Stemdag in Amerika

  • 1

https://pixabay.com/photos/statue-of-liberty-new-york-statue-267948/

“There are no sidelines. There is no sitting this one out. There is no hoping that someone else is going to come in and save the day. There is no cavalry. We are the cavalry.” – Beto O’Rourke

............
Op 8 November hou die Amerikaners hulle middeltermyn-verkiesings, en dit lyk soos ’n volskaalse geveg vir die hart van demokrasie. Dis in elk geval hoe dit deur die Demokrate uitgebeeld word. Met een oog op die ANC se verkiesingslosgemaal in Desember voel dit asof ons hier iets van die Amerikaners kan leer.
..............

Op 8 November hou die Amerikaners hulle middeltermyn-verkiesings, en dit lyk soos ’n volskaalse geveg vir die hart van demokrasie. Dis in elk geval hoe dit deur die Demokrate uitgebeeld word. Met een oog op die ANC se verkiesingslosgemaal in Desember voel dit asof ons hier iets van die Amerikaners kan leer.

Iemand wat ek op Instagram volg, maak die afgelope maand gereeld plasings van hoedat sy briewe en poskaarte skryf aan vreemdelinge om hulle aan te moedig om te stem. Vrywilligers kan ook teksboodskappe stuur en oproepe maak aan mense om hulle aan te moedig om te stem. Die naaste wat ons hier aan daai tipe pogings kom, is seer sekerlik die DA se geoutomatiseerde oproepe, om mense aan te moedig om vir hulle te stem.

Die Amerikaanse poging is ten minste deur nieregeringsorganisasies wat nie ’n spesifieke party probeer bevorder nie. Ek weet nie hoe suksesvol hulle is en hoeveel mense deur die veldtogte oorgehaal word om te stem nie. Ek kan slegs uit my eie ondervinding met die DA en ANC praat.

Met die eerste oproep van die DA was ek beïndruk met hoe georganiseerd die party is. Al was dit ’n masjien, het hulle ten minste kontak probeer maak. Teen die sesde oproep, op dieselfde dag, was ek gereed om vir hul opposisie te gaan stem uit frustrasie. Mens het mos die boodskap die eerste keer gekry.

Kontrasteer dit met die ANC. Hulle doen huis-tot-huis besoeke, soos die Jehovah-getuies. En is omtrent net so welkom by die meeste huise in my area. Die eerste aand het ek hulle mooi ingenooi, en geluister na hul spiel tot op die punt waar hulle my prontuit gevra het of ek vir hulle gaan stem. Wat het geword van “My vote is my secret”? Nou ja, dit was die einde van daai gesellige kuiertjie.Tot die volgende aand, toe die twee van die vorige aand met versterkings opdaag om met my te gesels. Dié gesprek was selfs korter. Hulle het my nie eens ’n kombers en ’n kospakkie aangebied nie.

Die ander partye se verteenwoordigers het glad nie eens gesig kom wys nie.

Met elke party was die doel net om mense sover te kry om vir hulle te stem. Oor kiesersopvoeding in die breë word geen woord gerep nie. Kiesers moet net genoeg weet om te stem vir die party wat aan hulle deur klop.

............
Met elke party was die doel net om mense sover te kry om vir hulle te stem. Oor kiesersopvoeding in die breë word geen woord gerep nie. Kiesers moet net genoeg weet om te stem vir die party wat aan hulle deur klop.
.............

Maar al hoe meer word die uitslae van verkiesings bepaal deur ’n minderheid wat die moeite doen om te gaan stem. Die ennui wat die oorgrote meerderheid stemgeregtigdes van stembusse weghou, word nie aangespreek nie, want politici gee nie om nie. ’n Ingeligte kieserskorps is nie in hulle belang nie.

Die fout wat ons maak, en die fout wat die Amerikaners maak, is om te glo demokrasie beteken mense moet stem. In sommige lande is dit selfs verpligtend vir stemgeregtigdes om te stem. Maar dis glad nie wat demokrasie beteken nie. Demokrasie op sy eenvoudigste beteken dat mense hulle stemreg vry van intimidasie kan uitoefen. Dit beteken ook dat mense die vryheid het om teen hulle eie beste belange te stem. Meer as dit, beteken dit dat mense die vryheid het om hulle te onttrek aan die stemproses en eerder te gaan braai of op die strand te gaan sonbruin.

