
https://www.youtube.com/watch?v=67-6psiAjGQ
- Leon van Nierop skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Kiss of the spider woman (teaters)
Met Diego Luna en Tonatiuh
Regisseur: Bill Condon
........
Dié nuwe rolprentweergawe is op ’n uitgesoekte gehoor gerig wat kunsrolprente ondersteun.
........
Hierdie ontsenuende stukkie politieke kommentaar het al in verskeie gedaantes verskyn. Aanvanklik as gewilde roman in 1976 deur Manuel Pigg, daarna as musiekblyspel, toneelstuk en nou twee rolprente.
Raul Julia en William Hurt het in 1985 baanbrekerswerk verrig deur die “gewaagde rolle” in dié Oscar-bekroonde rolprent te aanvaar (Hurt het gewen as beste akteur). Dit het gegaan oor ’n Argentynse politieke aktivis wat geweier het om inligting oor die rebellebeweging en hul aktiwiteite teenoor die diktatoriale regering bekend te maak. Toe word ’n gay man, klaarblyklik ’n hermafrodiet, Luis Molina (Tonatiuh) afgepers om die inligting op “ander maniere” uit Valentin Arregui (Luna) te kry.
’n Versigtige en dikwels smeulende vriendskap ontstaan tussen die twee uiterstes wat albei dieselfde politieke sienings het, en gaandeweg verander dit van ’n verwronge, teësinnige vriendskap in ’n romanse. Mens is uiteindelik maar net mens, veral in ’n krisis, maak nie saak aan watter geslag of seksuele identiteit hulle behoort nie.
Bill Condon was die regte keuse as regisseur. Hy het al musiekblyspele soos Chicago (2002) en Beauty and the Beast (2017) geregisseer en is heeltemal vertroud met uitspattige en uitbundige danstonele. Hy het egter al tevore ook bewys dat hy begrip het vir intieme verhale met gay-ondertone, soos die pragtige en delikate Gods and monsters (1998).
Hierin het hy na die mislukte en frustrerende verhouding, maar ook gedwonge vriendskap en bondgenootskap gekyk tussen ’n gay, eensame introvert en regisseur, James Whale, en ’n heteroseksuele tuinier, Clayton Boone. Whale het in 1931 die eerste Frankenstein-rolprent gemaak, en later The bride of Frankenstein (1935). Condon het temas soos vereensaming, isolasie, onderdrukte seksualiteit, intense frustrasie, die pyn van die skeppende kunstenaar en depressie raak in Gods and monsters en die nuwe Kiss of the spider woman uitgebeeld.
Brendan Fraser het in Gods and monsters die rol gespeel van ’n aantreklike, gespierde tuinier wie se paadjie met die regisseur, James Whale, gekruis het, en het die onbeantwoorde begeertes van Whale uitgebeeld, wat ’n invloed op hom as regisseur gedurende sy laaste dae gehad het. Hunkering en verbode begeertes het net onder die oppervlakte van The bride of Frankenstein gesluimer. Hierdie tragiese wisselwerking tussen twee uiterstes is ook met die grootste omsigtigheid en sensitiwiteit in die 2025-weergawe van Kiss of the spider woman uitgebeeld. Condon het hom nooit tot sensasie gewend nie, maar op die menslike aspek, begeertes en vriendskap gekonsentreer wat later in ’n seksuele verhouding verander het.
In Kiss of the spider woman (2025) word die gevangenisskap van ’n gay karakter en ’n toegewyde, heteroseksuele rebel in ’n klein ruimte vergestalt waarin woorde en alles wat ongesê gebly het, aangespreek is. Dit lewer kommentaar op stereotipes en die wyse waarop gay mense dikwels uitgebeeld word, en ontbloot dan die ware mens agter die masker en die maniërismes. Die sleutel tot die sukses van hierdie nuwe rolprent lê in die wyse waarop Condon op die klemverskuiwing konsentreer wat daar vanaf die middel van die rolprent voorkom, wanneer die twee mans raakpunte vind.
........
Met die grootste simpatie en sonder ’n sweempie sensasie word die antagonisme tussen die stoere rebel teenoor die flambojante danser uitgebeeld, maar daar word vroeg al gesuggereer wat kan volg.
........
Met die grootste simpatie en sonder ’n sweempie sensasie word die antagonisme tussen die stoere rebel teenoor die flambojante danser uitgebeeld, maar daar word vroeg al gesuggereer wat kan volg. Die jong man probeer die politieke aktivis se marteling verlig deur na musiekblyspele te verwys waarin hulle twee (Diego Luna as die aktivis en ’n uitstekende jong akteur, Tonatiuh) ook optree.
