Smit Motors: ’n onderhoud met Réney Warrington

  • 0

Smit Motors
Réney Warrington
Wenkbrou
ISBN: 9780799394566

Réney Warrington praat met Naomi Meyer oor Réney se Smit Motors wat pas by Wenkbrou, ’n nuwe druknaam van LAPA, verskyn het. Réney deel ook haar foto’s van onlangse road trips met LitNet se lesers.

Réney, jou eerste boek was Oktober. Dit was taamlik outobiografies. In watter opsigte is Smit Motors ook outobiografies, of is dit absoluut fiksie?

Volgens my prokureur is dit absolute fiksie. Ek spot. Alhoewel die storie en karakters toetental opgemaak is, is hulle en die gebeure tog samestellings van mense wat ek ken en ervarings wat ek gehad het.

Wie is Monty en die kinders soos hy? (Die boek is opgedra aan hom.)

Monty is die afskeepkind – die kind wat te hard gedruk word, die eersgeborene wat die ouers moet trots maak, die sieklike kind wat geterg word, die laatlammetjie wat geïgnoreer word, die moeilike kind oor wie ouers kla, die kind wat voor die TV grootword, die kind wat luister hoe sy ouers baklei, die kind wat rondgestamp word. Ons almal ken so ’n kind.

Ons kan praat oor of seks tussen vroue iets is waaroor wenkbroue gelig word, of mens dit wil weet of nie. Of dink jy nie die gay-tema speel ’n rol ten opsigte van keuse van druknaam nie?

Die Afrikaansprekende mark is so divers en onvoorspelbaar, dit is moeilik om te sê. In my kringe sal geen sekstoneel – hetero of homo – wenkbroue lig nie. In meer konserwatiewe kringe sal dit dalk die tannies kwaad maak.

Hier is Johan Jack Smith, Wenkbrou se uitgewer: “Dis nie noodwendig skokkend nie (benewens een of twee eksplisiete sekstonele); dit gaan ook nie noodwendig wenkbroue lig nie (behalwe omdat dit ’n fantastiese storie is), maar dit pas nie noodwendig in ’n genre nie.”

Die storie begin met ’n trauma, maar jy sê nie dadelik wat dit is nie. Watter soort storie is dit? As mens dit iewers wil verpak?

Dit kan seker geklassifiseer word as ’n drama. As dit ’n film was, sou dit by Nouveau gewys het. Dit is egter nie ’n uitmergelende storie om te lees nie. Daar is donker, maar ek hoop ook genoeg lig.

Wie’s jou ideale leser?

Ek het nie ’n clue nie.

Kan jy in ’n paar sinne opsom waaroor die storie handel?

Petra Smit is ’n skrywer wat sukkel om te skryf. Sy erf onverwags ’n werkswinkel in ’n klein Vrystaatse dorpie, en verkoop is die enigste opsie. Sy weet sommer sy gaan nie tussen die windpompe, die goue grasvelde en die miershope inpas nie; nie sy met haar stadsmaniere en ’n getatoeëerde Portugese meisie aan haar arm nie.

Petra kies koers platteland toe om die werkswinkel te verkoop en maak tot haar verbasing baie gou twee vriende. Arno is ’n sagmoedige reus met ’n kind se verstand, en Monty ’n afgeskeepte kleuter. ’n Onwaarskynlike vriendskap ontwikkel tussen dié drie. ’n Kameraderie wat dalk deur Monty se pa, die aggressiewe Hannes, getoets gaan word.

Johanna, Monty se oppasser, vertrou niemand nie, veral nie Monty se ma of pa, die vreemde Petra, óf vir Arno, die getoorde man nie.

Hierdie vier buitestanders se diep menslike storie is vervleg met dié van Susan, ’n ekspat-kunstenaar wat sukkel om vrede te maak met die Afrika-demone wat haar al veertig jaar jaag.

Om ’n garage te erf – het dit regtig gebeur? Of hoe weet jy van hierdie soort besigheid? En van motors?

