Spesmagte tops in Andy McNab se The hunt, ’n lesersindruk

  • 0

Titel: The hunt
Skrywer: Andy McNab
Uitgewer: Welbeck
ISBN: 9781802793499

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Resensies oor die voormalige Bravo Two Zero-held Andy McNab se boeke is eintlik oorbodig, aangesien sy naam homself verkoop. Hy – en later sy mede-SAS-operateur Chris Ryan (The One That Got Away: My SAS Mission Behind Enemy Lines) – het immers in die laat-90’s die formule vir fiksieboeke oor spesialemagte geformuleer.

Tussen sy meer as vyftig boeke het McNab ’n hele paar suksesvolle reekse neergepen, met Nick Stone as my groot gunsteling. Hierdie nuwe reeks is ’n heerlike toevoeging, aangesien ek altyd meer van die 62-jarige skrywer se ware verhale, soos Immediate Action en Seven Troop, gehou het.

Die reeks, wat met The hunt afskop, handel oor ware spesialemagteoperasies. En alhoewel hy in die boek spesifiek op die SBS (Special Boat Service) se operateurs fokus, kleur McNab die volledige prentjie in van wat alles agter die skerms gebeur.

Die SBS word getaak om die Taliban warlord Mullah Dadullah te vang. Dadullah was een van die mees gevreesde mense in die wêreld en hoog op die gesoekte lys.

Die skrywer is nie net ’n vertroueling in spesialemagkringe nie, maar ook die hoogste gedekoreerde soldaat in die Britse mag. Sy skryftalent, dieptekennis en toegang tot inligting wat nêrens anders beskikbaar is nie, maak die boek ’n wenner.

Daar is heelwat boeke oor top skerpskutters, waarvan die Navy SEAL-skerpskutter Chris Kyle (American Sniper: The Autobiography of the Most Lethal Sniper in U.S. Military History) en Marine Sniper Sgt Jack Coughlin (Shooter: The Autobiography of the Top-Ranked Marine Sniper) sekerlik die bekendste is. Daar is egter min boeke oor operasies gedurende die oorlog teen terrorisme uit die spesialemagte se oogpunt.

Liefhebbers van recce-boeke, oorsese spesialemagte en ware oorlogverhale sal hierdie nuutste skepping van McNab vreeslik geniet.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top