LitNet het aan die begin van Desember 2021 lesers genooi om ’n gedig oor kos, of die tekort daaraan, te skryf. Die inskrywings is gepubliseer en kan op hierdie blad gelees word: https://www.litnet.co.za/category/skryfkompetisies.
Digters het beïndruk met verskillende interpretasies van die tema. Uit die 821 inskrywings wat ontvang is, is 20 gedigte as finaliste gekies.
Die beoordelaars, Shirmoney Rhode en Kerneels Breytenbach, het uit die kortlys vier wenners aangewys. Die wenner ontvang R5 000, die naaswenner R2 500, en die derde plek en prysgeld van R1 500 word deur twee digters gedeel.*
Shirmoney Rhode het oor die kortlys gesê: "Dit was verskriklik moeilik om die top 3 te kies, want al die gedigte is uiters goed. Fantastiese kortlys! Ek het gehou van al die verskillende maniere waarmee die digters met die tema gespeel het."
Hier is die wenners:
1ste prys
Clinton du Plessis

Foto: Menán van Heerden
Terugvoer van Kerneels Breytenbach: "Du Plessis is ’n gevestigde digter en sy styl is herkenbaar. So ook die tematiek – hy skep skel kontraste om die groter sosiale problematiek na vore te bring, en doen dit baie oortuigend. Die gedig het ook gebreke, maar binne die konteks van die kompetisie is dit een van die beste deurgekomponeerde skeppings."
Terugvoer van Shirmoney Rhode: "Die gedig is uiters geslaagd. Dit spreek die tema van ongelykheid, bevoorregting en die gaping tussen ryk en arm in ons land so goed aan. Dit bevat sterk beelde en is beide snaaks en roerend. Ek hou veral van die titel. Dit is ’n goeie metafoor om die ekonomiese tye waarin ons lewe te simboliseer, en laat my dink aan die onlangse plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng."
Drukkoker
Die vullissakke skrum swart,
’n voorry van bevoorregting
buite die toe hekke van meenthuise,
die beste van die reste, uitgesit vir
ongereelde munisipale trok.
Vir vermaak kyk ons kosprogramme,
verkieslik in Afrikaans,
bobaassjefs, kaalkop
glanspersoonlikhede, soos glazed gammon,
oorgewig eksakteurs uit reekse,
blitsverkopers met
kook en geniet wat die suidpunt
(sommige) van ons bly bied.
En uit die veraf republiek, uit die vergete gebied,
die township, migreer
dié wat daagliks meet en pas
dié wat met verslete jas krap in sak en as,
oopskeur soos honde, snuffel
deur die beste van hierdie geweste se reste.
Voorgereg:
eendlewer en lemoenpatee met karamelvye
Hoofgereg:
harissa-lam met vrugtige koeskoes, vonkelwyngeroosterde baba- en witwortels
groentelinte met beet-en-granaat-slaaisous
Nagereg:
meringuekoek met romerige tiramisuvulsel.
Op die stortingsterrein, buite die dorp,
oorkant die spoorlyn, waai die stof en rook,
skerm pa, ma, kind en hond teen die son, die stok
in hierdie brassery se wiel, hulle wag vir die ongereelde munisipale trok
om die beste van die reste, vir hulle, te kom stort.
* Resep uit Rooi Rose, 5 Spyskaarte vir Kersfees (04/12/2017)
2de prys
Gerda Taljaard

Foto: Joanne Olivier
Terugvoer van Kerneels Breytenbach: "In die eenvoud lê ’n lewe opgesluit; strak enumerasie van die kos waarop die digter binge, maar in die klank en aard van die kossoorte lê die ryke grein van die gedig. Die tweede strofe swenk weg, laai die gedig met beelde van afstandelikheid, vereensaming, en dan lig sy die sluier oor die ander smaak waarna gesmag word. Voortreflike werk."