Die trefkrag lê eintlik in Tonatiuh se gebalanseerde karakterisering. Hy beeld die hermafrodiet uit as geslagloos. Dus is daar beide ’n manlikheid in hom wat soms deurskemer en ’n vroulikheid wanneer hy liries raak oor die kleurvolle musiekblyspele waartoe hy aangetrokke voel, met Luna wat ook tussen die twee emosies vasgekeer word. Sy aantrekkingskrag na Luna is ook duidelik.
Nog ’n pluspunt is die jukstaposisie tussen die stelle. Die grougrys karakterlose tronksel (wat Tonatiuh met ’n gordyn in ’n verhoog omtower) en die byna verblindende gebruik van malse kleure gedurende die danstonele is dikwels amper skrynend. Dit wil herinner aan die skok wat die oog destyds in 1939 moes getref het toe swart en wit beelde skielik in kleur verander het in The Wizard of Oz.
Die kleure in Kiss of the spider woman suggereer die verglansde fantasie-element, die baldadige uitbundigheid waarmee musiekblyspele destyds geregisseer is en die subteks wat, soms onbewustelik, in daardie kleure geskuil het. Maar of Jennifer Lopez as die spinnekopvrou gedurende die fantasietonele dieselfde sterk karakterisering lewer, is debatteerbaar.
Aanvanklik is sy, as die danseres Aurora, natuurlik bloot ’n versiering. Iemand wat die danstonele in die musiekblyspele ontlont, of rede gee hoekom mense skielik uit volle bors begin sing. Hier is sy suiwer Lopez, die hedendaagse, beeldskone sangeres en danseres, want daar word ook niks meer van haar verwag as om haar pragtige bene ten toon te stel nie.
As die spinnekopvrou is daar egter ’n tekort aan verleidelike boosheid. ’n Versinnebeelding van die aantrekkingskrag van die dood as ’n beloning vir die stilswye en vasberade dapperheid van die aktivis word onderskat. Sy is ook ’n betowerende, maar skrikwekkende figuur wat die vlieg in haar beeldskone web probeer lok, nes Molina vir Valentin aan die begin. Hierdie Lopez-versinnebeelding van boosheid wil-wil die rolprent ’n oormatige kunsmatige kwaliteit gee wat die ander tonele nie het nie.
Dié oomblikke is in stewige kontras met die meer genuanseerde tonele in die 1985-weergawe waar hierdie selfde verhouding ’n ander soort ambivalensie en dubbelslagtigheid gekry het. Sônia Braga het dan ook destyds baie meer nuanse na die spinnekop-rol toe gebring in daardie weergawe.
Die kyker wonder in hoe ’n mate Lopez, wat ook een van die vervaardigers was, se invloed en bekende glansbeeld na haar karakterisering in die rolprent oorgespoel het.
Maar wat die twee mans betref, is daar ’n stewige sinergie en vonk. Hulle word twee kante van dieselfde muntstuk wat uiteindelik in die laaste tonele ineensmelt in ’n pragtoneel waar seksualiteit oorvleuel en liefde oorwin.
Kiss of the spider woman as rolprent het spore van John Kander en Fred Ebb se bekroonde Broadway-musiekblyspel waarop die film gebaseer is. Hulle was natuurlik veral ook bekend vir die ewe donker oorlog-georiënteerde Cabaret. Die danstonele is gestileerd soos dit in die geïdealiseerde Hollywood-musiekblyspele is, wat in stewige kontras staan met die stiller, meer statiese tonele in die tronksel, alhoewel die kamera nooit bewegingloos toekyk na wat gebeur tussen die vier mure nie.
Die gladde en lang, ononderbroke glyskote van die Hollywood-prag en -praal en die vinnige, byna aggressiewe redigering en nabyskote tussen gesigte en voorwerpe in ’n tronksel tref veral en gee ekstra diepte aan hierdie tonele.
Condon weet hoe om met ’n kamera te werk en die kinematograaf se rol nog meer pertinent te maak wanneer dit van gestileerde uitbundigheid na eng, strak paranoia verander. Soms versteek dit selfs in plaas van om eksplisiet en spoggerig te wys.
Dié nuwe rolprentweergawe is op ’n uitgesoekte gehoor gerig wat kunsrolprente ondersteun.
Lees ook:

