8 Mei. Verkiesingsdag. Die dag wanneer burgers hopelik in groot getalle opruk om hul demokratiese stemreg te gaan uitoefen.
79 dae vir partye om kiesers te oortuig om hul kruisie langs X- of Y-party se naam te trek. Dit gaan ʼn fel stryd wees, want almal dink hulle staan ʼn kans. Soos al die presidentskandidate in die Amerikaanse 2020-verkiesing. Dit gebeur net as die haaie bloed in die water ruik. Dat die regerende party post-Zuma nie anemies is nie, is ʼn wonderwerk. Net jammer niemand binne die party was dapper genoeg om dit te erken nie.
Solank as wat Zuma lewe en deelneem aan die politiek, gaan die ANC aanhou bloei.
Hemofilie is ʼn bloedsiekte waar die bloed nie ’n stollingsagent ontwikkel nie. Die meeste van ons aanvaar as vanselfsprekend dat wanneer ons ons stamp, daar ʼn blou kol gaan wees wat vir ʼn dag of twee seer is en na ʼn paar dae verdwyn. Jy vergeet daarvan. Dieselfde met ʼn oop wond. Jy skraap teen ʼn roosboom, of jy sny jou vinger raak. Dit mag dalk ’n bietjie bloei, maar na ʼn paar minute hou dit op en jy gaan aan met jou lewe.
Nie so vir ʼn hemofiel nie. Dit hou aan bloei. Daai blou kol, wat eintlik bloeding onder die veloppervlak is, word groter en swel op. Die skrapie kan veroorsaak dat jy doodbloei. Net mediese tussenkoms laat die bloeding ophou.
Zuma is die ANC se antistollingsagent.
79 dae is nie naastenby genoeg om ’n stollingsagent te ontwikkel nie, en die ander partye weet dit. Wat beteken ons kiesers kan ons regmaak vir ʼn gevry vir ons stem soos wat ons laas in Thabo Mbeki se tyd beleef het.
Dit het reeds begin, met DA-plakkate en advertensies wat kiesers aanmoedig om te registreer om te stem om korrupsie te keer. Selfs die President van die land sien die leier van die DA as net ʼn back-up singer. Many a truth being spoken in jest en al daai dinge.
Ons kan nou uitsien na politieke leiers wat kerk bywoon asof hulle ewige saligheid ʼn saak van groot erns is. Sommige kerke sal hulle selfs ʼn spreekbeurt van die preekstoel af gee.
Babas gaan gesoen word. Mense in plakkerskampe sal moet pose en glimlag met politici terwyl hulle die splinternuwe kombers en sakkie groceries uit die hoek van die oog dophou. Kentucky gaan goed besigheid doen. Nou is ʼn goeie tyd as jy aandele of ʼn franchise in die hande kan kry. Sorg net dat jy vooraf betaal word. Die party wat graag hoenderstukkies uitdeel, is berug vir hul kort geheue wanneer dit by betaling kom.
Die rooi-overall-brigade sal sekerlik fokus op universiteitstudente en hoërskole. Anders as hul compadre’s in geel-en-groen weet hulle ten minste van watter ouderdom dit appropriate is om sanitêre doekies te begin uitdeel. Wat gaan hulle doen? Hm, gratis data is dalk nie ʼn slegte idee nie. Of kos in hierdie dae van arm en honger studente.
Die opruiende toesprake is vanselfsprekend. Die een party wat die ander slegmaak, net om na die verkiesing in koalisie te gaan met daai symste party.
Elkeen probeer raai wat hulle moet doen om kiesers op kort termyn oor te haal. Beloftes van dienslewering is natuurlik altyd hoog op die lys. Daadwerklike lewering van die beloofde dienste not so much.
Hier van middel-April af sal die veldtogte in intensiteit toeneem. Van dan af is dit gevaarlik om nommers wat jy nie ken nie, op jou selfoon en landlyn te beantwoord. Of om jou deur oop te maak as iemand klop. Die bellers sal 99% van die tyd blou hempies wees wat wil weet of jy reg is om reg te stem. Die kloppers, wat soos Jehovahs twee-twee opdaag, sal waarskynlik in geel-en-groen aangetrek wees.
En dan is daar die sms’e van die blouhempies wat in die dae voor die verkiesing ernstig soos teistering begin voel. Waar kom hulle aan ons selfoonnommers?
Ek kan nie namens ander praat nie, maar ek is nie ʼn geregistreerde lid van enige party nie. Hulle kon nie op daai manier my kontakbesonderhede kry nie. Soms is dit nodig om by winkels en maatskappye jou nommer te gee. Hierdie besighede is regtens verplig om jou met die keuse te laat of jy toestem dat hulle jou inligting in derdepartykommunikasie mag gebruik – met ander woorde, wil jy gespam word. Ek opt out in die reël. Die enigste plek waar my kontakinligting beskikbaar is sonder dat ek die keuse gegun word om te opt out, is by staatsdepartemente. Ek twyfel of hulle my inligting op wettige wyse daar kon verkry het. Wat bly oor? Die oorkoop van data van besighede wat goed weet hul klante dink hul inligting is veilig en vertroulik.
Hierdie jaar gaan ek aandring daarop dat die persoon wat my bel, hulle volle besonderhede gee sodat ek kriminele klagtes teen hulle kan gaan lê vir teistering, inbraak op my privaatheid en menswaardigheid. Ek wil weet waar hulle my inligting kry.
Vir die fake Jehovah-paartjies gaan ek gewoon nie my deur oopmaak nie. Laas keer het ek die fout gemaak om hulle te laat inkom, en geweier om te sê vir wie ek gaan stem. Die volgende dag het hulle met nog twee teruggekom. Dalk was die doel om my te intimideer, wie weet. Al waarin hulle geslaag het, was om my skuins-teen-die-grond boos te kry.
Maar wat van ander wat regtig intimideer word, en wat dan uit vrees vir ʼn party stem?
My adres is skynbaar verkeerd, want ek word nooit kospakkies en gebraaide hoender aangebied nie. As hulle dit wel sou aanbied, sou ek dit vat en saam eet en steeds stem vir wie ek wil. After all, my belastinggeld betaal seker in elk geval daarvoor.
My advies? As jy enigiets aangebied word, vat dit. Geniet dit. Gebruik dit. Stem met jou gewete en nie uit skuldgevoelens omdat jy iets ontvang het nie. Dis nie verniet nie. Dis nooit verniet nie. Jy sal vier jaar lank betaal aan daai stukkie hoender.
Sorg net dat jy stem op ʼn manier wat verseker dat daar stollingsagent in ons land se bloedstelsel is. Dis
Kommentaar
Ja verkiesingtyd sorg vir baie humor. Het eendag gesien hoe 'n DA-vrou elke stemwerwer van die township 'n T-hemp gee en toe vir 'n nagedagte ‘n appel in die hand stop.
Geagte Bettina,
Verduidelik asseblief vir ou kleine beskeie Krimpvarkietjie en lesers in eenvoudige eenduidige Afrikaans presies wat verstaan jy onder "demokrasie en "demokratiese stem"?
Mag ek voorstel dat jou volgende artikel se titel lui: "Wat is ware 'demokrasie' en wat is die betekenis van 'n 'demokratiese stem' sonder bymotiewe?"
Groetnis.
Ek lag tog te lekker vir Bettina se wonderlik sin vir ironiese humor!