Sterk vroue en meer by LAPA

  • 0

Die vroue


Kantelpunt; Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige wit, Afrikaanse vrou

Sophia Kapp
9780799390919
R315,00

Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding. Nellie is pas 50, ’n konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing. Dan ondergaan sy ’n histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ’n vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ’n ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as ’n gegewe aanvaar het, te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal.

Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef.

Wat maak die boek anders?

  • Kantelpunt is protesfiksie, die protes van ’n vrou wat haar regte ontneem is deur ’n patriargale samelewing én dit toegelaat het.
  • Dis nié ’n liefdesroman nie, maar daar is hoop aan teen die einde. Die leser word dus nie in ’n put gelaat nie.
  • Kantelpunt is anders as die skrywer se vorige boeke omdat dit feminisme as tema het.
  • Elke vrou wat al gesukkel het om haar plek te vind, as vrou, as mens, as burger, as ma, as eggenote, en om steeds te hou van wie en wat sy is, sal by Nellie aanklank vind.
  • Hipomnemata in die subtitel is ’n Griekse woord, wat “herinneringe” beteken. Dit was ’n erkende genre in antieke tye, en het behels dat mense hulle waarnemings, goed wat hulle gelees het, en aanhalings wat vir hulle iets beteken het, in notaboekies neergeskryf het. Hierdie boek is Nellie se hipomnemata.

Kantelpunt is Sophia Kapp eerste roman wat ’n vrou se verhouding met haar omgewing ondersoek, eerder as net haar verhouding met haar geliefde(s).

Hierdie video verduidelik iets van die boek: https://www.youtube.com/watch?v=E6XASR0Pt9o


Retoer, Pretoria – Provence

Marita van der Vyver
Niefiksie
9780799384796
R160,00

Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas? Hoe kan enige een so openlik ’n goue voël beskryf sonder om platvloers te wees? Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry. Sy het selfs al ’n oumaboek geskryf.

Hoeveel van ons het nie al lees-lees saam met haar gekuier in die huis met die blou deur nie? Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart.

Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop.

Marita sê self: “Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf. En nou is ek eensklaps ‘vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.”

Marita waarsku egter ook: “Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk!”

Boonop is fiksie haar gekose medium. Sy verduidelik: “Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf. Dis nie doelbewuste bedrog nie, bloot ’n beroepsrisiko – as jy heeldag en aldag jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk.”

Ten spyte van al die waarskuwings, is Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerrite van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.

Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdelings se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug.

Die reis is nie altyd maklik nie. Een van die stukke wat in hierdie bundel verskyn, is ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op ’n toer deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang.

Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid, skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie en vegetariërs.


Nasty Women Talk Back

Joy Watson & Amanda Gouws (editors)
978063996300
R195,00
Imprint: Imbali Academic & Trade Publishers

Women, womyn & womxn: Are they really nasty?

This collection contains humour and pathos; it an easy read, despite being academically grounded and completely relevant. Wonderful doodles at the start of each essay soften the page. This is a want-to-read book on an extremely important topic.

In South Africa the Fallist movement became an extremely important platform to discuss gender, while #metoo has become a global phenomenon. Ashanti Kunene, a Fallist-leader, is one of the contributors.

Other essays include “Pussies are not for grabbing” (Joy Watson), “My arms are tired of holding this sign” (Amanda Gouws), “Oh, no you can’t go to heaven in a broke down car” (Anastasia Slamat), “I’m with her” (Zama Khanyile), “To Womb it may concern” (Christi van der Westhuizen), “Womb with a (very strong) view” (Helen Moffet) and “Diary of an Indian woman” (Aarti Narse); but there are many more – twenty eight in total.

The idea for the collection was born, cradled and nurtured between friends who wanted to create a space for writing and thinking about the women’s marches. The group of feminists who contributed to this collection used the marches and the posters inspired by the marches as a vehicle which galvanised women into action to put pen to paper and show fervour for ongoing feminist activism. The nexus of this beautifully written and evocatively illustrated collection is telling narratives that link very personal stories with deeply political issues. These are the stories told by nasty women who are making the personal political, who are seeking to live their lives in ways that resist and challenge patriarchy. Through their very intimate nature these are stories that speak to the creation of a different kind of social order, one based on equity, the promotion of human rights and social justice.

