Stephen Johnson: ’n huldeblyk

  • 3

Stephen Johnson, Johannesburg 2013
Foto: Naomi Bruwer

Stephen Johnson was groter as die lewe. Hy was my baas, my mentor en my vriend.

Stephen het my in April 1988 by Exclusive Books, Sunnypark aangestel. Saam het ons in Pretoria ’n tuiste vir Afrikaanse boeke geskep.

Hy het met sy Queen’s English net so ’n liefde vir Afrikaans gehad. Ons het in 1989 die heel eerste boekefees in Sunnypark aangebied. Daar was 40 uitgewers betrokke en ons het die hele onderste vlak van Sunnypark in ’n reuseboekwinkel omskep. Daarmee saam het ons ’n literêre ontbyt in die Holiday Inn gehou, waar ongeveer 50 skrywers saam met lesers gekuier het.

Stephen het my soveel van boeke geleer.

Hy was die ewige “gentleman”. Wat ek altyd sal onthou was sy klere. Jy kon hom altyd deur ’n ring trek met sy pakke en sy dasse.

Met die vrystelling van Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie het die uitgewers vir CNA alleenreg op verkope die eerste drie weke gegee. Ek was woedend en het vir Stephen gebel. Hy was binne 40 minute by my winkel en saam het ons gery en by elke CNA in die dorp elke eksemplaar gaan koop. By een van die sentrums, waar daar twee CNA’s was, het ek buite vir hom gewag. Die winkelassistent was baie agterdogtig toe hy haar vertel dat hy die 30 boeke koop vir Paasgeskenke. Sy het hulle hoofkantoor geskakel. Toe hulle vra hoe hy lyk, sê sy dat hy ’n baie deftige man is en sy vrou wag buite die deur. Van dié dag af het hy my altyd aangespreek as Mevrou Johnson. 🙂

Binne vier uur was Exclusive Books in Sunnypark die enigste winkel in Pretoria met voorraad.

Stephen het later by Random House-uitgewers begin werk en ook daar het ons baie nou saamgewerk. As voorsitter van PASA het hy ongelooflike diep spore in die uitgewersbedryf getrap. Stephen se boekfunksies was altyd die heel beste, keurigste en grootste.

Stephen was my grootste ondersteuner toe ek 15 jaar gelede my eie besigheid begin het. Hy het my bygestaan met raad en daad. Stephen was altyd net ’n oproep ver.

Stephen Johnson, ek salueer jou. Jy sal vir altyd in my hart wees.

  • 3

Kommentaar

  • What a lovely tribute, Leonie and thank you so much for sharing the link so that I could read it in London. What fun we all had with that first book fair at Sunnypark. I hold memories of working with Stephen close to my heart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top