Skrywersonderhoud: Pieter Hugo oor Alchemie van my muse

  • 0

Titel: Alchemie van my muse
Skrywer: Pieter Hugo
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426738

Pieter Hugo het onlangs met sy bundel, Alchemie van my muse, gedebuteer. Hy het met Remona Voges daaroor gesels. 

Pieter, baie geluk met jou debuutbundel, Alchemie van my muse – dit is ’n bundel vol lieflike, sinryke gedigte. Kom ons begin by die begin. Jy kom uit ’n familie waar woordkuns ’n belangrike deel van jul alledaagse lewens gespeel het. Hoekom nou eers publiseer?

Dis waar ja, ek het grootgeword met woordspel as moedersmelk en boeke as vaste kos. Ek skryf al gedigte sedert my hoërskooljare, maar ek het nie my gedigte baie ernstig opgeneem nie en dus vir dekades lank nie gedink aan publiseer nie. Toe ek in 2010 in Nuwe stemme 4 opgeneem is, het ek ernstiger aan my gedigte begin werk. Die konsep van my bundel het so mettertyd gegroei en ryp geword.

Vertel ons ’n bietjie meer oor die titel van die bundel en ook die openingsvers. Wie of wat is die “merkwaardige muse” aan wie die bundel opgedra is, of is dit ’n geheim?

Die bundeltitel kan met die openingsvers verklaar word. Alchemiste het vir eeue lank sonder sukses probeer om goud uit lood te maak. Om dit reg te kry, het hulle geglo, moet hulle 'n wonderelikser ontdek wat die proses sal bewerkstellig. Wetenskaplikes het dit egter eers in die 20ste eeu reggekry. Om lood in goud te verander moes daar drie protone uit 'n loodmolekule verwyder word. My muse is my alchemis wat vir my die elikser (die wonderformule) gee wat my loodstilte (skrywersblok) in goue gedigte laat verander. Die drie protone wat verdwyn, is simbolies van die proses wat 'n gedig dikwels baie suiwerder as die aanvanklike skryfsel maak.

Jy verwys telkens in jou verse na van Afrikaans se groot digters en liriekskrywers. Watter bekende digters inspireer en beïnvloed jou werk, as jy ’n paar moet kies?

My eerste digtersliefde was beslis Boerneef, met sy speelse lewensinsig en sy vermoë om Afrikaans te laat dans op die tong. ‘n Klomp ander digters verstom en verruk my, sommige met hulle hele poëtiese wese op papier, ander met enkele juweelgedigte. Antjie Krog, NP Van Wyk Louw, Piet van Rooyen, Zandra Bezuidenhout, DJ Opperman, en vele meer. En dan, natuurlik, die enigmatiese, unieke Gert Vlok Nel, wat dwarsoor al die ander digters, dwarsoor al die jare, hande vat met Boerneef as grootste invloed.

Jy speel met verskillende rymstrukture en vorme in die bundel, wat ek geweldig interessant vind. Kan jy vir ons ’n bietjie meer daaroor vertel asseblief?

Die lewe is 'n passievolle jin-jang-dans met Dodelike Erns en Tong-in-die-kies Spel as die onlosmaaklike dansmaats. Dit is ook die sleutel tot my gedigte. Selfs in die ernstige gedigte speel ek met woorde en vorm. In die speelse gedigte is daar dikwels diep ondertone en altyd, in al my gedigte, 'n ernstige proses om dit in die perfekte digvorm te giet. Die digvorme is nooit toevallig nie. Dit help skep die regte toonaard vir wat die gedig is en sê. As 'n bestaande digvorm, soos 'n sonnet of 'n villanelle, nie gaan werk vir 'n gedig nie, skep ek soms my eie digvorme. Dit geld ook vir die visuele gedigte. Daar is 'n fyn balans tussen inhoud en vorm in elke gedig.

Jy skryf in “Afrikaans in die hiernamaals” oor die stand en die toekoms van Afrikaans. Dink jy dat Afrikaans ooit sal uitsterf?

Uitsterf? Nee! Verander? Beslis! Met die groot verlies aan staatsondersteuning verander Afrikaans se klerekas. Die togas vir hofsaal, preekstoel en gradeplegtigheid raak al minder. Dis jammer, maar grootliks onafwendbaar, gegewe die geskiedenis van die grys menere in swart pakke wat almal in Afrikaans in wou borstrok. Die swart pak en die borstrok het verdwyn, dankie tog! Die loslit jeans, hoodies en sweaters raak al meer, en dis daar – op strate, stasies, in taxi’s, en kaalgat tussen die lakens – waar die lewe in Afrikaans gebeur. Dit is hierdie lewende Afrikaans wat steeds gepraat, vertel en verdig sal word.

Waarmee hou jy jou op die oomblik besig? Kan ons uitsien na ’n tweede bundel?

Ek is op die oomblik eers besig met 'n nuwe, opwindende projek saam met Riku Lätti. 'n Tweede bundel? Ja, my muse laat my nie met rus nie.

Jy was by die afgelope Tuin van Digters. Wat was vir jou ’n hoogtepunt?

Daar was baie hoogtepunte, meestal met Breyten as middelpunt. Op intellektuele vlak, die gesprek oor Breyten se vertaalbaarheid. Op emosionele vlak, die halfuur van hemel met Breyten wat sy gedigte lees met Schalk Joubert en Laurinda Hofmeyr se begeleiding op baskitaar en klawerbord. Hoe meer ek van Breyten leer, hoe meer is ek verstom oor sy grootsheid op alle vlakke. Dit word verwoord in hierdie gedig wat ek geskryf het met sy tagtigste verjaarsdag:

'n HANDVOL BREYTEN

Almal ken mos die maer man
die een met die groen trui
hy vir wie ons woorddadig al haarloos blinkgevat het.

Hy wat die drome van ons reis
deur hierdie voorlopige suide
met geheime gedigte
in die deuropening laat staan.

Maar ken ons hom?
Die ruiter van syn op die perd van lug
die ros van asem wat moes vlug
voor die gedaste menere van ons liederlike nagmerrie?
Hy was skadeloos, maar ons was hom ongenadig.

Wat het geword van Bittergesig Buiteblaf?
Hy het aanhou gedigte kug
terwyl hy die swaar klip moes dra
sy kop het bly groei hemelruim toe
met sy ware handskrif een van rus
woordend aan die volmaking
van die wysheid die lieflike die heilige
soos 'n bergkruin vol sneeu,
maar ons het hom genadeloos
te lig ge-yk
te donker ge-sel
gedink sy skaduwee sal klein skuil in sy lyf.

Wie is hierdie Bullebach?
Hy is die groot voël so groot soos lig
Dié Afrikaanse Vokaal in ons familie van verskeurde klinkers
met 'n konstellasie van sterre op sy voorkop wat arendsoog
steeds méér sien
steeds murg uit die werwels suig

*

Breyten, ken ons jou?
Of ken ons net die hond se swartvlieërblaf
teen die donker ruit?
Hoe leef jy in hierdie Taal wat jou ge-Judas én ge-Jesus het?
Wees ons, die fokkenvolk, tog genadig.

Al is daar die kraak en knetter en krimp
van die verbygaan van die lewe,
laat die Akashiese voël tydloos
gedigte pik pik pikteen jou tronkselskedel
op weg na die kû
tot jou vlerke met koel blou windteue vryvlieg
héél in die heelal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top