Spookradio 302 FM, verslag een deur Eben Venter

  • 0

“Spookradio 302 FM” is ’n lokaal-realistiese verhaal wat ’n plattelandse sfeer na vore bring. Die vertellerstem is gemoedelik, bekend en op daardie laat uur (in die storie) gerusstellend.

Die atmosfeer van die ateljee word goed uitgebeeld. Klankdig en effe kloustrofobies met net die omroeper aanwesig: Hier is potensiaal vir die skrywer om verder kreatief te wees. ’n Kriek wat ingestap het en iewers in die donkerte onheilspellend tjirp, die koffiemasjien wat sonder menslike hand sommer aanskakel, die rooi lig wat begin flikker – dis slegs voorstelle. Maar dié klas goed kan die binnekoms/binneswewe van die spook vooruitloop, sonder om iets verders aan die leser te verklap.

Die groot uitdaging in die storie is egter om die spanning te behou en nie die storie te verklap met die intrede van Ouboet van Zyl nie. Hier lê die probleem: Ek het dadelik vermoed dat Ouboet ’n spook is. Onthou: Hierdie klas stories loop wyd en syd in die Klein en Groot Karoo; die bekendste is die een oor die spook van Uniondale.

Hoe kan die skrywer hierdie storie tweak om dit anders te maak, om die leser te verras, tot die einde?

Die tweede ding waaraan die skrywer nougeset aandag moet gee, is die verdigting van die storie, per sin en per paragraaf. Pasop om te veel uit te spel, om te veel uit te lap. Die twee slotparagrawe byvoorbeeld: Hoe gaaf en glad hulle ook al lees, hulle is te lank; die leser se aandag gaan tot niet; terwyl die paragraaf oor die halfverkoolde musikant so versier is dat die verkoling nie genoegsaam uitstaan nie.

Die skrywer kan gerus kreatief omgaan met taalgebruik (sny oa alle clichés uit) en deurgaans die pas van die storie versnel.

*

(Nota aan die leser: Venter het ook aan elke skrywer ’n gemerkte weergawe van hulle verhaal gestuur. Ons kon dit om tegniese redes nie openbaar maak nie, maar tydens ’n volgende ronde sal ’n ander werkwyse gebruik word om ’n meer openbare rekord te hê.)

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>

Lees ook:

Spookradio 302 FM

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top