Aaneensluitend by die uitreiking van ’n eredoktorsgraad aan Breyten Breytenbach deur die Universiteit van Gent op 3 Desember, het ’n tweedaagse kollokwium oor Afrikaans in Suid-Afrika plaasgevind. Dit is vanjaar twintig jaar na die begin van demokrasie. Op die valreep van hierdie jaar was daar nog tyd om te besin oor Afrikaans. Die titel van die kollokwium was "Die taal se stiltes". Daaronder is gekyk na die posisie van Afrikaans as één van die elf amptelike landstale, die Afrikaanse letterkunde en hoe Afrikaanssprekendes staan teenoor sosiale en maatskaplike probleme binne Suid-Afrika. "Die taal se stiltes" is ’n besonder skerp klippie in menigeen se skoen. Dit lyk asof niemand hierdie klippie uitgeskud kan kry nie. Om die saak nog verder te versterk (weliswaar onwetend), het Breytenbach twee klippe as presente aangedra vir die Universiteit van Gent.

Die eerste lesing in die kollokwium is gehou deur Michael le Cordeur (voorheen voorsitter van die ATR – Afrikaanse Taalraad) oor Mandela se liefde vir Afrikaans: van taal van die onderdrukker tot taal van versoening. Mandela as invalshoek was presies die regte afskop. Wat Le Cordeur vertel het oor Zelda la Grange se boek Good Morning Mr Mandela het my nuuskierig gemaak oor die onontginde moontlikhede vir die Afrikaanssprekendes binne die nog relatiewe jong demokrasie. Die persoonlike ontwikkeling wat Le Grange moes deurloop van ’n punt af waar haar pa sê: “Nou’s ons in die moeilikheid. Die terroris word vrygelaat”, tot waar sy as Mandela se sekretaresse en chaperone permanent aan sy sy gereis het, weerspieël ’n pad wat ons almal behoort te loop. Nie dat dit maklik is nie!
Le Cordeur het ’n paar minder bekende feite aan sy gehoor in Gent gegee. Robbeneiland was bekend as die “university” waar die politieke gevangenes by mekaar geleer het. Hulle was hulle eie professore. Uit hierdie geledere het die taalman Neville Alexander opgestaan. Mandela het nie net Ingrid Jonker gelees nie, maar ook CJ Langenhoven, Elsa Joubert en C Louis Leipoldt se oorlogsgedigte. Sy ampswoning se naam (Genadendal) was ’n knipoog na die bruin Afrikaanse gemeenskap toe.
Met die lees van Jonker se gedig Die kind tydens sy intreerede het Mandela die bekommerde en bedreigde Afrikaners gerusgestel. Jonker het as Afrikaanse jong digteres uit die see uit opgestaan en tot in die parlement geloop, aldus Le Cordeur.
Danksy Mandela is daar nog ’n Afrikaanse strofe in die Suid-Afrikaanse volkslied. “As Steve Hofmeyr dit net wil besef en liewers stilbly,” is Le Cordeur se versugting. Die verwysing na die volkslied sluit aan by die afsluiting van die vorige aand se verrigtinge in die aula. Nie net één volkslied in drie tale nie, maar drié volksliedere is gespeel: die "Vlaamse Leeuw", die Belgiese volkslied en die Europese volkslied. "Benauwend veel van het goede," was my eie ervaring. Le Cordeur sluit sy lesing af met ’n groet aan Mandela. Dit is die openingswoorde van Jan FE Cilliers se gedig, Generaal De Wet. Die hele gedig is vandag eintlik net so oordraagbaar op Mandela. Vervang net die naam De Wet in die derdelaaste reël.
Stil, broers,
daar gaan 'n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar's nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink -
die arendsblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per' ruiterskaar?Gewis!
en soos hy ons s'n was
en is.Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.En hierdie pure man
jou kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees
Voortwaarts,
Suid-Afrika!
Daarna het Wannie Carstens (voorsitter van die SAAWK) se lesing gevolg oor Die toekoms van Afrikaans. Ten spyte van die beduidende groei in die aantal sprekers van Afrikaans as huistaal volgens die 2011-sensusopname, bly hy bekommerd. Carstens wys in ’n skematiese voorstelling dat Afrikaans nog gehandhaaf word op die gebied van godsdiens, letterkunde en vertaling, maar byvoorbeeld terugsak op die gebiede van wetenskap, regspraak en besigheid. Terselfdertyd erken hy dat statistiek nog altyd ’n plooibare instrument was wat mens kan gebruik om stil-stil iets mee te probeer bewys.
’n Besonder intelligente vraag uit die gehoor het van Inneke van Kessel gekom, naamlik: Wat is Carstens se vertrekpunt vir sy statistiek? By implikasie dus: is sy vertrekpunt die bevoorregte posisie van Afrikaans van twintig jaar gelede? En ook: is dit nie normaal dat Afrikaans dán ’n klein bietjie sal terugsak om plek te maak vir die ontwikkeling van ander inheemse tale nie? Niemand twyfel egter aan Carstens se opregtheid as hy sê hy wil die taal vir sy kleinkinders behou nie en dat hy hulle leer van oliebolle en springmielies in plaas van “doughnuts” en “popcorn”.
Agter Van Kessel se woorde “ik ben gewoon onbeschermd nieuwsgierig” skuil ’n besonder fyn luisteraar en skerp analitikus oor sosiaal-maatskaplike toestande in Suid-Afrika. Juis daarom is dié woorde so ontwapenend. Die onderwerp van haar lesing was: Van Langa naar Marikana: is er nog plaats voor maatschappijkritiek in de Zuid-Afrikaanse letterkunde? Haar vraag wat sy aan die gehoor rig, het ontstaan as gevolg van dans- en toneeloptredes in Nederland oor twee onlangs dramatiese dieptepunte in Suid-Afrika, naamlik Marikana en zenofobie teenoor mense uit Zimbabawe. Die antwoorde wat sy tot dusver uit die letterkunde gekry het, was onbevredigend en ontwykend. Veral stiltes.
Guido van den Berg se onderwerp, Weerbarstige betrokkenheid, geld dus nie net vir die geïnteresseerde, maar weerbarstige blik van Nederlanders op Suid-Afrika en Afrikaans nie, maar ook vir baie Afrikaanse skrywers se blik op hulle land en op hulle taal. Dís wat in die lang stilte bly hang – daardie lastige en pynlike klippie in die skoen. Wie gaan die stamper van die geskrewe woord optel? Wie gaan die probleme oopskryf en fynmaal in die vysel? Niemand nie?

