Spoegwolf: "Ons koppe is meestal in een mus"

  • 0

Die jong, dog reeds immergroen, rockgroep Spoegwolf het onlangs ’n nuwe album, Somer, bekendgestel. Danie du Toit, voorman van die groep, beantwoord ’n paar vrae oor die musiek, Spoegwolf se toekoms en dies meer.

Goeiedag, Danie. Wat skud deesdae?

Henry! Ek lê saam met ’n jong wolfhond en haar kombers op die grond. Die bekers buite op die stoep skud in die reën, if that is what you mean?

spoegwolfgrootweb
Foto: Willem van der Berg

Baie geluk met die uitreiking van Spoegwolf se jongste album, Somer. Dis soos verwag ’n bedonnerde produk en ek sien die mense op sosiale media kan skaars hul lofsange daarvoor betoom. Hoe het Spoegwolf as band, en jy spesifiek, hierdie album anders benader as met vorige uitreikings? Dit geld die skryf van die musiek, die balansskepping op die album, die opnameproses en dies meer. Was daar ’n evolusie in filosofie ter sprake in hoe julle dit wou aanpak, of was dit maar ’n kwessie van vat-dit-soos-dit-kom?

Baie dankie! Toe ons Swaartekrag (ons eerste album) gemaak het, was daar baie druk op ons om iets te bewys aan die luisteraar. Ons het om elke hoek ’n draai gevat – of dit nou in melodie, klank of liriek was. Eintlik was dit was ironies: in my geval was my musiekkennis juis beperk tot net ’n paar chords; my liriekvermoëns beperk tot ’n redelik eenvoudige liefdeslewe en kort geskiedenis – alles teenstrydig met die swarighede van Swaartekrag.

Met Somer het my vermoëns nie juis verbeter nie. Die lede rondom my (Albert, Moskou en Chris) het egter volhard in hul groei, en my so agtergelaat. Ek kan nie ’n enkele instrument speel soos enige van die bandlede nie, and you know what; I’m okay with that. Dis amper soos ’n boontjierank waarteen ek moet opklim elke keer as ons op ’n verhoog gaan. Ek speel tussen ’n klomp reuse. Dis dié dat ek my kitaar goud geverf het.

Ons móés die album anders benader, aangesien ons almal nou baie nader aan mekaar is. Dit beteken dat jy nou vir iemand kan wegry as hy langs die pad ’n draai loop, maar dan ook dat niemand skaam is om vir die lead vocals te sê hy klink soos ’n dronk Steve nie (aan my), en dat al speel ’n aap ’n goue kitaar, bly hy die aap op ’n snaar (weer aan my).

Chris se vernuf met produksie het ons as band baie geleentheid gegee om op ons rûe te lê in die studio. Ons het liedjies stuk vir stuk opgebou met al vier lede se malste idees. Ek dink nou juis aan ’n Saterdag waarop ons die middag spandeer het met die opname van ’n deur wat toeslaan. Chris werk ook dan laat in die nag om te skaaf aan al daai mallighede. Die towerbone wat gegooi word deur ouens soos Moskou en Albert word die genoemde boontjierank.

Die hele album is seker in totaal twee keer opgeneem by die tuisateljee. Daarna het ons alles weer gaan doen by Sunset Recording Studios. Ek weet nie of jy vir Jurgen ken nie? Sy studio is die hen wat goue eiers lê. In ons geval is dit miskien nog rou goue eiers (veral as my valse stem naby ’n mikrofoon kom) – maar met sy hulp is dit altyd sunny side up.

Jurgen von Wechmar is inderdaad bobaas. Dis interessant dat die meeste van die snitte van jul 2014-EP, Elektriese Kind, ook op Somer ingesluit is (as ek reg tel is drie snitte weer op en het een agtergebly). Ek verstaan die ding van dat die EP van die begin af vir julle sou dien as brug tussen die eerste en tweede albums, maar as ek reg verstaan het julle die snitte van voor af opgeneem saam met die res van die nuwe album. Wat was die denkrigting hieragter? In watter mate wou julle die snitte "herontwerp" vir die album? Was daar ooit kommer dat aanhangers sal dink hulle koop op ’n manier dieselfde ding twee keer, of hoe sou jy dit beskryf as ’n totaal nuwe produk?

Daar is ’n paar redes hoekom die EP so ingewerk is. Ek lys dit hier, al lyk dit na ’n vreeslike skaamkwaad ding:

  • Ons wou net een of twee van die liedjies weer gebruik, maar die probleem was dat ons net iets soos 200 eksemplare van die EP ooit gedruk het! Die meeste mense kon dit dus nie in die hande kry nie.
  • Die EP was, soos jy sê, veronderstel om ’n brug te wees tussen die twee albums. ’n Brug het ook lasplekke nodig.
  • Aangesien ons heel eerste EP ooit (Met “Drietyd op die Dakke”, “Lenie Blou” en “Kort Donnner” op) net so op die eerste album gesit is, het ons ook gevoel dat die tradisie maar voortgesit kan word.

