
Titel: Spud: The reunion
Skrywer: John van de Ruit
Uitgewer: Pan MacMillan (November 2024)
ISBN: 9781770108981
Klop die syfers met nommer vyf? (Was dit ’n goeie plan om die reünie by te woon?)
Soms skryf outeurs individuele boeke in ’n reeks op so ’n wyse dat elkeen as ’n eenheid op sy eie gelees en geniet kan word. Spud, die eerste boek in die reeks en wat in 2005 verskyn het, kan wel apart en op sy eie gelees word, sonder vooruitskouing of verwagting, maar die ander, en beslis nommer vyf, Spud: The reunion (2024), maak swaar staat op kennis van die vorige boeke, nie slegs omdat daar so baie terugverwysings is nie, maar omdat lesers van die reeks sal wil weet wat met die Crazy Eight gebeur het sedert hulle gematrikuleer het, asook wat by die reünie gebeur, en waarskynlik ook of daar verdere boeke in die reeks gaan wees.
.......
Wanneer ’n skrywer dus ’n boek soos The reunion skryf, maak hy juis daarop staat dat daar so baie aanhangers van die Spud-boeke is dat die uitgewer seker voel dat ’n vyfde boek die insette van tyd en onkostes regverdig. Wanneer ’n mens dan The reunion lees, wonder jy ook: Is dit regtig so? En is dit regtig die tyd en moeite werd om dit te lees
......
Wanneer ’n skrywer dus ’n boek soos The reunion skryf, maak hy juis daarop staat dat daar so baie aanhangers van die Spud-boeke is dat die uitgewer seker voel dat ’n vyfde boek die insette van tyd en onkostes regverdig. Wanneer ’n mens dan The reunion lees, wonder jy ook: Is dit regtig so? En is dit regtig die tyd en moeite werd om dit te lees? Veral wanneer jy aanploeter om teen bladsy 50 te besef dat die skrywer besig is om bladsye vol te maak (hetsy met heelwat humoristiese uitdrukkings en tonele) tot die dag waarop die reünie (84) in aanvang neem. Ek het op daardie stadium al telkens gekyk hoeveel bladsye ek nog moet lees om by die einde te kom (die boek is 325 bladsye lank).
Dog hoewel The reunion baie stadig uit die blokke kom – eers teen bladsy 134 sluit die ou bende se eertydse leier, Rambo, by hulle aan, sodat al agt uit-ein-de-lik teenwoordig is, en met hulle malligheid kan begin – stel die Mal Agt oudergewoonte nie teleur as dit by nonsens aanjaag kom nie. Sommige mense mag aanvoer dat dit vermaaklik is indien jy gek is na slapstick, puns en clichés, maar as jy nie is nie, sou jy die boek al teen bladsy drie of vier neergesit het. Trouens, jy sou dan die boek nie in die eerste plek gekoop het nie.
Wat humorskepping betref, moet ’n mens in ag neem dat humor van ’n hoë gehalte heel waarskynlik moeiliker is om volhoudend op te dis as wat dit is om dramas of tragedies te skryf. Van de Ruit het beslis ’n talent om die lagwekkende in alledaagse gebeure raak te sien en dit verder te omvorm (misvorm?) tot iets wat uit-die-maag-lagbuie ontlok. Veral as byna elke sin van die ironie of sarkasme drup – meer as 300 bladsye daarvan – maar dit is waarskynlik waarom die leser genoop voel om aan te hou lees. Die karakters is immers al oorbekend; en al is die een vreemder as die ander, raak al die klugtighede later nogal soos om suurlemoentert met ’n blik kondensmelk daaroor uitgegiet te verorber.
Daarvan gepraat, Fatty is dalk die enigste een wat werklik verras wanneer dit by karakterontwikkeling kom ... of is dit Rambo wat die koek vat? En wat is Simon se rol eintlik? Daar is tog niks snaaks, mal, geheimsinnig of interessant aangaande hom nie ... Hy is ook nie ’n wanaangepaste mannetjie soos Milton self, of die ander, behalwe Rambo nie (vir my is dié narsistiese boelie die interessantste, bes deurdagte karakter in die reeks). Simon is ook nie ongewild of ’n randfiguur van enige aard nie. Daarom is dit nie vreemd dat hy altyd ongeërg voorkom en later verklaar dat hy sy rug op die ander sewe gaan keer nie. Die skrywer besluit blykbaar later dat dié uitlating onomkeerbaar mag wees, en red die situasie teen die einde – wat ’n mens nogmaals laat wonder of die einde oop is, of net filosofies.
