
Spud, two for the road
John van der Ruit
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781770109711
........
Die laaste roman in die reeks oor The Crazy Eight, oftewel die Spud-boeke, het onlangs verskyn. Ek het die eerste een, Spud (2005), uitermate geniet. Daarna het Spud – the madness continues (2007), Spud – learning to fly (2009), Spud – exit, pursued by a bear (2012), Spud – the reunion (2024) en uiteindelik Spud – two for the road (2026) gevolg. Daarmee, skryf die outeur, John van de Ruit, is die sirkel voltooi. Spud en sy kamerade gaan nou uiteindelik exit, soos in boek vier belowe word.
.........
Die laaste roman in die reeks oor The Crazy Eight, oftewel die Spud-boeke, het onlangs verskyn. Ek het die eerste een, Spud (2005), uitermate geniet. Daarna het Spud – the madness continues (2007), Spud – learning to fly (2009), Spud – exit, pursued by a bear (2012), Spud – the reunion (2024) en uiteindelik Spud – two for the road (2026) gevolg. Daarmee, skryf die outeur, John van de Ruit, is die sirkel voltooi. Spud en sy kamerade gaan nou uiteindelik exit, soos in boek vier belowe word.
Die Spud-boeke lê my na aan die hart, want dit het aan my, en baie ander lesers, groot plesier verskaf. Ook sekere lewenswaarhede onthul, soos goeie romans moet maak. En daarom is ek hartseer, dog ook verlig, om van die ou bendetjie afskeid te neem. Want ek stem nie saam met die stelling van Ben Voss, komediant, akteur en satirikus, op die agterplat dat dit die beste boek in die reeks is nie. Die beste een sal altyd die eerste een wees, toe die wêreld van Spud Milton en sy maats (soms wonder ’n mens of hulle werklik vriende was – en Spud het ook gewonder) aan duisende Suid-Afrikaners bekendgestel is. Maar nommer ses is geensins ’n swak boek nie; inteendeel, ek het dit werklik geniet en beskou dit as ’n geskikte en geslaagde afsluiting van ’n baie suksesvolle reeks – dit was inderdaad die moeite werd om die 342 bladsye te lees, al het die boek stadig begin en my aan nommer vyf herinner, wat net so lank geneem het om momentum te kry.
In hierdie finale fase van die Mal Agt se gedeelde avonture spreek Van de Ruit by monde van Spud ’n paar knaende vrae aan wat sedert nommer een saamgedrentel het – veral die grootste olifant in die vertrek, naamlik waarom hulle toegelaat het dat Rambo, die enigste alfa in die groep, hulle soms diktatoriaal oorheers en soms op ’n slinkse wyse manipuleer, en dis nie altyd so maklik nie, want die verhaal herinner aan die gesegde dat om sulke dwars mense byeen te hou is soos om ’n trop katte, eerder as skape, aan te jaag. Spud skryf: “Fox [sy kollega en woonstelmaat, asook hulle toergids] is convinced he’s finally unearthed what makes the Crazy Eight a unique and unpredictable group to be around – rampant schizophrenia.” Fox glo later hulle is meer soos 26 as net agt! (Dié stelling word ook in die teks onthul.) Fox is self ’n interessante karakter, en ’n mens wonder soms wat op aarde hom by hulle laat bly. Gelukkig vir hulle, en veral vir Spud, trotseer die flegmatiese Fox hulle kaperjolle tot die einde.