The presidential campaign in the USA grabbed the global imagination. It also grabbed the feminist imagination, presenting the hope that if a woman could become the president of the USA, women throughout the world would finally break through the reinforced glass ceiling. However, when it didn’t happen, the lost opportunity became the metaphorical kick in the feminist gut on a global scale. Through the subsequent misogyny, vulgarity, lewd comments, the pussy-grabbing video, and the threats of the erosion of feminist activism in the trenches, worldwide a deep mourning arose from the feminist community. It was the name calling of “nasty women” that really smarted. Initial feelings of anger gave rise to empowerment of women — those who talk back to patriarchy — to embrace the label of “nasty women”.


Al wat oorbly

Santie van der Merwe
9780799390322
R265,00

Julia Meiring het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was. Haar pa is dadelik weer getroud, en sy is deur ’n ongenaakbare stiefma grootgemaak wat byna die teenoorgestelde was van haar liefdevolle ma. Die stiefma het feitlik al haar aandag aan haar laatlammetjie gewy.

Julia vind die liefde van haar lewe in haar buurman, Wynand du Toit. Hy is ’n geskeide man, en die pa van twee kinders maar Julia laat haar deur die verhouding meesleur, want Wynand se kinders woon in die Kaap by hul ma, en sy kan hulle heeltemal vermy.

Omstandighede dwing Wynand se eks en haar gesin terug Gauteng toe, en Julia verbreek summier hulle verhouding. Sy sien nie kans om ’n ma te wees nie, en nog minder ’n stiefma.

Haar drakoniese stiefma sterf, en Julia besef weer eens hoe min sy van haar eie ma weet. Sy probeer ’n beeld van haar ma saamflans uit die herinneringe wat haar veel ouer sibbe half onwillig met haar deel. Stadig maar seker besef sy dat haar ma nie ’n engel was nie, dat haar stiefma nie inherent boos was nie, en dat sy dalk vir Wynand weer ’n kans moet gee.

Al wat oorbly is Santie van der Merwe se sesde roman. Wat maak die boek anders?

  • Die roman spreek die dilemma van ’n jong vrou aan wat moet besluit of sy haar verhouding met ’n geskeide man, én sy twee kinders, wil voortsit.
  • Die hoofkarakter moet diep in haar verlede delf om ten volle te verstaan waarom sy teë is daarop om kinders te hê.
  • Vergifnis en die delikaatheid van verhoudings is ’n deurlopende tema.

Lam ter slagting

Madelein Rust
9780799390063
R295,00

Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elkeen is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit ’n reeksmoorde is nie.

Die spoor is egter koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë die slagoffers se gesigbeserings en dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae.

Toe ’n outistiese, forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte aan vir Renata. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak?

Lam ter slagting vertel ’n verhaal van korrupsie, mensehandel, geldwassery, bissare seks en ’n buitensporige magsdrang teen die agtergrond van die donker bedrywighede, ’n kultus en die geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary.

Die lot van die gewone lede van die SAP wat gekniehalter word in die uitvoering van hulle pligte deur hoëlui in die politiek en polisie word oortuigend weergegee.

Lam ter slagting is die vierde boek waarin doktor Renata Malan die hoofkarakter is, ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim.


Losprys

Martin Steyn
9780799390889
R295,00

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Karla Blanckenberg is in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak – en te verbreek – kan sy net wag.

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Dit is egter presies wat hy kry; dit is boonop ’n ontvoering vir ’n losprys, ’n hoë-profielsaak, dus. Die desperate Amerikaanse ouers is aan die een kant en die ambisieuse kaptein druk Lubambo aan die ander kant. Almal wil resultate hê.

Die roman fokus op twee bene: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes, deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid, en die onderhandelings met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Kort voor lank staar elkeen van die rolspelers ’n keiharde waarheid in die oë: dat ryk kinders altyd voorkeurbehandeling kry wanneer hulle wegraak. Die einde sal jou in die maag skop.

Soos met sy vorige romans het Martin Steyn met die mense gaan praat wat regtig sulke sake ondersoek, insluitend speurders en onderhandelaars. Hy het geloop waar sy karakters loop, van Houtbaai en Imizamo Yethu tot Mitchells Plain. Dit gee die verhaal ’n grinterige realisme. Daar bestaan mense soos Karla Blanckenberg.


