LitNet het aan die begin van Desember 2021 lesers genooi om ’n gedig oor kos, of die tekort daaraan, te skryf.
Digters het beïndruk met verskillende interpretasies van die tema. Uit die 821 inskrywings wat ontvang is, is die volgende 20 gedigte as finaliste gekies.
Die beoordelaars, Shirmoney Rhode en Kerneels Breytenbach, sal uit die kortlys drie wenners aanwys, wat onderskeidelik R5 000, R2 500 en R1 500 sal ontvang. Die wenners sal in die week van 7 Februarie aangekondig word.
Die inskrywings is gepubliseer en kan op hierdie blad gelees word: https://www.litnet.co.za/category/skryfkompetisies.
Grant Jefthas
Senior konsultant by die Universiteit Stellenbosch se kliëntediens
Vreetsaam
My oorle Ouma het gesê
mens kan net een
duiwel dien
sy was depressief
het drank gekies
ek het jou verloor
en kos gekies
dit was gerieflik
Uber Eats, Mr D
M, L, XL, XXL, XXXL
dis nou al ses jaar
dat ek sukkel om
op te staan
te stap
te dans
te lewe
Dis makliker
om te ooreet
as wat dit is
om jou pyn
te erken
Elzette Boucher
Inhoudsbestuurder by ’n radiostasie
Ode aan die Afrikaanse kok
Afrikaans is ’n lekker taal, ’n smullekker taal ...
Waarom dan die kolonisasie in die kombuis?
Ons proes en prewel
met teatrale terme,
waar ons voorheen bloot
kon proe en aanprys
Want ons wil ghrênd wees
met groteske geleende goeters,
soos "groenpeper",
pleks van "soetrissie"
Maar ons taal is dan juis
’n kombuistaal, ’n feesmaal!
Soortname wat beskryf
Verba wat woeker
Woorde met persoonlikheid
Klanke van bekoorlikheid
Hoe kostelik die sampioen as kampernoelie,
koddig grasui as bieslook,
’n soe-soe is ’n botterskorsie,
en pompelmoes ’n jaarlemoen ook
Wat van die astrante agurkie,
saaklike asyn,
oulike appelliefie,
verleidelike vonkelwyn,
wulpse kaalgatperske,
amper vulgêre vy,
bombastiese bamboes,
en bedenklike beskuit?
Al is al hierdie woorde dan tog watertand,
sal hulle hul mond moet sluit?
Tjoepstil soos gebreekte stukke eetservies,
verouderde resepte en verlore koekvurkies ...
Biltong sal ons nog bybly
en seker rooibostee
Dalk ook bobotie en begrafnisrys,
maar wat van osbloed en droesem?
O, wee ...
Ode aan die Afrikaanse kok
Die beminde bakker,
besielde brouer,
en bekoorlike bedienaar
Ode aan die Afrikaanse kok
Wat die aarbei applous,
ertjie eer,
kolwyntjie koester,
lensie loof,
en malvalekker merkwaardig ag
Ode aan die Afrikaanse kok
Wat die piesang prys,
rabarber roem,
allegaartjie aanbid,
en ander aptytwekkende terme toepas
Ode aan die Afrikaanse kok
Wat nog praat van spek en filet
Wat weier om te mash en chutney
En ’n konfoor in die kombuis het
Ode aan die Afrikaanse kok
Wat weet niks skort met skeut
Wat besef niks kort by gort
Hulself verlustig in die taal
en ’n kranige koskenner word
Ode aan die Afrikaanse kok
wat die klitser kwyt raak
op aweregse erfenisekspedisie,
atjar en afval op die spyskaart
Afrikaans kan nie die kulinêre toe-eien nie,
maar hoekom moet ons swyg?
Met kwalike kennis van kaiing en kastaiing
kaboemielies en neutmuskaat ...
Kom ons leer weer wat is alsembrandewyn
en word ’n letterlike vraat
Kom ons kook weer ’n hutspot
vol kultuur, kleur, geur en taal
en kom ons smul weer,
smul weer in Afrikaans
Molly Lubbinge
Veearts
Dinsdae
Op en af
Langs die uitkykpad
Drentel die dae
Jaar na jaar
Alleen en maer
Hóm agterna.
Die gleuwe tussen sy ribbes
Soos klei uitgekerf
Gooi skadu’s
Oor die bietjie spier
En hoop
Wat hy van gister kon erf.
As dit reën, gaan skuil hy
By die bushalte in Ferreirastraat
En as dit warm is,
Sit hy onder die papierbas by die sirkel.
En op Dinsdae
Voor hulle kom vullis haal
Raak die gekramp en
Draai van sy derms
Vir ’n paar uur
Eindelik,
Tydelik
Stil.
