Skoon wasgoed: ’n Rare vriendskap – IL de Villiers

  • 9

Charles Fryer, destydse hoof van fiksie by Tafelberg-uitgewers, was ’n wyse man met ’n intellek wat gemaklik die gelyke was van enige van ons mees formidabele skrywers. ’n Wysheid wat ek van hom onthou, is dat jy as ’n redakteur vriende van jou skrywers kan maak, maar nie skrywers van jou vriende nie.

In die verhouding tussen ’n boekredakteur en ’n skrywer gebeur iets soortgelyks as tussen dokter en pasiënt of tussen terapeut en kliënt. Daar moet soveel vertroue aan beide kante van die werksverhouding wees, en soveel gedeelde verstaan van die werk onder hande – sowel die artistieke as die menslike aspekte daarvan – dat dit erg baie na vriendskap kan begin lyk. En as iets lyk soos ’n eend, kwaak soos ’n eend en loop soos ’n eend, is dit seker maar ’n eend.

Van my rykste en kosbaarste vriendskappe het rondom ’n manuskrip ontstaan. Vriendskappe wat mettertyd ver buite die boeke alleen gewentel het. Vriendskappe wat weens verskille aan die oppervlak dalk nooit andersins sou gebeur het nie. Ouderdomsverskille byvoorbeeld. As jy ’n jong beroepskabouter is en jy kry te make met die werk van ’n veteraanskrywer, kan die verskil in ouderdom twintig, dertig jaar wees.

*

Toe ek in 1977 ná matriek opgeroep word vir nasionale diensplig, het ek vir my mix tapes saamgevat na Voortrekkerhoogte. Snags het ek hulle op een van daardie klein plat spelertjies vir myself gedraai. Die ander ouens in die kaserne het geslaap, ek het onder die komberse saggies geluister na Bread, Schubert se Rosamunde-ouverture, ander songs wat ek van die radio af getape het, en ’n paar gedigte wat iemand eenkeer oor die radio voorgelees het toe ek ingeskakel was.

Die gedigte was van IL de Villiers en ek dag eers dis die een of ander boer of veldmens wat hulle lees, so eg was dit en so innig, so deurdrenk van sorg om ander, en so eenvoudig. En die mooi Bolandse tongval. Dit het my beweeg om die paar gedigte op te neem. In die ongenaakbare weermag waarheen mens uit jou sagte jeug gepluk is, het dit my diep in die nag getroos.

Die voorleser was die digter self. Van toe af was hy, wat my betref, van geweet. Ek het sy digbundels gesien uitkom en hulle gelees. Die ander godsdienstige geskrifte nie juis nie. Ek het opgelet wanneer sy foto in die koerant is, wanneer hy ’n prys kry. Ek het daarvan geweet toe hy eers redakteur van Sarie word en toe van Rapport. Ook ander dinge – rade en goed. Hy het ’n al belangriker en invloedryker mens geword. Ook in dieselfde mate omstredener.

Maar dis ook al. Ek het ver uit sy dampkring geleef. Op universiteit was daar ’n oomblik, ’n brief wat hy gestuur het aan die koshuiskomitee waarvan ek lid was, oor ’n dissiplinêre optrede teenoor sy seun Louis, ’n junior in die koshuis wat nie mooi wou “inpas” en “saamwerk” nie. Die brief was kwaai, maar geregverdig. Dit was toe ons nog gedink het ons kan vir mense voorskryf wie en hoe hulle moet wees.

*

Iewers laat in 2007 of vroeg in 2008 kry ek ’n oproep op kantoor by Umuzi. Dis Izak de Villiers. Hy wil weet of ek sy memoires wil uitgee.

Die eerste ding wat ek hom vra, is: Hoekom nie by jou “eie mense”, naamlik een van Media24 se imprints, wat die meeste van jou boeke gepubliseer het nie? Hulle wil dit nie uitgee nie, antwoord hy, omdat hy krities skryf oor die Naspers-base. Ek het later gehoor NB-uitgewers ontken dit.

Ek het die saak daar gelaat – dit was nie my besigheid wat elders gesê of nie gesê is nie. Ek was begerig om die boek uit te gee omdat hy ’n interessante mens is met ’n hoë profiel. Hy sou uit sy wye en diep ervaring boeiende dinge te vertelle hê, en dit sou byna vir seker goed verkoop.

En iewers in my binneargief, in ’n legger wat al vergete agter ’n kas ingeval het, was daar nog ’n paar vergeelde bladsye met gedigte deur ’n afgemete maar begeesterde digter, iets egs en roerends wat roep na ’n seun in uniform, bang en alleen in die nag.