Nee, dit is fiksie en ek weet niks van dié soort besigheid af nie. Ek vrek wel oor karre en enjins. My ma het ’n stokkie gesteek voor my vyfjarige self se planne om motorwerktuigkundige te word.

Wat was die prikkel of die sneller van die verhaal?

Ons is omring deur mense wat nie moes kinders gehad het nie, mense wat hul kinders stilletjies verwyt. Mense wat kinders gehad het, oor die samelewing dit verwag, of oor hulle dit net nie mooi deurdink het nie. Dit maak my rasend.

Die moontlike swangerskap, die normaliteit hiervan, tussen vroue – dalk lig dit ’n wenkbrou, want mens wonder, as die eerste gesprek daaromtrent plaasvind: Wie’s die man (die pa)? Maar die vrou se reaksie vertel dis hulle twee se plan. Of is dit? (Skielik onthou ek jy’t Huishou by die US Woordfees gesien, lank nadat hierdie boek klaar by die drukkers was. Wat het jy gedink? Tema-ooreenkoms, of net losweg?)

Weer eens, in my wêreld is dit nie vreemd vir twee vroue om ’n kind saam te hê nie, ongeag die roete wat hulle gevolg het – aanneming, kunsmatige inseminasie, ens.

Ek het Philip Rademeyer se Huishou baie geniet. (Cintaine Schutte is ’n belewenis.) Daar is seker ’n tema-ooreenkoms – beide manuskripte handel oor twee vroue wat saam besluit om ’n kind te hê. Dié besluit tower dan almal se demone op. Die groot verskil tussen Huishou en Smit Motors is of die demone weer gaan lê of nie.

Wie is die kinders in jou lewe? Jy’t my al van hulle vertel, en Facebook verklap dit ook: daar is kinders iewers op die toneel.

Ek en my vrou Hannelie het drie offisiële en drie onoffisiële peetkinders. Ons is vir almal ewe lief. Monty is nie gebaseer op enige van hulle nie. Monty is ’n ander storie ...

Wat was jou skryfroetine? Het jy so iets?

Ek beplan die beste aan ’n nuwe boek op ’n lang, oop grondpad met goeie musiek oor die radio. Wanneer ek vashaak met ’n karakter of ’n kwelpunt, stap ek deur die strate van Joburg. Ek stap ’n minimum van vyf kilometer ’n dag. Soms tot op twaalf. Dan is dit ’n kwessie van, om Lauren Beukes aan te haal, “bum on seat”.

Het jy voor die tyd geweet waaroor die boek sal handel? ’n Plot uitgewerk? Organies laat gebeur?

Ek het die boek vyf jaar gelede binne ’n week geskryf en ewe windgat gedink die teks is klaar. Toe moes ek dit natuurlik tien keer oorskryf. Al die karakters het verander. ’n Hele paar het gesneuwel. Petra het van beroep verander. Monty was die onveranderlike. So, organies, om jou vraag te beantwoord. (Ek sou vir myself minder werk maak as ek beter beplan.)

Jy’s Engels. (Is jy?) Hoekom skryf jy in Afrikaans?

My Afrikaans is bloot so sleg dat mense dink ek is Engels! Ek spot. Ek is Afrikaanssprekend grootgemaak, maar my familie was nie anti-Brits soos baie Afrikaners nie. (Hoe kan ons wees met ’n van soos Warrington?) My ma het ons altyd in gemengde skole gesit en een dag ’n week met my Engels gepraat. Ek skat ek praat dus Engels en Afrikaans ewe sleg.

Hoe was dit vir jou verskillend om uit wit en swart perspektiewe te skryf? Mag dit, kan dit, is dit moontlik om jou dit te verbeel?

Jy móés dit net vra, nè? Ek spot. Dit is ’n komplekse debat wat meer verg as die antwoord hier onder.

Is dit nie die rol van ’n skrywer/kunstenaar/liedjieskrywer/filmmaker om in iemand anders se skoene te loop nie? Bruce Springsteen se hele versameling musiek handel oor die pyn en lyding van die werkersklas, maar hy het nie ’n dag in sy lewe gewerk as posman, mechanic of fabriekswerker nie.

