Skrywersonderhoud met Anton Krueger en Eben Viktor oor Die oog

  • 1

Die oog is ’n bonatuurlike riller gemeng met ’n goeie dosis tong-in-die-kies humor, ’n tikkie geskiedenis, ’n titseltjie romanse, ’n knippie filosofie en ’n sterk geur van misterie … ’n donker avontuurverhaal vol goedige, doodernstige draakstekery. Ruan Kemp beskryf die roman as "’n esoteriese wakkerdroom wat weldra ontaard in ’n nagmerrie," en sê verder: "Ek gaan nooit weer dieselfde na koeksisters kyk, of seuntjies met lang hare nie …"  

Remona Voges het met Anton Krueger en Eben Viktor oor hul boek Die oog gesels. 

Foto's van Eben Viktor (bo) en Anton Krueger (onder): verskaf

Die oog
Anton Krueger en Eben Viktor
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518280

Anton en Eben, kan julle elkeen ’n bietjie agtergrondinligting oor julself verskaf asseblief?

Anton: Ek werk by die Dramadepartement van Rhodes-universiteit in Makhanda (Grahamstad), waar ek klas gee in dramateorie en kreatiewe skryf.

Eben: Ek is voormalig van Pretoria, maar die afgelope 19 jaar woon ek in Oekraïne, waar ek wiskunde en wetenskap doseer by ’n privaat kollege. Vroeër het ek onder andere Afrikaans en Nederlands studeer, en ek is nog altyd lief vir die letterkunde van dié twee tale, en vir letterkunde in die algemeen.

Hoe het die idee ontstaan om saam ’n roman aan te pak?

Eben: Ek en Anton is al vir baie jare bevriend, en hy het my vroeg in 2014 genader om ’n roman wat hy in Afrikaans geskryf het, te redigeer. Dinge het van daar af ontwikkel. Ek dink Anton sal meer wil verduidelik.

Anton: Die boek is aan die een kant baie vinnig, maar aan die ander kant ook baie stadig geskryf – daar was min of meer vyf jaar van beplanning, een maand waarin die draft geskryf is, en daarna nog vyf jaar van redigering en herskryf. Hierdie ongelooflik onekonomiese metode van werk word meer deeglik in die nawoord en erkennings agterin die boek beskryf. Maar kortliks: Die storielyn, milieu, temas en die meeste van die karakters is aanvanklik deur my en ’n groep vriende geskep as basis vir ’n TV-reeks meer as 10 jaar gelede. Die kernidees is versamel oor twee denkskrumnaweke wat deur Tracy Hagerman geborg is, aangesien sy van gedagte was om die reeks te vervaardig. Ek en Werner Mouton (wat tans, onder andere, bestuurder is van Exclusive Books se gewilde Menlyn-tak) het die notas wat uit hierdie naweke voortgespruit het, gebruik om die oorsig en proeflopie vir die reeks te skryf, in konsultasie met Tracy. 

Aangesien almal daarna verskillende rigtings ingeslaan het, is die TV-reeks nooit voltooi nie. Toe ek egter in 2014 ’n maand in ’n chateau op Lake Geneva kon deurbring danksy die Lavigny-skrywerstigting, het ek die tyd gebruik om ’n ruwe eerste draft te voltooi. Toe ek terugkom, het ek Eben genader vir samewerking om die manuskrip deeglik te verwerk, wat toe nog ’n hele paar jaar geneem het. 

Ons is al twee nog steeds gretig om te sien dat ’n reeks of movie eendag van die boek gemaak word, en is besig om vervaardigers en maatskappye te nader. Dit sal ’n fantastiese aksieriller reeks maak. 

Ek is nuuskierig oor die gesamentlike skryf van ’n roman, want mens sien baie medeskrywers wanneer dit by niefiksie werk kom, maar minder so met fiksie. Hoe gaan ’n mens te werk? Hoe hou mens die styl eenvormig?

Anton: Ek het al vorige gesamentlike skryfprojekte aangepak. Ek het byvoorbeeld ’n boek kortverhale (Shaggy: 14 Rather amusing rambles) geskryf saam met Pravasan Pillay en ook ’n paar kortverhale met Werner Pretorius, asook akademiese tekste met kollegas. Ek geniet die proses.