The Saxon Wolves

Penny Ingham
9780639914060
R285,00
Imprint: Imbali Academic & Trade Publishers

Britain 455 AD. The Roman Empire has fallen. As the daughter of a king and a priestess of the sacred grove, Anya's life in Germania is one of wealth and privilege — until she dares to speak out against the high priest's barbaric human sacrifices. Her punishment is exile. Forced to leave her homeland, she sails to Britannia, to an island that is sliding into chaos and war, as rival kingdoms vie for power. Alone and far from home, Anya must learn to survive amidst the bloodshed, treachery and intrigue of fifth-century Britain.

This book provides a glimpse in to what Europe looked like shortly after the Roman Empire lost its grip on what was called the “Known World”. Christianity was rare, and somewhat frowned upon. Bloodshed was common and women had no say in whom they were allowed to marry; or not.

Anya, an intelligent red head, found herself at times haunted, other times hunted and often-times entrapped. Only her wit could outsmart the enemy, but what happened when brute, testosterone-driven force meant more than brains? You would want to read the end.


As mens geluk kon proe

Zelda Bezuidenhout
Jeugverhaal: 13+
9780799389470
R175,00

Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te herontwerp, om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

Operasie Nuwe Arnelia.

Oprah sal trots wees.

Ongelukkig loop haar planne sommer uit die staanspoor skeef toe sy by die skool se entrepreneursdag pens en pootjies neerslaan met arms vol kos. Boonop is daar ’n groepie meisies wat duidelik vasbeslote is om die lewe vir haar moeilik te maak.

Dankie tog vir nuwe vriende, soos Dineo en Ilana, wat die daaglikse dramas van haar lewe ietwat draagliker maak.

Dan is daar Dewald. Hy is die donkerkop-boerseun met die skewe glimlag wat weet hoe om crêpes suzette, tiramisu en uiekonfyt te maak. Hy laat Arnelia se hart vreemde dinge doen, al weet sy hy sal nie twee keer na ’n meisie soos sy kyk nie.

Toe Dewald se lewe egter onverwags op sy kop gekeer word, gryp Arnelia en haar vriende in. Danksy ’n ou goudgeel kombi, ’n winkelpop, genaamd Saartjie, en ’n klomp fantastiese resepte, begin hulle ’n mobiele snoepie by die skool. Die Snoeperheroes het die skool op hol met allerlei opwindende pousekos en prettige idees.

Toe Arnelia egter uit die bloute ’n groot rol in die skool se produksie van Hairspray losslaan, word haar nuwe vriendskappe tot die uiterste beproef en sy word gedwing om haar moeilike verhouding met haar pa reguit in die oë te kyk.

As mens geluk kon proe is ’n heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil. Dit was ’n naaswenner van LAPA se Jeugromankompetisie van 2017.


Weg

Nerine Ahlers & Alet Steenkamp
Jeugverhaal: 13+
9780799388824
R170,00

Iets is baie verkeerd. Niekie word iewers in ’n vreemde bed wakker met kneusplekke aan haar gesig en kabelbinders wat in haar polse en enkels insny. By haar in die vertrek is ’n man. Iemand wat sy kort tevore ontmoet het. Hy noem haar sy prinses. Hy wil vir haar ’n storie vertel. Hy sê Niekie is sy prinses. Dit is deel van die storie. En, as die storie eers verby is, gaan hy vir haar ’n spesiale towerdrankie gee om haar te laat slaap. Vir altyd.

Terwyl haar ouers oorsee werk, bly Niekie in haar matriekjaar op haar eie in ’n woonstel in die stad. Kort nadat sy en haar kêrel, Zack, baklei het, verdwyn Niekie spoorloos. Die polisie is nie dadelik agterdogtig nie – Niekie het immers ietwat van ’n kunstenaarstemperament en het al voorheen, uit die bloute, saam met haar kunstenaaroom die pad gevat om te gaan skilder.

Zack begin al hoe meer bekommerd raak. Waarom het Niekie nie opgedaag vir hulle afspraak nie? Hoekom antwoord sy nie haar foon nie? Ignoreer sy hom dalk net omdat sy vies is vir hom? Maar toe Zack boonop haar woonstel verlate aantref, weet hy iets is verkeerd. Baie verkeerd. Terwyl die uurglas vir Niekie leegloop, probeer Zack en Niekie se vriende die vreemde spoor van leidrade volg wat hulle hopelik na haar ontvoerder sal lei, voor dit te laat is.

Hierdie naelbyt-spanningsverhaal sal lesers tot die laaste bladsy vasgenael hou.

