Spoegwolf: "’n roadtrip waar jy nie self die petrol hoef te betaal nie"

  • 0

Die jong rockers Spoegwolf gaan van krag tot krag en het pas ’n nuwe EP vrygestel. Danie du Toit, hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Danie. Hoe’s dinge?

Ou Henry, ou. Sjoe man. Sjoe. Ja.

Geluk met die vrystelling van die EP Elektriese Kind. Wat het julle genoop om ná die vroeëre sukses van die vollengte-album Swaartekrag in hierdie stadium ’n EP met slegs vier snitte op uit te reik, pleks van byvoorbeeld later ’n vollengte-album as opvolg? Hoe het daardie besluitnemingsproses verloop?

Die EP word gewoonlik gebruik om nuwe wendings in ’n band se musiek voor te stel. Die idee is om nie 12 nuwe snitte uit te bring wat die vorige album en sy luisteraars nie heeltemal vervreem nie. Vier liedjies vol vervreemding is genoeg. Ons kyk dan na watter een van die snitte die lekkerste val (jy sal opmerk dat hullepóógom uiteenlopend te wees). Die volle album sal dan bou op wat ons sien werk – vir luisteraars, maar ook vir die band self.

Dit klink met die eerste paar luisterslae of julle met die “sound” in die algemeen voortgegaan het met die resep van Swaartekrag, maar tog hier en daar ’n paar bykomende elemente ingewerk het. Hoe het julle dit benader in die opsig van groei of evolusie vir die band, en hoe voel jy terugskouend oor die eindproduk?

You’ve been reading my mail. Ons het probeer om minder instrumente te gebruik, elk met ’n doel, in plaas daarvan om net goed op mekaar te plak (wat op party plekke in die Swaartekrag-opname gebeur het, meestal omdat ons te opgewonde was). Die lede van die band word beter (met my uitgesluit – ek is die enigste ou in die band wat nie regtig musikaal is nie), en almal werk deesdae makliker saam. Die eindproduk weerspieël dit. Om vir jou ’n idee te gee: Moskou het nie een keer meer as een drum-take gedoen nie. ’n Moskou maak mos nie foute nie.

Soos met die snitte op die eerste album is die skerp liriekwerk, asook die wyse waarop jy dit oordra, onontkenbaar ’n hoeksteen vir die snitte. Hoe gaan jy en julle te werk met die skep van lirieke en in watter mate daag julle julself uit om aan te hou nuut/vars skryf en nuwe temas te verken, in ag genome dat die tweede vrystelling van ’n groep tradisioneel die mees uitdagende is?

Die lirieke was vir my die moeilikste deel van die EP. Daar was ’n redelik goeie ontvangs vir die lirieke van Swaartekrag, wat die druk meer gemaak het. Ek weet nie of die produk vreeslik nuut of vars was nie – dit het at best gebou op wat klaar gesê is in Swaartekrag. Ek is op soek na die hoekie in my brein waar die ander temas lê. Ek sal jou kan sê hoe ek dit benader het as die projek slaag met die volle album.

Op daardie noot: Hoe benader jy en julle die tussenwerking van musiek en liriek? Met ’n volle band raak dit natuurlik meer gekompliseerd as sê maar een ou en ’n kitaar … hoe werk daardie dinamiek tussen julle, in terme van liriek bring, melodie bring, progressies bring, ensovoorts?

Met die musiek wat ons sover gepubliseer het, het ek die musiek en liriek geskryf, en die band die arrangement saam gedoen. Dit gebeur in ons kamers, in Chris se home studio, in Moskou se kombuis, in Albert se Kloofstraatwinkels, en tydens ons vertonings. Met die volle album wat ons nou beplan, gaan ons dit anders benader: ons gaan as band ook meer van die musiek saam skryf, iets wat ek voel al lankal moes gebeur, aangesien die ander lede baie meer musikaal is as ek. Ons ry in Junie na ’n plaas in die Karoo waar ons vir drie weke die nuwe liedjies gaan herskryf en opneem.

Vir ouens wat so jonk soos julle is, het julle al vrek baie bereik – dit kan beide ’n seëning en ’n vloek wees. Hoe voel jy hieroor in terme van wat jy en die res van die groep wil bereik, kollektief en onderskeidelik, beide musikaal en andersins? Of bekommer julle jul nie regtig te veel daaroor nie?

Ons wil almal dieselfde ding bereik: lekker Kersfeesetes en genoeg geld om die rugby te kyk met ’n draught en ’n focaccia. Ons benader die band as ’n vakansie. Op hierdie oomblik sit ek op ’n plaas saam met die ouens. Moskou en Chris maak vir ons kos, Albert speel blues, en ek skryf aan jou. Ons is nie in die band om sukses te bereik nie (sukses in Afrikaanse musiek is ’n beperkte ding). Ons is in Spoegwolf om as vriende die land te sien. Dis ’n roadtrip waar jy nie self die petrol hoef te betaal nie.

Dit voel soms op die plaaslike toneel of eenvormigheid ’n gevaar is, in terme van wat “sukses”, onmiddellik of langdurig, waarborg, veral in Afrikaans. Wat is jou gevoel hieroor? Waarvan sou jy graag meer wou sien onder jou portuurgroep van jong musikante?

Ek het baie respek vir mense wat ’n langdurige sukses kan maak uit Afrikaanse musiek. Die eenvormigheid is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Die enigste oorspronklike band in die wêreld ooit is Nick Cave and the Bad Seeds. Die enigste kritiek wat ek het op kunstenaars wat in die populêre Huisgenoot-sloot swem (weer eens, ek het die grootste respek daarvoor), is hul plakkate. Jy kan regtig meer moeite doen met jou ontwerp, Heinz Winckler.

Gepraat van jongmusikantskap … julle het ’n magdom gigs agter die rug en ook ’n hele paar wat moontlik vir verrassings kon sorg, vir die gehoor en vir julle … Enige vreemde staaltjies uit die toere en optredes tot dusver? Enige plekke waarheen julle nie kan wag om terug te keer nie en, in die teendeel, eniges wat julle nie gou weer sal besoek nie?

Ons het onlangs op ’n toer by ’n Spur gaan eet in Bloemfontein (by the way, dis waar die Spur voortplant – daar is een op elke hoek in die Vrystaat). Albert was kwaad vir my oor iets en hy het dit baie duidelik gemaak. Hy’t my selfs probeer slaan. Moskou het toe opgestaan en teruggekom met al die kelnerinne saam met hom. Hulle het toe vir Albert ’n “Happy Birthday”-song gesing rondom ’n roomys met sparkler-stokkies op. Needless to say het Albert ons almal se p’s gevloek en amper nie die volgende gig gespeel nie. Ons is uit die Spur geskop, en sal nie weer terug kan gaan nie.

 Wat hou die nabye en verre toekoms vir Spoegwolf in?

World Domination.

Wat is die sin van die lewe?

Volgens Douglas Adams is dit 42, maar ek weet nie hoe goed hy dit nagevors het nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top