Gelukkig wys Ena Jansen in haar lesing oor huiswerkers in Suid-Afrika dat daar nog dapper (veral vroulike) skrywers is wat hat hierdie problematiek aanpak. Sy vergelyk die karakter Sara uit Johannes van Melle (in Goes, Nederlandsgeborene) se roman Bart Nel met die karakter Victoria uit Antjie Krog se gedigtereeks Mede-wete (2014) as twee eikpunte. Sara het op ’n plaas buite Pretoria gebly toe die rebellie in 1914 uitgebreek het. Opvallend is hoe die hoofkarakter Nel die huishulp Sara as medepligtige betrek in ’n stryd wat haar glad nie aangaan nie, maar sy bly tjoepstil. Toe Louis Botha Engeland se kant gekies het, wat impliseer dat die Afrikanerboere in Europa vir die Britte moes gaan veg, reageer Nel verbitterd.
Bart sê niks nie. Hy sit ’n paar minute op die koerant en staar en gee geen antwoord nie. Toe staan hy op en gaan na die muur waar die portret van generaal Botha hang en neem dit daar af. Hy gaan daarmee na die kombuis en hulle hoor hom roep na Sara: “Vat dit,” sê hy, “slaan dit stukkend en steek dit in die vuur.” (p 10)
Daarteenoor praat Krog se karakter Victoria baie meer en het sy veel meer bedingingsmag in Krog se reeks van veertien gedigte. Twaalf van hierdie gedigte het dieselfde bou: dit begin en eindig met ’n gesprek tussen ’n man en vrou oor hulle huishulp en die kommunikasiegapings tussen hulle. In die middel van elke gedig is ’n stuk Xhosateks waarin Victoria praat, maar net soos die nie Xhosa sprekende leser verstaan haar werkgewers haar ook nie. Elke gedig eindig met ’n stukkie geradbraakte Afrikaans, wat juis aantoon hoe groot die misverstande kan wees. Die titel van Jansen se lesing sluit naatloos aan by hierdie indirekte wyse van kommunikasie as broeiplek vir misverstande:
Victoria sê haar ma sê vir jou dankie vir die geld vir die dak.
Victoria se bedingingsmag bly beperk tot rondom die kombuistafel en in die tuin en gaan dit dikwels oor geld.
Ander Afrikaanse romans wat oor die huishulp se posisie gehandel het, was Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), haar kortverhaalbundel Melk (1980) en Marlene van Niekerk se Agaat (2006). Die ooreenkoms tussen Krog se nuwe werk en Joubert se ouer werk bly steeds ’n bewussyn van die persoonlike onmag tot kommunikasie. Die stiltes. Opvallend in Agaat is dat dit juis haar werkgewer is wat verlam raak en nie kan praat nie. Dit is stil wanneer kommunikasie beperk word tot die fladdering van ’n ooglid.

Op die laaste dag direk na Louise Viljoen se lesing (lees Berig uit Gent elders op internet oor die aktiwiteite rondop Breytenbach se eredoktorsgraad) het stilte weer ’n rol gespeel. Op 5 Desember was dit presies ’n jaar wat Mandela oorlede is. Daar word ’n minuut van stilte gevra. Le Cordeur staan skuins voor my. Ek voel ek wil liewers bruin wees, sorvry my kaalvoettaal praat en nou met my tone in die stof staan.
Lees ook Breyten Breytenbach receives honorary doctorate from Ghent University.