.......
Gaan daar ’n boek ses wees, aangesien die vraag meer as meermale gestel word of hulle weer bymekaar sal kom. Moeilik om te sê. ’n Mens kan net spekuleer, en dalk weet die skrywer self nie (gerugte van nóg boeke het reeds op Facebook kop uitgesteek).
.......
Daar is een vraag wat heeltyd in jou agterkop draai (benewens Rambo se intensies): Gaan daar ’n boek ses wees, aangesien die vraag meer as meermale gestel word of hulle weer bymekaar sal kom. Moeilik om te sê. ’n Mens kan net spekuleer, en dalk weet die skrywer self nie (gerugte van nóg boeke het reeds op Facebook kop uitgesteek). As dit die doel van die boek was om afsluiting te kry ná die oop einde van die vorige boek, of om te bepaal of daar enige karakterontwikkeling plaasgevind het onder die Crazy Eight, sal verdere volumes tog onnodig wees. Die bande met die skool is duidelik verbreek, behalwe in die geval van Garth Garlic, die naïefste skepsel suid evan die Noordpool, en die geslote boek Simon, voormalige hoofseun en krieketkaptein.
Mad Dog is nog buite beheer (eintlik net te onrealisties en dus geheel onoortuigend); Boggo is steeds ’n windbol (sy gebrabbel oor die regsberoep is meer as absurd); en Vern the Rain Man (hoe de duiwel het hy matriek, of enige eksamen, geslaag?) is nog so kranksinnig soos vanmelewe. Fatty het baie verander, ja, maar om daaroor te skryf sal een van die boek se weinige verrassings verklap. Rambo is egter die eintlike enigma: Het hy verander? Nogmaals laat ek dit aan die leser oor om uit te vind ...
Dit bring ons by John Spud Milton. Ja. Hy het, en ook nie. As verteller is dit moeilik om geheime te koester – hoe steek jy jou gedagtes vir die leser weg wanneer jy hom/haar dan juis binne jou kop toelaat? Maar Milton se karakter verbaas nie regtig nie, want sy fisieke en persoonlikheidstekortkominge, sy geite en onsekerhede, meestal dalk oorgeërf van sy maltrap-pa, bepaal entlik sy lewensuitkyk en daarmee saam die wesenskenmerke van sy vertelstyl en die boek(e) daarmee saam. Hy het, soos die reeks aanbeweeg het, ’n mate van selfbeheersing en -vertroue bekom, en ’n mens verwag dus dat dit ook in boek vyf verder sal ontwikkel. Teen die einde van die boek word die antwoord hieroor dan ook heel duidelik geopenbaar.
Die Milton-gesin speel aanvanklik weer ’n rol in die boek, maar word nadat die reünie begin, letterlik en figuurlik op die agtergrond geskuif. Om eerlik te wees het hulle niks meer om te bied nie, en dis goed, want Spud moet tog eendag ’n Simba-chippie word (moes lankal). Dié verwagting word geskep dat hy na die reünie net huis toe gaan om sy goed te gaan haal en dan (skynbaar) sy loopbaan met groter drif aan te durf. Of so hoop die leser, aangesien die skrywer, soos altyd, wel daarin slaag om empatie by die leser te ontlok. Jy identifiseer dalk nie heeltemal met die klein bleeksiel nie, maar jy hou tog van hom, veral weens sy heldhaftige pogings om sy natuurlike slapte te oorkom en met integriteit, meer as enige ander karakter in die reeks (sy alkoholismentor The Guv ingesluit), te oorleef. The Guv word ook net in die verbygaan genoem, en ek het gehoop hy slaan weer iewers uit. Terugskouend maak hy as karakter dalk meer ’n indruk in/op my verbeelding wanneer ek aan die vertolking van John Cleese in die filmverwerking (Spud, 2010) dink.
So dis nou 20 jaar sedert die eerste Spud in 2005 verskyn het; maar die vyfde boek is laasjaar gepubliseer, en toe was dit reeds 10 jaar sedert hulle (in boek vier) gematrikuleer het. Daar was twee jaar tussen boek een en boek twee (Spud – The madness continues, 2007) en nog twee jaar tussen boek twee en boek drie (Spud – Learning to fly), terwyl daar drie jaar verloop het voordat boek vier (Spud – Exit, pursued by a bear, 2013) die lig aanskou het. Tussen boek vier en boek vyf sou daar eers 11 jaar verbygaan alvorens die agt vriende (?) mekaar weer sou sien. (Ja, nogal verwarrend.) Ek plaas ’n vraagteken agter “vriende” omdat Milton hom afvra, en die ander ook onder mekaar dieselfde doen, of hulle ooit vriende was.
Almal van ons was op skool, so ons kan ook daaroor wonder / daarmee identifiseer, en almal wat al by reünies was, het seker al oor die (verbeelde of veronderstelde?) verbintenisse van ons jeug gedink. In Afrikaans praat ons van “skoolmaats”, asof almal wat saam met ons op skool was, maats was. Natuurlik nie, en daarom behou min onder ons sulke langdurige bande. Soos ons ouer word, dink ons meer terug aan die verlede, want die verlede word al langer en die toekoms al korter. Miskien is dit daarom dat baie van ons na ou kennisse begin soek en reünies reël. Facebook en ander moderne kommunikasiemiddelle maak dit soveel makliker.
Spud/Milton se rede waarom hy (ná meer as 80 bladsye se ontkenning) besluit het om wel sy ou skool te herbesoek, is vir my ietwat onoortuigend: Hy gee voor dis te wyte aan wat sy pa, die deurmekaarste, onvoorspelbaarste en onsinnigs moontlike mentor, aan hom oorgedra het tydens die epiese flop van ’n visvanguitstappie wat as voorspel tot die reünie dien. Regtig? En klink dit soos dáárdie eksentrieke skepsel wat hom ook glo die volgende geleer het: “[H]uman happiness is entwined with risk and [...] safely shuttered windows in conservative cul-de-sacs are nothing but graveyards for the living. Avoid risk and you’re failure’s slave” (49)? Milton senior die Guru van Geluk en Toekomsverwagting? Hoekom drink sy vrou dan so? Ek sou net so min my lewenskeuses op sy raad waag as op die verwarde Wombat s’n (sy neem nogal lank om in totale demensie te vervaag).
Spud, dagboekontleder van formaat, doen soos gewoonlik baie selfondersoek. So vra hy “Was I ever that chilled and content at school? Perhaps my memory is selective or my diaries were too taken with sketching the bizarre and illuminating the chaotic to be bothered with moments of contentment” (73). Inderdaad. En enigiemand wat dagboek hou, sal daarmee akkoord gaan dat geheue wel onbetroubaar is, maar dat veral hoërskool, minder as enige ander periode in jou lewe, beswaarlik met tevredenheid, welgeluksaligheid of vrede verbind kan word. Uiteraard omdat jy dan tussen kindwees en volwassenheid vasgevang was, met meer onsekerhede of gerustheid as ’n man op death row wat Stephen King se The Green Mile lees.
Storm en drang is wat dit was – laat ons tog maar eerliker as die verteller hieroor wees – en arme Spuddy moes boonop onder beide tydgenote (seuns én meisies) en onvergenoegde leermeesters deurloop. Die privaatskoolstelsel word op die beskuldigdebank geplaas en (beslis nie) Boggo (nie) sou dit kon loskry nie. Bostaande vraag is dus eintlik niks anders as retories nie, maar dra wel by tot die atmosfeer van chaos en spanning, wat die goue draad is wat deur al die Spud-boeke loop. Hy bied hier en daar ’n sprankie hoop, soos op bladsy 110: “Inspired by the success of my social skill, my negotiating skills also operate on half-truths, quarter-truths and outright lies.” Nogtans bly sy skynbaar verbeterende vaardighede taamlik “dodgy”, om sy eie term te gebruik. Nie hy of die leser voel dus heeltemal veilig wanneer die predatoriese Rambo, die nydige Sparerib of die snobistiese Pike binne trefafstand is nie. Om Spud te wees, bly steeds, ten spyte van ’n mate van insig en ’n geneigdheid tot groter volwassenheid, ’n soort koorddans bokant ’n vuur wat Vern aangesteek het en deur Mad Dog met skoolmeubels gevoer word.
