Titel: Sons of mud
Skrywer: Johan Vlok Louw
ISBN: 9781415210635
Uitgewer: Umuzi
Trailblazer-reeks: Titel 5
...
Wees ook bedag daarop dat die Engelse Bybels heelwat meer verwysings na modder bevat as die Afrikaanse Bybel. Die rede is dat die woord vir modder in die Hebreeuse geskrifte beide “modder” en “klei” kan beteken. Ons Afrikaanse vertalers was maar alte versigtig vir vuil woorde; hulle het altyd die “skoner” opsie gekies.
...
Kan ons nog op vars, nuwe maniere kyk om die gekheid van diensplig te verstaan? Die antwoord skyn “ja” te wees. Die korpus grensliteratuur groei steeds, soos die hoop lyke wat deur die apartheidregime se oorlogspeletjies veroorsaak is.
Sons of mud is fiksie. Dit is slim, vars en anders, maar neem asseblief hierdie snellerwaarskuwing ernstig op: Dié boek kán posttraumatiese stres in sommige mense weer deeglik laat opvlam.
Dit is wel ’n boek wat by uitstek deur leeskringe behandel kan word, juis omdat daar so baie besprekingsmoontlikhede is. Wat hier volg, verklap nie die storie nie, maar verskaf hopelik genoeg aanduiders om die boek se baie slim struktuur tydens ’n gesprek te bespreek.
’n Klein bietjie agtergrond
Om hierdie roman te verstaan, is dit nodig om iets van die apartheidweermag se “opleidingsmetodes” te weet en breedweg daardie metodes te jukstaponeer met eenhede wat met die hand gekeur is vir spesialiswerk.
Die tipiese apartheidtroep se eerste klompie maande het bestaan uit uitmergelende emosionele en fisieke trauma. Die idee agter hierdie sogenaamde opleiding was om troepe te breek tot op die punt waar hulle doodsveragtend die vyand sou aanval, want hulle het geweet niks wat die vyand aan hulle sou kón doen, erger sou wees as wat hulle eie mense aan hulle sál doen nie.
In hierdie nasionaal-sosialistiese droom is daar nie individue nie, net leë koppe en fikse lywe wat, sonder om te dink, bevele sou uitvoer.
Dit was erg, baie erg. Maar sommige van ons was intelligent genoeg om die onnosel mense wat oor ons geheers het, te begin verstaan en selfs subtiel te kon begin manipuleer. Soos ’n skaakspeler kon ons hulle gekhede voorspel en onsself in ’n mate voorberei op die volgende sotheid wat sou kom.
Maar wat maak jy met iemand op die outismespektrum, iemand wat nie die wêreld goed genoeg kon verstaan om die patrone raak te sien nie? Hulle is dikwels dood aan hul eie hand, of is verwyder.
Genoeg hiervan.
Spesmagte, weer, keur hul mense met die hand. Opleiding is altyd straf, maar die lede is vrywilligers wat die stelsel verstaan en wat kan voortbeur. Lees gerus wat die oudrecce’s daaroor geskryf het, of praat maar met mense uit die elite eenhede van die polisie. (Snaaks hoe min daar oor hulle geskryf word.)
Van belang vir hierdie bespreking is ook dat die polisie se “kill rate” aan die grens, soos ons in goeie Afrikaans daarna verwys het, tien keer hoër was per lid as die weermag s’n.
Ek gaan hierdie afdeling afsluit deur te sê dat Jan Breytenbach, die man wat grootliks verantwoordelik was vir die ontstaan van elite magte in die weermag, bekend was as iemand wat nie van militaristiese gesag gehou het nie. Hy is ook een van die min militêre grootkoppe wat steeds enorme steun geniet onder mense wat hom as bevelvoerder geken het.
Terug na Sons of mud
Andrew Howard-Smythe is ’n intelligente daggakop uit Durban. Engels. Hy word ingedeel in ’n peloton saam met Riejkardt Jurgens, ’n enorme man wat lyk soos Gerrie Coetzee. Jurgens is baie Afrikaans, die droom van die Ariese ras.
Jurgens is ook op die outismespektrum.
