Skrywers wat opgeneem word in die US Woordfeesbundel 2016 bekend

  • 0

 

bly_bundel300Die US Woordfees publiseer vanjaar vir die eerste keer ʼn kortverhaalbundel. Sedert die eerste US Woordfees in 1999 lewer skrywers elke jaar ’n onmeetbare bydrae tot die sukses daarvan, en met hierdie publikasie wil die organiseerders Afrikaanse skrywers vereer. Terselfdertyd wil hulle die feesgangers bedank vir hul volgehoue ondersteuning en iets unieks aan hulle bied.

Die gedagte is om jaarliks ʼn bundel te publiseer en só ’n versameling op te bou wat sprekend is van die hoë gehalte skryfwerk waarvoor die US Woordfees-geleenthede bekend is, én wat oor ’n dekade of meer sal kan staan as ’n dokumentering van ons tydsgees. Die bundel word in ’n beperkte oplaag uitgegee wat slegs by die US Woordfees te koop sal wees. As daar eksemplare oorbly, sal dit by die volgende jaar se fees weer beskikbaar wees.

Vir vanjaar se bundel kon skrywers deelneem wat al voorheen in papierformaat gepubliseer is, ingesluit rubriekskrywers vir koerante en tydskrifte. Slegs nuutgeskrewe verhale wat nog nie voorheen in papierformaat gepubliseer is nie, is vir keuring - wat anoniem geskied het - aanvaar. Uit ’n totaal van 99 inskrywings het die samestellers Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor 24 skrywers se verhale gekies vir die bundel wat in Maart tydens die US Woordfees bekendgestel sal word.

Die skrywers is Fawa Conradie, Jean-Pierre de Kock, Abraham H de Vries, Jeanne Henning Els, Marida Fitzpatrick, Brian Fredericks, Rachelle Greeff, Helena Gunter, Roela Hattingh, Elizabeth Hentschel, Carla Kargaard, Martin Labuschagne, Herman Lategan, Henriëtte Linde-Loubser, Evert Louw, Erika Murray-Theron, Elias Nel, Johann Nell, Gerrit Rautenbach, Deborah Steinmair, Martin Steyn, Keina Swart, Gerda Taljaard en Kirby van der Merwe.

Die volledige program vir die US Woordfees 2016 is hier beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top