Skemerson: ’n resensie

  • 0

Die eerste min of meer 20 minute van Skemerson is uiters treffend. Die film vang jou vas in die kloustrofobie van Sella (Pietie Beyers) se gedagtegange. Hy stort, kyk in die spieël, trek gesigte, kyk weer, frons en trek dan aan. Dit is ’n heen en weer tussen die kyker, die spieël en Sella. Jy voel wat hy voel – weerloos, moedeloos en moeg. Ek was reg vir ’n filmbelewenis.

Die film verloop seepglad soos Sella sy tas pak en na ’n afgeleë strandhuis toe ry. Wanneer hy oor ’n massiewe kloof ry, wys ’n hommelskoot van die kar op die eindelose brug hoe weerloos hy moet voel. Die film is ongelooflik goed geskiet, en bevat, dank vader, geen stroperige klavier nie.

Die bus se wiele kom egter vinnig af. Sella loop vas in Emma en haar ma. Laasgenoemde gaan bungy-spring. Hulle vra Sella om ’n foto te neem. Tot hier is dit nog geloofwaardig. Wanneer hulle terugkom, is die antie duidelik moeg en help Sella hulle kar toe. Dan sê Emma se ma uit die bloute uit: “Julle moet maar ’n paartjie wees.” (En later: “Julle moet maar trou!”) Regtig? Jy sê dit vir ’n wildvreemde man en jou dogter in ’n parkeerarea? Dan nooi jy hom huis toe? Dan sê jy binne die eerste twee minute van die kuier: “Ek is al lank hier. Ek weet al ’n paar dinge. Waaraan dra jy so swaar?”

Hierdie ongeloofwaardigheid, die kortpaadjies om by ’n punt uit te kom, strek reg deur die film. [Bederfwaarskuwing] Emma bel Sella op die presiese moment wat hy by die brug wil afspring. Sella is boonop ’n dokter en Emma se ma is siek. Wanneer Ma ’n rowwe aand het, is dit Sella, nog steeds ’n relatiewe vreemdeling vir hulle, wat haar in die badkamer vashou en troos, en bloot vir Emma wegwaai. Hy sit skoon sy kop teen hare.

Later verloor Sella kop en sê oor en oor en met meer en meer manie: “Dit is nie my skuld nie.” Emma weet nie op hierdie stadium van sy sielkundige diagnose nie. Hy is ’n vreemdeling wat heel vreemd optree. Ek sou hom by die voordeur uitgestoot het en die deur gesluit het. Maar Emma gaan lê op die vloer saam met hom ...

Die film raak te kosbaar oor die boodskap – ’n belangrike boodskap, natuurlik. Die drama word dik aangewend. Sella wat die tuna uit ’n blikkie eet. Sella wat op die stoep, die grond, op Emma-hulle se bank en weer op die grond slaap. Die eerste keer wat Sella sy ma se hangertjie uithaal, weet jy sommer dit gaan kort-kort weer verskyn. Wanneer Sella ’n matras onder Emma-hulle se huis gaan haal, is jy nie verbaas as hy ’n kitaar vind en saambring nie. Die ma en dogter en vreemdeling wat in ’n sirkel staan en hande vashou, is een te veel.

Alhoewel die film maar 90 minute lank is, voel dit soos oor die twee ure. Die skote is te lank, die inhoud te min en die drama stroperig. Skemerson moes ’n kortfilm gewees het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top