
Rooi lig deur Alexey Hulsov van Pixabay
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
Ons leef almal volgens ’n klomp ongeskrewe reëls of wette; sommiges is komies of diepsinnig, ánder irriterend waar. Of die dieper werking daarvan verband hou met magiese denke, wettiese bygeloof, of hoop en vrees, hang af van die individu.
Die oumense het gesê dit kom in drieë. Daardie blou Maandag wat absoluut alles verkeerd loop ... dan onthou mens Murphy se wet wat sê: As iets kan skeefloop, dan sal dit skeefloop.
Die Amerikaanse lugvaartingenieur Edward A Murphy het in 1949 gewerk aan ’n projek waar ’n tegnikus die sensors verkeerd aangesluit het, en uit pure frustrasie het Murphy gesê dat indien daar twee maniere is om ’n ding te doen en die een manier is rampspoedig, dan sal dit die rampspoedige manier wees. Die bewering is later deur kolonel John Stapp gewild gemaak en as lewenswet verklaar, naamlik dat indien iets kan skeefloop, dan sal dit skeefloop. Ja, as die toast weer op die botterkant grond toe val, of jou internet dooi nét wanneer ’n belangrike aanlyn vergadering begin, onthou tog vir ou Murphy.
Die law of attraction, op sy beurt, postuleer dat positiewe gedagtes positiewe dinge en negatiewe gedagtes negatiewe probleme aantrek. Jy trek dít aan waarop jy fokus.
Hierdie idee is baie oud, maar die term word veral verbind aan die New Thought-beweging. William Walker Atkinson het in 1906 in sy boek Thought vibration: the law of attraction in the thought world (1906) na die law of attraction verwys. Later het skrywers soos Wallace Wattles, Napoleon Hill en in 2006 Rhonda Byrne met haar boek en film The secret dit ’n wêreldwye sensasie gemaak. Die law of attraction is nie ’n wetenskaplike wet nie, maar baie mense sweer daarby as ’n manier om hulle persoonlike doelwitte te bereik. Die law of attraction het later kultusstatus bereik, maar ek keer hierna terug.
Dan, wanneer jy iets neerskryf ... Hier is nie ’n enkele wet werksaam nie, maar daar is ’n beginsel wat oral in selfhelp- en sielkundige kringe voorkom: As jy iets neerskryf, word dit meer werklik; jy onthou dit beter en jy is meer gemotiveerd om die uitdaging of opdrag uit te voer. Dit word geassosieer met die Zeigarnik-effek, vernoem na die Russies-Litause sielkundige Bluma Zeigarnik (1927). Sy het gevind dat mense onvoltooide take baie beter onthou as voltooide take. Jou brein hou ’n oop lus tot die taak afgehandel is: ’n Onvoltooide gedagte beskik oor ’n eiesoortige psigologiese nabeeld. Deur dit neer te skryf (veral met ’n konkrete plan), help jy jou brein om die spanning te verlig sodat, of totdat, jy die taak aktief takel.
Baie suksesvolle mense (van skrywers tot entrepreneurs) bevestig die beginsel: Skryf jou doelwitte en idees neer. Interessant, nè? Dit is seker waarom gebruike soos die hou van ’n joernaal (journaling) soveel veld gewen het in moderne motiveringsidees.
Hier is nog ’n paar wette wat jy gereeld hoor, met die mense wat daarmee verbind word:
Cyril Northcote Parkinson (1955) het beweer dat werk “meer word” om die tyd wat daarvoor beskikbaar is, te vul. Met ander woorde, selfs al word daar nóg personeel in ’n burokrasie aangestel, sal ’n taak so lank neem as die tyd wat daarvoor gereserveer is. As jy jouself ’n week gee om iets te doen, sal dit ’n week neem. Die teenvoeter hiervoor? Skep korter spertye, en take sal vinniger afgehandel word.