Die verteller se insig in sy medewanaangepastes is darem ’n soort veiligheidsnet, al is dit onseker waaraan die net vasgemaak is – en of dit hoegenaamd vas is. Op bladsy 128 raak selfs Boggo ’n klontjie wysheid kwyt: “The whole point of a reunion weekend is to see how everyone has changed.” Komende van iemand wat self min verandering toon, is dit nogal ironies. En Rambo se buie wissel tussen broeiende stiltes (wat verandering suggereer) tot stroperige vleitaal (wat dui op geen verandering nie). Ten minste drentel die verteller steeds in die vlak, bekende waters van afstandelike beskrywing, hoewel soms tog heel liries, soos op bladsy 245: “School sunsets are understated in winter: It’s the price you pay for living in a valley. Like the dying moments of a realism play, the light diminishes by degrees and a chilly grey gloom engulfs the scene before it fades to black.” Vir my is dié beskrywing nogal ’n gepaste metafoor vir die Spud-reeks, en ’n mens kan amper verlig voel dat die waansinnighede wat daarin afspeel, nie verder as daardie bekrompe milieu versprei het nie. Of het dit? Het Suid-Afrika miskien hoeka lankal aangesteek? Dalk wel, indien jy na ons politiek kyk, wat sou beteken dat Van de Ruit se klugspele ’n profetiese eienskap het wat net so “understated” as die sonsondergange van KwaZulu-Natal is.
Watter nasmaak laat die boek agter wanneer jy dit vir oulaas toemaak? Elke leser sal sekere aspekte onthou, en menings sal uiteraard verskil. Vir my was daar ’n paar dieper momente, soos waar die verteller/hoofkarakter oor die menslike kondisie, of oor skryf as kreatiewe proses, dink. Ten opsigte van laasgenoemde is die volgende passasie op bladsy 42 ’n goeie voorbeeld: “Being busy keeps you in the moment and that must be an upside to most jobs, no matter how inane they are. Writing demands critical distance. You immerse yourself in the moment but that moment you’re writing is never the moment you’re in.” En dan volg die verwagte, tipiese, satiriese stelling, die skrywer se gewone nagedagtekommentaar: “This encourages overthinking and I would imagine, schizophrenia.”
........
Ook voel ek dat hoewel The reunion waarskynlik die meeste Spud-aanhangers se behoefte aan nostalgie mag bevredig, en daar talle oomblikke was wat soos Hoëveld-weerlig skerp ligkolle op die oorvloedige “padding” gegooi het, die boek nie Van de Ruit se beste poging is nie; inteendeel, dit steek skerp af teen die uitstekende Spud, boek een.
........
Omdat daar soveel humor ingebou is, kan dit ’n tweesnydende swaard word: Aan die een kant behou dit die leser se aandag omdat hy/sy dit geniet, en aan die ander kant kan dit te herhalend, soms geforseerd en uiteindelik ’n bietjie van ’n leesversperring word. So ook die gedurige opsommende lyste, wat meestal propvol humor is, dog die momentum van die verhaal versteur. Nietemin, die skrywer moes wel daarmee volhou om die tradisie van die reeks in stand te hou; dit verwys dus na vorige boeke en is seker ook wat lesers verwag.
Wanneer die Spud-reeks se lewensvatbaarheid onder die loep kom, herinner dit my op ’n manier aan die “Earth’s children”-reeks deur Jean M Auel. Na die reuse sukses van boek een, The clan of the cave bear, waarvan daar ook ’n filmweergawe was, het die gehalte van elke daaropvolgende boek op dunner ys gedans, maar teen boek vyf het die skrywer nuwe asem gekry en uiteindelik sterk geëindig. Die Spud-reeks verskil egter daarvan in die opsig dat Auel ’n kontrak geteken het om ’n reeks te skryf, en gedwing was om een dik boek na die ander (elkeen meer as 500 bladsye lank) uit te wors, terwyl Van de Ruit nie onder so ’n verpligting was nie. Ook voel ek dat hoewel The reunion waarskynlik die meeste Spud-aanhangers se behoefte aan nostalgie mag bevredig, en daar talle oomblikke was wat soos Hoëveld-weerlig skerp ligkolle op die oorvloedige “padding” gegooi het, die boek nie Van de Ruit se beste poging is nie; inteendeel, dit steek skerp af teen die uitstekende Spud, boek een.
Sou dit dus nie beter gewees het indien “exit, pursued by a bear” eintlik “ending, caught by the bear” geword het nie? Oplaas moet elke leser daaroor besluit, namens hom- of haarself, maar ook namens die onvergeetlike Crazy Eight.
Lees ook:
Uit die argief: Spud wins Booksellers’ Choice Award 2006 (OuLitNet)

