SONA 2022: Local is lekker en ons laat niemand agter nie

  • 1

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

Alreeds met die groetslag kon mens agterkom hierdie staatsrede is anders. Thabo Mbeki en Raymond Zondo is met dawerende applous begroet.

Beteken dit ons parlement is uiteindelik gereed om die Zuma-jare vaarwel toe te roep? Ongelukkig nie. Ek dink daai faksie het net vanaand eerder by die huis gebly. Maar die begroeting het ’n duidelike boodskap uitgestuur dat daar verandering in die lug is.

........

Beteken dit ons parlement is uiteindelik gereed om die Zuma-jare vaarwel toe te roep? Ongelukkig nie. Ek dink daai faksie het net vanaand eerder by die huis gebly. Maar die begroeting het ’n duidelike boodskap uitgestuur dat daar verandering in die lug is.

..........

Die staatsrede self was maar ’n mixed bag. Baie van die beloftes van die verlede is herhaal, sonder enige duidelike, konkrete aanduiding van wat gedoen gaan word om dit te verwesenlik. Nuwe beloftes is opgediep, ook sonder konkrete voorbeelde van hoe dit tot realiteit gaan kom. Maar soos dit ’n goeie spreker betaam, het Uncle Cyril gesorg dat hy ’n goeie slogan het, en hy het ons emosies geroer met sy patriotiese eindrede.

“Leave no one behind”, dit was die refrein. Met werkskepping vir jongmense, met wyses om klimaatsverandering te beveg, met die geveg teen geslagsgebaseerde geweld, ons gaan niemand agterlaat nie. Dis soos een van daai Amerikaanse oorlog movies waar die held reg aan die einde sy eie lewe in gevaar stel om sy buddy uit gevaar weg te sleep, net om agter te kom die maat is klaar dood. Maar nie in ons staatsrede nie. O nee, ons gaan saam veg, ons gaan die korruptes aan die pen laat ry, ons gaan ons ekonomie aan die lewe skok, want ons as Suid-Afrikaners kan baie dinge weerstaan. Ons is veerkragtig. Dis die speech aan die einde wat gemaak het dat ek wou opstaan en hande klap, dit was so mooi. Ek het sommer ’n traan of twee weggepink.

.........

O nee, ons gaan saam veg, ons gaan die korruptes aan die pen laat ry, ons gaan ons ekonomie aan die lewe skok, want ons as Suid-Afrikaners kan baie dinge weerstaan. Ons is veerkragtig.

...........

Kyk, ek het nog nooit ’n geheim gemaak daarvan dat ek 100% agter Uncle Cyril staan nie. Maar selfs ek besef dat daar baie spookasem en min rêrige êrige substance in sy toesprake is.

Hy gaan die nasionale ramptoestand tot ’n einde bring. Groot applous. Maar ek wil eers die terms en conditions sien voor ek saam hande klap. Want wees verseker, daar sal terms en conditions wees.

Dis fantastiese nuus dat 60% van almal oor 50 jaar oud ten volle ingeënt is. Maar wat van die lot onder 50?

En ek het lekkergekry vir die dwarsklap na Eskom toe Uncle Cyril erken het dat die onbetroubaarheid van die elektrisiteitsvoorsiening ons laat swaarkry. Dit gaan nie oor my nie, maar verlede week was ons vir drie dae geheel en al sonder elektrisiteit, so ek weet wat hy bedoel. Ek weet dit aan eie bas.

Die eerste fabriek wat formele klere maak, is in Epping oopgemaak. Hulle het Uncle Cyril se pak klere gemaak. En sy handgemaakte leerskoene is ook Suid-Afrikaans. Local is lekker, vertel hy ons. Ek stem saam. Dis hoog tyd dat ons tekstielbedryf weer aan die gang kom. En alhoewel sy stilte dawer, kan mens net hoop dat plaaslike vissermanne ook een of ander tyd hulle plekkie in die son gaan sien. Maar vir eers moet ons landbouprodukte uitvoer na China. O ja, dis waar ons vis ook heen gaan.