’n Vraag wat wel nie beantwoord word nie, is hoekom Simon, wat nie eens naasteby “mental” is soos die ander nie, behalwe dalk Spud self, ook tot die einde deel bly van die groep. Simon het persoonlike probleme, soos sy loopbaan en huwelik wat onder druk was, maar hy is glad nie wanaangepas soos die ander nie. Inteendeel, hy is dalk juis deur die skrywer as karakter ingesluit om ’n mate van normaliteit te verteenwoordig. Nogtans vind ek geen motivering vir sy volgehoue aanwesigheid nie – hy spreek nooit sy lojaliteit of affiniteit jeens die ander uit nie, ook nie dat hy genot uit die ander se geklikhede put nie. Spud se rol, daarenteen, is tog duidelik, naamlik dat hy as ooggetuie en kroniekskrywer optree, en ’n mens kry die indruk dat hy hulle manewales met ’n soort geamuseerde verwondering gadeslaan. Op bladsy 305 staan: “Simon has distanced himself from the debate.” En hy spreek dan ook sy minagting vir Rambo uit: “ ... Rambo was in lower-plane thinking mode when he was flogged a white elephant island by some shyster.” Simon en Rambo het, ironies, iets gemeen: Hulle is nie ware outsiders nie; as hulle eenkant staan, is dit uit eie keuse. Spud staan ook meestal eenkant, maar nie afsydig of manipulerend nie, en om almal te kan beskou, ook sy eie familielede.
Fatty was die een karakter wat al in nommer vyf (met die reünie) tekens van karakterontwikkeling getoon het, en het sy gewigsprobleem afgeskud, maar raak dan erg paranoïes en soek vervaard na ’n geestelike tuiste en raak die kluts kwyt met die skoner geslag (wat eintlik Spud se rol is – en Boggo s’n, maar op ’n uiters kru en selfs lomper wyse as Spud), sodat Volwasse Fatty meer kwesbaar as Kind Fatty voorkom. Nogtans is dit al van boek vyf af onduidelik waarom hy en Simon tot aan die einde deel van die hele absurde sirkus bly.
Vern, die sogenaamde savant, oftewel die malste van die spul, is duidelik te mal om te verander; Mad Dog is te onnosel en te antisosiaal; Garth (Garlic) is oorsosiaal en nog dommer as Mad Dog; en Boggo ly skynbaar aan ’n gesplete persoonlikheid, met sy alter ego Alan, ’n onwaarskynlike antitese van sy normale walglike self. Sy “karakterontwikkeling” is dus beperk tot ’n vals persona wat uiteindelik vir ’n verrassing sorg – eintlik ook tot sy eie verbasing.
Dit bring ons by Rambo, die selfaangestelde leier. Hy en Spud het altyd ’n vreemde verhouding gehad, naamlik ’n onuitgesproke ooreenkoms om direkte konflik te vermy, al verskil hulle hemelsbreed. Rambo het ’n tipiese alfapersoonlikheid – hy kan dit verdra om nie die fokus van alle aandag te wees nie – en Spud is ’n klassieke omega, die soort mens met meer intellek en sensitiwiteite as die ander, maar wat die selfvertroue, drif en vaardighede van ’n leiersfiguur makeer – histories gemaklik in die rol as kunstenaar, geestelike of medikus.
Rambo gaan in boek ses, hierdie finale aflewering van die Spud-sage, voort waar hy in nommer vyf begin het, naamlik om geheimsinnige speletjies te speel, al is die ander lankal nie meer die patetiese klomp van boeke een tot vier nie. Sy skynbaar psigopatiese inslag raak egter gaandeweg vir die eerste keer te veel vir die naïewe en eksentrieke klein bende, sodat hulle vir Spud verstom met ’n onkenmerkende opstand – werklike tekens van volwasse selfstandigheid ... wie sou dit kon voorsien het?
Rambo word oplaas as ’n soort tragiese held geskets wat tydens die Indiese Oseaan-tsunami van 2004 verdwyn, en Vern word ’n onwaarskynlike survivor – asof die (see)gode die malles verdra en laat begaan, terwyl Spud as narrator onaantasbaar bly ... uiteraard, in die tradisie van Odusseus en ander literêre helde – of in Spud se geval, dalk antiheld. Van de Ruit noem in die bedankings agterin dat Joseph Heller, skrywer van Catch-22, een van sy inspirasies was, en die absurde elemente in die Spud-sage toon ooreenkomste met Heller se vertelling, maar anders as in Catch-22 is daar net een eerstepersoonverteller. ’n Mens neem dus aan dat Heller se aanwending van humor die grootste indruk op Van de Ruit gemaak het.