Sheleen Maritz
BA Hons-student in Afrikaans by Sol Plaatje-Universiteit
Ons daaglikse brood
Welkom in Suid-Afrika
’n land waar jy dood vannie honger
Minder as 24 uur later en daar is
geelrys, bruingebakte vleis, boontjies,
brand new outfit, puntskoene, nuwe hare
sopnat karre …
Dis waar wat hulle sê
Die een se dood is die ander se brood.
Clinton du Plessis
Rekenmeester
(Foto: Menán van Heerden)
Drukkoker
Die vullissakke skrum swart,
’n voorry van bevoorregting
buite die toe hekke van meenthuise,
die beste van die reste, uitgesit vir
ongereelde munisipale trok.
Vir vermaak kyk ons kosprogramme,
verkieslik in Afrikaans,
bobaassjefs, kaalkop
glanspersoonlikhede, soos glazed gammon,
oorgewig eksakteurs uit reekse,
blitsverkopers met
kook en geniet wat die suidpunt
(sommige) van ons bly bied.
En uit die veraf republiek, uit die vergete gebied,
die township, migreer
dié wat daagliks meet en pas
dié wat met verslete jas krap in sak en as,
oopskeur soos honde, snuffel
deur die beste van hierdie geweste se reste.
Voorgereg:
eendlewer en lemoenpatee met karamelvye
Hoofgereg:
harissa-lam met vrugtige koeskoes, vonkelwyngeroosterde baba- en witwortels
groentelinte met beet-en-granaat-slaaisous
Nagereg:
meringuekoek met romerige tiramisuvulsel.
Op die stortingsterrein, buite die dorp,
oorkant die spoorlyn, waai die stof en rook,
skerm pa, ma, kind en hond teen die son, die stok
in hierdie brassery se wiel, hulle wag vir die ongereelde munisipale trok
om die beste van die reste, vir hulle, te kom stort.
* Resep uit Rooi Rose, 5 Spyskaarte vir Kersfees (04/12/2017)
Andries Fourie
Finansiële adviseur
Ondervoed
aan sy honger hang ’n hemel
maar tussen dit en daar
neffens die dood se sterwensuur
lê ’n lewenslus geblus
en styf hier om sy kring van pyn
brand daar ’n helse konkavuur
wie kies ’n kind se keuses
wie pleeg sy wasdommoord
en kom sy vrae ook tot bekering
of lê die bidlyn duskant brood
Jerzy Koch
Akademikus, literator en professor aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole
die meisiekind
daardie klein meisiekind uit sirië is
sonder water sonder kos sy leef nog en
ly terwyl die dae verbygaan en die honger
die nagte in sy krampgreep hou en wakker
haar ouers is by haar maar ook hulle
kan nie beweeg of help nie en bly steek
tussen die grense tussen die groen
uniforms van die twee partye
die skildwagte stoot en stamp hulle
van albei skeidslyne druk en du
dit na die ander onsigbare kant
van die laaste oerwoud van europa
die manskappe is ook christene maar nie
van die siries-ortodokse kerk nie die een
is oosters-ortodoks die ander rooms-katoliek
maar hulle is van hulle god af
wat na bewering die staatsgrens is
van pole en witrusland is eintlik ’n lyn
dun getrek in die brakkerige grond
tussen moraal en moord
die gebied hier is nie grys nie omdat daar
donker woude is of mistige moerasse
standhou in die kontreie wat god vergeet
het om in den beginne droog te lê
maar omdat regerings sê hul is moeg vir al
die onheil op die ondermaanse bowendien
dis winter en voor jy iemand vind word
die wye wêreld vinnig in duisternis gehul
hulle vergeet hoe vreet die honger in die donker
en dat dit winter word en koud maar hul
wag liewer tot dit begin sneeu dan is dit beter
om die lyke te bêre en makliker om uit te lê
Veronica Williams
Afgetredene en oudonderwyser
Krummels innie koskas
Jou oë sink diep weg in jou kop
en jou wange is hol van hongerte
en jou maag skrie op pad
skool toe, huis toe, kooi toe
kaalvoet innie reën en harde gras.
Ma, ek is honger sê Davy Meisie Lennie
Jonny Sanna (ekke) Lisbit en Georgie.
Ma skrie Sanna! loep koep vi' my groceries
oppie boekie
by Bai se winkel oppie hoekie
in Francisstraat D6 nineteen fifty nine.
Vrek honger krap ek innie koskas
net krummels, ’n kokkerot en een sad-looking korsie
hard soos ou toast maarit issie toastie.
maak soos ’n haas en vriet liewerste gras!