Nieteenstaande dié rafeltjie romantiek het ek redelik goed geweet wie en wat Izak de Villiers was. Of ek het gedink ek weet. Ek is nie iemand met veel erg aan vernaamheid en mag nie, en die konserwatiewe koerant wat Rapport onder De Villiers se redakteurskap geword het, het my nie aangestaan nie.

In sy uitstekende resensie van die uiteindelike boek hier op LitNet het Kerneels Breytenbach skerp woorde vir die skrywer gehad, maar dit het my nie verbaas nie.

“Met die verloop van tyd,” skryf Kerneels, “het ek geleer dat mens óf van Izak hou, óf ’n groot hekel in hom het. Dit kan nie anders nie: die mens en loopbaan wat ek [...] hierbo beskryf het, is noodwendig dié van iemand met ’n baie groot ego, ’n onblusbare drang om geken en herken te word, iemand wat alles doen soos hy dit wil doen en basta.” 

Daar is nog van hierdie aard. Nogtans is dit ’n simpatieke resensie wat aansienlike waardering vir onder meer die spiritualiteit van die digter uitspreek.

“Dit is bitter jammer dat iemand wat deur die jare soveel gedoen het om Naspers se publikasies te verryk, nou verstote en misken voel,” skryf hy wat Kerneels is.

Omtrent ’n jaar vroeër het die ander Breytenbach – Breyten – nog harder woorde geskryf, ook hier op LitNet. Hy het dit gehad oor Izak se gebrek aan offervaardigheid oor sy verlede in die binnekringe van mag en apartheid. Hy was steeds woedend oor die verbod op André Brink se Looking on darkness vroeër, toe Izak lid van die Publikasieraad was.

Ek moet my afvra of die ophaal van sulke dinge hoort in ’n rubriekreeks wat ek “Skoon wasgoed” noem. Maar die storie wat ek wil vertel, sal daarsonder nie die volle waarheid wees nie. Ek skryf dit ook wel wetende dat ek, vaderweet, met geen rein gewete na my eie graf sal gaan nie.

En daar was natuurlik ’n ander kant aan die man. Vele ander kante, trouens. Die mooiste mate van hom kry jy miskien in Louis se woorde op sy pa se begrafnis:

In Fidji sê hulle die mooiste ding as iemand sy merk gemaak het. Hulle sê jy het die wêreld gemoker en dit het beweeg. As jy dáái sin kon bottel, is dit die essence van Izak de Villiers, die gretigheid om ’n merk te maak en die fatalistiese berusting daarby dat ons maar ten beste net ’n ligte roerinkie in die groter prentjie kan veroorsaak.

In ’n laaste boodskap aan my pa, my boesemvriend, my gunsteling sparring partner, wil ek net sê: Pappa, dis lente. Jou laaste klompie boeke was waarskynlik jou bestes, jou tuin lyk pragtig, WP is tweede op die log, en die kerk is stampvol by jou begrafnis ...

Sowat van ’n seun soos Louis – vermaarde rugbyskrywer, musiekkenner, contrarian, karakter en mensch – is in sigself ’n kompliment aan ’n pa. En dit het my herinner aan ’n pa se vurige verdediging van sy seun jare tevore, toe ek een van die sondaars teen die seun was, maar een met ’n agting vir so ’n pa, hoe bombasties daardie brief ook al was.

*

Al my voorbehoude ten spyt, was my telefoongesprekke met Izak vir die duur van die boek se produksie vir my aangenaam. Ek het hom buitengewoon openhartig gevind, en inskiklik oor dinge wat die boek aangaan. Ons gesprekke het al hoe langer geword, en al hoe wyer sirkels van interesse beskryf.

Toe ek ’n keer na Johannesburg moes gaan, spreek ons af om mekaar vir ete te ontmoet in ’n restaurant in Rosebank wat vir beide ’n gunsteling was: Sophia’s. Dit was ’n Italiaanse plek gewy aan die skoonheid van Sophia Loren – ’n liefde wat ek en Izak gemeen gehad het. Die volle uitbultende lewensdrif van haar het uit elke foto teen die mure gespreek.

Ek kan sonder oordrywing sê dat ons onmiddellik vriende was. Dalk omdat ek self reguit en moeilik is, kom ek oor die algemeen goed oor die weg met sulke mense.