Weg was ’n finalis in die LAPA-Jeugromankompetisie in 2017. Daar is min Afrikaanse spanningsverhale vir tieners op die mark, terwyl die genre wêreldwyd onder jonger lesers gewild raak. Hierdie boek vul dus ’n belangrike gaping in die mark.


Keshia Davids, superheld

Alesha Dixon
Illustrasies: Pe Grigo
Kinderboek: 9+
9780799388763
R150,00

Keshia Davids se hare mince. As jy nie weet wat dit beteken nie, is jou hare nie woes en wild en onbeheerbaar soos Keshia Davids s’n nie.

Keshia Davids is eintlik net ’n doodgewone (gaap) skoolmeisie. Behalwe vir haar hare, hulle is nie glad en reguit nie, maar Keshia praat nie graag daaroor nie, so die storie gaan nie daaroor nie.

So? Behalwe vir haar hare, is daar is niks spesiaals aan haar nie. Sy kan nie eens ’n behoorlike wawiel doen nie. Alles verander toe sy op ’n dag sien hoe ’n boelie op haar kleinsussie pik – en die vonke begin spat! Ja, regtig. Daar skiet ligstrale uit Keshia se vingers. Wat op aarde is aan die gang?

Dit is tyd dat haar ouers oop kaarte speel – en Keshia se lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy vind uit haar ma lei ’n dubbele lewe as ’n geheime superheld wat misdaad regoor die wêreld bestry, terwyl haar pa by die huis bly en na die kinders omsien. Die tyd het aangebreek dat Keshia by haar ma aansluit en deel word van die wêreldwye stryd teen skelms.

Terwyl Keshia se superkragte begin sterker word, moet sy ’n balans probeer vind tussen haar superheld-opleiding en haar skoolwerk. Hoe op aarde gaan sy haar geheim vir haar vriende wegsteek? Boonop: toe haar ma se bose tweelingsus haar opwagting maak, begin Keshia wonder of dit nie dalk meer pret is om ’n super-SKURK te wees nie?

Keshia Davids, superheld is ’n skreeusnaakse, aksiebelaaide avontuurverhaal vir jong lesers. Die humoristiese swart-wit-illustrasies dra by tot die pret.

Hierdie boek het alles: ’n superheldin, gesinsbande, groepsdruk, boelies en ’n supersterskrywer.


Sanri Steyn: Die rustelose mummie

Theresa van Baalen
Illustrasies: Johann Strauss
Kinderboek: 9+
9780799383850
R125,00

Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. Nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees: Superjoernalis Sanri Steyn.

Sanri hou nie juis van grillerige goed soos mummies nie, maar sy is nogtans opgewonde toe sy hoor ’n rondreisende uitstalling met artefakte uit antieke Egipte gaan Raaiselfontein se museum besoek. Uiteindelik gebeur daar iets waaroor sy in haar koerant kan skryf!

Kort voor lank begin daar egter vreemde dinge gebeur. Hoekom lyk die mummie so vreemd op foto’s? Waarom draai iemand snags die dorp se standbeelde in toiletpapier toe? Ook; waarom raak die kurator van die museum en sy dogter elke aand onverklaarbaar aan die slaap?

Sanri se neus begin kriewel. Kan dit wees dat die mummie lewend word? Wat wil hy hê? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie...


Die swakste restaurant in die heelal en ander stories

Jaco Jacobs
Illustrasies: Dale Blankenaar
Kinderboek: 9+
9780799388817
R160,00

Kom eet by die Swakste Restaurant in die Heelal, want Nina, die eienaar se dogter weet iets van bemarking!

Vind uit wat gebeur as jy met supergom aan die mooiste meisie in die skool vasgeplak word. Ontmoet die seun wat Arnold Schwarzenegger se springmielies geëet het. Gee vir tannie Breggie ’n ou soentjie – as jy dapper genoeg is!

Vind uit hoe ’n mens toonkonfyt maak. Of: ontdek hoe ’n bol kougom die wêreld kan red!

Jy kan kies om te giggel, gil, brul, proes, snork of skater van die lag met hierdie versameling skreeusnaakse stories uit die pen van die gewilde Jaco Jacobs. Die bundel kortverhale bevat tien stories wat geskryf is om jong lesers se lagspiere oortyd te laat werk.


Bianca se briljante biblioteekdag

Joseph Coelho
Illustrasies: Fiona Lumbers
Kinderboek: 3+
9780799391077
R135,00

Elke week sien Bianca uit na daardie een spesiale dag die dag wanneer sy wonderlike dinge tussen die biblioteek se rakke ontdek; die dag waarop sy tyd saam met Pappa kan deurbring.

