Silwerskermfees 2017: Die wonderwerk van ons onvertelde stories

  • 2

Dit was Hannah Arendt wat in die laaste helfte van die 20ste eeu die Westerse politieke filosofie se aandag opnuut gevestig het op die belang van stories vir die menslike toestand. In haar The Human Condition (1958) haal sy Isak Dinesen as volg aan: “All sorrows can be borne if you put them into a story or tell a story about them.” Isak Dinesen was natuurlik die skuilnaam van barones Karen Blixen, die skrywer van Out of Africa wat in 1985 uitgereik is as die onvergeetlike rolprent deur Sydney Pollack met Robert Redford en Meryl Streep in die hoofrolle. In The Human Condition gaan Arendt so ver as om te sê dat die belangrikste kenmerk van die spesifiek menslike vorm van lewe die feit is dat dit deurlopend gevul is met gebeure wat uiteindelik as ’n storie, ’n biografie, vertel kan word. Hier resoneer Arendt se denke natuurlik met ’n sienswyse wat in Afrika sedert die vroegste tye bestaan: dat menslike oorlewing letterlik afhang van stories. Vir Arendt, soos vir die denkers van Afrika, is elke mens se storie ’n wonderwerk, omdat elke geboorte ’n wonderwerk is: “The miracle that saves the world, the realm of human affairs, from its normal, 'natural' ruin is ultimately the fact of natality. It is, in other words, the birth of new men and the new beginning, the action they are capable of by virtue of being born.”

By vanjaar se sewende Silwerskermfees (soos oudergewoonte gehou by die Bay Hotel, Kampsbaai, met party vertonings by die nabygeleë Theatre on the Bay) kon mens nie anders as om opnuut onder die indruk te kom van die belang van die rolprent wanneer dit kom by die oorlewering/oordrag/vertel van mense se stories nie. Ons leef in die Facebook-/Instagram-/Twitter-era in ’n land waarin vryheid van uitdrukking darem nog grondwetlik beskerm word. Dus, as jy ’n slimfoon het kan jy self jou storie vertel. Ons vergeet egter alte maklik dat hierdie soort vryheid nie van altyd af bestaan nie en dat dit steeds (weens maatskaplike, ekonomiese en selfs kulturele redes) nie vir almal beskore is nie. Daar is miljoene mense in hierdie land wie se stories nie vertel word nie – veral wanneer daardie stories die donkerder, pynliker gedeeltes van ons individuele bestaan, ons geskiedenis of ons hede aanraak. Boonop word dit al hoe duideliker dat sosiale media in die era van vals nuus nou nie juis die betroubaarste of doeltreffendste medium is wanneer dit kom by laasgenoemde fasette van ’n mens se storie nie – ons sien byvoorbeeld foto's van die stralende bruidspaar, maar wie neem en post ’n selfie voor die egskeidingshof? Ons laai foto's en videogrepe van die heildronke, maar wie wil die gruwels van die oggend daarná op Instagram uitsaai?

Wel, Johan Cronje se Wonderlus – vir my sonder twyfel die hoogtepunt van die fees – begin by die aaklige volgende oggend. Wonderlus knoop sonder twyfel ’n interessante intertekstuele gesprek met Lars von Trier se Melancholia (2011) aan. Soos in laasgenoemde, speel ’n groot gedeelte van Wonderlus tydens ’n bruilof af. Hier is dit een van daardie tipiese Afrikaanse troues wat om 16:00 op ’n Saterdagmiddag by ’n landelike venue tussen Pretoria-Oos en Muldersdrift begin en tot in die nanag duur. Daar word gedrink, gedans, kaal geswem in die dam en nogmaals gedrink. Aanvanklik kom alles heel gemoedelik voor. Beer Adriaanse en Adam Heyns is die twee strooijonkers wat in die kar op pad na die troue grappies maak oor die bruidegom, vroue en die lewe as ’n vrygesel. Die dialoog hier is lig, vlot en vermaaklik en vermy (genadiglik) politieke korrektheid. Maar vanaf die eerste kameraskote op die bruid (briljant vertolk deur Mila Guy) waar sy in die spieël grimeer en haar glimlag oefen, is dit duidelik dat alles nie pluis is nie: haar gesigsuitdrukkings is net té ambivalent, haar glimlag net té aangeplak. Mens sou by hierdie skote kon stilstaan en ’n hele psigoanalitiese ontleding op grond van Lacan se spieëlfase onderneem. Kortom, soos in Von Trier se film het ons hier te make met ’n melankoliese bruid. Cronje se regie in hierdie toneel is meesterlik: hy nie vir die kyker dat die bruid melankolies/treurig is nie, hy wys haar vir ons.