proe die nag
om middernag baai sy
in die yskas se vriend’lik’ lig
glansend oor haar gesig
en oor die parmaham
en agurkies en amandelvla
en appeltert en dadels
alles uitgepak op die tafel
want waar sal haar hulp
vandaan kom, terwyl haar man
en die kinders slaap, kou sy
’n kanaal oop deur jare se koue
seks, kantoorwerk en kerk
tot in Milaan en Amsterdam
waar sy ’n ander lewe smaak
in kroeë, bistro’s en koffiehuise
en die eksotiese drank en spyse
van ’n minnares se rype lyf
3de prys
Nolwazi Mbali Mahlangu en Barend van der Merwe (die prys word gedeel)
![]() |
![]() |
Nolwazi Mbali Mahlangu
Terugvoer van Shirmoney Rhode: "Die gedig is vir my vreeslik mooi. Daar is ’n teerheid opgesluit in die beeldspraak/stylfigure en die slot is sterk. Dis so goed geskryf, dit voel asof jy saam met die gesin vasgevang is in die droom/hallusinasie. Die tema van armoede en die hopeloosheid wat hongerte veroorsaak is iets waarmee baie mense kan vereenselwig."
’n Tong te kort
aan tafel is die aarde plat
ons gryp aan ons derms wanneer ons bid
terwyl die prêriewolwe daarin treur
ons borde lê op hul mae
daar is ’n lugspieëling in die keramiekverf
’n mond water
dié is die buik van die woestyn
die stoom slinger sy pad na die rand
koes-koes tussen die duine krummelpap
pa verbrand sy tong met die kaktusse broccoli
ma suig sy tong om ons almal se dors te les
haar soen help vir die eina
die son sak soos speeksel af ’n berg se ken
buite leer my broer plankloop
vind ’n koppie en gooi homself neer
die ingewande laat los
dis net die hongeres wat húl oorgee aan drome
Barend van der Merwe
Terugvoer van Kerneels Breytenbach: "’n Heerlike spel met meerduidigheid. Die gedig, in rymende koeplette geskryf, werk met ’n godsdienste vertrekpunt, maar dan een waarin die godsdienstige aanloop en afsluiting verskuif na ’n meer praktiese een waarin die aangesprokene, 'u', ook slaan op die leser wat ’n internet-netwerk beleef en die mense wat daar aangetref word, takseer. Dit is duidelik dat die digter baie sorg gemaak het met die metrum, en uiteindelik een rymprobleem netjies opgelos het."
netwerk à la carte
in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op
die bloedjong bruid kan hier vertel:
die huweliksbootjie vaar nog wel
die oud- ontnugterde soldaat
veg hand en tand voort vir die saak
die alkoholis kan illustreer:
als is nog wel onder beheer
en swartskaap kan die wêreld wys
hy wen oplaas die eerste prys
die terminale pasiënt
gaan weldra almal tog unfriend
die ateïs wil ieder kry
om ongeloof hier te bely
en draai tog na die ware god
waarsku broer, en bewaar jou lot
leë woorde op ’n sleutelbord
my eetlus met my vrede vort
in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op
* Die beoordelaars se besluit is finaal en daar sal geen korrespondensie oor die uitslae gevoer word nie.
Kommentaar
Veels geluk aan die digters! Puik!
Puik! Geluk aan elkeen.
Baie geluk aan elkeen.
Hartlik geluk aan die wenners!
Geluk aan al die wenners! Ek was in uitgesoekte geselskap!
Geluk aan al die wenners. Du Plessis se gedigte is altyd soos 'n skildery, sien die toneel voor 'n mens afspeel. Pragtig.
Yvonne
Veels geluk aan al die wenners.
Baie geluk aan die wenners.
Baie goeie keuses, kan ook saamstem dat dit behoorlik moeilik moes wees om te kies! Die kortlys was goed! Dis lekker om beoordelaars se kommentaar te kan lees, dis leersaam!
'n Fees van woorde!
Veels geluk aan die wenners en hou aan in ons taal!
Veels geluk, puik!