betree het (soos in, dit moet wees!). Maar met die album wou ons ruimte los vir kreatiewe verandering in die studio. Ons het oor naweke by my en Borrie (my bassist broer) se ouers se huis gaan skryf en begin werk aan idees wat ek en Redge na die tafel gebring het. Ons is al vier werkende mense en dinge het gesukkel om na 'n kant toe te kom met al die "distractions" in die stad. Eers tot 'n maand voor ons moes studio toe gaan het dinge rêrig begin na 'n kant toe kom.

Ek het geweet 'n album gaan ons toelaat om van die songs wat ek oor die jaar geskryf het, vry te stel, wat nie noodwendig sou werk as singles nie. Songs soos "A feast" en "Get lost in this". So in daai opsig was ons almal baie opgewonde oor 'n vollengte-album!

Ek dink nie ek’t dit ooit vir die dudes gesê nie, maar ek was so op my senuwees oor die vocal approach van die album en daar was soveel goeie instrumentele materiaal dat ek op 'n tyd begin wonder het of enige van my melodieë dit justice gaan doen? En baie hiervan het gespook by my totdat ek moes begin vocals track. Ons engineer en goeie vriend Gerhard Grobler het dit als baie goed hanteer, en na ons die eerste treffer, "Bloodstains", se vocals getrack het, het ek regtig begin gemaklik voel en dit net song vir song gevat. The rest is history. 😉

Ek dink Morgan sal saamstem dat ek en hy dinge dikwels oordink het met sekere songs, maar dis waar Redge en Borrie so baie gehelp het. Ons sal vir 'n halfuur wonder oor een chord en hulle sal inloop en sê "daai is badass!" en dan weet jy, gaan met jou eerste instinct en stick met dit.

Dis opmerklik hoe Stoker – ten spyte van (of danksy?) die trots-vuil-inslag – duidelik ook hard werk aan die musikaliteit, die arrangements, die harmonieë en dies meer, en ook om dit op die voorgrond te plaas. Veral op ... wel, almal, maar op die titelsnit spesifiek en snitte soos "Hot body / Nobody" en "Transylvanian summer" duik dit op, en herinner lekker aan ander hard rock bands soos Coheed & Cambria (en baie eweknieë op die metal-toneel). Hoe dink jy oor die verhouding tussen wat mens in die studio doen en wat jy op stage doen? Met ander woorde, moet jy musikaal live kan doen wat jy in studio doen, of wat is jou filosofie? (Ek dink byvoorbeeld aan Brian May van Queen, wat heel oukei daarmee was dat hul studio-weergawes nooit presies só sou kon werk live nie.)

Ek’s so bly dat jy al hierdie finer detail opgelet het! Ek dink dit verskil van song na song. Sekere songs se harmonieë speel so 'n groot rol dat jy nie sal kan wegkom sonder dit nie, ander songs mis jy dit dalk glad nie. Ons bassist sing backing vocals op baie van die album se songs, so dit help baie. Maar ek stem ook baie saam met Brian May – as iemand wil hê dit moet 100% presies soos die album klink, sal hulle maar die album moet gaan luister. 😉

Ek hardloop rond en spring in die dromme in en ek voel al hierdie dinge add aan die live element en performance!

Die bogenoemde musikale vermoëns help natuurlik niks as mens se songs flou is nie, en mens moet byvoeg dat Stoker sonder uitsondering bedonnerde songs pleeg! Hoe werk daai liedskeppingproses by julle? Is dit 'n geval van saam rehearse tot iets oppop, of eerder iemand wat 'n voorstel bring en die res wat byvoeg? Wat maak 'n goeie of 'n slegte song in die hard rock-genre, en hoe weet jy wanneer 'n song rég is? Ek's seker daar's mense in dié genre wat dink lirieke en struktuur is half irrelevant, maar ek's seker jy sal (met rede) verskil?

Thanks dude! Wel, ek of Redge sal gewoonlik met 'n rif na die ouens toe kom by 'n rehearsal en dan sal ons dit jam vir 'n ruk en as die wiel begin rol, dan werk ons maklik vir 'n uur of twee daaraan. Maar in dieselfde sin, as iets na 'n paar minute nie met die band praat nie, sit ons dit op die rak, of ek vat dit huis toe en gaan shape dit bietjie meer.

Ek dink 'n goeie rock song moet jou dadelik vang met 'n killer rif en hoef nie noodwendig te diep te wees nie. "Don't bore us, take us to the chorus."

Die rocktoneel in Suid-Afrika is maar 'n moeilike een ... en internasionaal ook, natuurlik! Hoe beskou jy die plaaslike toneel vergeleke met die buiteland, veral wat betref die soort musiek wat Stoker maak? Wat suig, en wat is kief? Wat tel in julle guns? Hoe gaan Stoker te werk om seker te maak julle staan uit bo die res en word onthou? Is daar planne om internasionaal deur te breek, of is dit eerder 'n geval van dinge eenvoudig hou vir so lank moontlik?