Wonderlus is op een vlak die hoogs vermaaklike, boeiende storie van wat gebeur as dinge skeefloop by ’n troue, die storie van die bloedbelope oë op die oggend na die rampspoedige bruilof. Op die metaforiese vlak is dit egter ’n rolprent wat van die belangrikste aspekte van ’n menslike lewe aanspreek: Wat behels vrye keuse nou eintlik? Wat is die verhouding tussen begeerte en verantwoordelikheid? Wanneer word plesier ’n pyniging? Wat is “ware liefde” – ís daar so iets? En hoe herken jy dit? Weet jy dit of dink jy dit? Wát is ’n wonderwerk? Cronje gee geen onomwonde antwoorde nie en hy laat ons beslis nie met die gemak van ’n gelukkige, sluitende einde nie.

Die Sloweense intellektuele reus Slavoj Žižek merk gereeld op dat die denke sigself nie moet verknies oor die regte antwoorde nie – ons behoort eerder te vra of ons enigsins die regte vrae vra. Wonderlus is in hierdie opsig ’n denkende film vir die 21ste eeu: sonder om vir ’n oomblik in solipsistiese selfbeheptheid, sentimentele nostalgie of vervelige mymering te verval, vra dit die regte eksistensiële vrae en hou dit enduit die kyker betrokke by en self verantwoordelik vir die antwoorde op hierdie vrae.

So van Žižek gepraat, vir diegene wat kritiek op die “konserwatiewe” slot wil uitspreek, net die volgende: Sê nou maar ons lees die einde van Wonderlus in die konteks van Žižek se argument dat in vandag se Tinder/Grindr-samelewing waarin alles seksueel geoorloof is, die huwelik as't ware ’n progressiewe en radikale etiese keuse is? Trou is immers nie perdekoop nie. Dit is bloot verstommend dat Cronje ’n debuutregisseur, -skrywer en -redigeerder is. Wonderlus is ’n klinkklare aanduiding daarvan dat hy oor die talent en vaardigheid beskik om nog baie diep spore in die bedryf te trap (en ek praat nie net van die plaaslike bedryf nie).

’n Film wat my aangenaam verras het, was Meerkat Maantuig. Ek het nie van die lokprent gehou nie, en die storie het vir my maar effentjies gelyk. Dit was egter deur en deur die moeite werd. In die eerste plek is die fotografie uit die boonste rakke – dit is esteties die mooiste film wat ek op die fees gesien het en Willie Nel verdien sy Silwerskerm Toekenning vir Beste Kinematografie. Maar die storie ewenaar beslis die estetika en dit is ’n film wat jou hart steel. Vaslav Njinski het op ’n keer gesê dat as mense net meer genade met mekaar kan hê, die lewe langer sal duur. Meerkat Maantuig gaan op ’n sensitiewe dog realistiese wyse om met aspekte van die rassekwessie en dra ’n boodskap oor wat inhou dat die geringe, alledaagse dade van genade die wêreld vir iemand anders kan verander. Die film het my herinner aan ’n onlangse gesprek met een van ons grootste digters, waarin ons tot die slotsom gekom het dat dit juis hierdie alledaagse dade van geregtigheid (in die wydste sin) is wat ons aan die gang hou in hierdie land. Ek dink nie daar was ’n enkele droë oog in die gehoor aan die einde van die vertoning nie. Die film gaan nie uitsluitlik, of bowenal, oor ras nie; dit gaan oor menslikheid en ook oor die verantwoordelikheid van volwassenes in die stories van (hul) kinders.

Die film wat my egter snikkend laat tjank het, my met tye ook smoorkwaad gemaak het en my op ander plekke laat uitroep het van ongeloof, was Pascale Lamche se Winnie. Daar is nie tyd om in te gaan op die redes waarom dit ’n briljante dokumentêre rolprent is nie – gaan kyk dit net. Dit is ’n tot dusver onvertelde storie wat die grand narrative van die struggle behoorlik ondermyn.

Die voortslepende polemiek rondom Roberta Durrant se Krotoa (wat ook op die fees gedraai het) neig om ander rolprente waarin die stories van ons mense (uiteindelik) vertel word, te oorskadu. Vrydagmiddag sien ek John Trengove se The wound wat handel oor die gebeure tydens ’n tradisionele Xhosa-inisiasie. Dit is ’n boeiende, ontstemmende film. Trengove (ook ’n debuutregisseur) kry dit reg om die kyker te laat voel asof sy letterlik ’n toeskouer op die toneel is, asof sy dáár is, toekyk. Die film gaan op sensitiewe, oordeelkundige wyse om met omstrede temas. Bowenal was ek onder die indruk van die worsteling/stryd van die swart queer man in ’n genadeloos patriargale waardestelsel. Na die vertoning loop ek my vriend Lwando raak by die Netwerktent. Ek vra hom en die vriende wat saam met hom die film kom kyk het, wat hulle daarvan dink. Oor en oor sê hulle vir my: “This is our story”; “It has never been told in this way”; “This is a beginning”; “There is a lot more that must still come out.” Ek merk ’n soort verligting by die groep jong, dinamiese vriende, ’n soort blydskap.

