The Sound of Music by die Kunstekaapteater: ’n teaterresensie

  • 1

Richard Rodgers en Oscar Hammerstein II
The Sound of Music
Regie: Jeremy Sams. Assistent: Frank Thompson.
Regie: musiek: Kevin Kraak.
Orkestrasies: Robert Russell Bennett.
Verwerker, danse en sang: Trude Rittmann.
Choreografie: Arlene Phillips. Assistent: Jonny Bowles.
Beligting: Mark Henderson.
Klank: Mick Potter.
Stel- en kostuumontwerp: Robert Jones.
’n Andrew Lloyd Webber-produksie, aangebied deur Pieter Toerien in samewerking met David Ian en The Really Useful Group.
Kaapse speelvak tot op 27 Mei 2018


’n Mens beleef iets heel besonders.

Elke faset van dié geliefde musiekspel word heerlik bevredigend en afgerond aangebied. Jy luister en die liedere en skouspel laat jou letterlik jou kop oplig omdat jy iets verheffends ervaar.

Jy verkyk jou aan die stel, die kostuums en die kleurespel met die beligting. Dit is opvallend dat die toneelspel van dieselfde hoë gehalte is as die sang, en as die orkeswerk onder leiding van Kevin Kraak.

Daar is ’n energieke voortstuwing in die handeling. Die tempo word volgehou met ’n natuurlike tydsberekening. In die openingstoneel met die abdysusters wat statig uitstap verby ons in die ouditorium het ek gedink: dié toneel verg tydsberekening. Hulle moet bybly by die musiek, kan nie te laat wees vir ’n volgende handeling nie. In die spraakgedeeltes pouseer ’n karakter byvoorbeeld net voor ’n spitsvondigheid en ontstaan daar humor. Jonathan Taylor as die ou kultuurbeampte Max Detweiler vaar baie goed daarmee. Sy selfingenomenheid raak daarmee baie snaaks.

Die sewe Von Trapp-kinders dra baie by tot die genieting van die aanbieding. Slegs Liesl die oudste word in al die opvoerings deur een persoon vertolk: Zoe Beavon. Die ander word almal deur drie kinders gespeel[1]. Dis seker te moeilik om met elke vertoning aan te toon wie optree. Dis boeiend om te sien hoe hulle tog as karakters van mekaar verskil en dit met liggaamstaal of stemtoon oordra.

’n Baie jonge dame het langs my gesit. Sy is seker nog net so vier jaar hier op die aarde. Ek het haar in my kop Princess gedoop. Ek het haar my deftige program laat deurblaai. Sy het dit met belangstelling gedoen. ’n Toneel tussen Max en barones Schraeder (Haylea Heyns) vind ek eintlik nie uitsonderlik dramaties nie. Ek kyk af na Princess. Grootogig staar sy na die twee grootmense. My houding verander. En toe is daar die toneel wat Princess uiters realisties vind. Sy identifiseer haar volkome met die maats op die verhoog. Die kinders is saam met Maria (Carmen Pretorius) wanneer ’n donderstorm werklik baie luid losbars. Hulle vind beskerming by Maria; Princess kruip weg onder Moeder se arm.

Carmen Pretorius se vertolking as Maria is geskakeerd. Daar is van die begin af ’n volwassenheid en innerlike sterkte by haar. Haar “moeilik wees”, haar andersheid word nie oordryf nie. Haar mensekennis kom na vore in haar verhouding met die kinders.

Iets wonderliks was hoe ’n mens die so bekende lirieke skielik binne konteks geplaas kry. Andre Schwartz beïndruk met sy toneelspel as die kaptein wat sy kinders militaristies beheer en deur Maria nader aan hulle kom. Dit is veral in die tweede helfte dat die bedreiging van die Nazi’s op hulle in Oostenryk al hoe bedriegliker word. Wanneer hy “Edelweiss” sing tydens die “musiekkompetisie”, dring dit tot ’n mens deur dat die blom so ’n simbool is van alles wat vir hom en almal in sy villa goed is in hulle vaderland, dit waarvandaan hulle moet vlug. Meteens raak ek ontsteld: wanneer kan ons, ek en my mense, nie ook uitgedelg raak nie? En dink aan volke wat elders ondergaan?

’n Tweede keer die afgelope ruk kry ek te doen met tekste wat ons wel kan inspireer as dit nag word in ons lewens, sombertes kan verminder, regte besluite kan laat neem.

In Charles Fryer se pas gepubliseerde Passiespel, Só moes die Liefde ly, bid hy in die tyd dat “die nag om ons vou”:

Koud is die wêreld sonder die Lig.
Kom terug na ons toe, o Heer.

En hier bemoedig die moederowerste in die abdy vir Maria met “Climb ev’ry mountain”. Janelle Visagie laat die lied styg en styg. Haar vertolking word een van die hoogtepunte in die musiekspel, selfs dié hoogtepunt. ’n Mens eien ná al die jare die inhoud vir jou persoonlik toe. Ook wanneer dit tydens die vlug oor die berge gesing word.

A dream that will need
All the love you can give,
Every day of your life
For as long as you live.

[1] Friedrich: Jamie McNally; Max van Rooyen; Daniel Wolson. Louisa: Emma-Rose Blacher; Mia Dippenaar; Jemma Thomson. Kurt: Jack Fokkens; James Grieve; Kai Scott. Brigitta: Lulu Berström; Lilla Fleischmann; Lia Sachs. Marta: Sarah Cobley; Eve Cohen; Shani Sachs. Gretl: Mia-Cecilia Kriel; Grethe Marren; Lara Smit.    

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top