Laurence J Peter het in 1969 die Peter-beginsel geskep, naamlik dat mense styg tot hul vlak van onbevoegdheid. Dit klink nogal bekend, veral as mens dink aan die Suid-Afrikaanse administrasie op alle vlakke. Maar wat beteken dit? Mense word gewoonlik bevorder, omdat hulle goed vaar in hulle huidige werk. Hierdie proses herhaal totdat hulle ’n posisie bereik waarin hulle nie meer effektief is in hulle werk nie, en hulle val vas in ’n rol waarin hulle onbevoeg is. Die Kanadese opvoedkundige Peter (saam met Raymond Hull) het in die satiriese, maar invloedryke boek The Peter Principle: why things always go wrong (1969) hierdie beskouing oor organisasiestrukture en bevorderingspraktyke beskryf. As voorbeeld: ’n Uitstekende onderwyser word skoolhoof, maar sukkel met administrasie en mensebestuur. Of: ’n Topverkoper word verkoopsbestuurder, maar vaar swak met spanleiding en strategie.
Nog ’n interessante een, waaraan ek myself dikwels moet herinner, is Hanlon se lem: Moet nooit menslike optrede aan kwaadwilligheid toeskryf wat voldoende deur domheid verklaar kan word nie. As mense jou te na kom, is die kans goed dat dit gebore is uit onnoselheid eerder as boosheid.
En kort en kragtig, Occam se lem: Die eenvoudigste verklaring is gewoonlik die beste. Dit gaan oor metodologiese ekonomie: Moenie jou verklaring met onnodige aannames verswaar nie (William of Ockham, 14de eeu).
Waarom is hierdie lewenswette so gewild?
Want hulle is nie altyd streng wetenskaplik nie. Baie is waarnemings, humor of praktiese wyshede wat oor tyd gewild geraak het. Maar lewenswette is ook meermale sinoniem met groot geld.
Die law of attraction het inderdaad ’n multimiljard-dollar-kultusbeweging geword.
Tog, die gedagte dat ons denke die werklikheid kan (her-) vorm, is nie nuut nie. Dit het egter in die moderne wêreld ’n besondere gedaante aangeneem in die vorm van sogenaamde lewenswette, waarvan die law of attraction die bekendste is. Hierdie konsep – dat positiewe denke positiewe dinge aantrek en negatiewe denke ongeluk – het uit ’n 19de-eeuse geestelike beweging ontstaan, deur selfhelpliteratuur heen versprei en uiteindelik in die 21ste eeu ’n massiewe kulturele fenomeen geword. Dit het miljoene mense aangespreek, ’n industrie van lewensafrigters en produkte geskep en terselfdertyd ernstige kritiek ontlok oor die psigologiese gevare en manipulerende potensiaal daarvan.
Die wortels van die law of attraction lê in die New Thought-beweging wat in die vroeë tot middel 19de eeu in Amerika ontstaan het. Phineas Parkhurst Quimby (1802–1866), ’n beoefenaar van mesmerisme en geneser, word algemeen as die vader hiervan beskou. Quimby het geglo dat siekte en verkeerde oortuigings uit die verstand spruit en dat die “regte” denke dit kan genees. Sy kernbeskouing was dat die gees die liggaam beheer.
Sy idees is verder ontwikkel deur figure soos Warren Felt Evans, Prentice Mulford en later William Walker Atkinson. Atkinson het dié beginsel in 1906 eksplisiet as “thought vibration or the law of attraction in the thought world” beskryf. Die beskouing het later ook invloede uit spirituele en religieuse bewegings oorgeneem. Dit het tot kerke en organisasies soos Unity, Divine Science en Religious Science gelei, waar die klem op “gesonde denke”, genesing en later ook welvaart gelê is.
In die 20ste eeu het hierdie idees hul in die selfhelpgenre tuisgemaak. Napoleon Hill se Think and grow rich (1937) en Norman Vincent Peale se The power of positive thinking (1952) het die beginsels vir ’n wyer gehoor toeganklik gemaak. Louise Hay se You can heal your life (1984) het dit verder in die New Age-sfeer gevestig. Die boodskap was eenvoudig en aanloklik: Jy is nie ’n slagoffer van omstandighede nie – jy skep jou eie realiteit deur jou gedagtes.
Maar die ware ontploffing het in 2006 gekom met Rhonda Byrne se film en boek The secret. Byrne, ’n Australiese televisieprodusent, het die law of attraction as ’n “geheime” universele wet voorgestel wat deur historiese figure soos Einstein, Shakespeare en Boeddha geken is (alhoewel hierdie aannames histories onakkuraat is). Die formule was: vra, glo en ontvang. Positiewe visualisering, dankbaarheid en fokus op begeertes sou outomaties rykdom, liefde, gesondheid en sukses aantrek.