Eben: Ja, om ’n kenmerkende styl, of toon, of "stem" te ontwikkel was een van die moeilikste aspekte van die projek. Ek is nie ’n professionele skrywer nie. Daar was wel vroeër skryfpogings, maar my lewe het intussen ander draaie geloop. Toe ons nou besluit dat ek medeskrywer moes word, het ek dit aanvaar asof ek ’n kursus neem in kreatiewe skryfkuns by iemand wat sy storie ken. Ek is veral bly dat die feit dat ek en Anton mekaar al so lank ken, niks gehelp het om my te spaar nie! Ek het soos baie mense romantiese idees oor skryf gehad, maar hierdie ervaring het my laat besef dis ’n craft, soos enige ander, dis iets wat jy moet leer. Daarom, in terme van styl en struktuur en wat werk en wat nie werk nie, is ek dankbaar vir die geleentheid om Anton se kundigheid te kon deel. En ons het ook ’n goeie boel pret gehad met alles; plus, ek hoef nie eers te betaal het nie!

Wat is die grootste uitdagings wanneer mense saam aan ’n roman werk?

Anton: Ek vind die saamskryfproses baie verfrissend en hernuwend. Mens kan soms baie alleen voel as jy so baie jare lank aan ’n projek werk, maar om dit saam met ’n vriend aan te pak beteken daar is altyd iemand anders om die ding verder te vat as jy op ’n punt moedeloos raak. Dis ook lekker om saam met iemand anders te lag of dink. Dis meer direk en onmiddellik as dit ’n medeskrywer is. Maar ek dink mense moet goed oor die weg met mekaar kom, want dis baie jare se saamwerk, en jy wil nie vasgevang wees in ’n eindelose taak met iemand wat op jou senuwees werk nie. 

Eben: Ek reken dit hang af van die betrokke partye. As jy twee gevestigde skrywers het, kan die ego’s dalk probleme veroorsaak. In hierdie geval was dit meer ’n kwessie van tyd en die betrokkenes se werkskedules wat nie altyd ooreenstem nie – sulke praktiese goed.

Die oog is ’n riller oor die bonatuurlike. Kan julle ’n bietjie oor die verhaal vertel?

Eben: Die boek is eintlik baie divers wat genre betref, en daarom moeilik om te plaas. Ek dink ons het gegaan vir die oorkoepelende gevoel. Anton sal dalk meer kan verduidelik.

Anton: Die storie vind plaas in ’n alternatiewe, parallelle wêreld van ’n groep trekkers wat al sedert die Groot Trek in isolasie lewe, en hulle eie rituele en gelowe ontwikkel het. Daar is ’n hele paar kinkels in die storie, so ons wil nie te veel hier verklap nie. Miskien is dit die maklikste om die beskrywing wat agter op die boek verskyn hier aan te haal:

Die oog is ’n bonatuurlike riller gemeng met ’n goeie dosis tong-in-die-kies humor, ’n tikkie geskiedenis, ’n titseltjie romanse, ’n knippie filosofie en ’n sterk geur van misterie … ’n donker avontuurverhaal vol goedige, doodernstige draakstekery.

Alles is nie pluis in Donkerstroom nie. Die inwoners van hierdie afgesonderde dorpie se daaglikse lewe word gekenmerk deur bygeloof en sinistere rituele wat ontstaan het met ’n gelofte wat ’n groep verhongerde trekkers toentertyd gemaak het. Die burgemeester en sy dorpsraad is al jare lank in konflik met ’n geheimsinnige vrouevereniging om die oppermag in die dorp te verkry. En verder woel die hele dorp in die greep van iets wat onder in Donkerstroom se water ronddraai …

Die onderliggende spanning in die gemeenskap word tot ’n spits gedryf, en dinge begin roer in die verlore vallei wanneer ’n waterinspekteur uit Johannesburg tydens ’n fratsongeluk vermis raak. Sy kollega, Stefan die wetenskaplike, sou eerder graag wou vlug. Zadie, sy vuurvreter van ’n assistent, se aspirasies om ondersoekende joernalis te speel, kry egter die oorhand. Of miskien is dit die wulpse Ismérie en die melankoliese Lorelei wat Stefan se gewone koelkop besluitneming beduiwel terwyl hulle al dieper in ’n spiraal van misterie en geweld ingetrek word ... 

Luister hier na ’n voorlesing uit die boek:

Wat is elkeen van julle sê gunstelingkaraker in die boek en waarom?

