Spookradio 302 FM

  • 0

Lourens wag geduldig vir die rooi lig teen die muur van die ateljee om aan te gaan voordat hy begin praat. Hy hoor sy eie stem in die oorfone op sy kop.

“Goeienaand, dis so skuins na middernag op Klok Radio 302 FM, en soos gewoonlik hierdie tyd van die nag is dit Lourens Maritz wat al die naguile groet. Ek kuier weer tot so vyfuur saam met jou. Vanaand wil ek hê ons moet so ‘n bietjie gesels oor ’n baie interessante onderwerp. Gepas ook vir hierdie tyd van die nag, sou ek sê. En dit is ... Spoke! Dalk glo jy nie in spoke nie. Indien wel, waarom nie? Dalk het jy al ’n persoonlike ontmoeting met ’n spook gehad, of dalk ken jy ’n goeie spookstorie. Hoe ook al, ek sal graag van jou wil hoor. Bel gerus in en gesels lekker saam. Die ateljeenommer is 092 897 5555. Ek wag vir jou oproep. Intussen skop ons die nag af met ’n gepaste lied: Ray Parker jr met die temalied uit die rolprent met dieselfde naam, Ghostbusters!”

Behendig druk hy die regte knoppies op die rekenaar en die klankbord voor hom om sy eie stem uit te doof en die musiek te laat begin. Die rooi lig teen die muur verander na groen. Hy sit agteroor en plaas sy hande agter sy kop. Hy hoop regtig die luisteraars gesels lekker saam vanaand. Dit kan nogal sieldodend raak so alleen in die ateljee dié tyd van die nag. Vanaand se onderwerp behoort die ding te doen. Lourens glo self nie in spoke nie. Hy is ’n logiese mens en glo dat daar ’n verklaring vir alles moet wees. Maar dit bly ’n interessante onderwerp wat mense gewoonlik aan die praat kry.

En hy is reg. Die telefoon gons en die luisteraars gesels. Sommige direk op die lug en ander vertel hul spookstories vir Lourens wat dit dan oor die lug herhaal. Spoke van allerlei kleure en geure word bespreek, bekendes en onbekendes. Die tyd gaan vinnig verby. Later raak die oproepe al minder en minder soos die luisteraars een na die ander besluit om te gaan slaap. Teen drie-uur begin Lourens se oë ook effens swaar raak. Hy speel al hoe meer agtergrondmusiek sodat hy vir langer tye nie op die lug hoef te wees nie. Die koffiemasjien langs hom werk behoorlik oortyd soos wat hy een koppie koffie na die ander opslurp.

Klokslag drie-uur gaan die ateljee se deur skielik oop. Lourens ruk van die skrik. In die deur staan ’n bebaarde man, geklee in kakieklere en ’n outydse hoed op sy kop.

“Wie is jy? Hoe het jy in die gebou gekom?”

Die man glimlag breed. “Ek is Ouboet van Zyl. Ek is só jammer as ek jou laat skrik het.” Sonder om te wag vir ’n uitnodiging, stap hy die ateljee binne en gaan sit oorkant Lourens aan die ander kant van die tafel.

Lourens is nie seker hoe om te reageer nie. Hy oorweeg dit om die sekuriteitswag voor by die ontvangstoonbank te skakel vir hulp, maar besluit daarteen. Om een of ander rede fassineer die man hom.

“Hoe het jy hier ingekom?” wil hy steeds weet.

Ouboet ignoreer die vraag. “Ek geniet dit om snags na jou te luister. Veral vanaand se onderwerp.”

“Dankie,” sê Lourens, ietwat uit die veld geslaan. “Jy sê jou naam is Ouboet?”

“Dis wat ek gesê het, ja”

“Nou, Ouboet,” vervat Lourens, “vertel asseblief vir my, waar kom jy vandaan en wat maak jy hier?”

Ouboet glimlag breed. “Ek wou jou graag ontmoet. Kan ons nie liewer oor spoke gesels nie? Ek ken ’n baie goeie spookstorie.”

Lourens wil hom vererg vir die man se vermetelheid, maar hy bly gefassineerd. “Wil jy hê ons moet lewend op die lug gesels?”

“O nee, dit sal nie deug nie. Jy kan maar my storie later met jou luisteraars deel as jy wil.”

Lourens kyk na sy rekenaarskerm. ‘n Bietjie minder as twee minute voor hy weer op die lug moet gaan. Hy besluit om liewer nog ’n paar musieksnitte te laai sodat hy meer tyd het om na Ouboet se storie te luister.

“Nou maar laat ons hoor. Is dit jou eie storie, of het jy dit êrens gehoor?”

Ouboet is verontwaardig. “Nou hoe sal ek vir jou ’n ander man se storie kom vertel? Wat dink jy van my?” Sonder om te wag vir Lourens se reaksie, gaan hy voort. “Lank gelede, in die tyd voor televisie, internet en selfone, was die radio die enigste bron van vermaak. In daardie jare was radioprogramme byna altyd lewend uitgesaai. Opnames was ongekend. Daar was ’n sekere musikant wat met ’n konsertina kon toor.”

“Het hy ’n naam gehad?” wil Lourens weet.

Ouboet vererg hom effens. “Sy naam is nie belangrik nie. Moenie my in die rede val nie asseblief.”

“Jammer,” maak Lourens verskoning.

“Nou ja, waar was ek?” vervat Ouboet. “O ja, die musikant … By ’n sekere radiostasie het ’n pragtige jong meisie as omroepster gewerk. Sy was besonder lief vir konsertinamusiek. Sy het die musikant gereeld genooi om met sy konsertina lewend op die lug musiek te maak. Sy het gevoel dis meer persoonlik as om plate te speel. En so het die twee baie gewild onder die luisteraars geraak. Luisteraars het briewe begin skryf waarin hulle versoeke vir spesifieke liedjies gerig het, wat die musikant dan vir hulle oor die radio gespeel het. Met verloop van tyd het die musikant smoorverlief geraak op die omroepster, maar sy het nie dieselfde gevoel nie. Vir haar was hy maar net ’n musikant, niks meer nie.”