Saam verken hulle die rakke op soek na betowering, geheime en ’n manier om dinge tussen hulle twee reg te maak.

Bianca se briljante biblioteekdag is ’n inspirerende storie oor die betowering van boeke – en die krag van stories om moeilike persoonlike situasies te bowe te kom. Daar is ook ’n oulike “boek-binne-’n-boek” sodat jy die storie kan lees wat Bianca en haar pa saam geniet!


Die manne


Armand kook kaal

Armand Aucamp
9780799384727
R395,00

Hierdie boek het selfs kenners aan die praat!

“Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraatkookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!” – Tim Noakes

’n Model moet dikwels hemp uittrek vir ’n foto. Dan moet jy goed lyk. Armand Aucamp is een van die begeerlikste celebs in Suid-Afrika. Aanhangers begeer óf sy lyf óf om soos hy te lyk. Nou deel Armand sy geheim met almal: Hy eet kaal, gestroopte, heel kos soos Tim Noakes dit in sy Real Meal Revolution met Suid-Afrika gedeel het.

Aanvanklik het Armand Aucamp gedink Noakes is mal. Aangesien hy egter gesukkel het om gewig te verloor, probeer hy toe hierdie nuwe denkwyse en hy begin kook self gesonde kos. Oor ’n paar jaar het Armand 100 laekoolhidraatresepte, wat banting- of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf. Stap-vir-stap, en met pragfoto’s daarby, wys Armand jou hoe om smuldisse te skep uit heel, gestroopte bestanddele sonder om die skaal te laat ly.

In hierdie video verduidelik Armand meer: https://www.youtube.com/watch?v=Tr7B0fZpq0U


Professor Fungus en die gekloonde konyn

Jaco Jacobs
Illustrasies: Johann Strauss
Kinderboek: 7+
9780799389234
R115,00

Professor Fungus het ’n probleem: Sy nuutste uitvinding wil glad nie werk nie! Die Dupliserende Infrarooi Trippel-Turbo Omsetter (kortweg sommer D.I.T.T.O.) is veronderstel om dinge te kloon… maar dit doen net mooi niks!

Bennie, Jenny en Edison die robot dink dit is hoog tyd dat die professor ’n blaaskans neem en ’n slag uit sy laboratorium kom om vars lug te kry. Dalk is ’n uitstappie na neef Naas se plaas net die regte medisyne!

Maar op die plaas loop dinge onverwags skeef – en kort voor lank is daar ’n KONYN-KATASTROFE met konyne net waar jy kyk!

Jong wetenskapliefhebbers (en almal wat mal is oor snaakse stories!) verslind Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks – en die ongelooflike illustrasies deur Johann Strauss sorg sommer vir dubbel die leespret! Elke storie is propvol fantastiese karakters en wilde, skreeusnaakse avonture. En by Einstein se snor, agterin elke boek is daar boonop ’n eksperiment wat jy tuis kan doen!


Professor Fungus en die onsigbare skurk

Jaco Jacobs
Illustrasies: Johann Strauss
Kinderboeke: 7+
9780799389227
R115,00

Professor Fungus is besig met ’n fantastiese nuwe uitvinding in sy laboratorium – en Bennie en Jenny kan nie wag om dit op die proef te stel nie.

Professor Fungus noem dit sy Vloeibare Energie-Reduserende Dubbel-Weerkaatsende Ydelheid-Neutraliseerder … of kortweg sommer net V.E.R.D.W.Y.N.

En die beste van als? Dit kan jou onsigbaar maak! Dit klink sommer na vet pret!

Maar dan kry ’n skurk die formule in die hande – en Bennie en Jenny moet help om van die wêreld se kosbaarste juwele te probeer red ...


Sizwe spring

Teks & Illustrasies: Gaia Cornwall
Kinderboek: 3+
9780799389487
R140,00

Sizwe is beslis gereed om van die duikplank af te spring. Sy swemlesse is agter die rug, hy het sy swemtoets met vlieënde vaandels geslaag, en hy kan spring soos min, so hy is glad nie bang nie.