Sanna (ekke) iet maarie korsie
en suinag is my naam!
ek iet krummeltjie vi' krummeltjie
wannit moet lank hou tot venaand.
Ek droom van regte toast ’n jêm ’n tea na skool
of sopbene-kos met ’n lang sous
lat Ma, Pa, Davy, Meisie, Lennie, ensovoorts
ammal kan iet van een blikkie baked beans
Miskien Sondag braaihoender
en Sanna (ekke) is gelukkig sy kry die wishbone.
jong, ek wens tot ek blou innie gesig is.
Krismis trim ôs die dining room
met crinkle paper en sterretjies
en ballonne en engeltjies
en Boeta Aram ve'tel vi' ammal
"Kyk! Ôs is arm, ma' darem!"
Ek dink miskien eendag ... eendag ... darem ...
Toe kom eendag darem en Sanna (ekke) eet –
skool is klaar, holwange is klaar,
kaalvoete is klaar, kollege is klaar
gras onner my voete is groen!
nou wiet djy hoe lekker smaak
tempura prawns innie One&Only?
Gerda Taljaard
Skrywer van Vier susters en Die laksman se dogter, en deeltydse akademikus
Foto: Joanne Olivier
proe die nag
om middernag baai sy
in die yskas se vriend’lik’ lig
glansend oor haar gesig
en oor die parmaham
en agurkies en amandelvla
en appeltert en dadels
alles uitgepak op die tafel
want waar sal haar hulp
vandaan kom, terwyl haar man
en die kinders slaap, kou sy
’n kanaal oop deur jare se koue
seks, kantoorwerk en kerk
tot in Milaan en Amsterdam
waar sy ’n ander lewe smaak
in kroeë, bistro’s en koffiehuise
en die eksotiese drank en spyse
van ’n minnares se rype lyf
Hester Steenkamp
Boervrou
Die kombuistafel
Ek sit toe-oë by jou lang houttafel –
my vingers vryf oor die geskende blad
waar jare se letsels diep gegroef lê
en ek hoor weer hoe jy sê
dat jy alles het wat jy nog ooit wou hê
Ek sien jou weer hier staan
met jou blou voorskoot aan
en ’n meelwolk wat uit die tafel opstaan
as boepens brooddeeg daarop land,
glad geknie deur jou vetgesmeerde hand
Ek ruik die karamel van honderdduisend ure hier
waar ek vandag jou lewe vier
Die reuk van vanielje, anys en kaneel,
gemmer en neutmuskaat,
liefde en suiker en papawersaad
vou hul arms warm om my lyf
soos ek steeds oor die tafel vryf
Blinkgepoetste flesse op die rak
staan in netjiese rye weggepak –
beet en boontjies en kwepers,
tamatie en makataan
Jy het bêre vir later goed verstaan
Ek proe die soetsuur stroop van samesyn –
kaiings en mosbeskuit,
warm plaasbrood en korrelkonfyt,
suurkos en vaalvleis en wildspastei
met liefde deur jou voorberei
Om hierdie tafel is gepraat en gelag
aan die begin en einde van elke dag
Hier was almal altyd versadig en verkwik
en ek vryf vir oulaas oor die blad
voor ek vir die laaste keer hier uit sal stap
Estella Mouton
Mediese assistent by ’n privaat mediese praktyk
Sakrament
Jy leef nou van die uitgeteerde woord
om in die hoeke van die huis te kan pas
deur skrefies te kan glip
spoorloos oor sneeustiltes te kan loop
die gestyfde tafeldoeke wit en ongestoord
waarop niksseggende woorde
op dooie tonge draal
agter die asbliksakseile van ’n spookskip
in die karige holtes van woordleegtes
oefen jy jou stram parkour
en haweloosheid
berei jy jou spyskaart jou vangs van die dag
grynslag jou papierdun skelet
vou die lieflike beendere oop
in die swart seerowervlag van die nag
flets jou verstarde oë lospryse
uit die doderyk
met die stotterende monosillabes van al die eensame ure
weef jou onaangeraakte hande
’n hunkerende woordeweb
geluidlose langbeenspinnekop uit vergete kripte
uitgehonger skuifel jy nou oor die eter
in die loomwit oë van die gemeste woord
dartel Beëlsebul se vlieë.