Verder is die liedjies nie weer opgeneem nie, al klink dit (met goeie herverwerking) wel so. Sekere dele is op plekke wel verfyn om in die konteks van die album in te pas – soos die intro van “Elektriese Kind”, en so aan.

Ons was op tye bekommerd daaroor dat die EP die album te lank sou maak, maar soos in my lui lysie hier bo genoem, is die EP se liedjies nie baie wyd versprei nie. Ons hoop was dat meer mense ook daarna sou luister deur die koop van die volle album.

En dan laastens (van die lys af, omdat ek self nooit ’n lysie lees nie) is die nuwe liedjies geskryf om by die EP aan te vul. Die temas het ons probeer laat saamwerk, en die stories het ons probeer klaar vertel.  

Spoegwolf span ’n paar lekker onverwagse elemente in op die album wat ons nog nie vantevore gehoor het nie – vernaam die rap-gedeelte in "Ek dink soos jy" en die opname van wat klink soos ’n oom se monoloog op "Seisoen". Hoe wou julle in hierdie opsig nuwe elemente verken en insluit op Somer? Ek het ook ’n voëltjie hoor fluit dat daar ’n geweldig interessante storie agter die opname van die oom se stem is – kan jy dit met ons deel?

Albert (ons baskitaarspeler, asook my beste vriend en bandlid vanaf graad 3) rap al van kleins af. Ek onthou toe ek en hy Frankryk toe was, hoe hy daai Franse rappers ook ore aan gesit het. Hy luister terloops nog steeds baie na Franse rap. 

Hy het een aand buite die ateljee gestaan en rympies maak toe ons besig was met my kitaar, en ons het besluit om dit net so in die liedjie te sit. Wat dit vir ons die  lekkerste maak is die orrel in die agtergrond (wat ons by ’n kerk gaan opneem het). Daar is iets must-be-wrong-but-it-feels-so-right aan ’n kerkorrel-en-Albert-wat-rap-liedjie.

Die monoloog waarvan jy praat is opgeneem in die sitkamer van oom Johnny Kirsten – die jongste Boeingvlieënier ooit. Ek het met hom ’n onderhoud gaan voer vir ’n geskiedenisartikel waarmee ek besig is oor sy familie. In die deel wat jy hoor, praat hy oor ’n familielid wat as ’n jong kind op Suid-Afrika se kus uitgespoel het nadat sy skip gesink het. Hy is toe deur ’n boer op ’n perd opgelaai en op ’n plaas (ek verbeel my daar was baie riet en boontjies) daar naby grootgemaak. Hy is eenkeer, lank daarna, terug om sy gesin te sien in Skotland, maar het toe besluit om in Suid-Afrika oud te kom word, waar sy voete in die sand was – waar die skip geskink het.

So gepraat van die snit "Seisoen" – dit is ’n kort snit, op minder as twee minute, en dit beslaan ook slegs een refrein, wat die lirieke betref. Spoegwolf skrik duidelik nie om ’n bietjie die grense en konvensies van hoe liedere "moet" wees (vers, refrein, vers, refrein, ens) te toets nie. Hoe lyk die debatvoering binne Spoegwolf oor ’n snit soos dit, en oor die gebruik van ander elemente (soos die tromboon op "Lalabai")? Is daar ook ander verrassingselemente wat julle getoets het, maar wat net nie nou werk nie? Watter ander ongewone bydraes tot die klank sal jy nog wil inspan vir opkomende Spoegwolf-opnames?

Ons koppe is meestal in een mus as dit kom by liedjies kort hou, omdat dit meer spasie skep vir ander idees binne die beperkings van ’n album. Ek is ook eintlik ’n lui liedjieskrywer, wat beteken dat die meeste van die songs kort begin. Iemand sal dan sê “Nee man, Danie, dis mos te kort – jy moet vir ’n slag iets klaar skryf.” Dan maak ek asof ek ’n telefoonoproep kry. As ek terug kom het die ouens aan ’n tussenspel gedink wat ’n bietjie lengte gee.

Die tromboon in “Lalabai” sou eers net deur ’n keyboard gespeel gewees het (ek en Chris het ’n hele oggend spandeer aan die regte klank daarvoor). Jurgen van Sunset Recording het toe ’n baie begaafde tromboonspeler gebel om dit op die eerliker manier te doen. Weer eens, daai man se studio is ’n goue hen.

Ons het met ’n klomp nuwe dinge geëksperimenteer, veral in terme van genre. Daar is byvoorbeeld twee jazzliedjies opgeneem wat op die ou end nie ingesluit is nie. Met die jazz kan jy musikante soos Moskou, Albert en Chris regtig op hul beste sien.

As jazz in Afrikaanse alternative musiek enigsins wettig was, sou ek dit baie graag meer wou doen.

