SOF 2018: Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika – ’n teaterresensie

  • 0

Almal in die land probeer te hard om polities korrek te wees. Die teks is baie snaaks! Die dialoog is outentiek. Geen heilige koei is te heilig om op die naam genoem te word nie. ’n Teks geskryf deur slim, ingeligte millenniale.

Dit was ’n paar van my gedagtes oor die toneelstuk Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika, waarvan ’n voorskou op 25 April in die Kunstekaap-arena gespeel het. Mercy Kannemeyer, regisseur van die produksie, bied agtergrond van die stuk in hierdie onderhoud.

Die toneelstuk word aangebied as ’n soort speletjiesprogram. Jy as lid van die gehoor kyk hoe ses gesinne meeding om burgerskap in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die Nuwe Suid-Afrika is nou ou nuus, sien.

Die gesinne wat deelneem, is soms voor die hand liggend (wit, heteroseksueel – met ’n seksistiese man en ’n onderdanige vrou wat tog so lekker koek bak en wie se hande vir niks verkeerd staan nie). Soms minder voor die hand liggend (’n kommune van vroue, van wie sommige panseksueel is, wat saam-saam geestelike reise onderneem). Ook is daar ’n besonder welaf wit gesin wat met swaar Engelse aksente met mekaar in Afrikaans gesels en kla oor hulle so swaar belas word, of omdat hul oorsese reise so duur kos. Daar is ’n gay, interkulturele paartjie wat ’n Viëtnamese kind aangeneem het. En ’n enkelma van Mitchells Plain wie se swakkerige Engels vir ’n paar grappige woordspeletjies sorg en wat vir haar seun vertel om hom tog net nie “uppity” te hou nie. Daar is ’n meisie wat daaglikse nuusgebeure afneem en dit op die sosiale media versprei.

Die trant van die toneelstuk is humoristies, maar mens voel soms ongemaklik as jy dink waarom jy vir die grappies lag: dis juis omdat die dinge wat gesê word, alles dialoog is wat mens al iewers gehoor het – op straat, tussen vriende, in mens se eie huis. Die teks is gevat en wáár, maar mens kry nie die gevoel dat die studente snydend probeer wees het nie. Die teks lewer slim sosiale kommentaar.

Dit is interessant om te sien dat die idee van die teks gesamentlik deur die geselskap ontwikkel is (dit het ontstaan toe ’n deel van die geselskap in hul eerste jaar as dramastudente aan die Universiteit Stellenbosch, met ’n konsep vir ’n parodie of satire vorendag moes kom vir die klas van een van hul dosente, die aktrise Nicole Holm). Onder Mercy Kannemeyer se bedrewe hand as regisseur kom die stuk tot sy reg. Die toneelstuk kry dit reg om ’n goeie balans te handhaaf tussen grappige ontvlugting en denkende, betrokke teater.

Daar is nie ’n slotsom nie, daar is vrae wat gevra word. Indien ’n jonger generasie ontnugter voel deur wat hulle rondom hulle in hierdie land sien en hoor, is daar beslis skrywers en akteurs wat hul ervarings kan verwoord. En soms, as alles te veel word, is daar steeds iets om oor te lag.

As jy in die Kaapstad-omgewing bly en hierdie langnaweek tuis is, koop ’n kaartjie en onderneem jou reis na ’n republiek wat jy beslis sal herken. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top