
John Steenhuisen (Foto deur ’n fotograaf van die DA: Democratic Alliance, CC BY-SA 3.0 za)
Agterna sou die nuwe leier van die DA kon sê die les wat hy uit die ervaring geleer het, was dat jy nie altyd almal tevrede kan stel nie ... en wat is die kanse dat hy dit nie reeds vooraf geweet het nie? Maar toe Geordin Hill-Lewis verlede week besluit dit is tyd om sy groot skuif te maak, waaronder die verwydering van John Steenhuisen as ’n minister, het hy gedoen wat die politieke ontleder André Duvenhage sien kom het. Dit was wel op ’n groter skaal as wat Duvenhage gedog het dit sou wees.
“Ek het verwag dat iets met John Steenhuisen gaan gebeur, maar ek het nie die omvangrykheid van die wysigings verwag nie,” sê dié navorsingsprofessor aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus in ’n onlangse Wyngaard Weekliks-gesprek. Die “omvangrykheid” het onder meer ingesluit dat Steenhuisen, Hill-Lewis se voorganger as partyleier, deur Willie Aucamp vervang word.
Aucamp se omgewingsakeportefeulje in die kabinet sal, na beplan word, deur David Maynier, tans nog Wes-Kaapse minister van onderwys, oorgeneem word; en dan is daar ook ’n aantal skuiwe, afdankings en nuwe aanstellings met betrekking tot die DA se adjunkministers gemaak. Hill-Lewis se versoek om veranderings aan die DA se verteenwoordiging in die kabinet aan te bring word deur pres Ramaphosa oorweeg, het sy woordvoerder, Vincent Magwenya, aan die media gesê. Ondersteuners van Hill-Lewis wil ons laat glo dat Ramaphosa egter in gesprek met hom die versoek “positief” ontvang het.
Duvenhage reageer ook positief op die wyse waarop Hill-Lewis sy stempel afdruk: “Hier is twee dinge wat ons onmiddellik vir mekaar in die oë moet kyk en sê. Die eerste is: Dit staan in die teken van ’n nuwe generasie leiers wat besig is om oor te neem en gevestig te raak in die DA. Kortom, Geordin Hill-Lewis is besig om sy voete te vind; hy neem besluite en hy’s nie bang om besluite te neem nie.”
Die tweede punt wat deur Duvenhage uitgelig word, het te doen met wat hy noem “organisatoriese kultuur”, waarvan hy in die besonder hierdie twee elemente beklemtoon: “kontinuïteit”, eerste; en tweedens “aanpassing ter wille van verbetering”. ’n Ander element wat hy te berde bring om sy standpunte oor die kwessie duideliker uit te spel, is dat die DA ’n “merietegedrewe party” is wat meriete kontroleer en na die uitsette van hul verteenwoordigers kyk. Presteer hulle nie, word hulle verwyder. Saak afgehandel.
Of dalk nie. Die Sondagpers het in hoofsaak twee reaksies gepubliseer. In die Afrikaanse media, waar die nuus van Hill-Lewis se beplande kabinetskuiwe eerste bekendgemaak is, was die verslaghoek dié dat dit blykbaar die “taaiste besluit ooit” vir die nuwe leier was. In die Engelse media was daar ’n ander soort aanslag, naamlik dat verdeling in die party – weens die leier se “eensydige” skuiwe – na die oppervlak gebring is.
Steenhuisen sou blykbaar belowe gewees het dat hy in sy ministeriële rol kan aanbly indien hy nie aan die verkiesingstryd van die DA in April deelneem nie; en inderdaad het hy toe uit die stryd getree, en met dié aankondiging sy voorneme duidelik gemaak om voortaan al sy aandag aan die bek-en-klouseer-krisis te gee. Hill-Lewis het dus moeiteloos die mantel by hom kon oorneem – en in sy aanvaardingstoespraak het Steenhuisen se opvolger hom geloof vir sy “uitstekende” rol as partyleier en hom sterkte toegewens met sy voortgesette taak as minister. Opvallend antwoord Hill-Lewis agterna in ’n Wyngaard Weekliks-onderhoud oor sy persoonlike verhouding met Steenhuisen: “Ons is goeie vriende.”
Maar helaas was dit nie genoeg om die valbyl te keer nie. Die einste bek-en-klouseer-krisis sou grotendeels Hill-Lewis se ommeswaai met betrekking tot Steenhuisen se politieke toekoms bepaal. Na berig word, is dié verwikkeling deur die DA-LP Emma Powell as die ergste graad van “verraad” op ’n DA-WhatsApp-groep bestempel. Uit sommige landboukringe word die verwydering van Steenhuisen egter met opgewondenheid afgewag, terwyl hy voortgaan met die aankoop en verspreiding van bek-en-klouseer-entstowwe.
Dit is nou meer as ’n week later, en steeds het die President nog nie ’n aanduiding gegee van wanneer presies hy beplan om Hill-Lewis se versoek uit te voer nie. Wat Hill-Lewis glo deur hom meegedeel is, is dat hy ook sy eie skuiwe beplan, waarvan een die vervanging van die afgedankte minister van maatskaplike ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sal wees. Die verwagting (met die skryf van die artikel) is dat die DA en Ramaphosa se verwagte afdankings en aanstellings gesamentlik sal geskied.
Maar die interne druk waaronder Ramaphosa binne die ANC verkeer, kan nie buite rekening gelaat word nie. (Duvenhage het ook daarna verwys.) Hill-Lewis se “voortydige” bekendmaking van sy versoek aan Ramaphosa – nog voordat die staatshoof behoorlike oorweging daaraan kon skenk – dui op disrespek en politieke voortvarendheid, was die (opgesomde) reaksie uit die ANC se nasionaleleierskapsomgewing.
“Hierdie is vóórstelle van die kant van die DA. Dis nog glad nie te sê Ramaphosa gaan die voorstelle aanvaar nie,” benadruk Duvenhage in die LitNet-onderhoud, waarin hy ook vermeld dat die President en Steenhuisen blykbaar ’n goeie verhouding het. “Onthou net Ramaphosa in sigself is by ’n unieke posisie in sy loopbaan en in sy presidentskap (...) en dan moet ons onthou koalisiepolitiek, die RNE, word van tyd tot tyd bedink en herbedink en ons gaan ’n verkiesing in oor vyf, ses maande (...) Ons moet eers sien of Ramaphosa hierdie voorstelle van Geordin Hill-Lewis wel gaan implementeer.”
Dit verander egter nie aan Duvenhage se standpunt dat dit binne die volste reg van die nuwe DA-leier is om verandering in die party aan te bring wat hy meen ten beste vir die party is nie.
Lees en kyk ook:
Wyngaard Weekliks: Nuwe besems mág skoon vee, sê dié ontleder oor GHL se RNE-skuiwe