Bruno Andries
Beëdigde vertaler vir Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits, asook liriekskrywer
godverlate
êrens in ’n stinkende geut
van ’n godverlate stad in Indië
sterf ’n kind ’n stille hongerdood
’n heilige koei loei
en in die tempel
lag ’n apie hom ’n papie
Nolwazi Mbali Mahlangu
Digter, fotograaf, kreatiewe direkteur, kunsadministrateur en verhoogbestuurder
’n Tong te kort
aan tafel is die aarde plat
ons gryp aan ons derms wanneer ons bid
terwyl die prêriewolwe daarin treur
ons borde lê op hul mae
daar is ’n lugspieëling in die keramiekverf
’n mond water
dié is die buik van die woestyn
die stoom slinger sy pad na die rand
koes-koes tussen die duine krummelpap
pa verbrand sy tong met die kaktusse broccoli
ma suig sy tong om ons almal se dors te les
haar soen help vir die eina
die son sak soos speeksel af ’n berg se ken
buite leer my broer plankloop
vind ’n koppie en gooi homself neer
die ingewande laat los
dis net die hongeres wat húl oorgee aan drome
Barend van der Merwe
Administratiewe beampte by die Universiteit van die Wes-Kaap
netwerk à la carte
in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op
die bloedjong bruid kan hier vertel:
die huweliksbootjie vaar nog wel
die oud- ontnugterde soldaat
veg hand en tand voort vir die saak
die alkoholis kan illustreer:
als is nog wel onder beheer
en swartskaap kan die wêreld wys
hy wen oplaas die eerste prys
die terminale pasiënt
gaan weldra almal tog unfriend
die ateïs wil ieder kry
om ongeloof hier te bely
en draai tog na die ware god
waarsku broer, en bewaar jou lot
leë woorde op ’n sleutelbord
my eetlus met my vrede vort
in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op
Anzil Kulsen
Skrywer van jeug- en kinderboeke, kortverhale en volwassene-romans; projekorganiseerder by die ATKV se taalafdeling
My naam is Spice
Dit drup af by my ken, af ... op my tieties
Blink, vol verwyt en selftwyfel
Ek moet iets eet lat’ik ka’ leef en hierie knaende gat ka’vul
Hoe het dit alles so uitgedraai
Aan’ie begin was dit dan net my kak gemoed.
Is dit kwyle, of trane wat oor my drup?
Ek kort iets groen, soos brokkoli of spinasie vi’ daai serotonien.
My maag grom, ek moet iets eet, iets moet ek doen
Aan die gat in my kop en in my maag, in my hart en my gemoed
Ek is heeltemal ondervoed.
Djy’s te vet, dikgat, het Pa met sy nat snor teen my gesig gehyg
Gevat, gevroetel en die pyn met tjoklit beloon.
Is ô’se secret, djy’s te sweet vi’woor’e, gaat was djou nou.
Die onthou het gekom toe die size ag oor my boude protesteer; manlief het gelag
Toe spyt en toe verwyt: Sugar, jy het nou maa’net ’n kak gemoed.
Dis ’n traan, helderblink, ’n nat kol, dis myne
Dis my lyf, my kop, my gat. Ek moet eet, iets groen. Ophou dink, net doen; beweeg.
Prop olywe in my mond, ’n tamatie, roosmaryn-en-tiemie-tee.
Jou gat, Pa. Jou gat.
Niemand noem my weer Sweet of Sugar nie.
My naam is Spice! En ek is ondervoed.
Danielle Leonhardt
Derdejaarsielkundestudent by die Universiteit van Pretoria
Lyndans in die kombuis
Liewe Here
dit is al ses jaar sonder haar.
ses jaar sonder appeltert na ete
of soet koffie
en die alombekende
anysbeskuit
’n skelm happie heuning
of my gunsteling –
Dianette se deurmekaartert
dit is al ses jaar sonder haar.
haar mond was vars vrugte,
’n skaam skaterlag
wat deur die plaaskombuis
gebars en gebloei het
soos granate
uitgedroogde bloedlemoene
wat teen die venster hang
het gelyk nes
gebrandskilderde glas
Sint Pietersbasiliek in ons huisie
sy het die mooiste gelyk
– en die kos het die lekkerste geproe –
wanneer sy deur die kombuis
op Elvis gelyndans het
Here
ek weet nie of U
goed oor die weg kom
met Zeus nie
maar laat hom my ouma
se deurmekaartert proe
gee hom ’n happie
van haar heuning
– dit smaak beter as ambrosia en nektar
en Here
laat haar net een maal
in jou koningskombuis
met die engele lyndans
sy het tog altyd soos een van hulle gelyk.