Die twee oorleef die eerste deel van hul basiese opleiding. Howard-Smythe se emosionele intelligensie help Jurgens om homself te beteuel.
Dan skuif die troepe na hulle volgende fase van opleiding, na die skietbaan, waar hulle leer hoe om onder haglike omstandighede in die veld te oorleef. Dit is ook hier waar die instrukteurs seker maak dat die troepe finaal gebreek sál word.
Dit word als baie akkuraat beskryf.
Jurgens ontplof en drie korporaals beland in die hospitaal.
Op hierdie punt verander die boek heeltemal.
Ons leer ’n kolonel ken wat gevra word om die Jurgens-probleem op te los.
Die res van die boek is meer soos ’n spioenasieverhaal, want die kolonel is, wel, dié kolonel ...
Lees maar self.
Die titel
Net voor Jurgens die drie korporaals dôner, word die troepe besoek deur ’n kapelaan met die van Verwoerd. Dié besoek is ook akkuraat beskryf – dit het so gebeur.
Johan Vlok Louw maak hier egter ’n belangrike deur oop na die tweede deel van die boek. Die kapelaan verwys na die troepe as “sons of mud”.
Leeskringe wat dié roman bestudeer, moet fyn op hierdie hoofstuk (deel 1, hoofstuk 8) konsentreer. Dit is die spilpunt van die roman.
Die troepe is vuil – hulle het in weke nie gestort nie. Hulle is moeg, boonop honger ook.
Dis na hierdie vuil troepe dat die kapelaan verwys as “seuns van modder” in sy voorbereide preek. Die wind skep egter sy preek en hy moet ad lib.
Kort daarna, terwyl hy en diegene met rang weglê aan heerlike kos, word die troepe die geleentheid gegee om te “stort” danksy ’n watertenker wat ingery is.
Dit word egter gou duidelik dat self dié gebaar eintlik ook maar deel is van die vernedering wat hulle moet ervaar. Hoewel die troepe tydelik van sommige van die modder op hulle lywe ontslae raak, is die water te sterk om mee te was – dit maak hulle seer, en hulle voete bly vol modder danksy die pappery wat die tenker veroorsaak.
Die luitenant vra dan vir die kapelaan om sy verwysing na modder te verduidelik, maar die kapelaan eet voort sonder om ’n antwoord te gee.
Die kolonel, wat in die volgende afdeling (deel 2, hoofstuk 1) ingeroep word, tel dae later die kapelaan se voorbereide preek in die veld op. Dit tref hom diep.
Modder as simbool – ook in die Bybel
Ons weet nie wat die kapelaan gesê het nie; ook weet ons nie watter teksvers hy gebruik het nie.
Die roman maak dit egter duidelik dat ons in die Bybel moet gaan soek vir antwoorde.
Leeskringe sou kon gaan lees waar modder oral in die Bybel voorkom, maar die gereelde verwysing na die Joodse seuns wat laaste kos kry, moet ook die leser waarsku dat die Ou Testament se wette belangrik is.
Wees ook bedag daarop dat die Engelse Bybels heelwat meer verwysings na modder bevat as die Afrikaanse Bybel. Die rede is dat die woord vir modder in die Hebreeuse geskrifte beide “modder” en “klei” kan beteken. Ons Afrikaanse vertalers was maar alte versigtig vir vuil woorde; hulle het altyd die “skoner” opsie gekies.
Leeskringe sou dalk konkordansies in albei tale wou raadpleeg en dalk selfs die verskillende vertalings met mekaar vergelyk.
Ek kan vlugtig noem dat Johannes 9 belangrik is. In die Afrikaanse Bybel staan daar dat Jesus klei op die oë van ’n blinde gesit en hom aangesê het om dit te gaan afwas sodat hy sou kon sien. In talle Engelse vertalings staan daar mud en nie clay nie.
Johannes 9 gee vir ons twee belangrike gesprekspunte:
- Modder, of klei, is vuil en moet afgewas word vir die persoon om te kan sien (insig te bring / genesing te bring).
- Die Fariseërs is kwaad vir Jesus omdat hy die man op die Sabbat genees. Jesus oortree dus die Ou Testament se wette om die man te help, om hom te laat sien.
