St Michael's-koor presteer by ATKV-Applous-koorfees

  • 0

Die kapelkoor van die St Michael's-meisieskool in Bloemfontein het hom weer as een van Suid-Afrika se top-skoolkore bewys. Die koor het Vrydagaand (27 Julie) in die ATKV-Applous-koorfees – dus klaar 'n streekwenner – in Pretoria weggestap met drie uit vier eerbewyse in die hoërskoolkategorie vir niemoedertaalsprekers van Afrikaans.

Eers is aangekondig dat hulle Goud verower het met hul program van vier uiteenlopende liedere. Daarna is hulle weergawe van Chris Blignaut/Chris Lamprecht se "Nuwejaarseties" aangewys as die beste vertolking in die afdeling: Voorgeskrewe werk. Die kroon is gespan toe hulle die trofee as algehele wenner van die betrokke kategorie gewen het.

St Michael's se kapelkoor het opnuut beïndruk met hul unieke klank in gedissiplineerde dog ongeïnhibeerde sang, met buitengewoon goeie frasering en diksie in Afrikaans, Xhosa en Latyn. Ook die bewegings en gebare wat hulle gemaak het, is sinvol komplementerend gebruik net waar dit waarde tot 'n lied toegevoeg het.

Eer kom hul ervare en uiters begaafde koorleier, Marilise van Rooyen, toe. Johan Cromhout, pianis en vryskutmusiekresensent, het in sy begeleiding uitgeblink met fyn aanvoeling en bel canto-spel. Cromhout is bekwaam bygestaan deur klarinetspeler Jenny Brand en perkussionis Heinrich Lategan in die koor se skittervertolking van "Dona Nobis Pacem" van die bekende komponis Isak Roux, wat Roux spesiaal in opdrag vir die koor verwerk het. Suid-Afrika se supergroep Ladysmith Black Mambazo het verlede jaar dié Roux-lied op hul Grammy-benoemde CD, No Boundaries,wêreldwyd bekend gemaak.

Bloemfonteiners het al 'n voorsmakie gekry van die nasionale erkenning wat dié top-koor nou te beurt geval het. Dit was toe die koor vroeër vanjaar in twee kategorieë aan die Bloemfonteinse Kunswedstryd deelgeneem het en 'n A++ en 'n A+, met 'n spesiale verwysing na "Dona", gekry het.

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top