Maar daar was meer aan. Izak het geen skerms voor homself opgewerp nie. Hy het sy poorte oopgegooi vir vriendskap, sonder dat dit gelyk het of die 22 jaar wat ons in leeftyd uitmekaar was, ’n verskil maak. Ons het ’n wrang humorsin gedeel, hoewel nie alle oortuigings nie. Hy was nuuskierig, leergierig, belese, ingelig, ervare, en hy was nie bang nie. Op sý leeftyd. Daar was geen taboe in ons gesprekke nie. Ons het gestry, gelag of saamgestem.

Ons het mekaar twee, drie keer so in Johannesburg ontmoet. Hy het my vir tee aan huis genooi waar ek sy vrou Rina ontmoet het, elke duim so skerpsinnig soos hy.

Intussen het dit met die boek gevorder en daar moes ’n voorblad gemaak word. Ek het iewers ’n foto gesien wat my ’n idee gegee het. Ek het Izak gevra of daar ’n fotograaf is by wie hy veilig en gerus voel. Hy het Phyllis Green genoem. Sy was destyds een van sy redaksielede by Sarie en toe later boekeredakteur by Rooi Rose. Phyllis het onmiddellik ingestem. Ek moet nog iemand teëkom wat by Sarie onder Izak gewerk het wat nie vuriglik lojaal aan hom gebly het nie.

Die opdrag was: ’n ekstranabyskoot in die ongunstigste lig. ’n Foto wat die man direk in die gesig kyk en nie ’n enkele plooi of vlek of haarylte of versakte lyn ontsien nie. Dat hy hiertoe ingestem het, sê veel van die mens, en ek moes my afvra: Is dít die ydel Izak van wie mense gepraat het? Die foto en sy bereidheid om dit te wys het my met deernis vervul. Die verval van die eens treffende gesig het jou in die maag getref.

Die middag tuis by hulle huis in Saxonwold is afgespreek omdat Izak nie sterk genoeg gevoel het vir uitgaan nie. Hy het swaar beweeg. Hulle het toetse gedoen, maar kon nog nie vasstel wat verkeerd is nie.

Ons gesprek het oor die geestelike gegaan. Hy het gepraat oor waaroor hy in die boek skryf: sy voorkennis die dag toe Chris Burger sy nek op die rugbyveld gebreek en hy gesterf het; ’n Katoliek in die hospitaal vir wie hy laaste rites moes gaan bedien; sy mentor, professor Kolie Kotzé, wat geprofeteer het dat hy nie gewild sou wees nie maar geroep is om mense in krisis te help; ’n waarsegster wat hom met sy lewensfeite vasgepen het en hom gesê het dat hy spiritueel is. En ek weet van mense wat hy juis só, in hul krisisuur, gehelp het.

Ons het oor sy digkuns gepraat en oor dié van Sheila Cussons, seker die grootste spirituele digter in Afrikaans. Toe sê ek vir hom: Maar Izak, jy het die verkeerde pad met jou lewe geneem, met jou joernalistiek en jou mag en jou roem. Jy moes jou op jou digkuns toegelê het. Jy sou ons groot digter van die spiritualiteit kon word, dalk nog groter as Cussons.

Agterna het ek my verstom dat ek my dit sou aanmatig om so iets vir enigiemand te sê, laat staan nog vir IL de Villiers. Maar toe ek weer in my kantoor in die Kaap sit, bel Izak. Hy wil net vir my sê ek was reg.

Sy volgende oproep was die laaste. Izak bel my en sê hy wil net vir my sê hy is nou gediagnoseer. Hy het motorneuronsiekte. Dit is nie seker hoeveel tyd hy oor het nie, maar dit is nie baie nie. Hy het net twee of drie mense gebel met die nuus. Hy wou hê ek moes ook weet. ’n Maand later was hy dood. Ek het hom maar drie of vier maande geken, ’n brewwe vriendskap in hoogbloei.

As ek na die foto op sy boek kyk, sien ek hoe hard hy ook al probeer terugkyk na die kamera, dit wend sy blik af. Hoe ferm hy dit ook al trek, ’n mens se mond wys jou altyd op jou kwesbaarste. Hoeveel sy oë ook weet te vertel, dit moet in swye eindig.

  • 9

Kommentaar

  • Juliana Coetzer

    Dankie Frederik vir hierdie deernisvolle vertelling van 'n man wie se poësie ook 'n groot merk in my lewe gemaak het.

  • Netjies Frik! Welgedaan. Terloops, ek onthou ook nog die episode en Izak se brief van doerie jare toe ons in Eendrag was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top