Skiet ons onsself nie in die voet deur te sê net swart mense mag oor die swart ervaring skryf, net queer mense mag oor die queer-ervaring skryf, of net queer mense mag queer-rolle vertolk nie? Ons sou uitgemis het op Philip Rademeyer se Huishou, Cintaine se wonderlike vertolking van Hester, ’n gay vrou, John Tengrove se The wound, Todd Haynes se film Carol en Bob Dylan se meesterlike liedjie “The death of Emmett Till”.

Die toneel waar die slagter die kind stamp, die onderspeeldheid daarvan. Om te laat gebeur, eerder as om daaroor te wroeg. Watter gedeeltes in die storie was vir jou makliker om oor te skryf: die gedeeltes binne die vel van jou hoofkarakter, die een wat meer peins en oordink, of die meer onderspeelde, emosioneel-gestroopte gedeeltes, soos uit Johanna se perspektief?

Beide was vir my ewe moeilik/maklik om te skryf. Petra se getob, haar besluiteloosheid, kan help bou aan die spanning, die frustrasie. Die gebeure wat dan so vinnig rondom Johanna gebeur, breek die spanning. Dan begin dit van voor af. Wel, dit was die plan.

Susan se storie. Vertel iets hiervan. Die verduideliking van wie Susan is, kom ook eers later. Die bande waarmee mans vroue bind, of die samelewing, of vroue hulself. Is hier kommentaar daaroor?

Yes. Vroue wat nie wil kinders hê nie of alleenlopend is, word mos vreemd aangekyk. Shame, sy kan nie kinders hê nie. O, nee, sy wil nie kinders hê nie! Sy mis uit op die beste ding wat met haar kan gebeur! Sy gaan alleen en bitter oud word. Als nonsens, natuurlik.

Ouerskap, kinders, die kompleksiteit daarvan. Is dit waaroor die boek ook vir jou handel?

Onder andere. Kinders kry is nie perdekoop nie. Gestremde mense word eenkant toe gestoot. Randfigure moet baklei vir respek. As ons net meer medemenslik kon wees teenoor mekaar.

Wat is jou gunstelingfliek? (Jy resenseer vir LitNet en vir die kykNET Silwerskermfees.)

Op die oomblik, Capernaum. Toevallig gaan dit oor dieselfde onderwerp as Smit Motors. Mense wat nie moet kinders hê nie. Die 12-jarige Zain, in die tronk oor hy iemand met ’n mes bygekom het, dagvaar sy ma en pa oor hulle hom gehad het. Hy en sy boeties en sussies word in absolute armoede groot, en word deur hul ouers misbruik om water te verkoop, los werkies te doen en sodoende die familie aan die gang te hou. Dit is ’n ongelooflik belangrike film.

Wat klassifiseer jy as iets wat ’n wenkbrou sal laat lig?

Seker my antwoord oor kulturele appropriasie. 😊

Jy het self die omslag ontwerp. Wil jy vertel hoe jy dit gesien het, dit gevisualiseer het?

Ek het in 2014, toe ek die roman binne ’n week geskryf het, besluit die foto van my en my oupa gaan op die voorblad gaan. Maak nie saak wat nie.

Die arme Wenkbrou-span het hul hande vol gehad met my. Ons het glad nie saamgestem oor hoe die voorblad moet lyk nie. Ek het al hul voorstelle summier afgeskiet en aanhou ontwerp en stuur, ontwerp en stuur, tot ek op die finale een “afgekom” het. Toe is almal gelukkig. Sjoe!

En jy hou van road trips. Wil jy foto’s deel? Ter illustrasie van navorsing oor die boek, sommer net, of gewoon foto’s wat mooi is, of wat jou raak?

Yes. [Réney se foto’s verskyn tussendeur al die vrae en antwoorde van hierdie onderhoud. NM]

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top