“Dit lyk maklik,” sê Sizwe terwyl hy kyk hoe die ander kinders beurte maak op die duikplank. Maar toe Pappa sy hand ’n drukkie gee, druk hy terug. Hy moet buitendien eers besluit watter spesiale soort sprong hy gaan gee, en hy moet darem seker eers ’n paar strekoefeninge doen voordat hy op die duikplank klim…

In hierdie wonderlike storie oor hoe om jou vrese te bowe te kom, vang Gaia Cornwall ’n roerende oomblik vas tussen ’n geduldige en aanmoedigende pa en ’n vasberade seuntjie wat sommer dadelik jou hart sal steel.


Die diere


As die kat weg is…

Annette Herzog
Illustrasies: Pe Grigo
Kinderboek: 9+
9780799388831
R150,00

Ontmoet vir Aristoteles, ’n kat met hope houding! Aristoteles is ’n silwergrys mannetjieskat in die fleur van sy lewe en hy is baie mooi – hy reken immers self so. Anna en haar gesin dink gelukkig ook so. Altans, dis wat Aristoteles dink. Dit hou aan tot die dag toe hy uitvind Anna wil graag ’n hond vir haar verjaardag hê.

’n Hond! Watter verstandige agtjarige dogtertjie wil so ’n irriterende, keffende dierasie hê?

Aristoteles is vasbeslote dat dit nie gaan gebeur terwyl hy die kat in die huis is nie! Al wat hy hoef te doen, is om Anna te laat besef hoeveel hy vir haar beteken. Hy gaan wegloop om sy punt te bewys.

Ongelukkig is die lewe van ’n straatkat nie heeltemal wat Aristoteles verwag het nie.


Jock van die Bosveld en ander ware dierestories

Wendy Maartens
Illustrasies: Alex van Houwelingen
Kinderboek: 7+
9780799389289
R115,00

Ontmoet ’n paar dapper en interessante diere van regoor die wêreld! Ontdek die wonderlike, ware verhaal van Jock, die Suid-Afrikaanse hond wat wêreldberoemd geword het; leer ken ’n brilpikkewyn met die naam Gregory Peck en skud poot met Just Nuisance, ’n hond wat by die Britse vloot aangesluit het! Hierdie boek bevat vyf asemrowende ware dierestories:

  1. Seeman Just Nuisance: Het jy al gehoor van ’n hond wat lid van die vloot is? Of ’n pet dra en alleen trein ry? Dis wat Just Nuisance gedoen het.
  1. Visvriende Big Red en Blackie: ’n Ware verhaal oor die wonderbaarlike vriendskap tussen twee troetelvisse.
  1. Jock van die Bosveld: Ontdek die wonderlike verhaal van Jock, die dapper Suid-Afrikaanse hond wat wêreldberoemd geword het.
  1. Die ysbeer en die kietsiekat: Die merkwaardige verhaal van ’n katjie wat op ’n dag in die ysbeerpoel by ’n diere-tuin beland het – en deur een van die gevaarlik bere gered is!
  1. Gregory Peck die brilpikkewyn: Vind uit hoe ’n brilpikkewyn genaamd Gregory Peck mense geïnspireer het om vir die natuur om te gee.

Die leeu wat drukkies gee en ander ware dierestories

Wendy Maartens
Illustrasies: Alex van Houwelingen
Kinderboek: 7+
9780799389272
R115,00

Ontmoet ’n paar dapper en interessante diere van regoor die wêreld. Hierdie boek bevat ses asemrowende ware dierestories. Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak.

  1. Die leeu wat drukkies kon gee: Twee vriende koop ’n leeuwelpie in ’n afdelingswinkel in Londen – maar kort voor lank word hy ’n groot maanhaarmannetjie! Hulle besluit om hom in Afrika te hervestig, en jare later steel hy die wêreld se harte.
  1. Salty en die Twin Towers: Op 11 September 2001 het terroriste die Wêreldhandelsentrum in Amerika aangeval. Salty is een van die hondehelde van daardie verskriklike dag.
  1. Humphrey die walvis verdwaal: Toe Humphrey die boggelrugwalvis in ’n rivier beland, werk ’n hele span mense saam om hom te red.
  1. ’n Hond soos Knersus: Knersus is ’n bielie van ’n brak – wat op ’n dag twee skelms groot laat skrik het!
  1. ’n Perd met tekkies:Almal weet gidshonde kan blinde mense help. Maar het jy al van ’n gidsponie gehoor?
  1. O, die liewe Lulu: Lulu die boepensvarkie het ’n heldin geword – sy het hulp ontbied nadat haar eienaar ’n hartaanval gehad het!