Op bladsy 312 wonder Spud oor hoe anders hulle lewens sou wees indien hulle agt reeds tydens hulle skooldae sou geweier het om deur Rambo gemanipuleer te word – “ ... had we hooted at Rambo’s hubris like we had at Mad Dog’s vandalism, Boggo’s overt sexualism, my late development, Vern’s cretinism, and Geth’s Malawianisms”. Hy besef dat Rambo magteloos sou gestaan het indien hulle lankal hulle kollektiewe rug op hom gedraai het. Maar dan kom dié insig: “But here’s the delicious irony: without Rambo, we would have been robbed of a youth that reads like fiction in a diary.” Van de Ruit belig dan die dagboekhouding van Spud op ’n manier wat die leser laat dink dat die ses boeke sekerlik op sekere waarhede en feite gebaseer is. Van de Ruit bedank teen die einde ook sy alma mater, Michaelhouse: “Thank you for seeing the funny side and all your support over the years. Spud may have made you look like a mental asylum in the early 1990s, but you made the fatal mistake of placing me in Founders House [ …] where you’d quietly stashed all the lunatics.”
Spud besoek sy ou skool in boek ses om met The Guv te gaan gesels oor ’n kortverhaal waaraan hy werk, en ewig introspektief skryf hy: “What I’ve discovered (with my English teacher’s help) is that it’s fiction that reveals the truth and what we understand as truth is merely another somebody’s story.” The Guv bly getrou aan sy aard, naamlik om beide trots op sy oudleerling en onemosioneel afstandelik te wees. En sedert John Cleese dié rol so uitstekend vertolk het in die filmweergawe van Spud en sy vreemde vriende se (lang) verhaal, kan ’n mens nie anders as om hom in die rol van die alkoholdeurdrenkte onderwyser te visualiseer nie. Oplaas nóg een van die mallerig, dog tragiese karakters in die reeks, wat nogmaals die fyn lyn tussen komedie en tragedie onderstreep. The Guv oorreed Spud ook om sy “langerige kortverhaal” in ’n roman te verander, en so sou die eerste Spud-boek dan ontstaan het. Het iemand Van de Ruit so beïnvloed? Indien ander leidrade oor die reeks wat in boek ses na vore kom in ag geneem word, is dit heel moontlik dat die skrywer ook hier wil laat blyk dat hy aanvanklik net ’n kortverhaal oor sy koshuislewe wou skryf. En toe word dit iets veel meer.
Soos genoem, tel die boek stadig spoed op. Eers op bladsy 205 skryf Spud: “The crazy Eight Thailand odyssey is upon us …” Rambo se plan om hulle daar te kry word gaandeweg oopgevlek, maar op die keper beskou móés daar sprake van ’n odyssey gewees het, want dis hoe hierdie boek kommentaar op die hele reeks lewer – en hoe die groter prentjie, die lewensreis van die Mal Agt van brose kindwees tot hier, uiteindelike volwassenheid (wel, vir sover dit vir hulle elkeen moontlik is), in oënskou geneem word.
’n Mens kan nie ’n indruk van hierdie boek en sy voorgangers lewer sonder om die tema van humor aan te sny nie. Daar bestaan uiteraard talle definisies van humor, en humor word verskillend beskou en verstaan deur individue, terwyl daar ook breedweg verskillende interpretasies en voorkeure daarvan is wanneer gender, ouderdom en kulture daarby betrek word. Die snaaksighede wat seuns in ’n koshuis, of ’n groep wanaangepaste mans op toer in die Verre Ooste aanvang, mag vir sommige lesers dus skreeusnaaks en vir ander bar en simpel voorkom. Nogtans slaag die skrywer daarin om genoeg lesers te laat giggel om ses boeke op dieselfde trant (formule?) te publiseer en onbetwiste sukses daarmee te behaal. Boek ses bied egter meer sosiale kommentaar op ’n minder verbloemde wyse aan die leser wat lojaal of geïnteresseerd genoeg was om die reeks te volg.
