Onderhoud oor die South African Book Fair: Bernette Bergenthuin gesels met Naomi Meyer oor 'n gesprek waaraan sy by dié fees deelneem – oor vroueskrywers wat grense verskuif.
Hallo Bernette, op die South African Book Fair se program word daar geskryf dat jy en jou mede-aanbieders jul genre se grense toets sonder om jul lesers te vervreem. Vertel my net eers gou: as jy 'n genre moet kies waarbinne jy skryf – jy mag dit baie wyd interpreteer, dié genre – watter genre sou jy sê is die een waarin jy die meeste skryf? En hoekom kies jy hierdie genre(s) as jy skryf?
Naomi, ek skryf “chicklit", maar in Suid Afrika verwys uitgewers eerder daarna as romantiese komedie. Ek dink laasgenoemde term is te eng om die genre te beskryf aangesien die kenmerke ‘n moderne jong vrou wat haarself beter leer ken en die krisisse van die tyd oplos met bystand van die held insluit; komedie is nie die hoofkenmerk nie. Dit beweeg weg van die idee van ‘n held as "redder" en bevat oomblikke van introspeksie, aweregse kommentaar op kwessies van die oomblik en ook humor. Die genre kom vir my baie natuurlik en ek geniet dit net soveel om in hierdie genre te skep as om self met so ‘n boek te ontspan.
Die klem van julle item val kennelik op genres waarin vroue koningin kraai. Die ander aspek van die verpakking interesseer my ook: grense wat verskuif word. Watter grense is nodig om te toets, en dink jy dit moet doelbewus gebeur, of dalk eerder as die skrywer oor die karakters/storie struikel?
Boeke, veral populêre fiksie, moet saam met die samelewing ontwikkel en groei. Sodra populêre fiksie nie van toepassing is op die huidige samelewing nie, verloor dit sy trekkrag. Ons lewe in ‘n tyd waar vroue se rol in die samelewing meer erkenning ontvang as ooit tevore. Ongelukkig is een van die gevolge dat tradisionele rolle en behoeftes van vrouens soms tweede kom, al is ons nog ma's, bemindes en ... vrou. Dit is heerlik om vir lesers oplossings te bied deur boeke tussen die konflik wat die samelewing tans beleef rakende die "moderne" en die "tradisionele". Ek beskou dit as grensverskuiwend, want die suggestie is daar dat ‘n vrou steeds haar basiese behoeftes as vrou mag hê terwyl sy ook ander behoeftes soos beroepsvervulling, wanderlust en dies meer najaag.
Oor die aspek van lesers wat vervreem kan word – laat ek eerder vra: Hoe word lesers gebore? Is elke skrywer nie dalk sy eie ideale leser nie en is dit moontlik om 'n leser te vervreem as die skrywer iets eerliks en outentieks waag, ook al daag dit die res van die mensdom uit?
Realisties gesproke is ‘n boek wat gekenmerk word deur ‘n spesifieke genre, ‘n produk, byvoorbeeld ‘n sjokolade wat in ‘n bekende omhulsel verkoop word. Die genre skep reeds ‘n verwagting by die leser en die skrywer het ‘n plig om hierdie behoefte te vervul. Die wyse waarop die skrywer dit gaan doen, is egter sy of haar keuse en dit is waar kreatiwiteit en uniekheid inkom. As jy ‘n spesifieke boodskap aan jou lesers wil oordra wat dalk nie streng gesproke van die genre verwag word nie, moet dit reg verkoop word aan die leser wat voorveronderstel dat dit raakpunte met die oorhoofse tema behou. As jy dalk jou hoofkarakter in ‘n roman ‘n vrou met ‘n eksminnaarslys so lank soos haar voorarm wil maak, is dit belangrik om die hoofkarakter tot die besef te bring dat die sekuriteit en intimiteit van haar verhouding met die held baie beter is as haar vorige, informele benadering.
Het jy al die program van vanjaar se South African Book Fair onder oë gehad en watter ander geleenthede stel jy belang om by te woon?
Ek sien sommer uit na alles!
Laai die program van die South African Book Fair hier af.