The secret het ’n kulturele sensasie geword. Die boek het meer as 30 miljoen eksemplare verkoop, is in tientalle tale vertaal en is deur Oprah Winfrey op haar kletsprogram aangeprys. Dit het ’n golf van aanhangers, lewensafrigters, kursusse, kaartstelle en later TikTok-manifestasie-tegnieke ontketen. Wat eens ’n relatief klein metafisiese beweging was, het ’n globale industrie geword – met miljarde rande se omset in die selfhelp- en wellness-sektor.
Hoe het hierdie lewenswette dan ’n kultusbeweging geword? Die oorgang lê in die absolutisme van die leerstellings. Die law of attraction word nie as ’n praktiese sielkundige hulpmiddel aangebied nie, maar as ’n onveranderlike wet van die universum – soos swaartekrag. Dit skep ’n geslote denkstelsel.
Alles wat met jou gebeur, is jou eie skuld of verdienste. Sukses bewys jou “vibrasie” is reg; mislukking, siekte of trauma beteken jy het negatief gedink.
Wetenskaplike begrippe soos vibrasie en kwantumfisika word misbruik om die idee ’n wetenskaplike skyn te gee, sonder enige empiriese basis.
Aanhangers vorm groepe, volg die “meesters” of manifestasie-afrigters, koop nog produkte en vermy negatiewe mense (skeptici word dikwels as “lae-vibrasie”-mense afgemaak).
As dit werk, is dit die wet. As dit nie werk nie, was jou geloof of fokus nie sterk genoeg nie – dus moet jy harder probeer of meer kursusse aankoop. Hierdie sirkulêre logika en magiese denke is verstommend en herinner aan die beloftes en “straf” vir sterk of gebrekkige geloof, wat so dikwels van kerkkansels af verkondig word.
Die kultusdinamika van hiperverantwoordelikheid, emosionele onderdrukking, slagofferbeskuldiging en ’n geslote groep wat die buitewêreld as onkundig of toksies sien, dui daarop dat dit angs, skaamte en selfs obsessiewe denke kan bevorder. Mense met trauma of siekte word dikwels geblameer, terwyl sistemiese probleme (armoede, diskriminasie en siekte) geïgnoreer word. Dit kan lei tot passiwiteit – in plaas daarvan om daadwerklike stappe te neem om jou eie lot te verbeter, word alles aan “die universum” oorgelaat.
Wetenskaplik word die law of attraction as ’n kousale krag verwerp. Positiewe denke kan motivering en veerkragtigheid verbeter (soos met kognitiewe gedragsterapie), maar dit kan nie ’n sportmotor, gewigsverlies of genesing aantrek nie. Die idee dat Holocaust- of rampslagoffers hul eie lot aangetrek het, is moreel verwerplik en word deur baie kritici as wreed bestempel.
Tog bly die law of attraction baie gewild. In ’n onsekere wêreld bied dit hoop, beheer en ’n gevoel van mag. Dit het ’n selfhelpindustrie geskep en positiewe denke hervestig. Die gevaar lê egter daarin dat dit ’n vereenvoudigde, individualistiese en soms eksploiterende antwoord op komplekse menslike probleme word.
Nóg wette? Ja. Daar is diegene wat sweer by die 12 wette van karma. Dit is ’n moderne Westers-New Age-sintese wat ’n latere, sekulêre herverpakking van die Oosterse teologiese beginsels is, en wat reïnkarnasie-aspekte grotendeels weglaat. Die fokus is nou op persoonlike verantwoordelikheid (wat jy saai, sal jy maai), jou intensie, aandag en gedrag in die hier-en-nou wat jou lot bepaal. Oor die laaste paar dekades het dié 12 wette deur selfhelpboeke, blogs, welstandswebwerwe en sosiale media versprei en besonder gewild geword. Daar is geen enkele outeur of antieke bron wat as die oorsprong aangewys kan word nie; dit is ’n herverpakking van karmiese beginsels vir ’n Westerse gehoor wat na praktiese, nie-godsdienstige leiding soek.
