Soos pynappel op pizza is net reg vir Valentynsdag

  • 0

Soos pynappel op pizza
Regie en draaiboek: Morné Strydom
Met: Schalk Bezuidenhout as Waldo, Kate Pinchuck as Becca
Beskikbaar op Showmax

Almal, maar álmal, weet mos pynappel hoort nie op pizza nie. Tog, wie het nog nie pynappel op pizza geëet nie? Daar is die hele storie van hierdie aweregse film, reg vir jou om op Showmax te geniet.

Soos pynappel op pizza is anders, daarom is dit lekker.

Kyk boonop na die twee akteurs in die hoofrolle: Schalk Bezuidenhout is ’n goeie akteur, maar hy is nie jou tipiese romantiese held met ’n sixpack en ’n sterk kakebeen nie. Ditto met Kate Pinchuck – die meisiekind se bossiekop wip die wêreld vol bo haar gladde Engelse mond. Sy is opvreetbaar, maar beslis nie ’n poppie nie.

Beide Bezuidenhout en Pinchuck is boonop bekend as komediante – die kom in romkom is dus gedek. Maar wat van die rom?

Wel. Dit ís ’n romkom, so hierdie twee totaal uiteenlope karakters kom wel bymekaar uit. Natúúrlik. Anders sou daar nie ’n pizza – ek bedoel ’n film – gewees het nie. 

Twee sjefs wat nie glo in liefde nie

Becca is ’n Instagram-kok met 150 000 volgelinge. Sy het geen formele opleiding nie, beslis ook nie as sjef nie. Haar kleinboet som haar op as die plaaslike “drive-through” vir ’n McQuicky. En nee, ons praat nie van kos nie. Dis bedsake dié. Katelkotteljons, vinnig en weg, wie’s volgende?

Waldo is ’n sjef met uitstekende opleiding én ondervinding. Hy glo in die liefde; hy slaap nie by iemand met wie hy nie reeds ’n baie diep verbintenis het nie. Punt. Hy het ’n jaar gelede die liefde van sy lewe ontmoet, maar ongelukkig verneuk sy hom toe met ’n ander man. Waldo woon dus aan die begin van die film by sy ouers, omdat hy gewoon nie kans sien vir die regte lewe ná sy liefdesteleurstelling nie.

Wanneer Becca se kleinboet en dié se oulike, Afrikaanssprekende, boyfriend aan die een kant, en Waldo se ouers aan die ander kant, hulle dwing om ’n video te maak wat verduidelik waarom hulle deel moet word van ’n spirituele oord om liefde te vind, vra albei die organiseerders van die oord om hulle nie te kies nie, wat natuurlik maak dat die twee op dieselfde dag opdaag.

Die oord van die liefde

Ek sou in alle eerlikheid ’n scene uit Sewe dae by die Silbersteins kies bo hierdie verspotte plek, maar dis juis deel van die sjarme van die film. Niks is veronderstel om te werk nie, daarom werk dit.

Beide Waldo en Becca sê vooraf die plek klink soos ’n kultus. Ek kon egter nie uitwerk of dit bloot ’n studentikose ontgroeningskamp probeer wees nie, maar helaas. Al wat die kamp veronderstel was om te doen, was om mense wat mekaar nie ken nie, aan mekaar voor te stel. Wat natuurlik werk.

Ons is deesdae ook só gewoond aan sogenaamde realiteitstelevisie waar die deelnemers alles wat sotlik is moet doen sonder om enigsins realisties te probeer wees, en dis presies die resep wat hierdie oord volg. Dalk is mense al genoeg geïndoktrineer om die snert aan te vang wat hier aan hulle toegedeel is. Dalk. Maar onthou ook: Niks in hierdie film is veronderstel om te werk nie.

En juis daarom werk dit.

Daar is gelukkig stil oomblikke tussen die sotlike opdragte. Dan kom die karakters tot hul reg. Die deelnemers begin daarin slaag om met mekaar te gesels, dan kom die menslikheid van vore.

Natuurlik begin die twee sjefs ook met mekaar gesels, en dis waarvoor die film op Valentynsdag begin draai.

Dis pret

Danksy die twee komediante in die hoofrolle is daar die hele tyd iets om oor te lag. Selfs die simpel goed wat die deelnemers op die liefdeskamp moet doen, word snaaks.

En dan, wanneer hulle mekaar leer ken, wel, dan mag ’n mens mos maar ’n traantjie wegpink en sê: “Awwww ...”

Kyk dit gerus

Ek eet pynappel op pizza net as ander dit maak. Selfs sal ek dit nooit doen nie.

Soos pynappel op pizza is ook die soort film wat ek nie van nature sou uitsoek nie. Maar, wel, dit is Valentynsdag, en Showmax het dit gekies, so ek het dit gekyk.

Ek is bly ek het.

Ek moet ook dalk sê: Die film is nooit skunnig nie; daar is ook nie vreeslik gewaagde tonele in nie; en die paar stoutighede voel soos ’n ligte sprinkeling van rissiepoeier – net genoeg om te weet dis daar, nie so erg dat dit my skoonpa sou laat stik nie.

Soos pynappel op pizza is nie my gewone filmmaaltyd nie, maar teen die einde was ek genoeglik. Dit was eintlik net soos ’n pizza met pynappel op. Dit laat jou goed voel, dit laat jou baie versadig en effens verbaas dat dit regtig lekker was.

  • Akteurfoto’s deur Showmax, pizza deur denithy van Pixabay

Lees ook:

Persverklaring: Spaar met Suidoosterfees se Valentynsweek-promosie

Eksie perfeksie is ’n speelse ondersoek na sigself én ’n hele genre

Happy ending deur Joosje Duk: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top