Corné van Rooyen se Vaselinetjie ontvang die Silwerskerm Toekennig vir die Beste Speelfilm. Dit is welverdiend. Die storie belig en problematiseer ’n ánder aspek van rasseverhoudinge – diegene wat Anoeschka von Meck se boek gelees het sal weet waarvan ek praat, maar sonder om te veel te verklap as jy nog nie die boek gelees het nie, noem ek bloot dat dit weer eens ’n storie is wat nie dikwels genoeg vertel word nie – die storie van wees- en mishandelde kinders wat in ’n kinderhuis grootword. Dit is deesdae nie aldag dat die speelfilm op die dieselfde of ’n hoër vlak as die oorspronklike literêre werk is nie – meestal is die rolprent die teleurstelling. Hier is dit egter nie die geval nie. Van Rooyen (of liewer die Van Rooyens) se Vaselinetjie is pragtig verwerk en afgewerk; die jong én ouer akteurs se toneelspel is uit die boonste rakke. Soos in Wonderlus is die klankbaan aangrypend.

Die program van die Silwerskermfees is van so ’n aard dat mens nouliks alles kan sien, en boonop kon ek die fees eers vanaf die tweede dag bywoon. Ek was jammer om Andre Velts se Raaiselkind mis te loop, en te oordeel aan die aantal nominasies en toekennings is dit duidelik dat Morné du Toit se Vuil wasgoed nie misgeloop behoort te word nie.

Ek het in hierdie bydrae gefokus op die speelfilms wat op die fees vertoon is, maar as daar ’n kortfilm is wat gesien moet word, dan is dit Dian Weys se Versnel (Silwerskerm Toekenning: Beste kortfilm – 12 minute). Ek wil niks oor hierdie briljante stukkie “slice of life” verklap nie, maar lees Reney Warrington se oorsig van byna al die kortfilms hier.

Alain Badiou, die beroemdste Franse filosoof na Derrida, skryf in sy denke oor die rolprent die volgende: “There is an intimate relationship between cinema and love, first of all because love, like cinema, is the eruption of the miraculous in life. The whole problem is whether or not that miracle can last.” Ons leef in hierdie land in ’n tyd van ontnugtering op soveel vlakke. Die gesprek by die fees na die vertoning oor Krotoa het laasgenoemde weer eens duidelik gemaak. Maar ek dink tog dat ons by vanjaar se Silwerskermfees by meer as een geleentheid die “eruption of the miraculous in life” op die silwerdoek kon meemaak – nié die grand wonderwerk met fanfare en triomfantelikheid nie, maar die alledaagse, moeilike, nederige wonderwerke van ons stories. “The historical and political situation is very important,” skryf Badiou, “but you enter into these figures through the words of love, through the encounter of bodies, through the intensity of intimacy. And that, I think, is cinema's real movement.”

Die sewende Silwerskermfees getuig daarvan dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf in goeie hande is, dat ons onvertelde stories al hoe meer aan die lig kom, dat die gebrek aan problematisering en kritiese selfondersoek iets van die verlede is, dat ons rolprente internasionale hoë gehalte het. Die films wat vanjaar vertoon is, wys ons egter bowenal op beide die donker én die ligter dimensies waaruit die wonderwerk van ons stories teen wil en dank bestaan.

  • Jaco Barnard-Naudé is die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Westminster en erenavorsingsgenoot aan die Birkbeck Institute for the Humanities, Birkbeck College, Universiteit van Londen.

Lees ook:

Silwerskermfees 2017: kortfilms 

Reney Warrington 
Film 

"Die 2017 Silwerskermfees het weer eens ’n opwindende versameling films opgelewer. Die gehalte is deurlopend indrukwekkend, en boonop is daar met verskillende genres gewoeker, gespeel en kanse gevat."


Wenners van die kykNET Silwerskermfees 2017

LitNet
kykNET Portaal

Die wenners van die sewende kykNET Silwerskermfees is op Saterdag 26 Augustus 2017 by The Bay Hotel in Kampsbaai aangekondig. Hier is ’n lys van die wenners.


 

Silwerskermfees 2017: indrukke van die kortfilms

Suzette Kotzé-Myburgh 
Film 

"Vanjaar se oes bevestig net weer dat ons bedryf oor uitstaande talent beskik, veral wat betref akteurs, regisseurs, musiek, tegniese versorging en kinematografie."

  • 2

Kommentaar

  • Wat van Liewe Kersfees Vader? Hoekom skryf jy oor net 5 van die 6? Almal het net so hard gewerk. Jaco jy kon darem iets van al 6 genoem het as om een uit te laat.

    • Avatar
      Jaco Barnard-Naudé

      Ag Annicia, soos ek in die resensie aandui - mens kan nouliks alles sien en resenseer. Julle film is natuurlik pragtig! J

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top