Eben: Die idee was om genuanseerde karakters te skep, en daarom is Stefan Booysen, een van die hoofkarakters, ten spyte van sy eerlikheid en goeie bedoelings, ook ’n bietjie van ’n lafaard as gevolg van sy besluiteloosheid, en nie heeltemal ongeneë om roem en rykdom na te jaag ten koste van andere nie. Maar dit maak hom menslik, en daarom kan mens van hom hou. Zadie September is ’n karakter en ’n half, so kleurvol dat haar panache by tye dreig om almal te oorskadu. Ook die baddies het ’n ander sy: Die burgemeester – kolonel Beaunard – is ’n opperste tweegesig wat mag en rykdom agter die skerms najaag, maar dan het hy ook die welsyn en voortbestaan van die gemeenskap op die hart. Dit sou in elk geval moeilik wees om van Loubser, die buffel van ’n brandwag/polisieman te hou.

Wie sal van hierdie boek hou?

Eben: Die boek lees lekker en daar is genoeg aksie en avontuur wat ontvou, wat dit die gevoel van ’n avontuurroman gee. Maar die leser kom gou agter daar is meer: bietjies filosofie en geskiedenis en sosiale kommentaar ingegooi. En dan is daar hope humor, soms ironies, soms droog. 

Anton: Soos ek op ’n vorige vraag geantwoord het, ek sou self bly wees as daar ’n Showmax- of Netflix-reeks uit die storie kon kom. Charles Fourie het dit onlangs gelees en gesê hy dink dit sou moontlik ook goed werk as ’n radiodrama op RSG. Soos ek gesê het, ons het nou begin om mense te nader, en as daar enige regisseurs of vervaardigers is wat graag die boek sou wou sien, kan hulle gerus van hulle laat hoor.

Wat lees julle gedurende die inperkingstyd?

Anton: Ek doen hierdie jaar navorsing oor meditasie, improvisasie en "spontane uitdrukking" in die kunste, so ek lees baie boeke oor hierdie interessante onderwerpe. Ek probeer ook my Duits verbeter (want ek gaan hopelik nog Berlyn toe vir navorsing hierdie jaar, as die grense weer oopgaan), so ek lees elke dag iets uit Doris Dörrie se biografie (Leben, schreiben, atmen). En dan vir pret, net-voor-slaaptyd-tipe-lees, onlangs ’n paar lekker, nuwe romans: Enter the Aardvark (Jessica Anthony), The wandering (Intan Paramaditha) en die ongelooflike Overstory deur Richard Powers. Ek hou ook baie van Bill Bryson en lees weer sy boek oor Engels in Amerika (Made in America) en luister na sy nuutste boek, The body, op audio. Het ook gister Pinker se boek oor taal, The stuff of thought, weer opgetel, asook ’n ou roman deur Mike Nichols, The Ibis Project.

Eben: Ek werk voltyds, dus is daar min tyd vir lees, maar ek vind ek lees uit die paar boeke wat ek hier by my het, willekeurig-gekose gedeeltes: Naipaul, WF Hermans, Saramago, Saul Bellow, die Russe, allerlei goed, en heelwat analitiese filosofie en boeke oor kosmogenie.

Is julle tans by ’n kreatiewe projek betrokke? Waarmee hou julle julself op die oomblik besig?

Anton: Ek is besig met ’n produksie vir die Nasionale Kunstefees. Ons was op die hoofprogram met ’n nuwe eenvrouvertoning (... ellipses ...) wat deur die Chicago-danser/performer Lisa Fay opgevoer sou word. Maar nou het hulle die fees virtueel gemaak hierdie jaar, so ek het dit herskryf as ’n Zoom show, en wil graag self daarin speel. Die huidige naam is The voice in your head. Ons is sover voorlopig aanvaar vir die fees, maar dis nog nie finaal bevestig nie. Soos ek gesê het, werk ek ook hierdie jaar aan ’n akademiese boek oor improvisasie en meditasie. Ek is ook besig om ’n webtuiste klaar te maak wat verskillende projekte koppel: films, beelde, joernalisme, artikels, asook ’n blog en dies meer. 

Eben: Ek was so begeester deur die ervaring met Die oog dat ek ’n bundel lang verhale geskryf het wat ek aan die hersien is met die hoop om dit later vanjaar gepubliseer te kry. Die titel daarvan is Buitengewoon binnegedring. Dan hou ek my ook nou en dan besig met die vertaling van kontemporêre Oekraïniese digters se gedigte in Afrikaans.

Kyk hier na nog onderhoude en voorlesings:

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top