In van die Engelse vertalings word daar in Esegiël 16, die Ou Testament dus, gesê dat ’n owerspelige vrou haar naam deur die modder sleep. Die Afrikaanse vertalings hanteer dit anders. Ons spring na Johannes 8, waar Jesus ingeroep word toe ’n owerspelige vrou op heterdaad betrap word. “Moet sy gestenig word?” vra hulle vir Jesus.
Jesus buk dan en skryf in die grond, waarna hy die bekende woorde uiter: “Die een sonder sonde mag die eerste klip gooi.”
Let weer op dat Jesus grond (stof, modder, hoe dit ook al vertaal word) gebruik wanneer hy die Ou Testamentiese reëls oortree. Deur in die grond te skryf, van waar die klippe sou kom, maak Jesus subtiel die manne daarop attent dat hulle voete ook maar vuil is.
Modder, stof, ook dan klei in die skoner Afrikaans, is iets wat afgewas moet word, iets wat jy nie kan doen as jy in ’n stofpad staan nie. Dít leer die troepe in Sons of mud – jy kan ook verneder word, afgebreek word met water, en jou voete sal vuil bly as jy daardie water oor jouself gooi in ’n stofpad.
Daar is verskeie ander verwysings na modder in die Bybel; dikwels as ’n negatiewe plek van waar mense gered moet word.
’n Terloopsheid sou ook wees Jesaja 10:6, waar God se woede oor ’n “godlose nasie” uitgespreek word. Dié nasie word gewaarsku dat hulle “soos modder” vertrap sal word. In die King James-vertaling staan daar nie “godless nation” nie, maar wel “an hypocritical nation”. Vra maar enige troep wat ooit in die Suid-Afrikaanse Weermag was of “an hypocritical nation” dalk vaagweg mag resoneer – veral as dit by Sondagparades gekom het. (In Miga 7 is daar ’n soortgelyke waarskuwing.)
Gegewe modder en water en voete wat vuil bly, is een teksgedeelte, Ou Testamenties, dalk nogal belangrik. Ek haal Jesaja 57 verse 20 en 21 aan, dié keer uit die New International Version (NIV).
20 But the wicked are like the tossing sea,
which cannot rest,
whose waves cast up mire and mud.
21 “There is no peace,” says my God, “for the wicked.”
Die Sondaggesprek oor modder, dan die uitbarsting en dan die kolonel
Die troepe word blootgestel aan die dominee wat hulle seuns van modder noem, dan word hulle verneder met die water wat hulle nie skoon maak nie, wat hulle voete van klei gee.
Kort hierna verpletter die reus drie van die korporaals.
Nou raak die boek éintlik interessant, want hier beweeg die spoke in.
’n Man met mag
Die boek bestaan uit drie dele.
- 1 Protectors of the realm. (Bespreek maar self watter “realm” dit is en wie nou eintlik vir wie beskerm, of nie.)
- 2 The skeleton keeper.
- 3 A boy of some importance.
Ek gaan nie die storie verklap nie, maar ’n sekere kolonel word gebel om die gemors op te ruim nadat die jong, outistiese reus die drie korporaals hospitaal toe gestuur het.
Van belang is die volgende:
- Hierdie kolonel kry sy opdragte van bo, heel bo.
- Die “oom” wat die opdragte gee, het mag.
- Dié kolonel weet meer van oorlogvoering as al die dom weermaginstrukteurs saam, en hy verpes duidelik die onnosel knolle wat die troepe so probeer afbreek.
Lees maar self. Die kolonel het baie mag; die man het charisma. Hy het ook genoeg geld en invloed om dinge te laat gebeur.
Wie is die kolonel?
Leeskringe moet die beskrywing van die kolonel se bril en sy oë dophou. Ook die kuif.
Nota bene, Sons of mud is fiksie, en van groot belang is dat die kolonel nooit ’n naam of van kry nie. Hy bly anoniem; hy is immers ’n spook. Hy is bloot “the skeleton keeper”.
Tog, as ’n mens iets van Eugene de Kock weet, besef die leser op wie hierdie kolonel geskoei is. Dit is nie De Kock hierdie nie, dit is wel ’n karakter wat duidelik op De Kock geskoei is.
