Silwerskermfees 2017: indrukke van die kortfilms

  • 0

Vanjaar se Silwerskermfees was nogmaals ’n hoogtepunt op die fliekkalender. Wat die kortfilms betref, was dit selfs groter en beter, met die instelling van die kort-kortfilms (12 minute) teenoor die gebruiklike 24 minute. Daar is tien films in elke kategorie vervaardig, met nog een, Langsaan, as ’n opdragwerk – die wenverhaal uit vanjaar se US Woordfeesbundel wat as deel van die prys deur kykNET verfilm is.

Volgens genre-indeling was daar ses dramas (Slaaf, Venster, Voor ek val, Langsaan, Luister, Soldaat), vier komedies (36DDD, Die man met die snor, Ek en myselfie, Vossie vergas homself), drie donker komedies (Die onderspit, Vrekfontein, Wisseltrofee), drie wetenskapfiksie (Die maan val bewusteloos, Ek het jou gemaak, Soos gister) en vyf spanningsdramas (Die Kuur, Skerm, Skoon, Versnel, Vlugtig).

Die beste film-toekennings het gegaan aan Soldaat (24 minute) en Versnel (12 minute), wat albei ook my keuses was uit die drie benoemings in elke kategorie. Hier is ’n lys van die wenners.

As ’n filmbedryf gemeet word aan die gehalte van sy komedie (wat beskou word as die moeilikste genre) sorg vanjaar se sewe inskrywings vir juiging en jubeling – dit was eenvoudig van die boonste rak. My gunsteling was Vrekfontein, ’n kamma-dokumentêr oor die vergane glorie van tennis in (wit) Suid-Afrika in die 1980’s, met draaiboek en regie deur Eckhard Cloete. Wessel Pretorius speel die jong, skoongesig-filmmaker teenoor die ouer garde Lida Botha, Chris van Niekerk, André Roothman en Deon Lotz, en dis een groot satiriese plesier.

Daar was ’n paar opvallende tendense, waarvan een juis die gebruik van ouer akteurs – veterane in die ware sin van die woord – deur veel jonger filmspanne was. Afgesien van Vrekfontein geld dit ook vir Vossie vergas homself met Tobie Cronjé en June van Merch (bekroon as beste aktrise) en Die maan val bewusteloos met Sandra Kotze en Cobus Rossouw.

Nog ’n tendens was die heerlike gespot met die binnewerkinge van die filmbedryf: Die man met die snor het ’n regisseur wat kort-kort soos ’n kisduiweltjie voor sy akteurs inspring en lank vat om niks te sê nie, Vrekfontein boots die dokumentêre styl getrou na, 36DDD spot met superheldfilms, terwyl Vlugtig ’n vernuftige uitbeelding van die-regisseur-as-sadis gee.

’n Tema wat oor genregrense strek en wat in amper ’n derde van die kortfilms voorkom, is dié van verlies van ’n geliefde en die karakter se gevolglike eensaamheid en geestelike ontsporing: Slaaf, Voor ek val, Ek het jou gemaak, Die Kuur, Skerm en Vossie vergas homself – soos dikwels die geval is met goeie komedie, het laasgenoemde eintlik ’n ernstige onderbou van lag-met-’n-traan.

Interessant genoeg handel al twee die wenfilms, Soldaat en Versnel, oor die dringende tema van geweld in ons samelewing, terwyl Langsaan (genomineer vir beste kortkortfilm) fokus op die seksuele mishandeling van kinders. Ek en myselfie en Skerm ondersoek die aktuele tema van sosiale media en die vals virtuele wêreld wat dit skep.

Vanjaar se oes bevestig net weer dat ons bedryf oor uitstaande talent beskik, veral wat betref akteurs, regisseurs, musiek, tegniese versorging en kinematografie – by laasgenoemde wil ek die beeldskone Die maan val bewusteloos uitsonder, sowel as Die Kuur, Luister en Wisseltrofee (wat met sy rolverdeling van marionette gesorg het vir die grootste nuutjie op die fees). Waar dinge na my mening nog haper, is ’n paar van die draaiboeke wat nie deeglik genoeg deurdink is nie, met ’n einde wat te floutjies of te obskuur is.

Hierdie kortfilms sal vervolgens op kykNET wys, en party sal ook op Showmax te sien wees. Andersins, hou die oë oop vir vertonings by feeste soos die US Woordfees.

Lees ook:

Silwerskermfees 2017: kortfilms 

Reney Warrington 
Film 

"Die 2017 Silwerskermfees het weer eens ’n opwindende versameling films opgelewer. Die gehalte is deurlopend indrukwekkend, en boonop is daar met verskillende genres gewoeker, gespeel en kanse gevat."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top