Onderhoud oor die South African Book Fair: Deborah Steinmair gesels met Naomi Meyer oor 'n gesprek waaraan sy by dié fees deelneem – oor vroueskrywers wat grense verskuif.
Hallo Deborah, op die South African Book Fair se program word daar geskryf dat jy en jou mede-aanbieders jul genre se grense toets sonder om jul lesers te vervreem. Vertel my net eers gou: as jy 'n genre moet kies waarbinne jy skryf – jy mag dit baie wyd interpreteer, dié genre – watter genre sou jy sê is die een waarin jy die meeste skryf? En hoekom kies jy hierdie genre(s) as jy skryf?
Ek reken ek is tussen die boom en die bas. Ek het gemik na misdaadfiksie, maar slaag nie daarin om binne die konvensies van die genre te bly nie, daarom vervreem ek die gewone misdaadleser van meet af aan. Fantasie en die paranormale is nie welkom daar nie. Ook nie dwerge, Sjinese, heldersiende Amasones en wit toordokters nie. Ek is baie gevlei deur die uitnodiging om by die Boekebeurs te praat en die omskrywing "sonder om jul lesers te vervreem". Hmmm. Ek het dan waarskynlik wel 'n handjievol lesers wat nie so eng ag slaan op die voorskrifte nie. Ek troos my dat Lauren Beukes oor makabere reeksmoorde skryf terwyl daar tydreisigers betrokke is. Ek en Lauren, ahem. My genre is spanning met 'n skeppie transendentale telepatie. Ek het misdaad gekies omdat die genre baie lesers het. Die res het my gekies.
Die klem van julle item val kennelik op genres waarin vroue koningin kraai. Die ander aspek van die verpakking interesseer my ook: grense wat verskuif word. Watter grense is nodig om te toets, en dink jy dit moet doelbewus gebeur, of dalk eerder as die skrywer oor die karakters/storie struikel?
'n Mens struikel sekerlik soms as jy oor hindernisse beur en grense verskuif. Ek is geneties geprogrammeer om grense en versperrings te toets. Ek kan nie anders as om oor vroue te skryf nie. Enigiets anders is hoorsê. Daar is baie grense en plafonne wat strem, maar ek het nie eerstehandse kennis van rassisme nie. Selfs Jeanne Goosen, wat deel van die struggle was, het gereken 'n mens kan nie deur 'n ander se smart wals ter wille van politieke geloofwaardigheid nie. Van seksisme het ek eerstehandse kennis en het nog altyd daarteen geskop, selfs toe ek baie klein was en my ma my probeer leer het “die seuntjies sal baie meer van jou as jy hulle laat wen”. Ek probeer dit nie doelbewus nie – die sterk vroue klop by my aan en vertel self die storie.
Oor die aspek van lesers wat vervreem kan word – laat ek eerder vra: Hoe word lesers gebore? Is elke skrywer nie dalk sy eie ideale leser nie en is dit moontlik om 'n leser te vervreem as die skrywer iets eerliks en outentieks waag, ook al daag dit die res van die mensdom uit?
Ek dink nie skrywers kan lesers vervreem met hul boeke nie: sekere lesers is outomaties vervreem van jou lewensiening en sal jou boek nooit optel nie, of indien wel, na 'n halfminuut laat terugval op die rak. 'n Mens skryf seker maar vir jouself en vir jou eie stam, waar hulle ook al is. As 'n mens so bedraad is, wil jy uitdaag, jy wil vensters in mense se koppe laat oopwaai, jy wil lesers se harte breek, hul lewens ruïneer en hul maandstondes twee weke te vroeg laat opdaag. Hoekom anders wil 'n mens skryf? Daar is nie geld in nie.
Het jy al die program van vanjaar se South African Book Fair onder oë gehad en watter ander geleenthede stel jy belang om by te woon?
Beslis Lauren Beukes wat haar Wonder Woman-strip lees. En Finuala Dowling se poetry masterclass. Dan ook Science Fiction, Fantasy and Horror, waarby Beukes ook betrokke is. Want ek wil van genre verander. En vele meer.
Laai die program van die South African Book Fair hier af.


