Skets die lewe soos dit is: Strega deur Andrew Vachss, ’n lesersindruk

  • 0

Skrywer: Andrew Vachss
Titel: Strega
ISBN: 978-0679764090
Uitgewer: Vintage Crime

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek is in Januarie 2023 agt jaar op parool. Klank, reuk en drome gooi my egter in ’n oogwink terug in ’n tronksel, want in ’n stryd om oorlewing het bendegeweld, smokkel en als wat boos is, letsels op my siel nagelaat. Dit vat tyd (en liefde) om amper twee dekades van hel agter tralies te genees. Daarom is Burke, Andrew Vachss se eksgevangene, misdadiger wat ander misdadigers roof en besteel, privaatondersoeker en soms sluipmoordenaar, een van my gunsteling-fiktiewe karakters. Vachss skets ’n lewe wat vir my huis was. En in my nagmerries steeds huis is.

Ná 11 September, in die oorlog teen terrorisme, het baie staatssluipmoordenaarreekse die lig gesien. Die meeste is deur voormalige spesialemag- of intelligensieoperateurs geskryf en is deurdrenk met binne-inligting.

In die era voor 11 September was sluipmoordenaarreekse egter ongekend. Dié sluipmoordenaars was dan meestal Jason Bourne-superfigure wat ’n oormag kon aanvat, en oorwin.

Vachss, ’n voormalige tronkhoof van ’n maksimumjeuggevangenis, se slaankrag lê in sy karakters se klipharde lewe. Barry Eisler, skrywer van die John Rain-sluipmoordenaarreeks, skryf in Thrillers: 100 must reads (David Morrell en Hank Wagner) dat hy tydens sy CIA-opleiding Vachss se naam in ’n handleiding raakgelees het. Vachss is beskryf as een van die min skrywers wat die lewe op straat korrek weerspieël. En my persoonlike ondervinding getuig: as jy wil weet hoe lyk dit regtig in die tronk of op straat, lees Vachss se Burke-boeke. Wees egter gewaarsku, dit is nie vir sensitiewe lesers nie. Sonder om bloed en derms uit te ryg, skets hy die lewe soos hy is. Oliver Twist vir volwassenes.

Daar is Max the Silent, die martial arts-meester wat so sterk soos ’n bees is. Die eksgevangene, Prof, kort vir professor of selfs vir profeet. Mama, wat haar restaurant gebruik om haar kriminelenetwerk te bestuur. Michelle, “transvestiet” en hoëklasprostituut. Mole is ’n genie wat in ’n rommelwerf bly. Asook die monsteragtige hond, Pansy.

Vachss trek nuuskierige lesers in met karakters wat grondpad kaalvoet geloop het. Tog, ongeag hoe donker hul wêreld is, bly hul steeds mens. Eisler erken dat Vachss se Burke-boeke hom geleer het hoe om slegte mense goed te maak. Lesers hou van Burke en wil hê hy moet wraak neem. Selfs die skrywer glo dit.

In ’n onderhoud met Horror Online, Mei 1999, erken Vachss dat sy karakter nie ’n sluipmoordenaar is nie, maar in dieselfde geloof as hy glo, naamlik wraak.

Vachss se tema handel meestal oor psigopate wat op kinders teer. In Strega onthou Burke: “I was thinking of prison again. If a kid was raped inside the walls, he had a shortage of choices: Keep on getting fucked by anyone who asked. Escape. Take a P.C. for the rest of his bit. Kill himself. Or kill the guy who did it to him. Only the last choice made any sense…”

Maar wat doen ’n sesjarige kind om sy siel terug te kry? Of wie doen dit namens hom?

Strega volg op Vachss se 1985-debuut, Flood, maar dit is ’n belangrike boek in die reeks, aangesien ons hierin karakters wat sleutelrolle in Burke se binnekring speel, ontmoet. Terry, wat as kinderprostituut gered word en deur Michelle en Mole aangeneem word. Max se meisie, Immaculata.

Dit is bykans onmoontlik om enige een van die 18 boeke neer te sit. Dit is egter, in Suid-Afrika, skaarser as ’n gerehabiliteerde gevangene in die tronk. Maar as jy dit vind, sal jy my ewig dankbaar wees.

Lesers wat vir Sidney Gilroy se boek Middernag of vir Martin Steyn se Swartval geril het, moet liefs nooit vir Vachss probeer lees nie.

Afrikaanse krimiskrywers sal veral baat vind by die lees van Vachss se skryfwerk.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top