In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
In ons reg – soos in die meeste moderne regstelsels – word nie slegs voltooide misdade gestraf nie; mense word dikwels ook weens poging om misdrywe te pleeg, skuldig bevind en gestraf.
Een van die oudste gerapporteerde sake in ons reg oor poging is R v Töpken and Skelly,[1] 'n Kaapse saak uit die 19de eeu. Drie lieplappers het beplan om die poskoets wat van die diamantvelde af op pad Kaap toe was, te beroof. Tot die tande gewapen het hulle die koets by 'n drif ingewag ... en gewag en gewag. Dit was egter die verkeerde dag – die koets sou eers op 'n ander dag daar verbykom. Moeg en verskriklik verveeld het hulle naderhand die aftog geblaas en sommer ook besluit dat hulle liewers nie op dié manier ryk sou word nie.
Lank daarna het een van hulle die petalje aan die owerheid uitgelap en het hy kroongetuie geword by die vervolging van Töpken en Skelly weens poging tot roof en moord. Hulle is aanvanklik skuldig bevind, maar het op appèl losgekom.
'n Ander storie is dié van R v Hlatwayo, 'n Transvaalse saak van 1933.[2] Die beskuldigde, 'n jeugdige huishulp, wou die mense by wie sy gewerk het, vergiftig. Sy het seepsoda in hul ontbytpap gegooi, maar toe sy merk dat die pap erg as gevolg van die gif verkleur het, het sy haar plan laat vaar en die brousel weggegooi. Sy is aan poging tot moord skuldig bevind en gestraf.
Een van die bekendste sake oor poging bring ons na aan vandeesweek se datum. In die oggendure van 15 Julie vroeg in die 1940’s (die spesifieke jaar word nie in die hofverslag vermeld nie) het 'n polisiekonstabel patrolliediens in Kerkstraat, Pretoria-Wes, gedoen. Toe hy 'n sekere winkel genader het, het hy 'n man daar sien uitkom. Die man het in 'n motor gespring en weggejaag. Voor die deur van die winkel was daar 'n dam petrol, 'n blikkie kerswas met 'n kers daarin en nog 'n blik met petrol en 'n lap daarin. By nadere ondersoek is petrol ook op die vloer binne die winkel aangetref.
Hoe die beskuldigde, ene Schoombie, vasgetrek is, is self 'n interessante storie wat straks later vertel kan word. Hy is van poging tot brandstigting aangekla en deur die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind. Op versoek van Schoombie het die regter die aangeleentheid na die appèlhof in Bloemfontein verwys om te beslis of hy, op die feite, al besig was met 'n sogenaamde uitvoeringshandeling toe hy betrap is, en of hy dalk nog besig was met 'n voorbereidingshandeling. Dit is 'n belangrike onderskeid. Die hof het beslis dat om 'n beskuldigde weens poging tot die pleeg van 'n misdryf skuldig te bevind, die Staat moet bewys dat die beskuldigde se handelinge reeds so 'n stadium bereik het dat 'n hof daarvan kan aflei dat hy finaal besluit het om die misdryf te pleeg, dog dat hy in sy doel misluk het weens 'n gebrek aan vaardigheid, of dat hy sy plan nie behoorlik deurdink het nie, of dat hy deur een of ander onverwagse hindernis gefnuik is. Méér nog: dit moet duidelik blyk dat hy reeds begin het met 'n reeks handelinge wat verder as blote voorbereiding gestrek het en wat, as dit nie was dat hy op een of ander wyse onderbreek is nie, tot die pleeg van 'n misdryf sou gevorder het.[3] 'n Blote voorbereidingshandeling is dus nie voldoende vir 'n skuldigbevinding aan poging nie.
In Schoombie se geval het die appèlhof beslis dat hy wel aan poging tot brandstigting skuldig was.[4] Dat hy op die punt gestaan het om die fatale vuurhoutjie te trek net toe hy onderbreek is, het onder meer geblyk uit die petrol wat reeds uitgegooi was, asook die blikkie met die kers en die tweede blikkie met die lap en petrol daarin wat voor die deur van die winkel geplaas was.
Afgesien van die jaartal wat onderbreek, stel die hofverslag my ook in 'n tweede opsig teleur: ek lees nie wat Schoombie se straf was nie ...
[1] 1 B.A.C. 471, soos aangehaal in De Wet en Swanepoel, Strafreg (tweede uitgawe), 150
[2] R v Hlatwayo and Another, 1933 T.P.A. 441
[3] Vgl. byvoorbeeld S v du Plessis, 1981 (3) S.A. 382 (A)
[4] R v Schoombie, 1945 AD 541