Ek dink die groot verskil tussen plaaslike rock music en internasionale rock music is dat daar 'n baie groter mark, asook financial backing, is vir bands in Europa en Amerika. Veral as jy kyk na record deals en distribution labels. Jy word nie hier gesign as jy nie konstant radio friendly musiek vrystel nie. Ek dink dis een van die redes hoekom ons nie te veel gepla is oor structures en lengte van songs nie. As dit natuurlik gebeur en ons maak dit wel tot op radiostasies, awesome! Maar ek voel nie ons is die tipe band wat ooit sal skryf volgens riglyne nie en ek dink dit is weer eens iets wat maklik oordink kan word.

Vir nou vat ons dit een dag op 'n slag. Ons wil soveel as moontlik speel hierdie jaar en veral in ander dele van die land, waar mense ons nog nie gesien het nie.

Jy en Borrie is van Rawsonville afkomstig. Sonder om snaaks te probeer klink, Rawsonville word nie sommer in dieselfde asem as Bellville of Stellenbosch genoem as sogenaamde rock-mekkas nie. Hoe sou jy jou grootwordervaring in terme van jou verhouding met rock & roll beskryf? Wanneer het jy besluit dís wat jy wil doen, waarin jy goed wil word? Hoe het jy te werk gegaan om, ondanks min live venues tot jou beskikking, naam te maak en gat te skop? Dink jy daar's 'n voordeel daaraan (byvoorbeeld minder afleidings) om op 'n klein dorp jou kuns te slyp, of hoe beskou jy die saak?

Baie interessante vraag, en iets wat ek nog nooit regtig te veel aan gedink het nie. Ons het albei jonk begin kitaar speel en ons musiekonderwyser was 'n huge old-school rock 'n roll fan. My eerste paar songs wat ek geleer het was "Come as you are", "Where is my mind" en "Smoke on the water", so ons het baie te danke aan hom! Soos jy tereg gesê het, daar is nie veel rock-influenced mense in Rawsonville nie, maar ons was albei in Worcester op skool en was al van jongs af blootgestel aan local rock bands soos Antipathy, Human Error en Far not Gone. Hulle was rock gods in my oë, so ek’t al vroeg in my hoërskoolloopbaan geweet ek gaan eendag my eie band begin. Ek moes net die regte mense ontmoet. En toe ek Kaapstad toe trek, het als stadig maar seker bymekaar gekom. Dis in die stad waar als begin het in terme van live optree en musiek skryf.

Stoker bestaan uit twee stelle broers – jy en Borrie, en dan Redge en Morgan O'Kennedy, wat later bygekom het. Dis 'n interessante dinamiek, en seker een wat ewe maklik uitstekend of rampspoedig kan uitdraai. Hoe vul die broers in die band mekaar aan? Is die kritiek juis makliker, of raak dit soms plofbaar? Wat sou jou raad wees vir bands in soortgelyke situasies?

Korrek! Een honderd persent eerlikheid is ook nie altyd 'n goeie ding in 'n kreatiewe space nie. Ons is ruthless met mekaar! Haha. Maar dit beteken ook daar is baie selde tension tussen ons. Ons is regtig beste buddies en is almal 100% committed aan wat ons doen in die band. As iets nie werk nie, stop ons dit dadelik. As iets werk, high fives en Jägers all around. 😉

As ek advies kan gee vir peeps wat in dieselfde omstandighede gaan werk of dit reeds doen, koester die feit dat jy jou gunsteling-ding op aarde met jou broer of familie kan deel. Musiek is wanneer ek op my eerlikste is, en daai konneksie tussen ‘n band se lede is iets wat jy nie in 'n ander verhouding of vriendskap gaan beleef nie.

Ondanks julle eerste album wat pas bekendgestel is, is Stoker al 'n paar jaar op die toneel, met 'n paar grootse gigs agter die rug. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte tot dusver? Enige mal backstage-stories wat niemand wil glo nie? Enige oomblikke wat jy eerder sal wil vergeet?

Ons het in 2015, op 'n Vrydagaand, 'n 8 pm slot gespeel op die main stage by Oppikoppi. In die eerste verse van die eerste song clip my guitar strap los en ek weet ons kan nie oor begin of stop nie, en dis ook 'n song waarin my guitar-deel die main melody dra. So ek dans toe op 'n baie awkward manier deur die song. Ons lag nou nog daaroor.

Ons is baie rustig voor shows, so nie te veel backstage debakels nie!

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Chris Bornman en vir Stoker, in so verre jy/julle dit kan beheer?

Ons sal dit love om weer hierdie jaar op die festival circuit te speel en hopelik sukses behaal met ons opkomende singles en video's. Ons sukkel om nie te skryf nie, so moenie te verbaas wees as daar volgende jaar weer albumpraatjies is nie.

Wat is die sin van die lewe?

Wees 'n man van jou woord, moenie te veel oor die toekoms bekommer nie – dit spoil nogal die hede! Oh, en luister baie Motörhead!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top