Angie Gallagher
Kopieskrywer en taalversorger
stel ons asseblief in kennis indien u enige dieetvereistes het
dis vir my op wat daar op te dis is
’n Brusselse spruit, ’n langorige hus
ek’s nie intolerant nie, nie ’n veganis
dis vir my op wat daar op te dis is
ek skrik nie vir brand of vir koue pampoen nie
my aptyt is so te sê mateloos – moenie
fiemies verwag nie, dié feit’s nog voldonger:
dit smaak my ek raak nog omslagtiger honger
my eetlus is soms wedersyds
ék vreet iets op, dít knaag aan my
by wyle word die lus heelhuids –
’n lekseltjie lies, ’n borsie, ’n dy
ek verslind, ek verorber en smak, voor ek weet
lê ek weg aan my woorde – jy ís wat jy eet
vir my kan jy heelwat voorberei
ek eet enige ding, ek sal vat wat ek kry
Christo Visser
Bestuurder van sy eie besigheid in die konstruksie-en-onderhoud-bedryf
Versadig
Kom nader my lief,
kom proe die appelkoosbloeisels
van my enjambement, suiwer
die soutsmaak van my alliterasie en
die heuninggeur van my assonansie.
Raak liggies aan
die brosheid van alte broos
woorde oor my blanko blad,
soos krummels op ’n broodbord,
soos rasperkrulle lê hul hier rond.
Ruik die kraakvars
geur van perskesap en
pypkaneel in die reëls en sinne
wat, eensklaps uit die lug gegaps,
ek met jou hier deel.
Sien die anyssaad
soos elke mosbolletjiestrofe
goudbedek oprys, botterblink
en veersag, ’n geur wat rym
bring aan hierdie vryversdag.
Kom sit nou aan, geliefde,
by dié feesmaal van woorde,
vul jouself met die gedigtedis
en drink die lafenis van
my goed beleë, wynrooi woorde.
Catherine Jane Janse van Rensburg
Onderwyseres en kurrikulumontwikkelaar by ’n kleuterskool
Eva se maan
Is ek maar ’n sekelmaan
Bulimiese skelet wat wieg in die dam
Soos visse deur my hol lyf gly
Omdat ek die vrug van vrouwees wou pluk
En met Adam wou deel
Halwe vrou, halwe mens
Wat met my lenterok als toevou
My vrae wegsteek
Vervloek
God is ek dan ’n sekelmaan
Uit die tuin gejaag met my blaarjas
Om klippe en kakkerlakke te kou
Om lusteloosheid te voed
Ek kniel my skewe lyf
Dat die son sy plek kan vat
En helder oor my maanlyk skyn
God is ek ...
Wie is ek
Kan die halfmaan ook volmaan wees
En skyn
Die slang wat my opeet
Se stert skroei
’n Bal lig oor die dam rol
Dat visse oor my vol maag spring
En juig:
Ek is Eva se maan
Reuben Murphy
Vryskutdramaturg
(Foto: Devonecia Swartz)
Erfporsie
Mammie ve'tel dat sy Dadda se sokkies en onnies vi we'k saans innie louoond drooggemaak het.
"Kon hom altyd dee' ’n ring trek."
Na we'k sit ek op sy skoot en ons deel ’n pakkie peanuts.
Hy haal hulle jackets af en ek ve'kyk my aan sy navy tie met die mannetjies op wat gholf speel.
Ek laaiks daai een.
Laaste wiek vannie maand koep
Mammie blikkieskos
en pak 'it op die counter uit.
Dadda kom t'rug vannie bruin gebou en gooi Mammie met die blikkies:
"Ek ietie die kakkie."
Na Dadda dood is
erf ek sy navy tie,
dit hang in my kas.
Mammie maak viskoekies van die blikkies pilchards.
Ek laaiks daai.
Unemployed dra ek die navy tie vi’ my interview,
kon my dee' ’n ring trek.
Mammie is oek nou dood.
Innie louoond staan haa' AMC Classic-potte.
Ek hettie die we'k gekry nie:
"Die potte is leeg en ons moet iet."
Kommentaar
Baie geluk aan al die finaliste. Sjoe maar julle toor met die taal! Ek het te lekker gelees aan almal se gedigte. Hoop almal van julle hou aan om te skryf.
Sjoe. Werklik goeie keuses. Baie geluk aan die kortlys skrywers.
Baie geluk met elke finalis se uitstekende gedig. Julle is in die pylvak ...
Baie geluk aan al die finaliste, voorwaar puik gedigte.
Veels geluk aan al die digters ... dit was heerlik om hier te lees.
Daar is soveel om van te kies ... maar ek het veral gehou van die unieke invalshoek op die tema van "kos".
Baie geluk aan al die deelnemers en die finaliste. Dit was lekker om die gedigte te lees en hoe mense iets verskillend kan interpreteer.
Dis baie lekker om hierdie puik gedigte te lees. Dankie aan elkeen, en LitNet.