Sondagskoolhelde: "Energie is alles"

  • 0

Die Pretoriaanse rockgroep Sondagskoolhelde (streng niereligieus, soos hulle self beklemtoon) is al ’n geruime tyd in die rondte en het ’n lojale groep aanhangers oor die land heen. Voorman Quinton Brand beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Quinton. Hoe's dinge?

Dinge gaan goed. Winter is altyd ’n lekker tyd van die jaar om lui te wees en aan nuwe liedjies te werk.

ssheldegroot1

Sondagskoolhelde het pas teruggekeer van ’n toer na die Kaap (en elders) saam met Blazing Gooch ... hoe het die toer afgeloop? Hoe verskil die gehore buite Pretoria van diés in Pretoria vir jou? Is daar ’n waardering vir harde Afrikaanse rock buite Pretoria, of hoe beskou jy die saak?

Die toer was baie lekker en so ’n bietjie rof. Om af te ry Kaap toe en shows te speel in so ’n kort tyd het gewoonlik ’n uitwerking op jou gesondheid, hahaha. Maar die Kaap is altyd lekker vir "bar hopping" en om van die hele wêreld te vergeet vir ’n ruk. Die negatiefste ding wat gebeur het is, was ’n gebreekte venster en ’n gesteelde tas vol klere.

Blazin’ Gooch was vir seker die regte band om te vra om saam met ons te toer. Vandat ons uit Pretoria uit is, het die kuier begin in die H1 en eers drie dae ná die toer gestop. Hulle is ’n groep mense wat jou altyd sal wil laat wil kuier, al hardloop jou slaapure in die negatief.

Ek sal eerlik wees en sê die gehoor in die Kaap is baie meer open-minded oor musiek as ’n gehoor in Pretoria, afhangende van waar jy speel, natuurlik. Die probleem is mense wil, om een of ander rede, altyd goed in ’n boks druk of onder ’n sekere etiket sit, maar Sondagskoolhelde probeer al van die begin af net musiek maak. Nie ’n sekere styl nie, nie ’n sekere genre nie, net musiek. Waardering vir harde musiek, of enige musiek wat nie oor en oor en oor op radio gespeel word nie, is min, maar daar is wel ’n sterk familiegevoel met mense wat vir jou ’n kans gee en jou ondersteun, al hou hulle nie noodwendig van die styl of die taal nie.

Verskeie reviewers merk op hoe vol energie Sondagskoolhelde op die verhoog is. Hoe belangrik is daardie element van ’n optrede vir julle? Talle bands is orraait daarmee dat hul studio-opnames hul "regte" musiek is en die optredes ’n bysaak – as voorman van ’n klipharde rock band, hoe voel jy oor hierdie benadering en wat is Sondagskoolhelde se benadering in hierdie verband?

Energie is alles – dit is die enigste manier om werklik jou boodskap (gevoel) oor te dra aan die gehoor. Die “live energy” is ook iets wat ’n mens nie kry as mens na ’n CD luister nie. Die interaksie tussen die gehoor en die band is belangrik en dit is waar die “regte” musiek gebeur. Optredes is belangrik vir ’n musikant. Dit is waar jy kan uitvind hoe ver en hoe hard jy jouself kan druk. Vir Sondagskoolhelde gaan dit meer oor die optredes as die studiowerk. Die studiowerk werk eers goed as jou optredes goed werk.

Dit is duidelik dat Sondagskoolhelde se musiek talle sterk invloede het. Julle is seker al moeg vir die vergelykings, maar groepe soos Deftones duik eerste op as ’n mens nou móét praat in daardie rigting. Hoe benader julle die regkry van die balans tussen ’n stewige kopknik na die invloede en die skep van ’n waarlik unieke stem? Hoe werk die skryfproses in die algemeen by julle, vandat die eerste lirieke en akkoorde neergepen word tot dit opgeneem en vrygestel word?

Ja, mens raak nogals moeg om vergelyk te word met iemand anders, maar gelukkig in die geval van Deftones is dit eintlik ’n eer vir ons. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons wil vir seker nie soos Deftones klink of wees op enige manier nie. Elke lid van Sondagskoolhelde het sy eie smaak en manier wat hy dinge doen.

Die skryfwerk vir SSH gebeur op baie maniere. Somtyds speel ons almal saam en dan kom ons vorendag met ’n lied, maar meestal kom ek met ’n lyric-idee of ’n rif-idee vorendag, dan las almal hulle dele by.

Sondagskoolhelde het ’n swetterjoel besonder sterk songs (daar's geen swakkes nie, maar snitte soos "Die meisie" en "Liggaam van grond" staan nogal uit) aanlyn beskikbaar - ’n mens sien dadelik waarom daar ’n lojale hoewel relatief klein fan base is. Hoe dink jy deesdae, in die post-Fokofpolisiekar-era, oor Afrikaanse en Suid-Afrikaanse rock? Wat is die toestand daarvan, wat is lekker daaraan en wat nie? Hoe beskou jy Sondagskoolhelde se plek in die toneel soos dit deesdae lyk?

Dankie baie! Dit is altyd lekker om te hoor as iemand van jou werk hou. Afrikaans is eintlik ’n baie jong taal en so lief soos ek daarvoor is, dink ek die Afrikaanse musiekbedryf is op ’n one-way street op die oomblik. Miskien sal dit verander, miskien nie. Maar vir nou bly dit ’n baie afgeslote mark vir net sekere genres musiek. 

Afrikaans is lekker, want dit is ek. Dit is die taal waarin ek droom en waarin ek elke dag praat. Al wat Sondagskoolhelde wou bereik, is om ’n ander perspektief te gee vir musiek en die Afrikaanse taal. Maar met die alternative-beweging wat so klein is en die feit dat dit nog Afrikaans ook is, kan dit somtyds moeilik wees om rede te sien om aan te hou. 

Julle het onlangs ’n nuwe snit, "... En maak almal dood" aanlyn vrygestel. Is dit die roete wat julle voortaan wil volg – die sporadiese bekendstelling van singles? Of hoe voel jy oor die vollengte-album versus ’n-EP-so-nou-en-dan versus sporadiese enkelsnitte? Daar's nogal verskeie filosofieë daaroor in hierdie digitale era – wat baat die luisteraar en die kunstenaar die meeste? Watter soort band wil Sondagskoolhelde wees in hierdie opsig?

Vir nou gaan Sondagskoolhelde net singles record, totdat ons genoeg geld het om ’n vollengte-album te bemark en op te neem met die produksiegehalte wat ons graag wil hê. Vir ons is dit belangrik om so gereeld as moontlik nuwe materiaal vry te stel. Die digitale era het vir seker ’n baie groot impak gehad op die bedryf. Sondagskoolhelde sou graag ’n band wou gewees het wat gereeld vollengte-albums opneem, maar ongelukkig is dit ’n finansiële nagmerrie.

In ’n relatief onlangse onderhoud het julle gesê die lede van Sondagskoolhelde was almal studente van COPA (Campus of Performing Arts). Dis natuurlik een ding om akademies opgelei te wees in musiek en ’n ander ding om gehore te trek met musiek waarby mense aanklank vind ... hoe beskou jy hierdie balans? In hoe ’n mate sou hierdie opvoeding ’n amperse hindernis vir Sondagskoolhelde kon wees (in terme van hoe ’n mens dink aan wat musiek moet wees) en in hoe ’n mate het dit weer belangrike bydraes tot jul musiek gemaak? Sou jy aanbeveel dat jong musikante so ’n kursus volg?

As ’n musikant wil jy altyd jou beste voet voor sit en jouself druk musikaal, maar dit is moeilik as jy ’n lewe wil maak van jou musiek, veral in Suid-Afrika, omdat die musiekbedryf nie so groot is nie. Ek weet nie of Sondagskoolhelde daardie balans al gevind het nie – vir ons gaan dit alles net oor die musiek. Om iets te maak wat ons gaan haat om te speel is nie die moeite werd om te maak in die eerste plek nie.

Ons opleiding het ons gedwing om anders te dink oor musiek, en nie net van die band se perspektief af nie, maar ook die persoon wat na die musiek gaan luister. Ek dink op die einde gaan dit oor watse gehoor jy wil lok.

As jy arm wil wees, ja. Hahaha, nee, grappie. Enigiemand wat werklik in musiek geïnteresseerd is, sal weet wat om te doen.

Volgens jul Facebook-biografie het Sondagskoolhelde amptelik in 2011 bymekaargekom. Dit beteken ’n goeie vier jaar se gigs, toere, opnames en dies meer. Enige spesifieke gebeure of gigs wat uitstaan as hoogtepunte tot dusver? Enige staaltjies of plekke wat jy eerder sal wil vergeet?

Dit voel glad nie so lank nie. Vir ons voel dit of ons gister begin het en nog steeds besig is om reg te maak vir ons eerste show.

Dinge gebeur so vinnig en wanneer dit gebeur dink mens nie daaraan as iets wat eendag net ’n herinnering gaan wees nie. Klein dinge wat gebeur, onthou mens graag, meer as “groot shows” of toere ens. Daar is egter geen twyfel dat ons beste herinneringe in die Kaap is nie ... en in ons oefenkamer, hahaha.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Sondagskoolhelde, in so verre jy en julle dit kan beheer?

Baie. Ons is ver van opgee of ophou musiek maak. Maar dis dalk tyd vir verandering – of nie.
Ons is self nie seker nie, maar ons is opgewonde oor die toekoms en ons is nie bang nie. Ons wil net onsself aanhou druk en aanhou musiek maak.

Wat is die sin van die lewe?

Experience.

ssheldegroot2.jpg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top