Dit is bykans onmoontlik om al die wette te lys, maar dis tog belangrik om kanonieke motiveringslektuur te noem, soos The law of success (Napoleon Hill, 1928); The 21 irrefutable laws of leadership (John C Maxwell, 1998); en The 48 laws of power (Robert Greene, 1998). En weer eens tref die woord laws in alle gevalle ’n mens. Waarom, kan mens weer eens vra, is hierdie lewenswette en hul lektuur so gewild?
Want die menslike brein soek voorspelbaarheid en beheer in ’n lewe vol onsekerheid. Ons is geneig om die wêreld as ’n sisteem van reëls te sien eerder as een chaos van toeval, omdat reëls voorspelbaarheid skep en ’n gevoel van agentskap gee (“as ek X doen, kry ek Y”).
Motiveringslektuur speel hierop in deur kompleksiteit te reduseer tot ’n handjievol “wette”. Dit is kognitief goedkoop: In plaas daarvan om met die volle gemors van menslike gedrag, sosiale stelsels en toeval te werk, kry jy ’n eenvoudige oorsaak-en-gevolg-formule. Dit is dieselfde sielkundige meganisme wat mense na horoskope, numerologie of “universele beginsels” dryf.
...
Elke samelewing skep norme, taboes, rituele en natuurlike wette om orde te skep.
...
Antropologies gesien, is die mens homo legifer – die wetgewer. Elke samelewing skep norme, taboes, rituele en natuurlike wette om orde te skep. Selfs in premoderne samelewings was daar wette van die voorouers, die geeste en van seisoene.
Motiveringslektuur is ’n sekulêre voortsetting van hierdie impuls. Wanneer tradisionele godsdienstige of gemeenskaplike strukture verswak, soek mense steeds na ’n kosmiese of universele orde. Die wette in selfhelpboeke funksioneer as ’n vervangende metafisika: Hulle gee ’n gevoel dat die universum nie onverskillig is nie, maar volgens reëls werk wat jy kan leer en benut.
Godsdiens het inderdaad ’n baie sterk wetlike register. Hierdie register was vir eeue die dominante taal gewees waarin die morele en kosmiese orde verwoord is. Wanneer die samelewing sekulariseer, verdwyn die taal nie; dit word net herskryf, maar godsdiens het ten eerste die sjabloon hiervoor voorberei.
Die wette van motiveringslektuur is dikwels ’n gesekulariseerde weergawe van religieuse wetlikheid. Dit is die voortsetting van ’n kulturele grammatika wat reeds in die taal en denkwyses ingebed is. Mense wat grootgeword het met die idee dat die werklikheid volgens wette funksioneer, vind dit natuurlik om nuwe wette te soek wanneer die ou godsdiens nie meer werk nie.
Maar uiteindelik is diepste rede filosofies-eksistensieel. Die mens wil nie net oorleef nie; hy wil hê dat sy handelinge sin en betekenis moet hê binne ’n groter orde. ’n Wet is die sterkste retoriese vorm om daardie betekenis te skep.
In ’n tyd waarin tradisionele metaverhale (byvoorbeeld godsdiens en ideologie) verswak, word motiveringslektuur bloot ’n mark vir nuwe, individuele metaverhale – en dié wette is die mees gesaghebbende vorm waarin so ’n verhaal verpak kan word.
Wat egter opvallend van hierdie lektuur en metaverhale is, is die konsep – of eerder: die kommoditeit van hoop. Ja, hoop is waarskynlik die mees gesogte kommoditeit in die wêreld. Hoop verkoop. Hoop skep wette, produkte, video’s, praatjies en kultusse. Want ons het dit tog so, só nodig.


Kommentaar
Interessant en só waar. Dankie, Nini.
Te midde van entropie (wat met wette verband hou), kry iemand teen alle verwagting in soms 'n lucidum intervallum.
Die illusie van vooruitgang sal 'n verdere hupstootjie kry as almal van 'n selfopgelegde duiwel kan vergeet.
Oijoijoi.
Ek lees bv van Harminus Martinus "Harry" Kuitert op Google: "he was a professor of ethics and systematic theology at the Free University (Vrije Universiteit) in Amsterdam.
"Starting from traditional Calvinist orthodoxy, Kuitert gradually moved toward a more critical, modern approach to Christianity. He argued that theological statements and religious language originate from human experience rather than direct divine dictation, eventually questioning traditional doctrines regarding the divinity of Jesus and the Trinity."
Ek laat dit daar.