Jou liriekwerk was nog altyd een van Spoegwolf se sterkste kenmerke, en op Somer drup daai eerlikheid en poëtiese aanslag weer in elke liriekreël. Hoe sou jy sê het jou liriekwerk oor die afgelope paar jaar gegroei, en hoe het jy dit opsetlik laat groei? Met ander woorde, hoe daag jy jouself uit om gedurig beter te skryf – soek jy spesifieke blootstelling en invloede om te oorweeg, of is die gestoei suiwer innerlik? Hoe sou jy jouself nog wil uitdaag in hierdie opsig? En pleeg/poog jy ook ander vorme van skryfwerk, soos digkuns alleen, of dalk ’n manuskrip op die horison?

So ’n vleiende vraag is moeilik om te beantwoord. Ek sien myself nie as ’n goeie liriekskrywer nie, veral nie teen meesters soos Valiant Swart, Koos Kombuis of David Kramer nie.

Vir my is die grootste skrywer van alle tye eintlik JD Salinger. Ek het nie sy talent nie, maar hoop om eendag deur baie ure en woorde (en met ’n gelukskoot) op ’n sin af te kom wat iets eerlik sal sê.

Ek pleeg en poog ook ander dinge! Hopelik is daar wel iets met waarde op pad.

Somer  is nou vrygestel byna twee jaar ná die Elektriese Kind-EP. Sommiges sal dit as ’n lang wag beskou – hoe voel julle daaroor? Wou julle spesifiek genoeg tyd gee vir al die idees om te groei en te marineer soos hulle moet, of het julle maar gewag vir die eerste beskikbare gaping? Wat is die voordele en nadele van ’n bietjie wag met nuwe opnames en uitreikings, in terme van wat ’n mens bereik met die musiek en ook band-dinamiek en onvoorspelbare inmenging wat die lewe mag bring?

Ons het na die uitreik van die eerste album besluit om ons eie studio te bou, waar ons meer tyd aan opnames sou kon spandeer. Ons kon dus vir ’n volle twee jaar werk aan liedjies, wat regtig ’n voorreg was.

Ons het nou eers gevoel dat wat ons het, goed genoeg is om uit te gee.

Die voordeel van wag is dat jy die songs eers ’n bietjie kan speel, en sien of hulle werk.

Die band het ook meer tyd gehad om saam (en apart) te groei. Op elke road trip ry jy saam met dieselfde siele in nuwe lywe. Moskou het oor die laaste twee jaar ’n geslaagde kok geword. Die vreeslike ure wat hy werk, dwing die band om baie keer eers die ander instrumente op te neem. Die dromme kom dan laaste (gewoonlik kom dromme eerste). Dit gee Moskou die geleentheid om meer kreatief te wees. Moskou is ’n ware kunstenaar, en waar hy toegelaat word om meer kreatief te wees, gebeur daar baie mooi goed (ek dink baie keer: as Moskou se dromme ’n persoon was het sy ligte oë gehad en ’n prominente neus). Chris kom al hoe nader aan die einde van sy graad as ’n ingenieur (wat ongelooflik waardevol is vir ons – hy bou alles, werk alles aanmekaar, en kry die elektriese hart van die Spoegwolf om aan te hou tik). Albert maak nou klaar met sy studies as ’n copywriter (iets wat baie help in ons aanpak van woorde – hy is gewoonlik my eerste leser).

Die lewe meng wel in met musiek, maar soos ek dit sien was dit vir ons ’n baie goeie ding.

Jy het nou genoem die manne van Spoegwolf is geweldig besig met swottings en dies meer – hoe probeer julle deesdae die band-loopbaan en die ander loopbane balanseer? Sal die uitreiking van die nuwe album dinge weer in ’n besiger toer- en optreeskedule vir Spoegwolf stoot, of behou julle maar die deeltyds-en-pret-beginsel vir eers?

Ons is vir seker baie besig, maar sommige mense speel weer elke naweek gholf. In ons geval hoef jy nie Castle Light te drink nie.

Hopelik gee die nuwe album ons rede om meer naweke en vakansies af te vat. Ons sal vir eers tog seker maak dat almal klaar swot voor ons ’n bussie koop en aanhoudend toer.

spoegwolfcoverweb

Laas toe ons gepraat het op LitNet, het jy geantwoord “World domination” toe ek vra wat die nabye en verre toekoms vir Spoegwolf inhou. Het julle dit al bereik, of hoe naby is julle? Hoe dink jy voel die wêreld oor hierdie oorheersing wat julle oor hom wil skep? Of het die planne intussen verander?

Ons planne het verander. Ek wil veel eerder beheer oor my tuin hê as oor die wêreld.

En ’n suksesvolle tuin is een met ’n groot boom, baie liggies, ’n klomp blou potte, en ’n vrou met grond op haar hande en ’n kind aan haar been.

Wat is die sin van die dood?

Belastingontduiking. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top