Ek vermoed die sukses van Spud / Van de Ruit se kronieke hang saam met sy vermoë om iets snaaks in amper elke moontlike situasie of gedagte wat hy neerpen te vind. Soms is dit kennelik geforseerd, maar meestal is die humor aanwesig en vermaaklik en help dit om die narratief voort te dryf en die leser se aandag te hou. Sodoende word die fasade van ’n malle wipwarit wat teen ’n onbeheerste spoed voortneuk, volgehou: It’s a laugh-a-minute, old boy ... en Spud skryf dan ook: “The trick of life, I humbly reckon, is discovering a workable balance to your extremes – always bearing in mind that the world is capricious and humanity is mad because we once were wood monkeys.”
Geklikhede ten spyt bied hierdie boek beslis etlike lewenslesse, soos Spud dan ook telkemale uiteensettings gee van wat hy uit hierdie of daardie situasie geleer het – byvoorbeeld toe sy ouma, Wombat, wat in seniliteit wegsink, in ’n aftreeoord gestop word. Nadat sy ’n amper bloedskandelike verhouding wou aanknoop. En dan is daar sekere skerp waarnemings oor die lewe en sy baie onderafdelings. Een van dié waarnemings lui: “In the furnace of love I suppose it’s only natural to become hypnotised by the flames.” Miskien is dit die essensie van Spud se fassinasie met The Mermaid, en sukkel hy om daarvan los te breek, eintlik om van sy verlede in die geheel weg te kom. Spud het nog nie regtig, soos in boek drie (Spud – learning to fly) beweer word, geleer om self te vlieg nie. Of het hy? Lesers moet maar self besluit, maar ek is aan Spuddy se kant wat dit betref. Uiteindelik. Eventueel. Oplaas.
Van de Ruit kan homself, terugskouend, nie weerhou van kommentaar op die wêreld waarin hy as skrywer en dramaturg verkeer nie. Hy spreek hom as volg uit: “[T]he local publishing scene doesn’t inspire confidence. Being published is the equivalent of breaking through the glass ceiling and I bet once this happens the rest of your career will be an exercise in starting from scratch every time you open your laptop.” Spud praat ook van “the burden of expectation”, wat sekerlik gegrond is op Van de Ruit se ervaring van die Spud-reeks – sedert die sukses van boek een moes dit so vir hom gewees het – twee dekades daarvan totdat hy nou kan sê dit is volbring, die sirkel is voltooi.
Die subtitel two for the road verwys na Van de Ruit / Spud en sy vriend Fox (“two wayward clowns”) en hulle samewerking as akteurs, soos in die boek beskryf word. Die toneelstuk Viper se ontwikkeling is inderdaad ook een van die meer oortuigende en interessante aspekte van Spud – two for the road. Vir my was dit ’n belangrike wortel voor die neus wat my ingetrek en betrokke gehou het totdat Rambo se agenda nuwe momentum aan die plot verskaf het.
Om mee af te sluit, een laaste opmerking deur Spud / Van de Ruit: “[M]y obsession was never about capturing unfolding events. It is about how one’s reflections reveal life, people and one’s self. Writing reveals for me the lad I was, the man and the human I aspire to find on the road less travelled.” En so word boek ses dan verklaar en omskryf as ’n verklaring en omskrywing van die reeks en die skrywer se motiewe – van die ses boeke dus die mees outobiografiese onthulling van die skrywer as Spud.
Boek ses laat my aan die Simba-advertensie dink, toe die aartappel uiteindelik ’n Simba chippie geword het. Dalk ’n bietjie selfvoldaan, maar tóg.
Beveel ek die boek aan? Ja, solank al vyf die ander ook gelees word.
Lees ook:

