Titel: Stilspraak: Strijdom van der Merwe en landkuns
Skrywer: Carina van der Walt
Uitgewer: SUN PReSS, ’n druknaam van African Sun Media
ISBN: 9781928480648
Borge: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die LW Hiemstra Trust en die Fonds Neerlandistiek
Stilspraak – Strijdom van der Merwe en landkuns word beskryf as ’n populêr-wetenskaplike kunsboek. Die Suid-Afrikaanse landkunstenaar Strijdom van der Merwe se oeuvre oor 24 jaar word in hierdie publikasie beskryf. Sy werk word ook gekontekstualiseer binne die geskiedenis van landkuns in die VSA, Nederland en Suid-Afrika. Die boek bestaan uit naastenby 300 bladsye en vervat baie teks.
Carina van der Walt vertel aan Christiaan Boonzaaier in Netwerk24 dat die monografie, waaraan sy drie jaar gewerk het, uitbrei op Sculpting the land (2005) en Sculpting the earth (2011), beide koffietafelboeke wat nie soveel inligting soos Stilspraak bevat nie. Dit is dus ’n poging om Van der Merwe se werk deur beskrywing te dokumenteer, dan so ook in Afrikaans, met die boek se agterblad wat meld: “Geen taal is haar sout werd as sy nie bereid is om haar grootste kunstenaars te eer nie.” Die boek is nie ’n volledige katalogus van Van der Merwe se werk nie – volgens die skrywer sou dit die monografie se lengte verdubbel het. Sleutelwerke is dus uitgelig. Van der Merwe was aktief betrokke by die boek se totstandkoming deur meermalige gesprekke en onderhoude met die skrywer.
........
Die vraagstuk oor grond – wie dit besit en wie daarvan ontneem is – is aan die voorpunt van Suid-Afrika se bewussyn. ’n Wit, Afrikaanse man wat kuns maak met die grond/land is polities betrek. Die kunstenaar se werk getuig altans van ruim toegang tot ongerepte natuur en private eiendom. Van der Merwe stel dit duidelik dat hy liefs politiek en selfs maatskaplike kwessies in sy werk vermy, maar die uitsluiting daarvan is dalk te idealisties, veral in ’n derdepartyboek oor sy werk.
..........
Die studie ontleed Van der Merwe se werk meestal binne die taalraamwerk wat die kunstenaar deur sy werk daar plaas; dit kom dus voor as ’n tipe outobiografie eerder as ’n onafhanklike verkenning. Nuwe perspektiewe op die werk sou verfrissend gewees het. Die vraagstuk oor grond – wie dit besit en wie daarvan ontneem is – is aan die voorpunt van Suid-Afrika se bewussyn. ’n Wit, Afrikaanse man wat kuns maak met die grond/land is polities betrek. Die kunstenaar se werk getuig altans van ruim toegang tot ongerepte natuur en private eiendom. Van der Merwe stel dit duidelik dat hy liefs politiek en selfs maatskaplike kwessies in sy werk vermy, maar die uitsluiting daarvan is dalk te idealisties, veral in ’n derdepartyboek oor sy werk. Sy triptiek Constantly stitching our lives together, ik ben een Afrikander, ’n verkenning deur die kunstenaar van sy Afrikaner-identiteit wat in die boek ingesluit is, is ’n goeie intrede tot ’n meer kritiese omgaan met sy werk wat verder geneem kon word.
Die boek bevat ’n vertaalde voorwoord deur Clive Adams, direkteur en kurator van die Centre for Contemporary Art and the Natural World. Daar is ook ’n essay (“Wie is Strijdom van der Merwe?”) deur Annali Cabano-Dempsey, kurator van die Universiteit van Johannesburg, oor haar spesifieke insig in en betrokkenheid met dié kunstenaar se lewe en werk – sy het ’n prominente rol gespeel om Van der Merwe se werk by UJ te vertoon. Adele Nel, letterkundige aan die NWU, belig Van der Merwe se werk aan die hand van TT Cloete se kunsteoretiese uitspraak: “Die gedig is spel.” Dit kyk na Van der Merwe se werk as ’n vorm van visuele poësie deur hoe hy met die aarde speel. Van der Walt, die hoofskrywer, pas Georg Wilhelm Friedrich Hegel se kunsfilosofie en “idealistiese blik op kunsgeskiedenis” op Van der Merwe se werk toe. Bykomende bydraers sou dalk ander maniere kon bied om sy werk te lees, buite die gevestigde perspektief daarop.
Van der Merwe se oeuvre is indrukwekkend, iets wat die boek weergee. Dit wys die magdom werk wat die kunstenaar tot op hede gedoen het, meestal plekspesifiek. Hierby ingesluit is talle landkunswerke vanweë uitnodigings na feeste, biënnale en ander projekte beide in Suid-Afrika en internasionaal (die boek se internasionale tydlyn is nuttig om Van der Merwe se werk oorsee te plaas). Die boek kyk ook na die kunstenaar se beeldhou-opdragwerke. Die boek getuig van uitgebreide navorsing, maar die hoeveelheid inligting raak oorweldigend wanneer die boek van voor tot agter gelees word, siende dat die meeste daarvan soortgelyk van aard is. Die meeste werke word in besonderhede beskryf: die materiaal wat gebruik is, watter persone betrokke was en hoe die werk tot stand gekom het, met bykomende staaltjies en die skrywer se (soms sentimentele) inlewing. Die besonderhede, nodig soos dit is, word nie genoegsaam geaktiveer nie.
Van der Merwe se werk word in die hoofstuk “Vorm as spesifieke beeld-taal” aan die hand van verskillende vorme verken: lyne, sirkels en spirale, driehoeke, vierkante en reghoeke, kruise, vreemde vorme, en figure. Dit kom gepas voor in ag genome die aard van die werk. Die daaropvolgende hoofstuk, “Kleur as spesifieke beeld-taal” met die afdelings “Groen genade”, “Tuis is spesery-kleure”, “Blou kontroversie”, “Wit boodskappe”, “Geel groete” en “Rooi toe-eiening”, se benamings kom wel effens arbitrêr voor. Ander afdelings kon gebruik gewees het om die wye verskeidenheid onderwerpe wat onder “kleur” bespreek word uit te lig. Die koppeling met kleur, verder as die fisiese kleur van die betrokke kunswerk, voel inhoudsgewys misplaas. As voorbeeld: die bespreking van die kompleksiteit in landkuns rondom plagiaat en intertekstualiteit in “Blou kontroversie”; so ook met trekvoëlroetes in “Rooi toe-eiening”.
’n Hoofstuk (die hoofstukke is ongenommerd) word aan die ontmoeting van Van der Merwe se werk en spirituele praktyke gewy. Daar word kortweg gekyk na sjamanisme, Zentuine en meditasie, Japannese wabi-sabi, Boeddhistiese en Japannese gebede, totempale, en Europese energielyne se invloed op die kunstenaar se werk, waarin bewustheid van mens se natuurlike omgewing ’n kerndeel vorm. Van der Merwe se werk is tot die essensie gestroop; dis ’n meditasie oor die skoonheid van vervlietendheid en die kortstondigheid van die menslike bestaan.
Tibettaanse gebedsvlae en die mantras wat daarop verskyn, spreek tot die Afrikaanse haikoes wat die kunstenaar op sy eie vlae gebruik het. Die hoofstuk waar Van der Merwe se werk aan die hand van digkuns bespreek word, bied ’n blik op die ontmoeting van woord en vorm tussen geskrewe poësie en visuele kuns. ’n Skakel tussen konkrete en visuele poësie word gemaak (aan die hand van onder andere Willem Boshoff en Bibi Slippers), waar Van der Merwe se werk se poëtiese waarde toegeskryf word aan sy gebruik van geometriese vorme. Van der Merwe se gebruik van Gert Vlok Nel se digkuns, sowel as ’n reeks Afrikaanse skrywers met Potchefstroomse bande as deel van die Tuinvers-projek onder leiding van Franci Greyling, word ook uitgelig.1 Die kunstenaar het in sy kuns die ontwikkeling en plek van Afrikaans geïnkorporeer, onder andere by die Afrikaanse Taalmonument te Paarl.