Ouboet bly ’n oomblik stil en tuur in die niet in. Na ’n paar sekondes gaan hy voort. “Op ’n dag het die musikant sy liefde teenoor haar verklaar en haar gevra om met hom te trou. Hy was verpletter toe sy die aanbod taktvol van die hand wys en hy het woedend uit die ateljee gestorm. Sy het hom nie daarna weer genooi om op haar program te kom musiek maak nie. Maar hy kon haar nie uit sy gedagtes kry nie. Hy het verskriklik verneder en seergemaak gevoel omdat sy nie sy liefde wou beantwoord nie. In die dae wat daarop gevolg het, het hy daaroor begin tob, totdat dit later in ’n soort obsessie by hom ontaard het. Soveel dat hy hom aan drank vergryp het. En so het hy besluit om wraak te neem. Hy wou hê sy moes wéét hoe seer sy hom gemaak het.”

Ouboet bly weer ’n oomblik stil en sug diep.

Lourens raak ongeduldig. “Ja, en toe?”

“Hy het gewag tot sy weer in die ateljee was en toe in sy dronkenskap by die ateljee ingestorm. Sy het nie ’n benul gehad dat hy só sterk oor haar gevoel het nie en was geskok om hom in so toestand te sien. Sy het hom probeer kalmeer, maar hy was eenvoudig onkeerbaar. In die hoek van die ateljee het ’n groot kas gestaan waarin die sender en ander elektriese toerusting geïnstalleer was. Die musikant het die deur oopgepluk en begin om die drade uit te ruk, maar in die proses het hy per ongeluk aan ’n lewendige draad gegryp en hy is daar op die plek doodgeskok. Dit was ’n wrede dood. Nie ’n mooi gesig nie. Sy lyk was half verkool.”

Lourens is geskok. “Magtag!”

“Jy kan dit weer sê,” beaam Ouboet. “Die lang en die kort van die storie is dat die musikant nooit tot rus kon kom nie. Tot vandag toe dwaal sy spook nog in daardie radiostasie rond. Hy wil om verskoning vra vir sy gedrag, maar niemand wil na hom luister nie. Daar word vertel dat jy hom soms snags kan hoor gil terwyl hy geskok word. Daar hang selfs ’n brandreuk in die lug …”

Lourens glimlag effens. “Jy sê die storie is waar?”

Ouboet lyk verontwaardig. “Natuurlik is dit waar – hoekom sal ek vir jou lieg?”

“Nou maar wat was die naam van die musikant?”

Ouboet skuif die stoel agtertoe en staan op. “Ek weet regtig nie. Miskien kan jy eendag ‘n bietjie deur julle plateversameling gaan kyk as jy wil weet. Miskien spoor jy hom daar op. Maar nou moet jy my verskoon, ek moet gaan. Dit was goed om jou te ontmoet.”

“Hoe kan ek hom opspoor as ek nie sy naam ken of weet waar dit plaasgevind het nie?” wil Lourens weet, maar Ouboet verdwyn met ’n wuif van die hand by die deur uit.

Wat ’n vreemde karakter, dink Lourens stilweg. Maar dis nogal ’n interessante storie.

Die res van die nag verloop sonder voorval, maar hy kan eenvoudig nie vir Ouboet uit sy gedagtes kry nie. Die sekuriteitswag sweer hoog en laag dat niemand by hom verby is nie. Lourens neem aan dat hy waarskynlik aan die slaap geraak het en te bang is om dit te erken.

Kort voor vyfuur stap Albert Coetzee by die ateljee in om by Lourens oor te neem. Lourens vertel hom van sy nagtelike besoeker.

Albert vind dit baie amusant. “Hoor hier, pel, hierdie ou het jou gesien kom … Het jy nog nooit gehoor van die spook van Klok Radio nie?”

“Waarvan praat jy?” wil Lourens weet.

“Dis oor jy nog nie lank genoeg hier is nie. Daar doen stories die ronde van ’n spook wat glo snags hier in die gebou rondloop. Glo ’n mal man wat homself hier in die ateljee doodgeskok het. Vra ‘n bietjie vir oom Tok. Hy is al donkiejare hier en hy ken die storie. Hy sweer hy het self al die spook gesien. Gehoor skreeu ook. Ek vermoed hierdie ou het ook die stories gehoor en toe besluit om jou op hol te kom jaag, siende dat jy met spookstories besig was. Ek sal my nie veel daaraan steur nie. Maar ons sal moet kyk na die sekuriteit. Mense kan nie sommer ongesiens hier inwals nie.”

Lourens stem saam en onderneem om die saak met die stasiebestuurder op te neem. Hy besluit op die ingewing van die oomblik om ’n draai in die diskoteek te maak voor hy huis toe gaan. In die argiefgedeelte is daar nog ’n groot aantal ou plate. Hy vind ’n afdeling met tradisionele musiek en blaai tussen die plate deur. Dan tref sy oog skielik ’n foto op die omslag van een van die plate. Dis ’n ou swart-en-wit foto, maar hy herken onmiddellik die bebaarde man met die kakieklere en die konsertina in sy hande. Sy nekhare begin stadig rys en hoendervleis begin oor sy liggaam uitslaan. Saggies lees hy die bewoording op die omslag: Ouboet van Zyl. 1939.

 

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>

LitNet-slypskool Om te skryf: Ontmoet die deelnemers en lees die verhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top