...........
Die fout wat ons maak, en die fout wat die Amerikaners maak, is om te glo demokrasie beteken mense moet stem. In sommige lande is dit selfs verpligtend vir stemgeregtigdes om te stem. Maar dis glad nie wat demokrasie beteken nie. Demokrasie op sy eenvoudigste beteken dat mense hulle stemreg vry van intimidasie kan uitoefen. Dit beteken ook dat mense die vryheid het om teen hulle eie beste belange te stem.
.............

Apatiese kiesers is dalk die absolute bevestiging van ’n demokrasie wat werk. Die ongeluk is gewoonlik net dat die persone wat gretig is om ander se regte aan bande te lê, baie meer aktiewe kiesers is as dié wat ten gunste van ’n breë spektrum regte is.

Ons sien dit in Suid-Afrika, met bitter min jongmense wat hul stemreg uitoefen. Ons sien op die oomblik die teenoorgestelde in die VSA deurdat veral jong vroue  in lang toue staan om te stem. Die aanname is dat hulle stem in reaksie op die onlangse hofbeslissing wat aborsieregte beperk. Of dié aanname korrek is, sal net die tyd ons leer.

Soms stem mense teen hul eie beste belange, want mense is kompleks.

In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons iets leer van die organisasies wie se enigste belang is om ingeligte kiesers voor te berei. Ons het nog ’n bietjie tyd voor ons volgende verkiesing. Dalk kan ons mense leer om verder te kyk as die skamele en siniese omkooppakkies wat politieke partye net voor verkiesings in arm woonbuurte kom aflaai.

.............
In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons iets leer van die organisasies wie se enigste belang is om ingeligte kiesers voor te berei. Ons het nog ’n bietjie tyd voor ons volgende verkiesing. Dalk kan ons mense leer om verder te kyk as die skamele en siniese omkooppakkies wat politieke partye net voor verkiesings in arm woonbuurte kom aflaai.
.............

Kiesers het mag, en elke stem tel. Om dit vir mense aan die verstand te bring, verg hare op die tande, maar een enkele stem kan die uitslag van ’n verkiesing beïnvloed.

Ek het ’n paar jaar gelede, voor ons mees onlangse algemene verkiesing, met ’n ouer vrou gepraat. Toe ek destyds nog kiesersopleiding gedoen het, was sy in een van my groepe.  Sy kan nie lees en skryf nie, en sy woon in ’n informele nedersetting. Sy het dit glad nie breed nie. In dieselfde week het twee verskillende politieke partye by haar kospakkies afgelewer. Sy’t dit gevat, want sy kry dit dan verniet. Gaan sy vir enigeen van hulle stem? wou ek weet. Sy’t net geglimlag en gesê “My vote is my secret.”

’n Ingeligte kieser is een wat weet die politieke party werk vir haar, nie andersom nie. Die beste voordeel moet vir haar wees, nie vir opgeblase politici wat snoet aan die trog sit nie.

Wat ’n jammerte meer van ons mense weet dit nie. Wat ’n jammerte mense raak so gemaklik in die wete dat hulle in ’n demokratiese samelewing lewe dat hulle hul regte as vanselfsprekend aanvaar.

Ek vermoed die Amerikaners gaan binnekort uitvind dat regte op ’n kantelpunt balanseer.

  • 1

Kommentaar

  • Demokrasie, bemagtiging en staatsgefinansierde ondersteuning van koningshuise is die dekmantels waaronder die ANC floreer. Demokrasie = getalle = oorwinning by die stembus = bly aan bewind. Bemagtiging = welsynstoelaes wat sistemies stemme verseker + kaderontplooiing + persepsie van opheffing van swart massas + sistemiese misbruik van staatshulpbronne, ook om die party te finansier + nog stemme. Koningshuise finansier met staatsgeld = groot getalle stemme + trustgrond vir politici. Alles netjies uitgewerk en verskuil agter die grondwet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top