Van belang, vir leeskringe, is:
- De Kock was, net soos hierdie fiktiewe kolonel, as polisieman ’n uitstekende soldaat aan die grens – ver meer effektief as die arme troepe wat die weermag se “opleiding” ondergaan het.
- Ek het Stefaans Coetzee, ‘n goeie vriend van die ware De Kock, genader. Hy het bevestig: Soos die fiktiewe kolonel was De Kock getroud en daar is twee seuns uit daardie huwelik gebore.
- Derdens is daar ’n Wiki-inskrywing oor die ware De Kock wie se pa skynbaar hegte vriende met John Vorster was. Ek pes die Wikipedia, want dit is dikwels verkeerd, maar Coetzee het bevestig dat daardie deel van die inskrywing inderdaad korrek is.
Ek moet egter op hierdie punt nog eens beklemtoon: Die karakters in die boek is fiktief.
Let op die voortdurende gebruik van onomatopee in die boek:
- Keh-clank, keh-clonk (bl 16)
- Tsheeeee! (bl 17)
- Whaa-ha-haa (bl 18
- Tsweeck-tsweeck-tsweeck (bl 27), ens.
Waarom? Ek het dit steurend gevind, maar die effek is baie soos die boing-boing-boing-klanke wat ’n mense in ’n tekenprent hoor. Is dit die outeur se manier om ons daaraan te herinner ons lees fiksie?
Waarom ’n De Kock-agtige figuur insleep?
Dink ’n bietjie aan James Bond. Hy is ’n mooi man en danksy Q is sy speelgoed indrukwekkend. Hy het carte blanche om die mensdom te red, hy drink tussendeur Martini en gryp ’n meisie of twee ... Is daar regtig sulke mense?
Of dink aan Bettina Wyngaard se Nicky de Wee. Klein en hardegat, maar, veral dan in die nuutste boek, ook ryk genoeg om enige iets te koop, en sy word beskerm uit die president se kantoor. Nicky is een van my heel gunstelingspeurders, maar kom ons wees eerlik: Sy is nie realisties nie.
Peet Venter se Thys Krige was ook so ’n kalant: ryk en dinamies en sterk en, hoewel heerlik om te lees, nie realisties nie.
Dus: Is die kolonel in Sons of mud realisties? Klink hy te goed om waar te wees?
Wel, oukei: Is die ware Eugene de Kock enigsins realisties? Sou iemand ’n boek oor sy lewe glo as daar “roman” op die voorblad sou staan? Die ware De Kock is ’n ontsagwekkende mens, byna te oorweldigend om waar te wees (dit sluit sy goeie én swak punte in).
En dit is die punt. Sons of mud gaan nie oor ’n troep wat drie korporaals moer nie. Sons of mud handel oor die vraag: Hoe die [kies ’n vloekwoord] beland ’n mens op ’n plek soos Vlakplaas?
Meer nog, hoe die dinges kry ’n bevelvoerder van ’n plek soos Vlakplaas soveel mag?
En baie belangrik: Wat maak van ’n gewone mens iemand wat ongewoon optree?
Die derde deel van die boek kan lesers maar self bestudeer. Ek vermoed daardie “oom” is meer op PW Botha as op John Vorster geskoei, maar dit maak juis nie saak nie. Die mag van die magshebbers om toutjies te trek is belangrik, ook die feit dat hulle spoke het wat die aksies laat gebeur wanneer die toue getrek word.
Dit sluit aan by Genesis 6, waar die reuse nog rondloop op die aarde – en God besluit om almal uit te delg – behalwe Noag en sy gesin.
Ek haal aan uit vers 4, weer uit die NIV:
4 The Nephilim were on the earth in those days – and also afterward – when the sons of God went to the daughters of humans and had children by them. They were the heroes of old, men of renown.
Die “Nephilim” word in die Afrikaans net “reuse” genoem.
Jurgens is fisiek ’n reus, en die kolonel in die boek is skynbaar ook groot; hulle word skynbaar ook beskerm deur hulle verbintenis met “heroes of old”.
...