Groot Beer

Wendy Hartmann
Illustrasies: Zinelda McDonald
Kinderboek: 3+
9780799389197 (Afrikaans)
R135,00

Die eerste keer toe Lara vir Groot Beer sien, is op ’n skooluitstappie. Hy lyk nes haar teddie – net baie, baie groter.

Groot Beer lyk hartseer. Daarom gesels Lara met hom. “Moenie hartseer wees nie,” sê sy sag vir hom. “Ek is hier.”

Sy vertel vir hom hy is nie alleen nie. Sy sê vir hom hy hoef nie bekommerd te wees nie en sy vertel vir hom geheime waarvan niemand anders weet nie.

Toe Lara daardie middag by die huis kom, staan daar ’n tas en bokse in die gang. Sy hoor harde stemme en kort daarna ry Pappa weg.

“Moenie bekommerd wees nie, my skat,” sê Mamma vir haar. “Ek en jy gaan piekfyn wees.”

Daardie aand kan Lara nie slaap nie. Kort voor lank klim iemand deur haar venster. “Moenie hartseer wees nie,” sê ’n sagte stem. “Ek is hier.”

Daar is Groot Beer! Saam-saam beleef hulle hope avonture.

Groot beer is ’n trots-Suid-Afrikaanse boek. Dit is sensitiewe, roerende storie oor ’n kind se hantering van egskeiding, en die wonderlike genesende krag van verbeelding en stories.


Big Bear

Wendy Hartmann
Illustrations: Zinelda McDonald
Kid's Book: 3+
9780799389203 (English)
R135,00

The first time Sarah saw Big Bear was on a school outing. He looked just like Mr T, her teddy, only much, much bigger. Big Bear looked sad. So Sarah started talking to him. “Don’t be sad,” she said softly. “I’m here.” She told him he was not alone. She told him not to worry and she told him secrets that nobody else knew.

When Sarah went home that afternoon, there were suitcases and boxes in the hallway. She heard angry voices. Then Daddy drove away in his car.

“Don’t worry, darling,” Mum said. “You and I are going to be just fine.”

That night Sarah couldn’t sleep. What happened next? Someone climbed through her window! “Don’t be sad,” said a soft voice. “I’m here.”

There was Big Bear! Soon they were having loads of adventures together!

Big Bear is a proudly South African book. It is a sensitive, moving story about a child’s experience of divorce and loss, as well as the wonderful healing power of the imagination and stories.


Bang Beer

Steve Smallman
Illustrasies: Caroline Pedler
Kinderboek: 3+
9780799388725
R135,00

Ontmoet ’n dapper klein hasie… en ’n groot, bang beer!

Het jy geweet?

In die diep, donker woud woon die HARIGE OU GROTE!
Met skerp tande in sy bek en skerp kloue aan sy pote.
Sy kwaai oë sal jou laat ril en laat gril
en dit klink net soos donderweer wanneer hy brul!

Klein Ben is ’n dapper hasie. Hy hou BAIE van pret en avontuur, maar hy hou GLAD nie van bed toe gaan nie. Toe sy ma hom een aand voor slaaptyd vertel van die Harige Ou Grote met sy skerp tande en skerp kloue wat in die woud woon, besluit Klein Ben om in die donker buitentoe te sluip en hom te gaan soek!

In plaas van ’n groot, harige monster ontdek Klein Ben ’n beer in die woud. ’n Baie bang beer.

Sommer gou word klein Ben en die beer groot maats, maar sal die beer dapper genoeg wees om na die monster te help soek?

Bang Beer is ’n oulike, avontuurbelaaide storie oor vriendskap en hoe om jou vrese te oorkom.


Ek en my ouma

Alison Ritchie
Illustrasies: Alison Edgson
3+
9780799388732
R135,00

Deel in spesiale avonture saam met ’n spesiale ouma!

Ek en my ouma
is reg vir die dag.
Daar is hope avonture
wat op ons wag!

Beertjie verken graag die wêreld saam met sy ouma. Hulle klim saam boom, plas in waterpoele rond en vang vis. Dit is soveel pret dat Beertjie wens die dag kan sommer vir ewig aanhou! Maar ’n lekker stywe slaaptyddrukkie van Ouma is die perfekte manier om die opwindende dag af te sluit. Dit is vir almal wonderlik en prettig om ’n liefdevolle ouma in jou lewe te hê!