Van die grootste reaksie, as Twitter ’n aanduiding van enigiets is, is die nuus dat ons hennep op industriële skaal gaan verbou. 130 000 nuwe werke gaan geskep word. Dalk moet ek vir my ’n joppie in quality control probeer losslaan.

Wie weet, dalk gaan die grond wat onteien gaan word in terme van die wetgewing wat Uncle Cyril belowe hierdie jaar deurgestoot word, gebruik word om die daggatjies te plant. Ek vermoed meer as een boer het niks verder gehoor na daai bom wat so in die verbygaan gedrop is nie.

Een aankondiging wat my laat hande klap het, net so liggies, is dat daar leierskapsverandering in die sekuriteitsektor aangebring gaan word. Kan ek hoop dat ons Bheki Cele vaarwel kan toeroep? Maar helaas, hy sal dan seker net na ’n ander posisie geskuif word.

Waar Uncle Cyril wel spesifiek was, moet ek my hoed afhaal vir hom.

.........

Hy erken dat die regering  se reaksie op die Julie-onruste onvoldoende was. Duh, ons almal het dit geweet. Dit was nie nodig om ten duurste ’n taakspan saam te stel om dit te sê nie.

.........

Hy erken dat die regering  se reaksie op die Julie-onruste onvoldoende was. Duh, ons almal het dit geweet. Dit was nie nodig om ten duurste ’n taakspan saam te stel om dit te sê nie.

12 000 nuwe polisiebeamptes gaan opgelei word om ons te help beveilig. Kom ons hoop maar hulle is nie ekskriminele wat nou in uniform hulle kriminele spree gaan voortsit nie.

Daar gaan spesiale hofrolle geskep word om die staatskapingsake te verhoor. Fantasties! Teen Junie sal daar ’n plan van aksie aan die parlement voorgelê word om die Zondo-kommissie se aanbevelings in werking te stel.

Baie mense sal bly wees om te hoor die R350-pakket word vir nog een jaar verleng. Die weermag gaan 95 nuwe brûe ’n jaar bou. Plattelandse paaie gaan geplavei eerder as geteer word. Akkommodasie vir studente en sosiale behuising gaan voorkeur geniet.

Die agterstand met toetsing van DNS-materiaal het aansienlik gekrimp, van 200 000 na 58 000. Dis ’n begin, maar die agterstand moet algeheel uitgewis word voordat ek kan hande klap daaroor.

En ’n Red Tape Team is saamgestel. Om besigheid meer toeganklik en minder burokraties te maak. ’n Volle Red Tape Team.

Ek is lief vir Uncle Cyril, maar hoedat hy nie kan besef dat die meeste van die planne wat hy so trots aankondig, net nuwe geleenthede vir korrupsie oopmaak nie, gaan my verstand te bowe.

.........

Ek is lief vir Uncle Cyril, maar hoedat hy nie kan besef dat die meeste van die planne wat hy so trots aankondig, net nuwe geleenthede vir korrupsie oopmaak nie, gaan my verstand te bowe.

..........

En ons weet voor ons siel dat hy teen ’n slakkepas beweeg om enigiets te doen. Daar kan nie te veel gedoen word voor die volgende nasionale verkiesing nie, want watter wortel gaan hulle voor ons neus hou as als gedoen is wat hulle belowe het?

Uncle Cyril kan regtig goed speech maak, dit moet ek hom toegee. Maar dalk moet ons eerder nou ’n bietjie ophou met die speeches en begin werk.

..........

Uncle Cyril kan regtig goed speech maak, dit moet ek hom toegee. Maar dalk moet ons eerder nou ’n bietjie ophou met die speeches en begin werk.

............

Vir sy volgende SONA, as hy nog dan president is, kan hy dalk net ’n to-do lys met sperdatums gee. Ek sal help om ’n Excel-blad op te stel.

Dis al wat ek nou vra. Minder speech, meer doen.

  • 1

Kommentaar

  • Daar is 'n gesegde wat lui: "Wanneer 'n nar die paleis inkom, word hy nie koning nie. Die paleis word 'n sirkus."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top