Diegene wat ’n literêre interteks soek om Jesaja 57:21 mee te verstaan, lees gerus Etienne van Heerden se kortverhaal “My Kubaan” uit die bundel met dieselfde titel. Baie mense kan steeds nie rus vind na die Grensoorlog nie.
...
Oorlog maak monsters
Diegene wat my filmresensies op Voertaal volg, sal weet dat ek groot empatie het met die troepe wat as kanonvoer gebruik word in ’n oorlog. Films soos Do not hesitate, Im Westen nichts Neues en All the light we cannot see wys ons dat daar nie noodwendig ’n reg of verkeerd is wanneer daar koeëls vlieg nie.
Sons of mud maak van ’n fiktiewe kolonel, geskoei op Eugene de Kock, ’n onwaarskynlike hoofkarakter. Ons leer ook ’n mens agter daardie onwaarskynlike figuur ken.
Terug na die kapelaan se preek
Waarom tel die kolonel daardie preek op? Wat staan daarin wat hom so raak? Ons weet daar staan “Sons of mud” boaan, maar verder weet ons glad nie wat die dominee daardie dag wou kwytraak nie.
Ons weet wel dat kolonel die preek by hom hou tot hy by die see uitkom. Daar steek hy dit aan die brand, gooi die vlammende papiere in die oseaan en loop dan die water in.
Was hy finaal die modder van die skietbaan van sy voete af?
Was hy sy eie voete, as ’n gebaar dat hy dalk homself vergewe?
Dalk, ja, maar onthou wat in Jesaja 57 vers 20 staan: Die see maak ook nie regtig skoon nie. En dan vers 21: “There is no peace,” says my God, “for the wicked.”
Diegene wat ’n literêre interteks soek om Jesaja 57:21 mee te verstaan, lees gerus Etienne van Heerden se kortverhaal “My Kubaan” uit die bundel met dieselfde titel. Baie mense kan steeds nie rus vind na die Grensoorlog nie.
Die besoek aan die president
By die president se huis word die kolonel die hele tyd vertel dat almal in die land dank aan hom verskuldig is. Tog, wanneer die einste kolonel ’n Paratus, die amptelike lyfblad van die Weermag, sien met die president op die voorblad, besef hy dat die einste president nie afgeneem is saam met hom en sy regiment daar op die grens nie. Hulle was te vuil.
Nie eers die president stel belang in vuil mense nie. Die vuil mense moet wel die vuil werk doen, maar vir die voorblad van die Paratus word die skoon mense gekies, hulle op wie daar nie modder is nie.
Sal die see ooit die sondes van die verlede kan skoon was? Gesels maar oor hierdie vraag.
Voete van klei?
Sons of mud is ’n sonderlinge roman. Dit toon dat ons almal voete van klei, of dan modder, het.
Kyk af.
As jy dink die kolonel is onrealisties en vulgêr, kyk maar weer af.
Ons moenie klippe optel voor ons seker is oor ons eie modderpote nie.
Onthou ook, in die Ou Testament het modder negatiewe konnotasies, maar in die Nuwe Testament het Jesus modder gebruik om die Ou Testament se wette mee uit daag, nie om hulle te bevestig nie. ’n Mens wonder of die kapelaan dit raakgesien het; dit wil wel voorkom of die kolonel dit agtergekom het.
Skink ’n glasie wyn en geniet hierdie roman.
Lees ook:
Die kaalkopwaarheid oor grond en ’n verlore generasie dienspligtiges
Kommentaar
Modder is stof met water. Dit leer Lohatla. Modder is stof met sweet gegeur vasgeplak met die frank stank van vrees en vuil onderbroek. Dit leer anderkant die grens. Moddersnot moet uit, of sakdoek in of bek uitgegwêl. Waterwa spoel stof af na onder toe, daar modder dit dik tussen tone en streperig oor die bo-voet. Hande is te onseker met die bewerigheid, 'n dakkie skep al rits die hande maak-maal. Dan volg die waterbottel uitdaging want die dakkie, swaar gelaai, bly sweet tussen hemel en aarde. Nat haar druppels drup drup die dakkie in en sò vul die waterbottel, alweer.
Uiteindelik, iemand wat dôner spel soos hy klink.
Hi, waar kan ek die boek Sons of Mud koop?