Hoe om ’n haas te vang

Claire Freedman
Illustrasies: Monika Filipina
3+
9780799389548
R135,00

G’n haas behoort weg te kom nie, want hierdie lekkerlag-avontuur is geskryf deur niemand anders nie as die beroemde, Nare Ou Wolf!

Vir honger wolwe is dié boek ’n wenner,
en dit is boonop geskryf deur ’n kenner!
Hou jy van haasbredie en haaspastei?
Kom leer hoe om ’n haas in die hande te kry!

Ja. Beroemd. Berug. Noem dit wat jy wil. Hierdie boek is geskryf deur ’n kenner, niemand anders nie as die beroemde Nare Ou Wolf. Dus, as jy ’n haas wil vang, is dit ’n fantastiese gids propvol wen-wenke! Lek gerus solank jou lippe af vir ’n sappige happie haas!

Onthou net: hou jou oë oop vir bere, bonsende vere met ’n bietjie te veel veerkrag, en natuurlik jou eie strikke…


Die paartjies


Reis deur die hart

Leandra Naudé
9780799390094
R225,00

Arriana, ’n maatskaplike werker, brand uit. Haar ure is te veel en sy is moeg om die heeltyd met volwassenes en kinders se probleme te doene te kry. Teen die einde van ’n uitmergelende vergadering met die maatskaplike bestuur in die gemeenskap waar sy werk, bedank sy op die ingewing van die oomblik.

’n Vriend reël vir haar werk in Mauritius as ’n kroegdame/kelnerin by ’n eksklusiewe hotel in Mauritius, en binne maande word haar lewe handomkeer verander.

Sy ontmoet die enigmatiese biljoenêr-Ier Finnigian O’Reilly wat met sy sjarme en persoonlikheid haar hart kort voor lank in die palm van sy hand hou. Hy, aan die ander kant, is nie onaangeraak deur Arriana se plat-op-die-aarde-persoonlikheid nie.

Alles is egter nie pluis op die eiland nie. Jong meisies raak die een na die ander weg, en toe Arriana ook ontvoer word, word ’n nes van mensehandel oopgeruk. Gaan Finnigan, die plaaslike polisie en Interpol betyds wees om Arriana en die jong meisies se lot te keer?

Wat maak die boek anders?

  • Die storielyn bevat liefde vermeng met spanning.
  • Die heldin is nie perfek nie – sy is ’n driehoekblokkie wat in ’n ronde gaatjie moet pas.

Logika van die liefde

Marilé Cloete
9780799390858
R225.00

Emmerentia het borskanker oorwin maar is nog baie broos en vind veral haar emosionele herstel moeilik. Sy voel skuldig omdat sy herstel het van borskanker, terwyl haar ma daaraan gesterf het toe Emmerentia nog jonk was.

Sy en haar pa het ’n baie spesiale band. Hy nooi haar saam op ’n maandlange reis deur Australië waar hy en ’n kollega kongresse gaan bywoon en deur die land toer. Sy is eers teensinnig en stem langtand in, want sy is veral nie lus vir die vreemdeling wat saam gaan reis nie.

Brent is ’n bekwame jong wetenskaplike wat baie opkyk na Emmerentia se pa, en hom as sy mentor beskou. Brent het egter as jong seun ’n gesinstragedie beleef wat hom sku maak vir mense. Dit maak dat hy hom in sy eie wêreld toesluit.

Emmerentia en Brent sukkel om by mekaar aanklank te vind, maar deur haar pa se toedoen word hulle male sonder tal saamgegooi en leer hulle mekaar algaande beter ken; daar vorm wedersydse begrip.

Logika van die liefde is Marilé se eerste SuperRomanza.


Dans met my

Cynthia Robertson
9780799390353
R225,00

Miranda, ’n skrywer, se adrenalienverslaafde-verloofde Lukas sterf net voor hul troue in ’n motorfietsongeluk. Sy ontmoet Lukas se ewebeeld, Markus, ’n wildvanger en wildplaaseienaar, op die Kaapstadse lughawe net ná albei uitgevind het dat hul maats ontrou was.

Later ontmoet hulle weer in die Kruger Wildltuin, en die vonk tussen hulle is ooglopend, maar beide is so bang vir seerkry dat hulle nie sien wat reg voor hulle is nie.

Uiteindelik handel hierdie boek oor die seer wat hierdie twee mense ervaar het toe hulle nie ‘genoeg’ was vir hul charismatiese maats nie, asook die pad na hulle onderskeie plekke van heling.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top