Sonder kompas: Hoe navigeer ’n arm leerder sy pad deur sy skoolloopbaan?

  • 0

Jerome Joorst

Nog ’n akademiese jaar nader sy einde. En het die lewe in Suid-Afrika, postapartheid, vir arm leerders verbeter? Hoe vind kinders in arm gebiede hul weg deur hul skoolloopbaan?

Estelle Kruger gesels met Jerome Joorst oor sy artikel: Die navigasiepraktyke van leerders uit arm, landelike gebiede.

Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het?

Ek het vir 19 jaar skoolgehou in hoofsaaklik bruin laerskole in werkersklaswoonbuurte.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer?

Ek het as kind in soortgelyke omstandighede grootgeword en skoolgegaan. Ek het gedink dat sulke kinders se omstandighede van leef en leer in die postapartheid era sou verbeter, maar dit het nie en daarom die studie.

Hoe het jy as heleskool-evalueerder by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement bewus geword van hierdie leerders se navigasiepraktyke en die implikasies daarvan in die onderwys?

As heleskool-evalueerder kon ek die disjunksie tussen die beleid se klem op leerderprestasie en die praktyke van opvoeders en leerders vanuit ’n burokratiese oogpunt ervaar.

Hoe sou jy die begrip navigasiepraktyke in 25 woorde verduidelik aan belangstellende (maar oningeligte) ouers om hulle meer betrokke te kry by die probleem?

Navigasiepraktyke in hierdie artikel verwys na die “maniere van (skoling) doen” – hoe mens te werk gaan om aan te hou met die projek van skoolgaan ten spyte van beperkende omstandighede.

Jy was ’n opvoeder in plattelandse werkersklasskole. As jy ’n skoolhoof was ...

Hoe sou jy toesien dat leerders se navigasiepraktyke in die klaskamersituasie geïntegreer word?

Deur opvoeders gedurig bewus te hou van die feit dat opvoeding ver buite die skool begin en eindig en nie net ’n aktiwiteit is wat binne die skool tussen opvoeder en leerder plaasvind nie. Deur my personeel altyd te laat verstaan hoe makro- en mikrofaktore meewerk tot die opvoeding van leerders. Lesaanbiedings moet geskied met die kontekstuele werklikhede van die leerders in ag genome.

Hoe sou jy opvoeders oplei en ondersteun sodat hulle meer bewus is van leerders se navigasiepraktyke en nie “eenogig” en nougeset die streng voorskrifte van die KABV volg nie, maar leerders se individualiteit raaksien, respekteer en integreer?

Opvoeders moet eerstens daarvan bewus wees dat opvoeding nie net handel oor die kognitiewe (die kop) nie, maar ook die sosiale/emosionele, ens (die hart). As opvoeders is ons geplaas tussen leerders se werklikhede wat saam met hulle in die klaskamer inkom en die vaardigheidsverwagtinge van ’n snelveranderende wêreld. Ek sou opvoeders oplei om in elke les ’n balans te handhaaf tussen die verwagtinge van die kurrikulum en leerders se fondse van kennis. Op so ’n wyse kan opvoeders die werk relevant maak vir leerders en die manier waarop hulle die wêreld beleef en verstaan.

Dink jy die hoop en geloof van jeugdiges in die era ná apartheid word steeds op die proef gestel namate hulle saam met hulle ouers sukkel om in ’n snelveranderende samelewing te oorleef? Motiveer asseblief.

Hierdie kinders moet dikwels hul skoling doen parallel met ’n stryd om oorlewing. Alhoewel die regering baie gedoen het en steeds baie doen om historiese ongelykhede tussen skole aan te spreek, sukkel arm, landelike leerders steeds meer as ander kinders met historiese materiële ongelykheid binne en buite die skool. Selfs al doen jy alles wat opvoeding beloof, is sukses in die lewe vir hierdie kinders steeds soos die rol van ’n dobbelsteen. So word die hoop en geloof van jeugdiges in omstandighede van voortgesette maatskaplike ongelykheid steeds erg op die proef gestel.

Jou navorsing handel oor spesifiek vyf leerders wat deel van ’n spesifieke plaaslike gemeenskap is. Dink jy dit is aanduidend van ander leerders in soortgelyke situasies op provinsiale en nasionale vlak in Suid-Afrika? Verduidelik asseblief.

Ja, dit is aanduidend van die meeste arm, landelike leerders wat toevallig ook almal niewit leerders is. Alhoewel dit genuanseerd sou wees, kan hierdie studie maklik ’n flitsbeeld (“snapshot”) wees van die groter prent van arm, landelike kinders se skoling in Suid-Afrika.

Dit blyk dat studies oor jeugsubjektiwiteit sedert 2004 in Suid-Afrika ryk inligting bied oor hoe leerders vir hulleself ’n opvoedkundige weg baan – meen jy dat opvoeders nou, ná meer as ’n dekade, hiervan bewus geraak het? Motiveer asseblief.

Ek is seker daarvan dat opvoeders bewus is van die leerders se kreatiewe vermoëns, maar opvoeders funksioneer in ’n diskoers waarin hulle dikwels gedwing word om die dominante norm te volg. Dit is ’n diskoers wat opvoeders dwing om aan die kop eerder as die kop en die hart van kinders voorrang te gee. Die oordrewe klem op leerderuitslae bied dikwels nie ruimte aan opvoeders om leerders se unieke maniere van hoe hulle met hul leer omgaan te erken nie. Meer moet dus gedoen word om opvoeders te motiveer om ’n ruimte hiervoor oop te krap in hul interaksie met leerders.

Die infasering van multikulturele klaskamers sedert 1994 het tot verskillende sosiale probleme gelei. Dink jy dat daar steeds geen “produktiewe wisselwerking tussen skole en die meeste leerders uit werkersklasomgewings” is nie, soos wat Fataar (2012)[i] dit beskryf? Motiveer asseblief.

Ek dink so, ja. Die KABV-stelsel is eenogig, streng voorskriftelik en hoogs gepolisieerd. As gevolg daarvan bied dit dikwels nie ruimte vir opvoeders om die sosiohistoriese konteks van sulke leerders in ag te neem nie. Opvoeders kan dus dikwels steeds nie produktief omgaan met hul leerders deur hierdie leerders se lewensrealiteite, hul unieke vorme van kennis en die kurrikulumverwagtinge met mekaar in verband te bring nie.

In ’n ideale wêreld – hoe kan opvoeders bewus raak van werkersklasleerders se ryk habitus[ii] en kapitaal[iii] soos wat jy in jou artikel bepleit? Wie kan iets hieraan doen?

Opvoeders moet, soos in die verlede, hul leerders, hul omstandighede, hul maniere van leer, leer ken en nie net aanneem dat alle leerders op dieselfde vlak is nie. Ons kan nie net meganisties onderrig sonder ’n emosionele konneksie nie. Kinders is nie robotte wat geprogrammeer kan word om op die ou end dieselfde te kan doen en wees nie. Opvoeders moet terugpraat teen ’n stelsel wat poog om kinders met uniekhede almal te verander in ingenieurs, dokters, prokureurs (omdat die mark dit oënskynlik so wil hê).

Watter verrassings het jy in hierdie navorsingsprojek gekry?

Wat my verbaas het, was die enorme stryd wat hierdie kinders het om getrou te bly aan die skoolprojek – die projek wat die samelewing voorhou as die oplossing om uit armoede te kom. As kind het ek geworstel met soortgelyke uitdagings, maar ek het nie verwag dat dit steeds so erg sal wees vir arm kinders om skool te gaan na 1994 nie.

Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?

Om etnografiese navorsing te doen, het unieke uitdagings, want jy moet fisies tyd in mense se lewensruimtes spandeer om ’n bepaalde blik op hul lewens te verkry. Dit neem baie tyd om mense se vertroue op te bou om private dinge met jou te deel – om te sien hoe hulle leef. Die proses van publikasie is lank, duur en baie moeisaam, want jy moet bepaalde konvensies eerbiedig. Dit is egter alles die moeite werd as jou werk uiteindelik gepubliseer word en ander daarby kan baat vind. Navorsing van dié aard is vir my belangrik ten einde ’n stem te gee aan gemarginaliseerdes en uiteindelik die debat oor onderwys meer gebalanseerd te maak.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?

My volgende projek gaan fokus op die verband tussen skooluitslae en toerekeningsvatbaarheid in geen-skoolgelde landelike skole.

 


[i] Fataar, A. 2012. Pedagogical justice and student engagement in South African schooling: Working with the cultural capital of disadvantaged students. Perspectives in Education, 30(4):52–63.

[ii] Habitus is die vermoë om strategieë te bedink, die meganisme waardeur die internalisering van die eksterne nuwe moontlikhede laat ontstaan.

[iii] Kapitaal is die energie waaroor individue beskik en wat in spesifieke vorme van mag op ’n gebied tot uiting kan kom. Kapitaal kan verskillende vorme aanneem, waaronder ekonomiese, sosiale en kulturele kapitaal. Sosiale kapitaal is die werklike of virtuele hulpbronne waaroor ’n individu beskik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top