Die bespreking van die rol van geld in Van der Merwe se werk is interessant. Daar word gemeld dat die kunstenaar die “meer verkoopbare genres” van beeldhouwerk en skilderye benut vir ’n leefbare inkomste, in vergelyking met landkuns wat meer op die natuur en nie op verkoopsmoontlikhede gefokus is nie. Die kunstenaar word aangehaal: “Ek hou daarvan om iets te maak wat uiteindelik sal verdwyn. As ’n landkunstenaar wil ek nie my ego op die landskap afdruk nie” (bl 168). Die eerste en tweede landkunsbiënnale te Plettenbergbaai word ook bespreek en uiteengesit. Die oersimbole wat by Driekopseiland in die Rietrivier naby Kimberley gevind is, waarvan enkele vorme herken word as tekens van die Ogham-alfabet, se sterk invloed op Van der Merwe word uiteengesit.
Al is Van der Merwe nie polities uitgesproke nie, spreek hy wel omgewingskwessies in sy werk aan, soos aardverwarming en die boor vir skaliegas in die Karoo. “Jy moet in harmonie met die natuur leef en nie meer neem as wat jy nodig het nie. Ons moet leer om weer ekologies intelligent te wees. Ons het verleer om na die natuur te kyk as rigtingwyser van die lewe self,” vertel hy. Van der Merwe se werk nooi ons uit om die natuur anders en opnuut waar te neem. Hy gaan respekvol met die omgewing om en verkies om geen mensgemaakte materiale agter te laat nie. Die enigste oorblywende bewys van sy werk is dikwels die foto wat daarvan geneem is. Is die foto dan die kunswerk of bloot die dokumentasie daarvan? Mens sal verder as Stilspraak moet lees vir ’n antwoord.
........
Van der Merwe se werk nooi ons uit om die natuur anders en opnuut waar te neem. Hy gaan respekvol met die omgewing om en verkies om geen mensgemaakte materiale agter te laat nie.
..........
’n Meer moderne en minimalistiese uitleg sou die boek sowel as Van der Merwe se kuns verhef het. Die kleurblokke wil herinner aan ’n jaarverslag. Foto-onderskrifte kon ook gebruik gewees het om inligting in die teks beter te verpak. Van die foto’s se resolusie was ongelukkig te laag om gedruk te word.
Al is die boek nie noodwendig betowerend nie, is dit gepas as ’n rekord vir liefhebbers van Van der Merwe se kuns, sowel as vir dié wat daaroor in Afrikaans wil oplees. Die foto’s gee ’n goeie oorsig van die kunstenaar se werk.
1 Die digters is TT Cloete, Hans du Plessis, Heilna du Plooy, Tom Gouws, Franci Greyling, Johan Myburg, Bernard Odendaal, Etienne Terblanche, Carina van der Walt, Hein Viljoen, Adri Breed, Ihette Jacobs, Jansen Vermeulen en Ruan Fourie.
- Lion-Cachet is assistentkurator van die Konstitusionele Hof se kunsversameling. Sy navorsingsbelangstellings sluit visuele grondwetlikheid, sowel as Afrikaanse en queerkultuur en -literatuur in. Hy het voorheen as openbare programkoördineerder van die NWU-galery en kunsversameling gewerk. Hy het ’n LLB en LLM met lof in mediareg aan die NWU behaal. Hy is ook redakeur van Klyntji.com.
Lees ook:
Strijdom van der Merwe, the blue line, a red flag and black Tuesday